US Woordfees 2017: Satan en demone is ’n feit, sê Isak Burger

  • 12

Daar is ’n groeiende belangstelling in die wêreld anderkant die grens van die mens se natuurlike waarnemingsvermoë, naamlik die bonatuurlike, sê die voormalige president van die AGS, Isak Burger.

Burger het tydens die bekendstelling van sy nuwe boek by die Woordfees gesê hoewel die bestaan daarvan dikwels betwyfel word, is daar tog bewyse daarvoor.

Sy boek Die Geesteswêreld – perspektiewe op die onsienlike wêreld word deur CUM uitgegee.

Die duiwel, demone en engele is volgens hom ’n werklikheid wat bestaan, het hy in ’n gesprek aan Theo Geyser gesê.

Volgens Burger het hy al ’n paar keer persoonlike ervarings gehad van mense wat “onomwonde” deur demone beheer is.

“Die duiwel, demone en engele is nie fisiese geeste nie, maar elke gees het ook ’n persoonlikheid, hoewel hulle nie fisiese persone is nie.” Hierdie demone kan hulle volgens Burger wel in ’n persoon manifesteer.

Hy sê beide die Ou Testament en die Nuwe Testament getuig daarvan dat demone in ’n fisiese gedaante kan verskyn.

Hy het Woordfeesgangers vertel van ’n geval waar ’n vrou wat ernstig siek was van osteoporose, ernstige beroerte het met ’n bloedklont agter haar oog en die sig in een oog verloor het, in ’n oomblik volkome gesond geword het toe daar vir haar gebid is. Burger sê hy het dit alles op skrif.

Op ’n vraag van Geyser of hy enige wetenskaplike gronde vir die bewerings in sy boek het, sê Burger hy skryf nie die wetenskap af nie, maar die wetenskap werk slegs met die bewysbare en laat geen ruimte vir dit was nie bewys kan word nie, terwyl daar etlike verskynsels is wat nie as sodanig bewys kan word nie, maar wat wel bestaan.

Hy sê hoewel hy nie die bestaan van die duiwel, demone of geeste wetenskaplik kan bewys nie, is daar genoeg bewyse dat dit wel bestaan.

Sy gehoor is die Christelike gemeenskap. Hy wil graag diegene wat meer wil weet van engele en hulle rol in ons lewe, Satan en sy demone se mag in die wêreld en die gelowige se rol in die geesteswêreld daaroor inlig.

Volgens sy uitgewer sal hierdie boek lesers se oë oopmaak vir die “onsienlike wêreld” rondom ons.

“Dit is nie ’n boek vir teoloë of die teologiese tafel nie, maar is geskryf met die oog op die gewone Christelike gemeenskap,” het Burger gesê.

Hy het Geyser gelyk gegee dat die Bybel verskillend geïnterpreteer kan word, maar sê hy beskou die Bybel as die Woord van God omdat dit God se primêre openbaring aan die mens is. “Daar bestaan geen suiwerder openbaring van God as die Bybel nie.”

Geyser wou ook van Burger weet of mense nie te veel behep is met die duiwel nie, waarop Burger mense gemaan het om nie sonder meer die duiwel te blameer vir alles wat verkeerd loop nie. Hy sê egter dit is naïef om die bestaan van die Bose te ontken.

Erge duiwelbesetenheid gaan glo gepaard met simptome wat verskil van gewone siektetoestande soos breindisfunksies of siektes wat medies verklaar kan word.

Hy het vertel van ’n vrou by ’n inrigting waar geestesongestelde mense aangehou word, wat in ’n hok aangehou word om haar teen haarself en ander te beskerm. Hy sê die vrou weeg minder as 50 kilogram, maar word in ’n traliehoek aangehou vanweë haar bomenslike krag.

“Waar kom sulke bomenslike krag by so ’n tenger vrou vandaan as dit nie bonatuurlik is nie?” wou Burger weet.

Op ’n vraag van Geyser hoe dit moontlik is dat ’n kind van die Here deur ’n demoon gebind kan word, het Burger gesê hy glo nie ’n kind van die Here kan deur die duiwel beset word nie, maar selfs kinders van die Here kan onder sekere omstandighede een of ander stadium van demoniese bindings ervaar.

Hy glo egter nie demoniese bindings word van een geslag na ’n ander oorgedra nie.

Op ’n vraag of sulke bindings Jesus se oorwinning oor die bose aan die kruis nie verswak nie, sê Burger: “Nee, want Jesus bly steeds die enigste een wat al die vloek namens ons sondaars gedra het.

“As jy Jesus aangeneem het beteken dit nie jy gaan outomaties binne ’n oomblik van kanker ontslae raak nie.”

Burger sê hy sluit nie die moontlikheid uit dat Jesus tydens sy versoeking in die woestyn fisies deur Satan aangeval is nie.

Hy het gelowiges gewaarsku teen die massa-TV-evangeliste wat links en regs demone wil uitdryf. “God en die geesteswêreld kan net bereik word as die geeste hulleself aan die mens openbaar.”

  • 12

Kommentaar

  • Fisiese geeste. Ek lag nou nog. Om hierdie artikel tussen die ander LitNet-boeke te vind, volg hierdie patroon: Voltaire, Shakespeare, Salman Rushdie ...
    En jo, ek hoop dis nie in hierdie land waar hulle vrouens in hokke aanhou nie, want die hel en die menseregte hof gaan hulle inhaal.

  • Hoekom nie eerder die Almagtige God se krag meer aan die mense verduidelik nie ... julle gee die satan te veel credit om oor hom te praat ... God bly in beheer en verduidelik eerder die mense wat kan God aan daai demone doen ... dit is meer positief en kan eerder vir die mens help ...o ns weet genoeg van demone ...

  • GAAP! Weereens 'n geldmakery vanuit nog 'n boek oor menslike versindsels van God, engele, die Duiwel (as God hoofletter geniet, moet die Duiwel ook in ons gelyke regtekultuur) asook geeste!

    Izak word aangehaal: " “God en die geesteswêreld kan net bereik word as die geeste hulleself aan die mens OPENBAAR”. Wel aangesien daar duisende kunstige voorstellings is, is bewys dat geen OPENBARING ooit geskied het nie. Daar is selfs nie 'n fotoprentjie nie.

  • Niks blinder as die wat nie kan of wil sien nie. Nee satan kry nie te veel krediet nie, om maar te hoop om nie van hom te hoor en kennis van sy werke te neem sal hom laat verdwyn is 'n illusie. Jy kan nie jou vyand beveg as jy niks van hom en sy werke weet nie. So om hom te kan beveg moet jy soveel as moontlik van hom weet en ken. Nadat jy gesien het hoe magtig hy is en sy werk wat deur beide mense en bose geeste gedoen word en jy leer God se magtigheid en krag en jy besef God is baie magtiger as satan. Dan sal jy besef wat beteken Efesiërs 6: 11-17, sien veral vers 12, "Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug." Duiwel se dissipels is die wat alles probeer afbreek wat vanaf God kom, hulle is sy dissipels, hulle wil ook die halfgelowige in die duister hou sodat hulle onkundig kan bly wat dit God aanbetref en so lekker die speelgrond kan bly vir satan. Lekker as mense so onkundig is satan lag net so lekker.

  • Mense sukkel met die idee dat daar in ander dimensies kragte teenwoordig is wat die vermoë het om die dimensie waarin ons woon te betree en chaos te veroorsaak, want dit val buite die grense van die wetenskap.
    As 'n mens die Bybel sorgvuldig lees sal jy agterkom dat die mens nie in die paradys
    geskep is volgens die skeppingsverhale nie, maar wel buite die paradys.
    In die tweede skeppingsverhaal soos dit Gen 2 opgeteken is lees 'n mens in vers 8.
    Die Here God het toe 'n mooi ,groot tuin in die ooste vir die mens gemaak. Hy het die mens gevat en binne-in die tuin gesit.
    Ons weet uit die verhaal dat die mens dus buite die paradys geskep het en dat hy binne 'n veilige plek geplaas is. Later na sy verbanning word die plek bewaak.
    Die vraag is dus waarom kon die mens nie buite die paradys woon nie. Die antwoord is duidelik die res van die aarde was 'n gevaarlike plek. Die mens se rus sou egter spoedig versteur word deur 'n entiteit uit 'n ander dimensie.
    Net soos Christus lank voor ons dimensie deur sy skeppingskrag geskep is, was Hy volgens die Bybel woonagtig in 'n oneindigheid waar Hy as oneindige entiteit saam met al die anders wesens waarvan ons lees woonagtig was.
    Na sy verbanning uit die oneindigheid het Satan verwoesting gesaai onder die mensdom en hul teen hul Skepper gedraai met valse beloftes waarvan een onsterflikheid en gelykwording aan die Skepper sou word.
    Satan staan dus lynreg teen die evangelie, want 'n mens verkry slegs die ewige lewe deur Jesus Christus as jou enigste Verlosser en Saligmaker aan te neem, maar dit vind ook nie sonder teenstand van Satan plaas nie.

  • Die hoofbron van bewyse in die evangelie is per getuienisse van mense, prentjies is sekondêr. Het almal prentjies van hul geboortes of steun ons maar op Ma en Pa wat ons daarvan vertel.

  • Natuurlik bestaan Satan en demone, maar net vir diegene wat in hulle glo, soos bv Christene en ander gelowiges. Satan en demone is slegs teologiese konsepte.

  • Baie mense glo nie aan demone nie.

    Die wat nie daaraan glo nie moet asseblief net weer hul bybels vat en gaan lees ... 🙏

  • Charlotte Roos

    Dankie dr Isak! Sal graag u boek gaan koop en lees. Was so geskok om prof Sakkie Spangenberg se menings te lees oor Satan.

  • Die Christendom kan alleenlik bestaan as daar 'n Satan is. Watter ander gogga maak dan vir baba bang?

  • Dr Isak Burger is 'n man van integriteit. Hy skryf nie boeke vir geld nie, maar eerder om sy kennis te deel.
    Demone:
    Hoe op aarde verklaar mens dit dan as 'n persoon met jou terugpraat tydens 'n bevrydingsessie in 'n ander, vreemde stem?
    Hoe verklaar jy die besetene van Gadara waar al daardie demone in die varke ingevaar het?
    Daar bestaan nie net die goeie nie, want ons lewe in 'n wêreld met verskriklike bose gedrag.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top