US Woordfees 2017: Emily Hobhouse was nie aan die Boere se kant nie

  • 1

Die beeld van Emily Hobhouse as ’n vrou wat tydens die Anglo-Boereoorlog aan die Boere se kant was omdat sy wou hê hulle moes die oorlog wen, is ’n verwronge beeld van dié oorlogsheldin wat deur regse elemente geskep is.

So het die joernalis Elsabé Brits en skrywer van Hobhouse se nuwe biografie, Geliefde verraaier, tydens ’n bespreking van haar boek by die Woordfees gesê.

“Dit is ’n mite dat sy die Boere wou help,” sê Brits. “Emily Hobhouse was ’n vurige Britse patriot wat nie kant gekies het tydens die oorlog nie.”

Sy het nie Suid-Afrika toe gekom om kant te kies teen haar vaderland nie, maar omdat sy met haar hele wese teen oorlog gekant was.

“Sy het herhaaldelik gesê sy staan verwyderd van die oorlog en verag oorlog. Sy het Suid-Afrika toe gekom om die vroue en kinders wat as gevolg van die oorlog gely het, te help en het geen saak met mans gehad wat hulleself in ’n oorlog dompel nie.”

Volgens Brits word Hobhouse ontneem van die persoon wat sy werklik was deur haar te verromantiseer as iemand wat aan die Boere se kant was.

Haar simpatie het slegs by die vroue en kinders gelê. Wat haar betref, kon die mans hulleself maar uitwis as hulle wou oorlog maak. Vir die mans wat in die konsentrasiekampe was, het sy nooit iets gegee nie, “want hulle het hulleself daar geplaas,” sê Brits.

Terwyl die naam Emily Hobhouse vir die meeste Suid-Afrikaners bekend is vanweë die groot rol wat sy tydens die Anglo-Boereoorlog gespeel het om die lot van vroue en kinders in die konsentrasiekampe te verlig, is sy vandag feitlik totaal onbekend in haar eie land, waar bitter min mense van haar bestaan weet.

Miskien moet elke Britse burger wat Suid-Afrika besoek, met hulle aankoms op die lughawe verplig word om die Engelse weergawe van Brits se biografie te koop, het iemand uit die gehoor skalks opgemerk tydens haar praatjie.

In Suid-Afrika was Emily so bekend dat die Nasionale Party-regering selfs ’n duikboot na haar vernoem het – iets wat vir Hobhouse volgens Brits tot in haar wese met afgryse sou vervul het omdat sy so sterk gekant was teen enige vorm van oorlog.

“Emily sou woedend gewees het as sy geweet het ’n duikboot word na haar vernoem. Dit is so goed jy vernoem ’n steak na ’n vegetariër.”

Met die skryf van die biografie wou Brits doelbewus ontslae raak van die “tannie-beeld” wat in baie mense se koppe oor Hobhouse bestaan.

Ena Jansen het in ’n afsonderlike gesprek tydens die Woordfees ’n vergelyking getref tussen Brits se biografie oor Hobhouse en nóg ’n joernalis, Rykie van Reenen, se vroeëre werke oor haar, naamlik Heldin uit die vreemde wat in 1970 verskyn het en Emily Hobhouse – Boer War Letters (1984), waarvan Van Reenen die redakteur was.

Jansen sê Brits se werk is ’n uiters belangrike toevoeging tot die bestaande werke oor die lewe van Hobhouse, maar wou weet waar Brits die indruk van die “tannie-beeld” kry wat aan Hobhouse kleef, want sy sien dit nie in Van Reenen se werke nie.

Beide Brits en Jansen het verwys na Hobhouse se dinamiese persoonlikheid en groot intellek.

“Sy het ’n fenomenale intellek gehad en was baie radikaal en liberaal, wat haar nie net in een oorlog begeef het nie maar in twee oorloë toe sy tydens die Eerste Wêreldoorlog haar besondere noodlenigingswerk in Europa voortgesit het,” het Brits gesê.

As dit nie vir Hobhouse was nie, sou daar volgens haar min van die Boerevolk oorgebly het.

Danksy haar invloed as lid van ’n skatryk vooraanstaande Britse familie kon sy daarin slaag om die aandag op die vroue en kinders se lyding in die konsentrasiekampe te vestig.

Wat Hobhouse se verhaal des te meer merkwaardig maak, is dat sy weens haar ryk agtergrond vir die res van haar lewe gerieflik kon geleef het sonder om ooit te werk.

Na ’n liefdesteleurstelling met ’n sakeman van Minnesota, John Carr Jackson, aan wie sy verloof was, het sy na haar vaderland teruggekeer nadat sy die meeste van haar geld verloor het.

Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog begin sy belangstel in die Noodlenigingsfonds vir Suid-Afrikaanse Vroue en Kinders. Toe sy hoor van die wanpraktyke in die kampe, het sy self na Suid-Afrika gereis om toestande persoonlik te ondersoek.

Sy het gou uitgevind dat alles nie pluis is nie en na ernstige teenkanting, selfs te midde van dreigemente van deportasie en gevangeneming, is sy toegelaat om die feite aan die lig te bring. Die misbruike, hoofsaaklik te wyte aan administratiewe onkunde en 'n gebrek aan ondervinding, het 'n opskudding in Engeland veroorsaak.

Hoewel die Britse media haar nie wou glo nie en haar verhale dikwels as versinsels voorgehou het, sou daar baie meer vroue en kinders gesterf het as dit nie vir haar was nie.

“Daar sou van ons niks oorgebly het as sy nie ingetree het nie,” het Brits tydens die Woordfees gesê.

“Die sowat 27 000 Boerevroue en -kinders wat in die konsentrasiekampe dood is, verteenwoordig meer as tien persent van die destydse bevolking, en die helfte van die kinderbevolking onder 16 is dood.”

Daar is meer mense tydens die oorlog in kampe dood as die soldate wat aan albei kante op die slagveld gesneuwel het; en meer swartes as blankes wat die Boere tydens die oorlog gehelp het, is in kampe dood waar die toestande nog hagliker was as in die res van die kampe.

Hobhouse het ’n reusetaak gehad om die Engelse uiteindelik te probeer oortuig hier gaan iets vreeslik in die konsentrasiekampe aan. Deur haar toedoen het die sterftes dramaties afgeneem nadat sy self per skip Brittanje toe is om die regering daar in te lig oor die ware toedrag van sake, en het sodoende duisende lewens gespaar.

Lees Elsabé Brits se onderhoud oor haar boek met Naomi Meyer hier.

  • 1

Kommentaar

  • Dankie vir die artikel Jean, oor die sogenaamde tannie-kwessie het ek wel tydens my praatjie geantwoord. En op 'n ander punt: Emily was anti-oorlog en nie pro-Boer (polities) nie, groot verskil. Maar dit beteken nie dat sy nie wou help nie. Fyn lyn. Natuurlik is die sogenaamde tannie-kwessie nie soseer in Rykie se werk nie, maar dit beteken nie dat dit nie bestaan nie, ek het ook nooit gesê dit was Rykie nie. Haar werk is ook dekades gelede geskryf, en 'n mens moet besef deur ander oë.
    My punt is dat die "sagte tannie-beeld" ('n metafoor), die Emily is wat volksbesit geword het, maar dit het haar ontneem van 'n intellektuele beeld. Die beeld wat sy eerder verdien het.
    Sou sy 'n man was, sou dit die geval gewees het. Die geskiedenis was nie gender-sensitief nie.
    En dit het ek gestel in my artikel op LitNet: "Onthou ons steeds net die Madonna?"
    Mens hoef net haar duisende briewe te lees om te sien haar flink brein, vermoë om te organiseer en te redeneer staan tog uit.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top