US Woordfees 2017: Wat moet ons met ons kerk doen?

  • 31

Jurie van den Heever en Chris Jones

Die mens het nie godsdiens nodig om ’n morele lewe te lei nie. So het die bekende paleontoloog Jurie van den Heever, tydens die Woordfees gesê met die bekendstelling van sy boek Wat moet ons met ons kerk doen?.

Van den Heever maak verskeie omstrede stellings in sy boek wat volgens Chris Jones van die kantoor vir morele leierskap aardskuddend mag wees vir tradisionele gelowiges.

Jones was die gesprekvoerder tydens die bespreking.

Van den Heever voer onder meer aan dat die kerk ’n ander belydenis sal moet kry as hy nog wil relevant bly in ’n moderne wêreld.

Hy sê sy benadering met die skryf van die boek was om met ’n historiese narratief te werk en te probeer vasstel wat die Bybel regtig vir ons wil sê, met inagneming van al die nuwe kennis waaroor die mens vandag danksy die wetenskap beskik.

“Te veel mense lees die Bybel op ’n letterlike fundamentalistiese manier en nie as literatuur wat in ’n bepaalde konteks vir ’n bepaalde gehoor geskryf is nie.”

Sy stelling dat die Christelike geloof nie noodwendig ’n opgestane Jesus nodig het nie, sal ongetwyfeld baie gelowiges se wenkbroue laat lig.

Woordfeesgangers het twee agtereenvolgende dae die Drostdy-teater volgepak om te gaan luister na boekbesprekings rakende geloof. Vroeër die week het die filosoof Willie Esterhuyse en die emeritus dominee Frits Gaum met mekaar in gesprek getree oor nóg twee boeke wat deur Naledi uitgegee is, naamlik Gaum se God op soek? en Esterhuyse se Geagte Jahwe.

Gaum en Esterhuyse het diep teologiese verskille oor verskeie sake. Gaum se boek was ’n reaksie op Esterhuyse se boek omdat verskeie dinge daarin hom “moerig” gemaak het.

In Wat moet ons met ons kerk doen? skaar Van den Heever hom by ’n stem wat al hoe harder onder Afrikaanse mense gehoor word en wat afstand gedoen het van die tradisionele geloof.

Hy sê gereformeerde kerke in Suid-Afrika is aan die kwyn weens ’n verknogtheid aan Middeleeuse dogma. “Deur bewese navorsingsbevindings in die teologie, argeologie en biologie te ignoreer word die kerk toenemend irrelevant.”

Van den Heever, wat steeds ’n lidmaat van die NG Kerk is maar nie meer gereeld kerk toe gaan nie, meen die kerk behoort die weg vir lidmate oop te maak om uiteindelik self te bepaal hoe die kerk moet lyk en funksioneer.

Minstens drie swaargewigteoloë, naamlik Wentzel van Huyssteen, Ben du Toit en Louis Jonker, het die gesprek met Van den Heever bygewoon. Nie een van hulle het tydens vraetyd van hom verskil nie.

“Ek stem so met jou saam,” het Wentzel tydens die gesprek gesê.

Volgens Van den Heever is die kerk soos die Titanic wat op ’n ysberg afstuur terwyl die orkes speel.

“Die kerk loop leeg en hy gaan nog meer lidmate verloor namate hulle verby die kerklike dogma kyk.”

Op ’n vraag van Jones waarom hy as wetenskaplike oor die kerk skryf, het Van den Heever gesê: “Hoe kan ’n Afrikaner nie oor die kerk skryf nie, want feitlik alle Afrikaners kom uit ’n agtergrond waar die kerk geweldig voorskriftelik was en bepaalde vrae in mense se gemoed gelaat het.”

Verskillende mense het hom met die skryf van die boek beïnvloed, onder andere twee teoloë wat bereid was om die teks te keur. Omdat sommige lesers die boek as té omstrede mag ervaar, kan dit volgens Van den Heever negatiewe gevolge inhou vir enigiemand wat enigiets daarmee te doen het, daarom het hy besluit om hulle liewer anoniem te bedank.

Die voorblad simboliseer die historiese verhouding tussen kerk en wetenskap in Suid-Afrika. Die kerktoring, as plattelandse ikoon, vergestalt die dominante posisie wat die kerk in die groter samelewing, en spesifiek in die leefwêreld van die Afrikaner, beklee het, terwyl die ry individue wat deur die veld aanstryk, die bewese evolusionêre ontstaan van die mens illustreer. Terselfdertyd is dit sprekend van die populêre wanvoorstelling dat die evolusieproses doelgerig een verbeterde produk na die ander lewer. Laastens is die wandelende figure simbolies van die verandering en intellektuele vooruitgang wat die wetenskap meebring, in teenstelling met die kerktoring, wat ’n statiese leefwêreld verteenwoordig.

  • 31

Kommentaar

  • Gerhard Bothma

    Sal baie graag die boek wil lees. Ek vermoed baie gapings in 'n verhaal wat nog nooit regtig volledig vertel is nie, word hier ingevul.

    • Pieter Pretorius

      Daar is geen gapings oor die Woord nie. Wedergebore christene sal die kerk van God bou. Die kerk is nie die gebou waarin mense byeenkom nie. Om wel antwoorde te verkry oor sogenaamde gapings lê die antwoorde openlik in die Bybel en moet die Woord net gelees word en daarna gesoek word. So ook om aan te vul met gebed om te vra na antwoorde. Die Bybel is die Woord en enigste waarheid, God drie-enig bestaan en Jesus Christus is die enigste verlosser wat bestaan en 'n werklikheid is. Geen gapings hoef gevul te word nie. Dit is ook onmoontlik dat ateïste kan bestaan deur net 'n stelling te maak dat God nie bestaan nie en geensins bewys kan word dat Hy nie bestaan nie.

      • Pieter, Die Bybel is van voor tot agter deur mense geskryf. Adam, Eva, Kain en Abel is fiktiewe persone. Die aarde - hierdie stofdeeltjie in die grote kosmos - bied nie die tuiste vir mense wat op ewige lewe aanspraak kan maak nie. Ek glo wel in God - die Skepper - maar nie jood, christen, mohamedaan, boedhis, hindu - moet vir my probeer verduidelik dat hy alleenreg het op wat reg is nie. Ek was onlangs in Noorweë - 9% van die bevolking is gereelde kerkgangers. Logika is besig om deur te dring.

        • Alle karakters in die Bybel is fiktief, ingeslote God, Moses en Jesus. Soos in 'n historiese roman, is daar ook in die Bybel historiese figure soos bv Pontius Pilatus, en om die skyn van waarheid te skep.

          • gerrit boonstra

            Jy is op die regte pad om te dink die figure wat die weg na die waarheid aandui is metafories (maw beliggaam 'n universele geestelike werklikheid). Daar is genoeg bewyse dat Jesus van Nasaret 'n werklike mens was, en dat sy geskiedenis outentiek is. So ook met Moses en Mohammed en talle van die ou profete en wysheidsprekers. Dat hulle lewe, dade en optrede onkonvensioneel is, maak hulle nie minder menslik nie: inteendeel, hierdie persone was van vlees en bloed en het aan ons die weg aangewys na die waarheid en dus na die lewe. Dit beteken eenvoudig hoe moet mens lewe om geluk en vrede te ervaar. Wat moet jy doen om die gunste en gawes te geniet? En die antwoord is dat jy moet gee om te ontvang. Jy moet liefde gee en dan sal jy dit ontvang. Doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê. So maklik is dit. Moenie kwaad met kwaad vergeld nie, dit perpetueer verdere boosheid. Draai jou ander wang of in Oosterse gevegskuns, moenie resist nie but persist. Gee mee, moenie teenstand bied nie, moenie terugbaklei nie. Maar moenie slapgat wees nie. Staan op teen onreg en ongeregtigheid. Stry die goeie stryd teen alles wat God se eer aantas. Want Hy is liefde, die grootste krag wat in die kosmos bestaan. Dit oorwin alles, altyd, sonder enige twyfel.

      • gerrit boonstra

        Doen jouself die guns en lees Johannes se evangelie. Dis al. Dit sal help as jy iemand met insig vind wat kan verduidelik wat die geestelike betekenis is van wat die geliefde dissipel skryf. Dis die eerste stap tot wedergeboorte en 'n nuwe denke oor wie en wat die drie-enige godheid is. Die eerste denkfout om te oorkom, is dat die God materieel, vleeslik, menslik is. Die konsep van God is so groot en omvangryk dat geen woorde dit kan beskrywe nie (ook nie die bybel nie). En dis die rede waarom die logos vlees geword het, ons kom leer (wys ) wie en wat God se wil is, sodat diegene wat in hom glo, die ewige lewe kan beërwe. En dit net omdat hy sy hele skepping (nie net die swakke mens nie) so lief het, want Sy wese is liefde. As 'n wedergebore Christen sê hy glo nie Jesus het "opgestaan nie" , verstaan hy/sy nie dat hy/sy saam met Jesus elke oomblik sy ou natuur afsterwe en weergebore word tot 'n nuwe lewe nie. Die primitiewe mense het dit baie goed verstaan, dis net geleerdes soos Jurie vd Heever, wat alles deur 'n materiële bril sien asof die mens nie 'n siel en gees het nie, wat dit glad nie kan verstaan nie. Al waarin hulle glo is wat sintuiglik waargeneem kan word. Hoe arm is diegene nie. Hy het darem een waarheid beet, en dis dat die NGK sy belydenis sal moet verander - dis gewoon onsin om te bely dat 'n mens aan die opstanding van die VLEES glo. Dit staan nêrens in die bybel nie en Jesus het dit ook nooit gesê of beweer of geïmpliseer nie. Wat hy wel gedoen het, is om sy asem oor hulle te blaas en te sê ontvang my Heilige Gees. En daardie herlewing/opstanding het hy hy na 40 dae aan ons almal, nie-Jood en heidene as geskenk aangebied. Jy moet dit net aanvaar. Dis vry en gratis.

  • In hierdie stuk word minstens vyf teoloë genoem wat tot 'n groot mate op dieselfde bladsy as die skrywer is. Hoekom word dit dan geïmpliseer dat die 'kerk' op sy laaste asem is?

    Soms voel hierdie gesprekke soos 'n ou Boer en 'n Engelsman wat nog stry oor hulle plek in die Unie. Beide partye mik hulle kritiek op mekaar, en die gehoor word uiteindelik ingetrek in 'n eendimensionele gesprek wat opgedis is as "beide kante" van die saak. Asof die saak slegs uit twee kante bestaan. Diegene wat nie die skril uitnodigings aanvaar om hulle by 'ons' of 'hulle' te skaar nie, stap weg met 'n verskraalde karikatuur van 'n baie ryker en meer breedvoerige debat.

    Die probleem hier is nie bloot dat die tradisionele Afrikaanse kerk haarself tot irrelevansie verdoem deur aan uitgediende teologie vas te hou nie, maar dat soveel lidmate hulself juis nie aan die kerk se voorste teoloë steur nie. Anti-intellektualisme is 'n kanker. Mense wil so graag hê dat die "verkramptes" aan hulle eie dogma moet verstik, dat beide kante naderhand ewe kompulsief daaraan vasklou. Uiteindelik word dogma soos eng Afrikaner-Calvinisme in beide gelowiges en ongelowiges se keel afgedruk asof dit als of niks is.

    Kan ons dalk die vlak van die gesprek bietjie lig sodat almal daarby kan baat?

    • Die boek is by Wordsworth-boekwinkel te kry, maar probeer enige boekwinkel. Vra en hulle sal bestel as dit uitverkoop is. Probeer ook aanlyn. Google net Jurie van den Heever.

  • Die Woord is duidelik oor baie sake, net soos al die ander genoemde wetenskappe duidelik is oor hul sake. Probleem is dat mense se geloof nie meer so duidelik is nie. Interessant dat die Christelike geloof die een is wat gekritiseer word. Baie van die wette wat God vir Israel gegee het met die uittog, is vandag reeds bevestig met ons meerdere wetenskaplike kennis. Die probleem mag wees dat die mens nie sy wil volkome ondergeskik aan God wil plaas nie, ook nie sy begeertes, sy hoop, sy vermoë en sy toekoms nie. Om ’n dissipel van God te wees, beteken dat Hy alles word. Miskien moet ons geleerde vriende dit eerder navors as om hul aandag aan minder belangrike sake te gee.

  • As jou godsdiens vir jou werk, dan is die saak reg. Wat jy glo is jou saak. Sal graag die boek wil lees. Is in 1941 gebore.

  • gerrit boonstra

    Geagte Jahwe het ek vandeesweek deurgelees en oor besin. Daar staan niks nuuts in wat denkendes nie reeds weet nie, maar dis interessant geskryf aan die hand van Malta se bloeddorstige geskiedenis aan die hand van die stryd tussen Christene en Moslems. Al die swakhede en tekortkominge van beide hierdie harde "woestyd"-gelowe word belig. Dis die einste dinge wat maak dat soveel Christene hulle rug op die hoofstroom-kerke rig, en hul heil (sic) by die spirituele bewegings vind. Wat my wel verbaas is dat Willie Esterhuyse hierdie welbekende foutlyne, die letterlike en fundamentalistiese lees van die Bybel nou eers werklik ontdek, maar dan val hy in sy laaste hoofstuk weer terug in die ou denkpatroon. Die God wat soos 'n ou man met 'n baard op 'n wolkie sit met sy boekie en al ons sondes opskryf en dan eendag sal kom, en die dooies sal opwek en almal dan veroordeel, of na die hemel vir 'n ewige lewe, of na die hel om vir ewig te brand, is mos al lankal dood, soos Nietchze al tereg uitgewys het. Esterhuyse wys so 'n antropomorfiese godsbeeld dan ook duidelik af, want die probleem met 'n persoonlike god is dat die mense dink hy kan so 'n god manipuleer met sy ego. Maar dit het Jesus mos al immers 2000 jaar gelede as onsin aangetoon met die verhaal van die versoeking op die berg. Hy is ook in opstand teen die god wat skuld uitdeel, wat vrees inboesem, en kies vir 'n god van liefde, vergifnis en versoening. Daarom is God tog nie die oorsaak van al die lyding en wreedheid en aaklighede in die wêreld nie. Die verantwoordelikheid lê by die mens self. En die verskriklike wreedhede en wraaksugtigheid wat in God se naam gepleeg is en word, is waarlik erg - denkende aan die ou testament, die kruistogte, die inkwisisie (om nie eens van die steun aan rassediskriminasie, die uitsluiting van gays, armes, weerloses, weduwees en wese soos in die Belhar-belydenis bely word) te praat nie. Die opmerkings sluit dan aan by die gedagtes wat die paleontoloog Jurie vd Heever in sy boek uitspreek. Ons wat die kerk verlaat het, het nie God verlaat nie, ook nie Jesus nie, ook nie die NT nie, ons het nie ateïste geword nie, ook nie ons wetenskaplike kennis verkrag nie, maar vind juis in die moderne wetenskap soveel sinvolle raakpunte vir ons verstaan van God, dat dit mens na 'n nader vlak van spiritualiteit neem. Wat ek dus sê, skryf maar sulke boeke vir die duisendes wat in die Middeleeue vasgesteek (en terloops dit sluit die RKK in wie se pous eers in 1996 dit reggekry het om Galileo om verskoning te vra - dit terwyl die Arabiere al in die agste eeu geweet het die aarde draai om die son). Esterhuyse doen een ding wat lofwaardig is - hy spreek hom ten gunste uit dat alle godsdienste (die geestelike wêreld) evolusionêr ontwikkel - net soos die materiale lewe evolusioneer . Dit beteken hy het waardering vir die antieke godsdienste wat in die beskaafde wêreld van die middellandse see en midde- ooste ontstaan het, wat insluit die Egiptenare, die Sumeriërs, die Indiërs, en Kanaäniete, ens. Dis wins dat hy propageer dat mense nie die OT ooit sal begryp sonder om die konteks te verstaan waarin dit eeue der eeue gelede ontstaan het nie. En dan sal mens steeds nie verstaan as jy nie wil besef dat die geskrifte mondelinge verhale is wat opgeteken is en dat dit in metaforiese taal geskied en in talle letterkundige genres.

  • Reinhardt Beukes

    Ek dink nie die belydenis van die skrywer en sy ondersteuners is soseer gemik om dogma of teologie af te maak as onsin en uitgeleef nie. Ek dink hulle poog om hulle ongeloof in 'n ware God en Verlosser te regverdig.
    Die Woord van God het al deur die eeue heen sulke felle aanslae deurstaan en afgeweer.
    Die probleem is dat mense hulle wil ophou en besig hou om teologie of dogma te probeer afmaak as onnodig in die tyd waarin ons leef, want ons het selfbehep geword.
    As jy as mens besig raak in 'n verhouding met God en Hom leer ken dan sal al die ander dinge in elk geval nie saak maak nie.
    Ek bid dat ieder en elk in die verlossingsgenade van Jesus Christus deelagtig sal word.

  • "Die mens het nie godsdiens nodig om ’n morele lewe te lei nie," sê Jurie van den Heever. Die mens het in die eerste instansie nog nooit ’n god in sy lewe nodig gehad nie! ALLES wat die mens verrig het, is te wyte aan sy eie vernuf. God, die "bogeyman" is uitsluitlik 'n menslike versinsel om te besluit wie gaan en wie gaan nie as eunuchs (geen seks of huwelik daar nie) hemel toe.
    Daar word geredekawel hoe kerklike dogma gemanipuleer, gewysig of verbygekyk kan word om ledemate te behou. Jurie skryf oa: "Literatuur (die Bybel) wat in ’n bepaalde konteks vir ’n bepaalde gehoor geskryf is." Dws die Bybel (en God deur middel daarvan) spreek nie die modern mens aan nie. Hoe spreek God hulle dan aan?
    Die eenvoudige rede dat Westerse Christene wêreldwyd van die Christelike godsdiens wegbeweeg, het niks met dogma, die Bybel of die kerk selfs te doen nie, maar suiwer omrede kennis vermeerder het.

  • Wolf Cilliers

    By die lees van die eerste sin onthou ek die noorde van prof George Claassen wat laas jaar oor RSG tydens een van sy kommentare aanbeveel het dat mense eers moet kyk wie sê en skryf wat voordat ons hulle ernstig opneem.
    Ek kan nie die presiese voorbeelde onthou wat hy gebruik het nie maar dit kom daarop neer dat mens bv nie 'n oftalmoloog wat nooit formeel sielkunde bestudeer het nie en nie breedvoerige kennis van sielkunde het nie nie te ernstig moet opvat as hy uitsprake oor sielkundige aspekte begin maak nie.
    Ek besef daar is uitsonderings - ek weet van 'n medikus wat in beide kardiologie en pediatrie gespesialiseer het en van 'n teoloog, Prof Poythress van Westminster Theological Seminary met doktorsgrade in beide teologie sowel as in wiskunde. (Volgens die bietjie wat ek van Dr van den Heever se sienings oor die teologie en die kerk kon agterkom kan ek nie insien dat prof Poythress met Dr van den Heever gaan saamstem nie).
    Daar is wel ook mense wat hulleself informeel op sekere vakgebiede ingegrawe het omdat hulle intens daarin belangstel en met gesag oor (aspekte van) die vakgebied kan praat maar dis ook meer die uitsondering as die reël.
    Dr. van den Heever is n paleontoloog en ek kan nie help om te wonder hoekom hy oor die kerk skryf nie, en bv nogal wys op onjuisthede in teologie en die kwyning van die gereformeerde kerke. En hoekom nie ook verwys na ander tipe kerke wat ook kwyn nie? En wat van kerke wat wel groei maar waar daar ook teologiese onjuisthede is?
    Hy noem wel dat hy/ons wel oor die kerk skryf maar ons almal weet dat motorwerktuigkundiges, onderwysers, boere, huisvrouens, soldate, winkeliers, ens ens ens ook allerlei dinge oor die kerk dink en sê maar om 'n boek daaroor te skrywe is darem 'n perd van 'n ander kleur.
    Is Dr. van den Heever werklik besorg oor die probleme in die gereformeerde kerke of is daar 'n ander agenda? Iemand wat 'n lidmaat van 'n kerk is sal tog die betrokke kwessies met sy of haar gemeente met die nodige besorgdheid aanspreek en betrokke wees.
    As ek as lid van ons dorp se Leserskring om een of ander rede baie min by die byeenkomste kom en boonop gereeld allerhande kritiek en kommentaar oor die groepe in die dorpskoerant laat verskyn dink ek dis taamlik duidelik wat my eintlike motiewe is.
    'n Meelewende lid van die kring wat die wel en weë van die kring op die hart dra sal tog as betrokke lid sake op gepaste wyse in die kring self opneem.
    Tot tyd en wyl ek die boek onder oë kry en dalk agterkom dat Dr van den Heever wel ook kundig is op teologiese en kerklike gebied (wat self erken hy kom nie gereeld in die kerk nie) sal ek voorlopig eers hou by prof Claassen se aanbeveling.

  • Die mens is die gevolg van iets wat biljoene jare gelede plaasgevind waardeur die natuur tot stand gekom het wat uiteindelik ook tot die oorsprong en begin van die mens gelei het.
    Die mens is dus die gevolg van iets wat tot allerhande teorieë gelei het. Snaaks genoeg het Darwin nooit gesê dat mense van ape afstam nie, maar dat daar 'n duidelik 'gemeenskaplike voorouer' was waaruit oer-ape en oermense ontstaan het wat sy aan sy in dieselfde omgewing gebly en geleef het.
    Dit is eenvoudig net onmoontlik om die verwantskap te ontken. Dit is duidelik dat alles dieselfde boustene bevat. Is daar nou 'n probleem met die 'Skepper' dat Hy dieselfde biologiese formaat gebruik het wat tot die ontstaan van die mens en ander primate gelei het?
    Doen ons as mense maar net nie dieselfde nie? Bou ons met dieselfde boumateriaal nie toilette en paleise nie en voeg alles met dieselfde sement aanmekaar?
    In die Boodskap lees ek: Gen1 vers 27:God het toe die mens gemaak. En die mens het iets van God in hom gehad. God het 'n man en 'n vrou gemaak.
    Natuurlik het ons as mense nog oorblyfsels van ons gemeenskaplike oorsprong met ander rimate nie. Ons sit tog immers nog met 'n oerbrein wat tot verskillende reaksies lei.
    Hierdie geleerdes beroep hul op alles wat nuut deur die wetenskap ontdek word. Ontdek die wetenskap dan nie net dit wat reeds bestaan maar net verborge was nie? Hoe is dit moontlik dat hul nie die kern van die Evangelie verstaan nie, wat draai om 'n opgestane Jesus?
    Wat is die nut van my geloof en biljoene ander as Christus nooit opgestaan het nie?
    In Handelinge 17 vers 16 tot 34 lees ek: 16Terwyl Paulus in Atene op Silas en Timoteus gewag het, het hy in die stad gaan rondloop.17Orals in die stad het hy op die een of ander tempel of afgodsbeeld afgekom. Paulus het toe na die sinagoge toe gegaan. Daar het hy behoorlik onder die Jode en diegene wat hulle tot die Jodedom bekeer het, ingeklim omdat hulle al die heidense praktyke in hulle stad duld. Paulus het ook op die markplein met die mense oor Jesus begin praat.18’n Groep persone wat die filosofiese beskouings van die Epikuriërs en die Stoïsyne aangehang het, het met Paulus begin stry. Party van hulle het hom sommer openlik beledig: “Watse nonsens is dit wat hierdie man kwytraak? Hy het nie ’n idee wat hy sê met al die stories wat hy vertel nie!”
    Ander was egter nuuskierig toe hulle hoor hoe hy oor Jesus en sy opstanding uit die dood praat. “Hier is ’n nuwe godsdiens waarvan ons meer moet hoor,” het hulle vir mekaar gesê. 19Dié mense het met Paulus gereël om ’n openbare toespraak op die Areopagus te kom hou. “Kom vertel ’n bietjie vir ons van hierdie nuwe godsdiens van jou,” het hulle gesê. 20“Ons is nuuskierig om meer daaroor te weet. Jy sê sulke snaakse dinge. Waar kom jy daaraan?”21Atene was ’n stad vir nuwe dinge. Al wat inwoner en besoeker aan die stad was, wou weet wat die jongste filosofie en godsdiens was; daarom dat die mense so nuuskierig was om te hoor wat Paulus te sê gehad het.22Paulus het in die middel van die Areopagus gaan staan en met die mense begin praat.23“Geagte mense van Atene, ek kan sien dat julle baie godsdienstig is. Nou die dag toe ek hier aankom, het ek na julle tempels en die beelde van julle gode geloop en kyk. Toe kom ek op ’n altaar af met dié woorde daarop: ‘Aan die God wat niemand ken nie.’24“Ek wil nou met julle praat oor hierdie God wat julle dien sonder dat julle Hom behoorlik ken. Dit is Hy wat die hemel en die aarde gemaak het. Hy regeer oor alles in die lug bokant julle en oor alles op die grond. Hy bly nie in die een of ander tempel wat deur mense gebou is nie. Daarvoor is Hy heeltemal te groot en te belangrik. Hy het ook nie nodig dat mense 25Hom van die oggend tot die aand moet bedien met allerhande offers nie. Die God van wie ek julle vertel, is nie van ons mense afhanklik nie. Hy het alles op die aarde gemaak, ook elkeen van julle. Dit is Hy wat sorg dat ons elke dag asemhaal. 26Dit alles het begin toe Hy lank terug die heel eerste mens gemaak het van wie al die volke afstam wat nou op die aarde woon. God het toe vir elke volk ’n plek gegee om te bly. Hy het ook besluit hoe lank hulle daar sou bly. 27God wil hê dat al die volke op die aarde Hom moet dien. Hy wil hê dat ons almal voor Hom moet buig. Gelukkig is God naby aan ons almal.”28“Omdat God so baie vir ons omgee, sorg Hy dat ons almal elke dag kan leef en rondbeweeg. Ons bestaan slegs omdat Hy dit so wil. Een van julle digters het dit mooi opgesom toe hy gesê het: 29‘Ons is deur God gemaak. Ons behoort aan Hom. “As dit dan waar is dat ons almal aan God behoort en dat ons van Hom af kom, is dit mos dom om te dink dat iemand ’n beeld van Hom kan maak. Dit is blote menslike vindingrykheid om afgodsbeelde te maak.30“Vir ’n lang tyd het die meeste mense op aarde niks van God af geweet nie. Gelukkig het Hy dit nie teen hulle gehou nie. Maar daardie dae is nou vir goed verby. Nou vertel ek julle die waarheid oor Hom sodat julle en al die ander mense op aarde kan ophou om in sonde te leef. 31“Want God het besluit dat daar ’n dag sal aanbreek waarop Hy almal op die aarde regverdig gaan oordeel. Hy het ’n baie belangrike Man aangestel om op daardie dag as regter op te tree. Hierdie Man is deur God lewendig gemaak nadat Hy dood was. Almal weet tog al teen hierdie tyd van Hom.”32Toe die mense hoor hoe Paulus sê dat Jesus lewendig geword het, het hulle hom hardop uitgelag. Ander was egter nie so skepties nie. “Vertel ons nog meer. Ons wil graag nog hieroor hoor,” het hulle vir Paulus gesê. Hy het egter genoeg van hulle gehad en besluit om liewer te vertrek.33Tog het ’n groepie mense in Jesus begin glo en by Paulus aangesluit. Onder hulle was Dionisus die Areopagiet, asook ’n vrou met die naam Damaris en nog ’n paar ander."
    Hierdie mense het 'n stuk van die waarheid soos vandag se geleerdes beet gehad.
    Hulle het die stuk waarheid nie verstaan nie. Paulus het die legkaart voltooi en mense het gelowig geword.
    As Christus nie meer relevant is nie, is die mens nie meer relevant nie.

  • "As Christus nie meer relevant is nie, is die mens nie meer relevant nie." HeHe! Ooglopend is alle mense nie gelykmatig op die ewolusieskaal gevorder nie.

    • Is jy nou 'n navolger van Z dat jy nou in navolging hê-hê sê?
      Nou verstaan jy ook maar bitter min van wat Darwin te sê gehad het.

      • HeHe!

        'n Mens hoef nie te veel van Darwin se leer te ken om te kan sien dat nie almal gelykmatig op die ewolusionêre skaal gevorder het nie!

        • Maar dis duidelik dat JY baie ver op die ewolusiepad gevorder het - wel, volgens jou in elk geval. Mooi so.

  • Jaco Fourie
    Daar sit jy die pot mis. Ons het nie almal gelykmatig op die evolusieskaal gevorder nie.
    Gaan lees weer vir Darwin se teorie. Afsondering en 'survival of the fittest' het tot ongelykhede gelei en dit is waarom sommige 'rasse' beter vaar in bv atletiek.
    Daarby het nie alle rasse vermeng met oerrasse nie en dit is om die rede dat jy nie die 'Neanderdalgene' sal aantref by mense suid van die Sahara nie, maar wel by die nasate van die meer moderne mens wat uit Afrika getrek het en op geringe skaal met die Neanderdalmens vermeng geraak het.

  • F.C Boot

    Daar sit jy alweer die pot mis. In die konteks van jou belaglike stelling dat die mens sonder Christus irrelvant is, was my respons sarkasties, verwysend na jou, in dieselfde konteks, bedoel.

    • Ai Man Jaco
      Watter nut is daar vir die mens om op 'n planeet, wat gedoem is om te vergaan, te lewe en te sterwe sonder dat daar 'n beter toekoms na dit op hom wag.

      Gaan lees gerus Prediker 1 van vers 12 tot 18 en leer die verskil tussen wysheid en dwaasheid. Die dwaasheid wat jy verkondig wys dat jy absoluut niks verstaan van dit wat ek geskryf het nie en nog steeds jou lewenswyse met voorbeelde uit die natuur probeer goedpraat.

  • FC Boot
    Jou eerste paragraaf: Jou argument is ook op ander lewende wesens van toepassing soos diere, insekte en plante, wat jy weersprekend, nie dieselfde vraag sal wil stel nie.
    Jou tweede paragraaf: Met jou vorige erkennings hier op SêNet, aanvaar jy NIE wat in die Bybel geskryf is NIE, maar dat dit die woorde en mening van feilbare mense is, en geensins van enige God nie, so wees darem eerlik wanneer jy kwoteer.

  • Wat om met 'n kerk te maak? Maklik! Slaan die toring af, haal die banke en preekstoel uit, en omskep dit in 'n vlooimark.

  • Ek het hierdie jaar, soos die laaste drie jaar, ook die Woordfees geniet.
    Die program is so kleurryk en veelsydig dat ek jaloers is dat ons in Vlaandere dit nie ken nie. Hierdie kommentare gaan net oor godsdienstige sake terwyl die fees baie omvangryker is ... Elke jaar raak dit uitgebreider sodat jy deur die bos die bome nie meer sien nie ... maar dit bly 'n ongelooflyk fees en so kom ons tog by God ...😀

  • Inklusief in die vraag "Wat moet ons met die Kerk doen?" is die oorhoofse vraag: Wat moet ons met die Kerk se letterlike Hemel maak?
    Die Hemel wat die kerk se Apostoliese Geloofsbelydenis voorskryf waarheen ons na die Opstanding in vlees gaan vertrek?
    Die Hemel waarna Nebukadnesar met sy Toring van Babel gesoek het en wat hy nie kon vind nie en wat ons tot nog toe ook nie met ons ruimte navorsing kon vind nie, omrede ons na die Babiloniese Hemel bo die berge van die Ou Testament soek, die Hemel wat Moses uit die afgodery van Egipte oorgedra het na die Bybel, maar wat die Nuwe Testament uitdruklik vir ons sê dat dit nie bestaan nie, dat die Hemel ’n metafisiese belewenis sal wees; Luk 20:35/ Luk 23:46/ Markus 12:25/ Mat 22:30/ Johannes 3:3 en12/ en I Kor 15:35 tot 50, maar veral vers 50.
    Wanneer gaan die Kerk sy "huis" in orde kry?

  • gerrit boonstra

    Johan Mulder, jou kommentaar is die sinvolste. Ek is 'n ateïs wat NIE beteken dat ek dink daar God bestaan nie. Wat dit wel beteken is ek glo glad nie in die teïstiese gods- en wêreldbeeld wat oorwegend in die Judaïsme (Ou Testament). Daar is nie is nie 'n God wat as 'n ou wyse man met 'n lang baard op 'n wolk iewers in die uitspansel sit, afkyk op ons met sy notaboekie en ons oortredinge (sondes) opskryf nie, en dan by tye kom inmeng met die natuurwette en reën verskaf, of oeste, of vrugbaarheid ens nie. Daardie teïstiese God is 'n demoon wat uitgedink is om die mens te straf as die mens nie doen wat die maghebbers voorskryf nie.
    Die God wat ek dink bestaan, word wel in die Nuwe Testament beskryf in die lewe en dood van Jesus van Nasaret wat ons die messias en Christus (dws redder) noem. Jesus se boodskap is volledig geestelik van aard, en gekommunikeer in taal met al sy beperkinge en in die tydsgees van 2 000 jaar gelede gegiet in metafore en allegorieë wat vir die mense verstaanbaar was. Die opgetekende verhale is egter soms verwring, weggelaat ens in vertalings, en in die keuse van die heidense keiser wat in 325 NC besluit het wat in die Bybel ingesluit word en wat nie. As jy regtig meer wil weet, moet jy dus die apokriewe boeke gaan lees wat die keiser en sy trawante nie vernietig het nie. Dis in 1949 eers by 'n Koptiese Christenstasie by Nag M XXX in Egipte ontdek. Lekker lees.

  • Dit is verbasend die kommentaar wat gelewer word deur mense wat duidelik nie die boek gelees het nie en geen idee het waarom dit gaan nie.

    • gerrit boonstra

      Aangesien jy dink die kommentaar is oningelig, kan jy mos ons onkundige mense wat jy reken ons het nie Jurie se boek gelees nie bietjie reghelp . Dis mos die doel van hierdie dialoog om die gesprek verder te neem totdat die lig van insig aangaan . Ek kan jou 'n dosyn boeke aanbeveel wat die spanning tussen godsdiens/religie/metafisika en die natuurwetenskap baie helder uiteensit. En dat mense wat onbevange die saak beredeneer tot die konklusie kom dat dit twee kante van dieselfde werklikheid is. Om een kant van die argument te absoluteer is gewoon kortsigtig.

  • Jy kan slegs in die evolusieleer glo as jy die wetenskap misken en ignoreer. Om Darwin se "boom van lewe" te aanvaar moet jy die Wet van Biogenesis ignoreer wat stateer dat lewe net van lewe af kom en bloot aan sy eie soort getrou bly. Die Wet op Inligting bepaal dat genetiese inligting slegs van 'n verstandelike wese afkomstig is en nie per ongeluk ontstaan nie. Om te beweer dat natuurlike seleksie van organismes wat mutasies ondergaan, en dus genetiese entropie tot gevolg het, een soort in 'n meer komplekse soort laat verander is doodeenvoudig onmoontlik. Veranderinge in 'n soort is 'n afname in genetiese inligting, nie 'n toename nie! Die fossielrekord bewys dat evolusie nooit plaasgevind het nie. Inteendeel, daar is geen spoor daarvan te vind nie. Dit sal goed wees om die volgende boeke daaroor te lees: Evolusie: wetenskap of geloof?(HN Basson), Evolution impossible (Dr John Ashton).

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top