US Woordfees 2018: Skop stof in jou taal by die Alumni Tuiskoms Veldtrap met Woorde

  • 0

Die US Woordfees vind vanjaar van 2 tot 11 Maart in en om Stellenbosch plaas. Dié gebied, ryk aan kultuur, bied vanjaar vir die sewende jaar ’n sportfees aan vir alle adrenalienslawe en sportentoesiaste.  

ALLAMAPSTIEKS, is jy ASPRIS jou KOGGELMANDER?   As dié woorde jou tone laat krul, is die Alumni Tuiskoms Veldtrap met Woorde net vir jou.  Op Saterdag 3 Maart kan alle woordenaars by Coetzenburg aantree.

In plaas van ’n registrasienommer, kry jy ’n woord en vier so ons mooi taal se behoud.  Die Veldtrap spits hom daarop toe om mense opnuut bewus te maak van die tongtrippelterme en wonderlike woorde wat Afrikaans so bekkig maak. Is jy ’n BAKVISSIE op my KOMPOSHOOP of het jy FLATERWATER nodig vir daai DIKBEK van jou?

Daar is iets vir elke fiksheidsvlak en stootwaentjies en honde is ook welkom.  ’n Heerlike Familiedag volg en Coetzenburg se spyskaart is feestelik met diverse musiek, geurige kos en voortreflike vermaak. Vanjaar is daar twee verhoë met iets vir ieder en elk. Bring jou eie stoel en kombers en maak jou gemaklik voor die buitelugkonserte afskop. Verskeie plaaslike orkeste en ’n masala-mengelmoes van immergewilde sangers laat die voete behoorlik jeuk. Kom geniet gesonde en veilige gesinsvermaak met stalletjies en mallemeulens, en vir die volwassenes is daar die bier-en wyntent. Die gewilde klassieke kindergunsteling “Pieter en die Wolf” word op ’n guitige nuwe manier in Afrikaans en Engels deur Marc Lottering vertel. Dit volg net na die Veldtrap om 10:15 en is gratis vir deelnemers. Meer oor die Familiedagprogram op www.woordfees.co.za.

Hardlooproetes

Daar is ’n 6 km japtrap en ’n 12 km vastrap.  Deelnemers kan draf, stap of selfs die roete gemaklik wandel. Al die roetes kronkel deur die pragtige natuurskoon rondom Coetzenberg.

Wat kry deelnemers?

By die eindstreep kry deelnemers ’n spekboom, geborg deur die Stellenbosch Munisipaliteit, ’n PVM-energiestafie en ’n bottel yskoue Aquellé water. Daar sal ook ’n prysuitdeling wees met gelukkige trekkings.

Datum: Saterdag 3 Maart 2018

Tyd en koste:

  • 6 km japtrap: R80 / 07:45 (Laat inskrywing R100)
  • 12 km vastrap: R100 / 07:30 (Laat inskrywing R120)

Laat inskrywings: Vanaf 06:30 by Coetzenburg

Vir meer inligting en om in te skryf, besoek www.veldtrap.co.za.

Foto's: Nanette Photography

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top