US Woordfees 2018: Die Kaap is weer Frans

  • 0

Naomi Meyer gesels met Leon Oosthuizen oor sy optredes by vanjaar se US Woordfees.

Leon, jy is lid van die groep Sibanye, en tree ook vanjaar by die US Woordfees op. Hoekom is die naam van julle produksie Die Kaap is weer Frans?

Ons ken mos die gesegde “Die Kaap is weer Hollands!”, wat rofweg beteken “alles is weer reg”. Natuurlik was die Kaap geskiedkundig gesproke nooit direk onder Franse bewind nie, alhoewel die geskiedenis ons leer dat hulle telkens ’n noemenswaardige rol gespeel het aan die Kaap. So byvoorbeeld was Jan van Riebeeck se vrou die musikale Franse Hugenoot, Maria de la Queillerie. Dis ook vanjaar 330 jaar gelede dat die grootste aantal Franse Hugenote gearriveer het in 1688. Dan was daar die Franse tydperk aan die Kaap van 1791 tot 1793 toe Franse troepe die Kaap kom beskerm het - ’n vooruitstrewende tyd vir Kaapstad wat toe as “Klein Parys” begin bekend staan het. En laastens kan ’n mens ook net meld dat toe “Die Kaap weer Hollands” uitgeroep is in 1802, die Kaap deel geword het van die Bataafse Republiek, ’n satellietstaat van Frankryk. Vir hierdie produksie sê ons “alles voel weer reg met die sjarme, romanse, drome en uitdrukkingsvolheid van Franse musiek”!

Leon Oosthuizen (foto verskaf)

Waarom is die titel Die Kaap is weer Frans, taalkundig en musikaal gesproke?

“Die Kaap is weer Frans” versoen alles wat mooi lyk en klink. “Die Kaap” is ons geliefde woning, met sy besonderse berge, see, unieke plantegroei, mengelmoes mense, tale en kulture. Die “is” beklemtoon dat dit nou ’n werklikheid is en nie ’n vae herinninering of versugting van wat kan wees nie. Die “weer” is die skakel met iets wat al was, iets wat ons graag weer of meer van sou wou hê en wat hom tans vergestalt, miskien nie in dieselfde formaat nie, maar in ’n vernuwende konteks. Die “Frans” sê iets van die taal, maar ook die simboliek van alles wat ons assosieer met Parys, Frankryk en lande wêreldwyd waar Frans figureer.

Musikaalgewys bring die titel klanke en style wat eie is aan die Kaap byeen met dit wat ons assosieer met die romantiek van alles wat Frans is.

Wie maak die musiek en wat is elkeen van julle se agtergrond?

  • Leon Oosthuizen span kragte saam met lede van die Sibanye-orkes en gaskunstenaars.
  • Leon Oosthuizen: Hy het grootgeword in Stellenbosch waar sy wortels van jongs af geskiet het as pianis, koorknaap, orkeslid en sêrgroepleier. Met musiek in matriek en vele kunswedstryde agter die blad, het hy ook later gespesialiseer in trekklavier deur die Trinity College London. Deesdae is hy aktief in ’n verskeidenheid genres van wêreldmusiek as trekklavierspeler, pianis, sanger, orkesleier en produksiesamesteller.
  • Harold Schenk: Hy is ’n gerekende musiekverwerker, vervaardiger, liedjieskrywer, klankontwerper en klawermeester. Oor die laaste drie dekades het hy met top Suid-Afrikaanse verhoog- en opnamekunstenaars en platemaatskappye gewerk.
  • Amanda Luyt: Sy is ’n sangeres en was ook ’n aanbieder van TV-programme soos Op Versoek en Teletreffers. Een van haar bekendste treffers is As Jy Aan Eendag Glo. Amanda is deesdae ’n tegniese sanginstrukteur in Kaapstad.
  • Rayelle Goodman: Sy is ’n Kaapse violis met klassieke opleiding. Sy speel wyd en syd in verskeie hoedanighede en genres, as verhoog- en opnamekunstenaar met talle groepe en kunstenaars in Suid-Afrika en internasionaal.
  • Skhumbuzo Qamata: As ’n vryskut dromspeler van Langa het hy ook musiekteorie en praktiese opvoering gestudeer by die Universiteit van die Wes-Kaap. Hy het al met verskeie kunstenaars saamgewerk en spesialieer in Tradisionele Afrikamusiek en Afro-Jazz.
  • Khangelani Twani: Hy is ’n klawerbord en baskitaarspeler van Nyanga wat veral aktief is in gospelmusiek, Afrika-koormusiek en Afro-Jazz. Hy was voorheen betrokke by Siyaya, ’n Amerikaans-gefundeerde vigsuitreikaksie in Gugulethu met wie hy ook internasionaal getoer het.
  • Clovis Lawi: Hy het grootgeword in die Demokratiese Republiek van die Kongo en het hom gevestig in Kaapstad met sy vrou en kroos. Hy is ’n kitaarspeler en sanger-liedjieskrywer, vlot in verskeie tale, waaronder Lingala, Frans, Swahili en Engels. Hy spesialiseer in Wes-Afrikamusiek en Afro-jazz.

Leon, hoe het julle besluit om hierdie produksie op die planke te bring, wat was die inspirasie?

Ek het onlangs ’n solo-trekklavieralbum gemaak genaamd Cafe Late. As solotrekklavierspeler by troues en funksies het ek ook mettertyd ’n uitgebreide repertoire van Franse musettemusiek opgebou. Deur die Sibanye-band het ek ook baie blootstelling gekry aan Afrika-townshipmusiek. Die produksie is dus ’n natuurlike uitvloeisel van die musiek waarby ek die laaste jare baie betrokke was. Op ’n simboliese vlak is die produksie ook in lyn met die Sibanye-konsep van “Saam Soos Een” - die Weste ontmoet Afrika op een verhoog. Die feit dat die Franse Hugenote vanjaar ook 330 jaar gelede Kaap toe gekom het, gee uiteraard verdere stukrag aan die geleentheid.

Wat kan mense te wagte wees as hulle na julle kom luister?

Dit gaan ’n verskeidenheidskonsert soos min wees met instrumentale en sangitems in verskillende ensembles. Die program gaan ikoniese Franse chanson insluit van Jacques Brel en Edith Piaf en tipiese Franse musiekklanke. Die gehoor gaan verras word met musiek wat hulle waarskynlik nie sou kon raai dat dit van Franse oorsprong is of geassosieer sou kon word met Frans nie. ’n Musiekbelewenis wag op die gehoor wat hou van reis en droom van vakansies in Parys en eksotiese plekke. Die erfenis van die Franse Hugenote gaan met poëtiese voorlesing belig word. Die sangitems gaan gelewer word in ’n verskeidenheid tale, waaronder Frans, Afrikaans, Engels en Xhosa. Amanda Luyt gaan ook in Frans sing. Clovis gaan Franse treffers sing van Kanada, Algerië en België. Die trekklavier gaan die gehoor op reis neem met die viool en klavier, afwisselend met die vol orkes wat insluit elektriese kitaar, baskitaar en dromme.

Jy is ook by ander US Woordfees-produksies betrokke: wil jy daarvan vertel?

So Klink Mzansi is ’n musiekkonsert wat die legkaart bou van Suid-Afrikaanse musiek in al sy skakerings. Die Sibanye-orkes met sy lede van Kaapstad en omliggende townships voer items op wat die verskillende aftergronde belig en die samekoms as ’n reënboognasie. Bloekomhoek verhoog, h/v Ryneveld- en Victoriastraat. Ma. 5 Maart 13:00. Gratis.

Prinz Bettliegend is 'n vermaaklike teaterproduksie waarin US dramastudente 'n komiese musiekrevue aanbied in samewerking met die US Musiekdepartement. Die satiriese feëverhaal speel af in die konteks van die Tweede Wêreldoorlog en Tjeggies-Joodse ghettos van Terezín. Met ’n Joods-Klezmer-Jazz orkes. HB Thom-Laboratorium, Victoriastraat. Vr 9 Maart 10:00 | Sa 10 Maart 20:30 | So. 11 Maart 10:00 | R100 | R120 by die deur.

Gaan jy ook iets anders by die Woordfees bywoon en waarna sien jy self uit wat vanjaar hier plaasvind?

Die Skrywersparadys se program lyk baie interessant!

As jy nog enigiets anders wil byvoeg, sal dit lekker wees.

Die Kaap is weer Frans-venue is: Weltevreden Restaurant Teater, Welgevonden Blvd. Ma 5 Maart 19:00 | Di 6 Maart 12:30 | R130 | R150 by die deur.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top