US Woordfees 2016-onderhoud: Sophia Kapp oor Oorlewingsgids vir 'n bedonnerde diva

  • 2

Skrywers oor hulle nuwe boeke: Sophia Kapp gesels oor Oorlewingsgids vir 'n bedonnerde diva.

Sophia, hoekom is jou hoofkarakter in Oorlewingsgids vir ‘n bedonnerde diva bedonnerd? Is dit die lewe wat dit aan haar gedoen het, of is dit sy?

Dit is bedoel om so 'n bietjie dubbelsinnig te wees. Sy is befoeterd, maar sy het ook 'n paar (metaforiese) klappe gekry voor die storie begin. Sy is dus bedonnerd en bedonner.

Jou hoofkarakter wek heelwat empatie en mens vereenselwig met haar. Maar is ‘n diva nie iemand wat sommer net haar speelgoed rondgooi nie? Vertel asseblief hoe jy hierdie term verstaan.

Onthou, ek is 50. Vir my is Maria Callas 'n diva. Of Sophia Loren. Of Meryl Streep. Of Nataniël. Dis iemand met 'n eie styl en genoeg ervaring om te weet alles gaan nie altyd goed nie, maar daar kom lig. Iemand wat speelgoed rondgooi omdat sy nie van haar hotelkamer hou nie of net blou Smarties in haar trailer wou gehad het, is 'n drama queen, nie 'n diva nie. (Ek moet tog eendag al hierdie terme verduidelik. Ook die verskil tussen 'n diva en 'n lady!)

Ons almal moet elke dag die lewe oorleef. Maar jou hoofkarakter is deur ‘n egskeiding. Sáám met haar tienerseun. Vandaar die “oorlewingsgids”-gedeelte van die titel? (Gaan ‘n oorlewingsgids haar help?)

Die gidsdeel van die storie is inderdaad so 'n bietjie van 'n oorlewingsgids vir 'n vrou wat (weer) deur die emosionele meule gaan en die berg voor haar moet aanpak. Die oorlewingsgids is nie vír haar geskryf nie, dis ... Nee, dit verklap te veel. Die belangrike ding is dat daar meer bedonnerde divas daar buite is as net Simoné. Gaan die wenke in die gids enigeen help? Waarskynlik nie. In daardie donker help baie min. Wat help, is die neerskryf, die lees en die herlees, die deel daarvan met ander, en die wete dat jy nie alleen is nie.

“Al wat jy kan fieks, is jouself.” Watter ander reëls uit die oorlewingsgids staan vir jou uit, of som haar op, as jy aan jou hoofkarakter dink?

Ek het al probeer dink of daar een wenk is wat 'n mens kan uitsonder bo die ander, maar eintlik is almal in die verskillende stadia van herstel belangrik. Vir my is die heel laaste sin in die boek nogal so 'n bietjie van 'n etiket wat 'n diva maar om haar nek mag dra – sy verdien dit. Nee, ek verklap niks verder nie.

Jou storie is ‘n sogenaamde romantiese storie in dié opsig dat daar ‘n man en ‘n vrou sentraal tot die verhaal is. Maar het jou diva, op die punt waar ons haar ontmoet, ‘n man nodig? Indien nie, wát? Indien wel, wie?

Wanneer die storie begin, is die laaste ding op aarde wat Simoné nodig het, 'n man. Wat Simoné nodig het, is om net eers weer uit te vind wie en wat Simoné is en hoe sy in die wêreld inpas. Sy kry die man wanneer sy heel is, sy word nie heel omdat sy die man kry nie.

Dit is vir my belangrik dat die heldinne in al my stories net eers weer mens moet word voordat hulle die geliefde kry. Dit beteken natuurlik nie dat hulle nie littekens het nie, maar die liefde is nie 'n kruk of 'n pleister of 'n troosprys nie. Dit word ook uitdruklik in die divagids gesê: 'n geliefde kan nie regmaak wat in jou lewe verkeerd geloop het nie en dis nie billik om met sulke verwagtings in 'n verhouding in te stap nie. Maar wanneer jy heel is en jy word liefde aangebied, is dit ook nie gesond om daarvoor nee te sê bloot omdat jy bang is nie.

Die soort manne wat my girls kry, is iemand wat bepaald by hulle pas. Elkeen is anders; daar is nie 'n prototipiese held nie. Die belangrikste eienskap wat die mans in my stories deel, is die bereidwilligheid om die heldin te aanvaar vir alles wat sy is en nie is nie. Hy gaan haar dalk nie altyd verstaan nie, maar hy gaan moeite doen om te weet hoekom goed vir haar belangrik is of nie. 

“Hoe broke ons is - op ‘n skaal van een tot tien? Elf.” Jou boek is nie sonder humor nie. Maar as jy in jou karakter se harde wêreld binne haar vel rondstap, wat laat haar nog lag?

Een van die verskriklikste goed wat met stukkende mense gebeur, is dat hulle die vermoë verloor om vreugde te ervaar. Soos wat 'n mens beter word, begin die klein goedjies weer spesiaal word. Simoné het 'n baie spesiale verhouding met haar seun, en hy sien haar soms besonder helder. Sy geniet sy maats, haar verhoudings met haar suster en haar vriende verdiep, sy pas in haar dorp in en uiteindelik leer sy ook hoe diep haar ma omgee en hoeveel begrip dié baie konvensionele tannie vir haar het. Sulke goed is oneindig kosbaar, en dis die gemaklike klets-skinner-giggel saam met jou hartsmense oor die klein goedjies wat gewoonlik beterskap sinjaleer.

Nie net is jou diva nie aldag in beheer nie, jou diva het ander geheime ook. Kan jy enige van hulle verklap sonder om die hele storie te verklap?

Die swaarste las waarmee sy spook, is die wete dat sy dinge toegelaat het om met haar te gebeur, en met haar kind te gebeur, wat eintlik onvergeeflik was. Dis iets wat 'n mens nie altyd sien kom nie – jy dink skuld is die gevolg van jou optrede; jy besef nie versuim om op te tree is soms 'n groter oortreding nie. Die gewetenswroeging wat dit meebring, is uitmergelend, veral as sy besef dit het gebeur omdat sy haar eie menswees verloën het. 

Jou storie is aanvanklik ‘n antitese van die romantiese verhaal waar die held en heldin in die sonsondergang wegry. Tog kan enigiemand in ‘n langtermynverhouding daarmee identifiseer. Terwyl jy die boek geskryf en met mense gesels en hul afgeluister het, hoe algemeen dink jy is “gelukkige verhoudings” – die soort op tjoklitbokse en Hallmark-Valentynsdagkaartjies –  wérklik?

Ek weet nie of Diva die antitese van 'n romantiese verhaal is nie – die twee kry mekaar aan die einde. Dit is steeds 'n liefdesroman, en daaroor hoef lesers nie te wonder nie. Wat wel duidelik is, is dat die liefdesverhouding nie die bestemming is nie, dis die begin van die reis. Miskien is dit die andersheid, maar dis vir my ook nogal die lekkerte – daar is nog baie spesiale oomblikke wat voorlê en die leser weet dit.

Oor verhoudings: my ouers en grootouers was gelukkig getroud. In al daardie huwelike was daar soms woordewisselings wat die ruite kon laat kraak en stiltes wat deur metaal kon vreet. 'n Gelukkige verhouding is nie sonder berge of dale nie, dis een waar die twee genoeg aan mekaar het om dit saam aan te pak. Daar is deernis, begrip, respek, geduld. En, weer: daardie werklike, eerlike aanvaarding van alles wat die ander persoon is.

Hoe lank het dit jou geneem om hierdie boek te skryf? Was dit aldag maklik om jou hoofkarakter se lewe te herbesoek terwyl jy dit neerskryf?

Dit het minder as ses maande geneem (gewoonlik neem dit 'n jaar), maar onthou dat ek 50 jaar lank navorsing gedoen het om hierdie vrou te kon skryf. Nee, alles was nie ewe maklik om te verwoord nie. Die "kwessies" waarmee Simoné spook, is kwessies waardeur die meeste middeljarige (veral geskeide) vroue worstel en dis soms makliker om dit te ignoreer as om dit oop te krap. Maar goed, dit was nodig, want Simoné is wie sy is omdat sy beleef het waardeur sy is. Sonder emosionele eerlikheid skryf 'n mens nie so 'n storie nie.

Wat is die rol van die skrywer in die samelewing? Nét om te skryf (is dit aktief genoeg)?

Dit hang natuurlik af wat jy skryf. As jy literêre fiksie skryf, is jy verplig om eienskappe of elemente van die menslike bestaan uit te lig en lesers te dwing om met 'n vars oog daarna te kyk. Romantiese fiksie werk nie so nie; die primêre doel daarvan is ontvlugting. Dis nie 'n sonde nie, dit het sy plek. Tog is dit so dat romantiese fiksie dikwels daarvan beskuldig word dat dit onrealistiese verwagtings by jong lesers kweek (sien hier) en dat dit uitgediende genderrolle in vroue se kele afdruk. Die kritiek is vir sommige skryfwerk in hierdie genre geregverdig. Ek probeer om, selfs al verkoop ek ontvlugting, dit so te skryf dat die karakters die soort mense bly wat ek in my lewe wil hê. 

Daarbenewens is ek al hoe meer bewus daarvan dat die werklike beregtiging van vroue nie altyd die aandag kry wat dit moet nie en ook nie realiseer soos wat dit moet nie. Baie daarvan is lippetaal. Ek hou daarvan om vrouekarakters te skryf wat binne 'n "konvensionele" verhouding die vermoë het om hulle sê te sê en die leser met die indruk te laat dat sy 'n volwaardige vennoot in die verhouding is.

Is die taal waarin jy skryf ‘n soort aktivisme, of is dit nie ‘n keuse nie?

Ek skryf amper sonder om te dink. Instinktief. As ek regtig lekker skryf, kan ek nie vinnig genoeg die woorde getik kry nie – dis amper asof die storie oorkook. As die taal opruiend of aktivisties klink, is dit moontlik omdat dit is hoe ek dink. Dis wat in my kop is. Dis wat op die papier gaan beland. 

Is die temas waaroor jy skryf ‘n soort aktivisme, of is dit ook nie ‘n keuse nie?

Die grense tussen letterkunde en lektuur (ek is onlangs deur 'n literêre BBP op die onderskeid gewys) is besig om te vervaag. (Indien dit ooit bestaan het. Ek dink daar is een kontinuum en elke boek pas iewers daarop in.) Daar is vroeër aangeneem dat letterkunde sosiale kommentaar lewer en liefdesverhale net mag vermaak. En líg moet vermaak, soos spookasem. Dit raak al hoe minder 'n óf-óf-kwessie. Genrefiksie lewer deesdae net soveel kommentaar (lees maar Deon Meyer) en kan mense ook soms so 'n bietjie uit hulle gemaksones haal. Ek probeer om nie seepkissierig daaroor te raak nie, maar ja, dit is 'n soort aktivisme. 

Wat weeg vir jou die swaarste: die mening van jou leser, of die mening van jou resensent? As jy nie wil kies nie (jy hoef nie), verduidelik asseblief hoe jy die rol van elkeen sien.

Omdat ek liefdesromans skryf, loop ek nie rond met die verwagting dat my boeke geresenseer gaan word nie. Dit is nie iets wat my grief nie, dit is bloot 'n feit. Resensies soos wat ons dit geken het, is iets wat al die jare maar vir letterkunde gereserveer is. Maar ek dink die boekewêreld is, nog meer as enige ander afdeling van ons lewe, deur digitalisasie op sy kop gekeer. Die ou model waar 'n boek verskyn het en deur resensente onder lesers se aandag gebring is, is verby. Sosiale media het 'n momentum van sy eie en boekwurms is mos in elk geval woordmense – hulle praat. Teen die tyd dat die resensie verskyn, het hulle al vergeet hulle het die boek gelees. Sonder om gemeen te wees daaroor, dink ek die outydse resensie in 'n boekeblad is 'n gebaar, nie 'n diens aan lesers nie.

Die uiterlike erkenning wat soms oor 'n mens se pad kom (resensies, artikels soos hierdie, pryse, praatjies), is heerlik en 'n geleentheid vir interaksie met mense wat jy nie andersins sou leer ken nie. Maar ek het nog nooit 'n enkele woord geskryf met dit as oogmerk nie. Ek skryf altyd 'n storie en ek skryf dit altyd vir die leser. Ek is in haar diens. Iemand wat vir my 'n boodskap op Facebook stuur en sê sy het my boek geniet, is meer werd as enige resensie.

Watter werk doen jy en wanneer kry jy tyd vir skryf (en ook: hoe lyk jou skryfroetine, as jy een het)?

Ek werk bedags as die taaladviseur vir VivA (Virtuele Instituut vir Afrikaans). Dis 'n wonderlike, gratis diens vir almal wat ooit taalnavrae oor Afrikaans het. Kyk by www.viva-afrikaans.org vir meer inligting. Ek skryf saans en oor naweke. Nee, ek het nie 'n lewe nie en dis heerlik. 

Sophia Kapp (Oorlewingswenke vir ‘n bedonnerde diva), Alta Cloete (Opdrag van oorkant) en Santie van der Merwe (Vandat jy weg is) gesels met Elmari Rautenbach oor sterk vrouekarakters wat bedonnerd, beneuk en verlief is.

US Woordfees, HB Thom-teater, Woensdag 9 Maart, 10:30 vm.

 

  • 2

Kommentaar

  • Sophia Kapp, ek het al jou boeke op my rak! LUV elkeen van hulle. Lees en herlees en beleef. Die ooreenkoms seker al tien keer gelees. No joking. Gaan definitief die nuwe ene aanskaf.

  • Om te dink jy het soveel tyd gemors in die WKOD se taaldiens!
    Veels geluk met jou harde werk!
    Ek geniet die leegleggery en is volslae afgetree. Sou graag vertaalwerk wou doen as daar nie so baie divas was wat die werk opraap nie!
    Groete vir Jan-Daniel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top