US Woordfees 2016: Francois Verster oor Omega, oor en uit

  • 0

Omega, oor en uit - Die storie van 'n opstandige troep
Francois Verster
NB-Uitgewers
ISBN:  9780624072614

Francois Verster oor Omega, oor en uit:

  1. Francois, vertel my asb in een sin waaroor handel jou Omega, oor en uit.

Dit gaan daaroor dat stories nie verlore moet gaan nie.

  1. Is dit fiksie? Is dit niefiksie? Is dit faksie?

Faksie, beslis. Name is wel verander, maar feite is soos fiksie aangebied.

  1. Die woord "diensplig" se gevoelswaarde verskil vir my van dié van "weermag". Was dit vir jou alles werk, 'n taak, iets wat jy met sleur assosieer?

Diensplig is vir my ‘n geforseerde deel wees van ‘n weermag, enige weermag. Ek is nie ‘n militaris nie, juis die teenoorgestelde, want ek wil weet hoekom ek iets moet doen – wil nie bloot bevele uitvoer nie. Maar die ironie is dat ek dit nie sou weier as ek dit weer, onder dieselfde omstandighede, moes doen nie, al verafsku ek oorlog. Soos die meeste van my tydgenote destyds het ek nie ‘n ander opsie gesien nie. Vir ons was dit ‘n kommunistiese aanslag op ons land, en ons moes ons land verdedig, ook al hou jy nie daarvan nie.

  1. Tog was jy in jou dienspligtyd onderwyser vir Boesmankinders. Wag 'n bietjie, mag ek pas daardie woord gesê het sonder om iemand te beledig ...?

Die Boesmans op Omega het uit twee groepe bestaan wat nie eens mekaar se taal kon verstaan nie en uit Angola na die Caprivi gebring is – uit vrye wil – hulle was daar onderdruk deur swart mense. Hulle het hulself Boesmans genoem; hulle ken nie die woord “San” nie, want dis ‘n Khoikhoi-woord. Afrikaans was die omgangstaal, en so kon ons almal mekaar verstaan. Nogal ironies, nè?

  1. Dink jy daar bestaan 'n werk wat 'n mens altyd kan verrig sonder om een slag 'n "siekverveelde uitdrukking" op jou gesig te kry? Indien wel, noem 'n paar. Onthou, die werk moet jou genoeg betaal dat jy 'n bestaan daarop kan voer. En dan selfs genoeg dat 'n gesin daarop kan leef.

Onthou net, ons was nie daar om ‘n “werk” te doen nie. Ons wou klaarkry om te gaan werk – en as volwassenes ‘n normale, eerbare bestaan te maak. Soos met enige aktiwiteit, sal sommige mense meer daarvan hou as ander – ek was een (van vele) wat nié daarvan gehou het nie. Die “siekverveelde uitdrukking” waarna jy verwys, is ’n aanhaling uit die boek en dit gaan oor ‘n spesifieke insident.

  1. Vertel ons van die lewe van die staatsdiensamptenaar. Gaan julle werklik stiptelik om kwart oor vier huis toe en hoe voel dit?

Ha, ek lei van jou vrae af dat jy beslis nie weet nie! Ek is egter die verkeerde een om te vra – ek het nog altyd vryskutwerk gedoen, en voordat ek argiefwerk begin doen het, was ek ‘n onderwyser – ook nie ‘n 8-tot-4-werk nie.

  1. Jou boek se titel laat die afskeid baie finaal klink. Maar het die omgewing jou regtig verlaat?

Omega beteken “die einde”, ja, maar dit was ook die naam van ons weermagbasis. Die “oor en uit” verwys na ‘n militêre roepsein, maar ook dat die storie oor Omega gaan, en daarna, want ‘n groot deel van die boek gaan oor die post-1994-Suid-Afrika. Ek self het nie meer nagmerries hieroor nie, nee.

  1. Jou boek bied "'n humoristiese blik op die dienspligtydperk", lees die US Woordfeesboekie se omskrywing. Maar hoeveel manne sit jare na hulle dienspligtydperk met posttraumatiese stres? Praat hulle daaroor?

Die humor waarna hulle verwys, was bedoel as ironie, as satiries – ‘n manier om daardie gebeure te verwerk. Dis nie ‘n Kleinjanstorie nie, allermins. Ja, baie ly aan stres, en die meeste van hulle kan nie daaroor praat – of skryf – nie. Ek wou die boek aanvanklik skryf vir almal wat nie daar was nie, wat wil lees oor hoe die gewone troep se lewe was, maar soos ek aangegaan het, het ek besef ek skryf eintlik vir diegene wat wel daar was. Toe ek by die bekendstelling van Grensoorlogstories was (ek het een kortverhaal in die boek), het ‘n ouddienspligtige na my gekom en gevra dat ek by my storie teken. Toe sê hy met trane in sy oë dat hy die boek eendag hopelik sal kan lees.

  1. As jy kon kies, sou jy diensplig uit vrye keuse gaan verrig het? Hoe ontnugter voel jy - op 'n skaal van alfa (1) tot omega (10)?

Vrye keuse? Wat my betref was daar nie vrye keuse as ander mense dit moet doen nie. En dis hoekom ek teen oorlog is, want sodra dit uitbreek, het die gewone ou nie werklik ‘n keuse nie. Dalk was die enigste keuse dié wat die mense gehad het wat dit veroorsaak het, maar nie daar was toe die skote geklap het nie. Jy as troepie word in ‘n onmoontlike situasie ingedwing, ‘n situasie wat net mense wat self daarin was kan verstaan.

Ontnugter? Glad nie – ek het nie diensplig gedoen en gedink dit sal ‘n piekniek wees nie, en ek het ook nie gedink die kommunistiese aanslag was ’n Rooikappiestorie nie. Ek was toe reeds 25 jaar oud en ’n meestergraadstudent in geskiedenis. Daar is mense wat vandag lag oor die Rooi Gevaar – hulle behoort lande te besoek wat deur kommuniste oorgeneem was. Nou spog mense met ons Grondwet – dit sou baie anders gewees het as die land vóór die val van die Berlynse muur van regering verander het. Die soldate wat gesneuwel het, het dit help moontlik maak – maar ek dink steeds nie daardie oorlog, of enige ander, sou nodig wees indien magsdronk politici hulle werk effektief uitvoer nie.

  1. Wanneer kan mense by die US Woordfees na jou kom luister?

Die boekbespreking vind in die HB Thom-teater plaas, op Maandag 7 Maart, om 9:00. Dana Snyman, wat ook diensplig verrig het, sal met my in gesprek wees. Ek sal Omega later vanjaar ook by die Vryfees in Bloemfontein en die Boekejol in Pretoria bespreek vir belangstellendes in die noorde wat nie die Woordfees kan bywoon nie. Op 14 Maart is daar ook ’n radio-onderhoud op Pretoria FM, om 13:30.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top