US Woordfees 2018: “NG Kerk het zero moraliteit”

  • 14

Julie Claassens
Foto: Naomi Bruwer

Die NG Kerk se moderator, Nelis Janse van Rensburg, moes tydens die Woordfees by ’n teologieprofessor aan die kweekskool hoor sy kerk het zero moraliteit.

Julie Claassens van die Departement Ou Testament en Bevordering van Menswaardigheid het gesê voordat die NG Kerk nie sy ras-, gender- en seksuele kwessies uitsorteer het nie, is daar zero moraliteit in die kerk. Sy sê die kerk is behep met seks en verkeer in 'n morele krisis.

Tydens vraetyd het die gehoor die moderator met vrae gepeper.

Die moderator moes van medeteoloë uit die gehoor aanhoor dat die NG Kerk geen morele reg het om die ANC aan te spreek oor korrupsie en swak regering nie. Daar is aan hom gesê die kerk minag sy eie lidmate se menswaardigheid – dit met verwysing na die kerk se hantering van homoseksualiteit.

Ben du Toit het aan die moderator gesê dit is in stryd met die land se Grondwet om ander mense se menswaardigheid te minag en teen hulle te diskrimineer. Daarom kan die kerk nie morele uitsprake maak as hy self immoreel optree nie.

Die moderator moes ook hoor sy antwoorde is wollerig en dat die kerk soos 'n tweegesig optree.

Van Rensburg het gesê daar was nog altyd verskille in die kerk. Hy sê die kerk gaan deur 'n moeilike tyd en is 'n gemeenskap op reis met die waarheid.

Volgens hom het hy sterk persoonlike oortuigings oor homoseksualiteit. Hy sê as moderator moet hy die kerk se besluite na buite verdedig, al vind hy dit by tye bitter swaar. Soms het hy al gewonder of hy moet aangaan met die werk wat hy doen.

Hy sê die kerk het “kollektief” tot die besluit gekom dat mense van dieselfde geslag nie mag trou nie en daarom moet hy die besluit respekteer.

Claassens het drie redes uitgelig waarom sy meen die kerk het geen moraliteit nie. Na etlike dekades is die NG Kerk en sy sogenaamde dogterkerke, naamlik die bruin VGK en Indiër-RCA nog nie een kerk nie. Ten opsigte van die genderkwessie word daar steeds in die kerk teen vroue gediskrimineer. Vroue word verkleineer en die kerk is nul persent moreel wanneer dit kom by gelyke regte vir vroue, het sy gesê.

Derdens het sy seksuele oriëntasie opgehaal. Sy sê drie weke nadat die NG Kerk sy gay lidmate as gelyke lidmate aanvaar het, word daar appèl aangeteken teen die besluit wat uiteindelik daartoe lei dat hulle wéér uitgesluit word. “Wat ook dit betref, is die kerk zero persent moreel,” het sy gesê.

Die gesprek is ingelei deur Johan van de Merwe, ’n leraar van die Moedergemeente op Stellenbosch en aanbieder van die gespreksreeks “Geloof op die markplein”. Hy wou van sy paneel weet wat moraliteit is en of die kerk die regte plek is om by aan te klop as ons wil weet wat moreel is en wat nie.

“Vandag nog word die kerk soms nog beskuldig van ’n obsessie met mense se slaapkamers en wat daar gebeur, al dan nie. Wat is moraliteit en hoeveel persent moreel is die kerk?” was die vraag wat Van der Merwe op die tafel geplaas het.

Van der Merwe het vier jaar gelede met die reeks geloofsgesprekke op die Woordfees begin nadat Kerkbode in 2013 sy borgskap aan soortgelyke gesprekke onttrek het.

Die wetenskapjoernalis George Claassen het na afgeloop van die gesprek oor moraliteit op Twitter gesê die gesprek oor moraliteit by die Woordfees was vir hom teleurstellend. Volgens hom het die NG Kerk se moderator weer eens “op patetiese en lamsakkige en onwettige wyse die LBGTI-saak onder die tafel probeer invee”. Hy het Julie Claassens geloof vir haar sterk standpunte daaroor.

Van Rensburg het Van der Merwe na die tyd op Facebook bedank vir “die inisiatief wat hy aan die aan die dag gelê het om teologie na die markplein te bring”.

  • 14

Kommentaar

  • Stefaan de Jager

    Die NG Kerk sal net morele besluite kan neem in soverre alle besluite aan die Bybel as die Woord van God getoets kan word. Indien Ben du Toit en Julie Claassens nie meer sou glo dat die Bybel die onfeilbare Woord van God is nie, sou hulle nie die kerk van immoraliteit kan beskuldig nie. So ook nie as hulle nie meer die drie Belydenisskrifte van die kerk as in ooreenstemming met die Bybel sou onderskryf nie, want dan sou hulle immoreel optree omdat hulle ontrou is aan die legitimasie eed wat hulle afgelê het.

    • Jean Oosthuizen

      Stefaan de Jager as mens die Bybel soos jy lees behoort geskeide dominees hulle ook nie oor moraliteit uit te laat nie. Veral nie as hulle weer trou nie want dan leef hulle volgens hulle verstaan van die Bybel elke dag 'n immorele lewe.

        • Jean Oosthuizen

          As 'n dominee glo egskeiding is sonde en gay mense elke dag op sosiale media oor hulle sogenaamde sonde aanspreek maar voortgaan om in "sonde" te leef met sy tweede vrou moet hy liewer doodstil bly oor ander mense se "sonde" Dis doodgewoon absurd vir so persoon om hom oor ander uit te laat aangesien hy elke dag van sy lewe voortgaan om volgens sy eie definisie van sonde in sonde te leef. Hy kan nie sommer net vir God sê hy is jammer en doodgewoon angaan met sy "sonde" nie. Dis so goed jy pleeg diefstal, vra God se vergifnis maar gaan voort om elke dag weer iets te steel. Daarom het jou argument geen gronde nie Stefaans.
          .

          • Stefaan de Jager

            Laat dit vir jou so wees Jean. Jy sal nie van die vergifnis van die Here verstaan nie omdat jy Hom nie ken nie.

  • Ou Vlakvark van Naasteliefdefontein

    Die reënboogkleurige LBGTI-onderwerp. Môre is dit LBGTIX, oormôre LBGTIXY en die dag na oormôre LBGTIXYZ en volgende jaar LBGTIXYZA ensovoorts. Daar is geen einde aan nie. En dan het ons mense nog nie eens die ander soogdiere op aarde betrek nie!
    Eendag mag dit raadsaam wees om perde-oogklappe asook kameras op die kop te dra om die risiko te bestuur dat die medemens jou dalk mag aankla van inbreuking op die een of ander mensereg wat nog uitgedink gaan word.
    Het die gebrekkige Suid-Afrikaanse Grondwet met al sy menseregte-artikels nou die Bybel vervang? Waar begin en eindig die regte van die individu teenoor die regte van die groep? En waar begin en eindig die regte van die groep teenoor die regte van die individu? Triljoene menings en interpretasies. Inderdaad 'n gebrekkige Grondwet.
    Intussen snel die land se ongebreidelde bevolkingsgroei voort en laat Suid-Afrika se ekonomies wêreldkompeteerbaarheid veel te wense met gevolglike toename in werkloosheid, armoede en sosiale onrus.
    En so strompel die mensdom voort na volmaaktheid.

  • Dit is presies waarteen God ons waarsku. Die verval voor die wederkoms van Christus, want wat God as afskuwelik beskou, wil die mens nou as reg afdwing op die samelewing en die wie nie saamstem nie, word gedurig uitgekryt as : julle oordeel. Niemand oordeel as die feite en waarskuwings nie in God se Woord baie duidelik vir almal geopenbaar word nie! Sekeres verkies egter om net te glo waarin hulle wil ... Dan wil hulle vir God voorskryf ...

  • Ek wil dit net duidelik stel dat die Bybel God se woord is en dus hoër geag moet word as ’n mensgemaakte grondwet. Hemel haar op teenoor God is onbegryplik. Ek is nie homofobies nie aangesien ek persoonlik ook daarmee te doen het. Die kerk moet aan God verantwoording doen en nie aan mense nie.

  • Ja gesprekke soos hierdie gee natuurlik vir ateïste die ideal platform om die Bybel ter verwring en te verfomfaai en ondergeskik te stel aan 'n stukkie mensgemaakte wetgewing. Dis so ironies dat mensgemaakte “regte” gebruik word om onnatuurlike gedrag te bevorder en beskerm, plaas dat ons die goeie en natuurlike dinge in die lewe daarmee beskerm.

  • Ek raak nie graag in bogenoemde debatte betrokke nie. Ek voel dat as jy as lidmaat of nie lidmaat enige probleem met 'n kerk het, vat jou Bybel druk dit onder jou arm en soek vir jou 'n ander kerk. Wat is 'n kerk se handleiding? As jy probleme het met seksuele en wat ook al ander oortuigings, maak 'n skuif en weg is jy. Ek is ongelukkig oor die kerk (NG) se sagte/bangerige houding teenoor die menslike vergrype/drange/oortuigings. Kry vir jou 'n kerk wat vir jou vertel wat jy wil hoor en nie wat jy behoort te hoor nie. Sterkte.

  • Beste Nicolaas,
    Moet nou asseblief nie ateïste beskuldig vir die gemors nie. Dis nie ateïste wat onder mekaar baklei nie; dis gelowiges, Christene. Dit is nou maar eenmaal so: waar religie, geloof en glo in die bonatuurlike ter sprake kom, daar is onmin, rusie, moddergooiery, tweespalt en selfs moord en oorloë aan die orde van die dag.
    Groete,
    Angus

  • Die NG Kerk is so moreel korrup dat ek nie kan glo enigiemand neem hulle nog ernstig op nie. Ignoreer hulle net.

    • Ou Sondige Bosvark

      Elke mens dra saad van naaste-liefdeloosheid in die DNS van sy wese: die volle portefeulje van saad van alle soorte en moontlike oortredinge van liefdeloosheid teenoor die medemens: saad wat enige tyd kan ontkiem wagtende op die regte ontkiemingsomstandighede. Feit is dat geen mens perfek is nie. Feit is dat geen menslike instelling of grondwet perfek is nie. Feit is dat geen ateïs, agnostikus, humanis, liberalis of wie ook al van welke geloofsdenominasie ook al perfek is nie. En geen godsdiensinstelling kan voldoen aan alle verwagtinge van alle mense wat deur sy gebou se voordeure loop nie. Ons leef in 'n onvolmaakte wêreld.
      Feit is die lewe is uiters kortstondig. Gebruik u tyd om 'n opbouende verskil in hierdie lewe te maak. En beheer die tong en hand wat die pen regeer.

  • Pierre Nortje

    God bestaan bloot nie - dit is bloot 'n hersenskim.
    Die res van die gesprek is bloot nonsens en irrelevant.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top