US Woordfees 2017: Die toekoms van hoër onderwys in Suid-Afrika

  • 0

Die gesprek vorm deel van die Beste Professor-reeks, waartydens US-oudrektor Andreas van Wyk oor aktuele kwessies met akademici gesels. Die doel is om afgetrede professore se geakkumuleerde wysheid te bekom.

Andreas van Wyk

Te midde van die onstuimige tye wat universiteite tans beleef, is dit belangrik om ons af te vra hoe die toekoms van die hoër onderwys in Suid-Afrika lyk. Andreas van Wyk het met Brian Figaji (voormalige hoof en visekanselier van die Skiereiland-technikon) en Rolf Stumpf (voormalige visekanselier en rektor van NMMU) in gesprek getree.

Die ses belangrikste vrae wat gevra moet word, en wat ook tydens die gesprek gedek is, is die volgende:

  1. Hoe lyk die gesondheidstoestand van hoër onderwys in Suid-Afrika?
  2. Hoe lyk die huidige struktuur van die instansies wat deel vorm van die hoër onderwys?
  3. Het dinge begin verkeerd loop omdat daar nie voldoende differensiëring tussen die instansies is nie?
  4. Is die outonomie van universiteite tans in gedrang? As die outonomie in gedrang is, is dit ’n goeie of ’n slegte ding?
  5. Die NSFAS (National Student Financial Aid Scheme) word nou deur die regering gesien as die medisyne vir alle siektes en baie geld word daarvoor aangewend. Is dit ’n goeie of ’n slegte ding?
  6. Is privaat hoër onderwys ’n oplossing?

Figaji open die gesprek deur te noem dat Jacob Zuma se begrip van hoër onderwys gebaseer is op wat ander mense vir hom sê. Dit kom nie uit sy eie ervaring nie. Om die ondersteuning van studente en personeel te kry, is dit belangrik om die konteks ten volle te verstaan. Hoe sou parlementslede reageer as hulle gevra word of hoër onderwys belangrik is? Figaji twyfel of daar politieke verdediging vir hoër onderwys sal wees. Indien daar verdediging sou wees, sou dit ter wille van ’n politieke agenda wees, of ter wille van die belang wat dit vir die samelewing inhou?

Brian Figaji

Stumpf is volgende aan die woord en moedig eerstens die groep Bloemhof-leerders wat die gesprek bywoon aan om verder te studeer en nie op te hou tot hulle ten minste ’n doktorsgraad verwerf het nie. Hy roer dan die onderwerp van die #FeesMustFall-veldtog en die kwessie van “insourcing” aan, wat natuurlik groot opskudding by universiteite veroorsaak het. Volgens hom het die universiteite op hul eie, en selfs gesamentlik, nie die vermoë om hierdie probleme op te los nie. En te midde daarvan skitter die regering in hulle afwesigheid. Hy noem dan wel dat Suid-Afrikaanse universiteite die besonderse vermoë het om ten spyte van die gebrek aan ondersteuning en hulpbronne steeds hoë akademiese standaarde te handhaaf.

Nog ’n punt wat daarby aansluit, is die groot hoeveelheid geld van die regering wat nie na die tersiêre instellings gaan nie, maar eerder na die NSFAS. Van Wyk noem dat die gevolg hiervan is dat universiteite nie voldoende in stand gehou word nie.

Volgens Stumpf bestee Suid-Afrika ’n betekenisvolle persentasie van die BBP (bruto binnelandse produk) aan tersiêre onderrig, naamlik 0,82%. Kuba bestee egter 4,5% van hul BBP aan hoër onderwys, Indië 1,2% en Brasilië 1%. Ander Afrikalande, soos Ghana, presteer ook goed op hierdie vlak.

Stumpf is egter nie ten gunste van gratis hoër onderwys nie. Volgens hom het hoër onderwys private en openbare belange. Studente kan nie verwag dat belastingbetalers betaal vir studies wat uiteindelik net in die privaat belang van die student is nie. Met ander woorde, die student wil hoër onderwys ontvang ten einde ’n goeie werk te kry en ’n goeie salaris te verdien, maar neem nie die openbare belang in ag nie. Verder het universiteite geld nodig vir die behoud van infrastruktuur, instandhouding van toerusting en om na die personeel se beste belange om te sien.

Rolf Stumpf

Figaji keer terug na die vorige punt oor die NSFAS. Die probleem met die NSFAS se befondsing is dat dit toegeken word slegs indien die huishoudelike inkomste minder as R125 000 per jaar is. Figaji plaas die syfer in perspektief wanneer hy noem dat dit beteken dat polisiemanne, verpleegsters, ens se gesinne wat daardie bedrag oorskry, daarom nie kwalifiseer vir die befondsing nie. Dit terwyl hulle dit steeds nie kan bekostig om hul kinders verder te laat studeer nie. Daar was onderhandeling aan die gang om die maksimum inkomstesyfer te verhoog, maar “niemand luister nie – tot ’n kar brand”.

Figaji gaan voort deur te noem dat studente nie respek het vir die bestuur van die instellings nie. “Ons leer vir hulle wiskunde, maar nie waardes nie.” Hy voel dat wedersydse respek noodsaaklik is vir die nodige gesprekvoering. “As studente volhou [met hul veldtogte], gaan hulle gratis onderwys kry én die outonomie van instellings verkrag.”

Van Wyk opper die kwessie van die struktuur van hoër onderwys. Hy vra of daar nie te veel instansies is wat hulself universiteite noem nie. Is dit gedifferensieerd genoeg? Is die samesmelting van instansies sinvol?

Volgens Stumpf is daar by die regering geen behoefte om instansies te herklassifiseer nie, al is dit broodnodig. Volgens hom is ons skoolstelsel nie opgewasse om 26 navorsingsgerigte instellings te regverdig nie. Hoekom vir Suid-Afrikaanse instellings nie byvoorbeeld daarna streef om die beste vierjaar-universiteit in die land te wees nie? Hoekom wil almal probeer om die mees omvattende universiteit te wees, ten koste van standaarde?

Volgens Figaji is daar in die verlede gepoog om instellings te herklassifiseer, maar die gevolg daarvan is dat konflik ontstaan het toe mense ontevrede was met hulle instelling se klassifikasie. Hulle het byvoorbeeld gevoel dit is ’n belediging om as ’n “bedrock”-instelling beskou te word, terwyl hulle voel hulle is ’n omvattende of navorsingsinstelling.

Daar is ’n behoefte aan ander instellings wat veral daarop gemik is om studente met onvoldoende skoolopleiding te help. Dit is onmoontlik om ’n gebrekkige skoolopvoeding van 12 jaar in ’n kwessie van ’n paar maande of ’n jaar reg te stel.

Die laaste vraagstuk is die kwessie van privaat hoër onderwys. Stumpf verduidelik dat tensy die regering begin om meer ondersteuning te bied, dit die ruimte vir privaat instellings gaan vergroot en kapitaalrolspelers dan gaan inbeweeg.

Weens die kwotastelsels by die toelating vir programme soos medies, gaan studente dikwels oorsee vir hul studie. Vir baie programme word daar nog nie voorsiening gemaak by privaat instellings nie. Stumpf is egter van mening dat die situasie besig is om te verander en dat die privaatonderwysstelsel ons voorland is.

Brian Figaji, Andreas van Wyk en Rolf Stumpf

Die gesprek word afgesluit na aanleiding van ’n vraag uit die gehoor deur Louise Bührmann, ’n graad 11-leerder van die Hoër Meisieskool Bloemhof: “Sal gratis hoër onderwys gelykheid teweegbring? Nie net polities nie, maar andersins ook.”

Figaji beantwoord haar vraag deur die volgende voorbeeld te gebruik: As daar ’n ryk en ’n arm man is wie se kinders universiteit toe gaan en albei ontvang befondsing, hoe gaan die arm man voel dit is gelyk of regverdig as die ryk man se kind ook deur belastingbetalers befonds word vir iets wat hy kan bekostig?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top