US Woordfees 2018: Klara Maas se hart is gebreek, ensomeer: Die vloeistof-trilogie

  • 0

Wessel Pretorius is een van die beste goed wat in die laaste paar jaar met Afrikaanse teater gebeur het. Daar is baie min dinge wat hy nié kan doen nie. In Korreltjie Kantel gee hy, met al die nodige gravitas, gestalte aan die legendariese André P Brink en in Klara Maas se hart is gebreek, ensomeer: die vloeistof-trilogie speel hy een van twee reisende spelers wat met meer energie as Bruce Fordyce op sy heyday deur die uurlange, baie fisiese teater-komedie draf.

Klara Maas is in 2016 met ’n Kanna vir beste debuutwerk bekroon en die stuk het intussen kleintjies gekry. Waar dit aanvanklik ’n kort skets was oor Klara Maas se gebreekte hart en die storie van ’n idealistiese, verliefde traan, het twee ander helde hulle by die trilogie kom voeg – ’n druppel bloed van ’n bul wat deur die verwaande matador, Paco van der Merwe, om die lewe gebring word en ’n spermsel van Romeo Montague (ja, Juliet se Romeo) Linguine wat een enkele droom het, en dit is om te vlieg.

Pretorius was verantwoordelik vir die komiese, onkonvensionele teks en regie en saam met die ewe talentvolle David Viviers vermaak hulle die gehoor met bekwame mimiekspel, Vaudeville-geïnspireerde kostuums en skreeusnaakse verwysings na populêre musiek en films. Dit alles teen ’n enorme tempo.

As jy uit jou maag wil lag en stom wil staan oor die tweemanskap se dinamiese samespel, moenie die stuk misloop nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top