US Woordfees 2016 en Design Indaba: Omtrent mentorskap

  • 0

Li Edelkoort (foto verskaf)

Met ’n gekwalifiseerde, ervare werkerskorps wat óf aftree, óf die land verlaat, sit Suid-Afrika met ’n leemte tussen hierdie ouer en jonger mense wat nou die arbeidsmark betree en wel die boekekennis het, maar geen agtergrond het oor die veld nie.

Die onderwerp is nou dikwels in die kollig omdat dit internasionaal ’n tendens geword het. Dit was Donderdagoggend die besprekingspunt op "Praat Saam" op RSG, wat regstreeks van die Plataankafee by die 17de Woordfees uitgesaai is. Max du Preez was die gespreksleier en sy twee gaste in die bespreking, “Die twee kante van ervaring” was De Wet Schoeman, direkteur USB-BO se Departement Toegepaste Entrepreneurskap en Paarliet, Carel Stander, kenner in bankwese, onderwys en ook mentorskap.

Du Preez het gesê dat die gryskoppe ’n comeback maak en moeg daarvoor is om eenkant toe geskuif te word. “Maar ons land sit met 27 miljoen mense wat ná 1990 gebore is. Hulle is jonk, en probeer die arbeidsmark betree, maar het nie die nodige ervaring nie. Ons onderwysstelsel van die afgelope twee dekades was een van ons grootste mislukkings en ook dat ouer mense wat studeer, leer en ervaar het, eenkant toe geskuif word.”

Du Preez wou by sy gaste weet, hoe bring jy hierdie twee wêrelde bymekaar. Schoeman het gesê dis ’n brandpunt in Suid-Afrika: jongmense soek werk, maar die ekonomie groei nie vinnig genoeg om almal te akkommodeer nie. Boonop soek werkgewers ondervinding, wat hierdie jongmense nie het nie. Die oordrag van vaardighede gebeur ook nie.

“Die aanwysers sê dat klein besighede ons ekonomiese groei gaan bewerk. Maar in Suid-Afrika is die vestiging van jou eie besigheid ’n moeilike proses. Boonop is daar die kans dat jongmense bedreig sal voel as die ouer werkerskorps teruggeroep word om raad en bystand te verleen - uit vrees dat werkgewers die ervare werkers bo die jonges sal verkies.”

Stander het bygevoeg dat hy glo terugblik is altyd die beste eksakte wetenskap. Leer uit jou foute. “Daar is ’n behoefte aan ’n nasionale bank vir mense wat bereid is om verniet hul kennis en ervaring oor te dra. Maar mens moet versigtig wees vir ’n patriargale houding: dit werk weerskante toe. Dis ’n tweerigting gee en neem. Dis al hoe mentorskap kan werk.” Hy het ook bygevoeg dat dit nie net tot entrepreneurs strek nie, maar ook op sport en landbou; op alle terreine van ons samelewing.

Die sprekers het saamgestem dat die ideale mentor nie ’n voorskriftelike houding moet hê nie, maar ’n verhouding moet bou waarin daar gegroei en fouteer kan word. Dit gaan oor die oordrag van ’n waardesisteem.

Du Preez het bygevoeg: “Dis amper ’n ruimte waarin jy kan sê: ‘ek gee jou die luukse om uit my foute te leer, sodat jy dit nie ook begaan nie’.”

Van die inbellers het onder meer genoem dat hulle mentorskapprogramme wou aanbied, maar gevind het dat jongmense só vasgegroei is aan hul selfone, dat hul belangstelling in die werk, getaan het. Boonop kon baie van hulle nie basiese somme doen nie, wat beteken het dat hulle nie die werk kon baasraak nie.

Ander inbellers het vertel van organisasies in Duitsland en Nederland, waar ouer mense regoor die wêreld reis en gratis hul dienste aanbied vir mentorskap-programme. Maar baie van hierdie projekte word nie met oop arms in Suid-Afrika verwelkom nie. Die redes is legio. Ook kelder rompslomp van regeringskant baie entrepreneur- en mentorskappogings, het ’n afgetrede dosent van Pretoria, Bernard Scheffler, gesê.

Alayne Reesberg, voormalige Verenigde Nasies-diplomaat en vir etlike jare die regterhand van Bill Gates van Microsoft, was in die gehoor en het gesê entrepreneurskap is ’n manier van dink en leef, “dis meer as net die begin van ’n besigheid. Entrepreneurs is mense wat hul nie blindstaar teen struikelblokke nie; hulle werk daarom.

“Maar mentorskap is nie raadvra nie. Dis nie die verskaffing van ou oplossings  vir nuwe probleme nie. Dit gaan ook nie oor die mentor se ‘fantastiesheid’ nie. Dit verg strukture, volhoubaarheid en die voortdurende samewerking. Dis ’n langtermynverbintenis.

“Mentorskap is ’n kuns. Dit vra dat daar saam gedink word aan ’n derde alternatief. Mentors moet bybly met tegnologie, ontwikkeling en ontdekking,” het Stander bygevoeg.

Selfs Li Edelkoort, ’n Nederlandse neiging-voorspeller en een van die gassprekers by vanjaar se Design Indaba, het hierdie tendens aangeraak. Sy het haar 2016/2017 seminare onder die titels “The Emancipation of Everything” en “Turning in Circles” in Kaapstad en Johannesburg gehou.

Sy het haar praatjie in twee verdeel: mode en tekstiele; en dekor en leefstyl. Die twee het egter die hele tyd oorvleuel, omdat dit dele van een groot geheel is. Die boodskap was duidelik: gebruik die leerskool van die verlede, span die ervaring in van diegene wat reeds deur die meul is, en kombineer dit met die beste van vandag en die toekoms.

“Ons is ook in die era waar ons denkwyses rondom ouderdom emansipasie nodig het. Ondervinding is net so belangrik as onskuld. Jongmense kyk na oumense om by hulle te leer; en vice versa. Koester jou ouer werkerskorps.

Die dae toe mense op pensioen moes gaan en jong, oningeligte bemarkingstudente hul plek kom neem het, is verby. Terwyl daardie jonges hul voete vind, verloor jy kundigheid en geld, want produktiwiteit neem af. Betrek die mense met meer ervaring om die jonges op te lei en by te staan.”

Sy het die seminare met ’n skyfievertoning en dramatiese musiek ingelui en die talle inspirerende slagspreuke deur bekendes, het onder meer een van haar sêgoed: “Other people value you as you value yourself,” ingesluit. Daar was ook verwysings na diegene wat nie beweeg nie; voel nie die kettings om hul enkels nie en as jy wil vlieg, moet jy alles opgee, wat gewigte aan jou voete sit.

Haar tema van emansipasie was meestal gefokus op ’n nuwe denkpatroon: herdink alles. “Selfs al stap jy met ’n ander pad huis toe, takel die huiswerk anders, maak ander resepte. Skep verandering en beweeg vorentoe,” was haar boodskap.

Edelkoort het onder luide applous vertel dat vroue só lank geveg het vir gelykheid: stemreg, top-posisies en om as gelyke gereken te word. “Maar dit waarvoor ons geveg het, maak geen sin meer nie. Ons het geveg vir stemreg, maar nou is daar niks wat ons stem regverdig nie; ons sien ons demokratiese stelsels is nie effektief nie.

“Ons wou finansiële vryheid hê, maar die kapitalistiese stelsel is ook nou verouderd. Ons kan globale maatskappye bestuur, maar niemand wil meer in daardie glas-hoekkantoor sit nie.

Ons hele samelewing moet emansipeer.”

Edelkoort glo dat mans die grootste ommeswaai teweegbring. “Mans is pa’s vir hul kinders - die eerste keer in die geskiedenis. Hulle neem besluite oor die toekoms, met hul kinders in gedagte. Hul aanslag is sagter en meer intuitief. Mans maak kinders groot; vroue verdien die geld.”

Sy sê ons beweeg weg van ’n patriargale stelsel, meer na ’n matriargale stelsel.

Edelkoort sê verandering is dringend nodig, maar dis nie vreesaanjaen nie, dis opwindend. “Ons moet 2016 vier. Ons is nou al byna twee dekades in hierdie millenieum in en moet ophou dink soos toe ons nog in die 20ste eeu was.”

Sy het gesê dat sy glo daar is ’n terugkeer na handearbeid en die respek daarvoor. Dit word as werk-as-liefde gesien.

Edelkoort het ook vertel dat swart ou nuus is, maar verskillende skakerings swart steeds gesog kan wees: met blinkers, met glans, in mat. “ISIS het swart gekaap. Ons distansieer onsself van hul aksies. Bruin is nou die nuwe swart.” Sy voorspel dat ons binnekort al meer bruin pakke, aandrokke, handsakke en skoene sal sien, wat daardie gewilde swart nommertjies vervang.

Sy glo ook dat die wêreld al meer na die suide kyk vir kreatiewe leiding. “Die noorde is in emosionele- en finansiële krisis. Die helder kleure van die suide kom al meer in ontwerp voor. Die dae toe beige net die agtergrondkleur was, is ook verby. Ons verhef nou beige tot sy eie, regmatige plek.”

Sy sê ons kan ook voortaan eerder sê ons is ’n halwe jaar “voor” die noorde, in plaas van “agter”: ons kan nou die pas aangee en hoef nie slaafs in hul voetspore te volg nie.

En ons kyk na verskillende skakerings en laag op laag wit. “Ons kyk na monastiese klerestyle; ons streef na een god.” Li meen ons emansipeer ook van god. Daar is kerke in Amerika sonder ’n godfiguur. Mense kom byeen vir die samesyn; vir ’n gevoel dat hulle iewers hoort.

Sy het ook bygevoeg dat pienk die vlootblou van Indië is. “Ons wil die Barbie uit pienk haal en dit weer hoogmode maak.

Blomme vervaag. “In die agt jaar sedert die ekonomiese krisis, moes blomme ons hoop gee. Daardie boodskap verspei dat alles sal regkom, kyk na ons vrolike, veelkleurige gesiggies. Hulle is nou moeg gewerk en wil gaan rus,” het sy met ’n knipoog bygevoeg.

Die einde van nou pypbroeke is ook hier. Voortaan sal die pype voller wees, die lyne sagter. Speseryagtige kleure soos kaneel, gemmer, borrie, is nou in en ook die assimetriese weefpatrone (Madras). “Dit het 30 jaar gelede verdwyn, maar dis terug!”

In leefstyle wil al meer mense in die stadskern woon, maar ’n leefstyl van die platteland hê: hulle wil hul eie groente en kruie kweek; weet waar hul vleis en brood vandaan kom. In die materiale wat gekies word, is grofgeweefde linne, katoen en grasmandjies, terug.

Sy het aan die bywonende gaste geê daar is ’n Deense neiging waar jong paartjies ou katoenmeule opkoop en weer begin om hul eie materiale te weef. Hulle wil weer selfversorgend wees en boonop hul eie kultuur en tradisies in die weefstyle behou.

“Die inkoop van materiale en ware van Asië is besig om jul land te strem, omdat die swak wisselkoers julle doodmaak. Hier is baie mense wat uit die gesluite katoenmeule kom, wat kan werk, so ek spoor julle aan om jul ou, gesluite meule op te koop en weer jul eie materiale te weef. Gebruik die ondervinding van daardie ouer werkerskorps wat nou verlore gaan agter kasregisters en met kinders grootmaak.”

Vir haar huis- en leefstyl vooruitskou het sy tema “Turning in Circles” gekies. Die sirkel is die simbool vir inklusiwiteit; ’n universele visie vir ons planeet. Die ronder vorm van materiale sorg vir ’n sagter en meer harmonieuse interieur. Ons het iets van alles en almal nodig om te groei.

“Ewe skielik is die reghoekige tafel in die eetkamer of kombuis, uit. Ons kuier om ronde tafels waar daar geen hoof van die tafel is nie. Almal is ewe ver van mekaar; ewe belangrik en almal gelyk,” het sy vertel.

’n Interessante feit wat sy genoem het, is dat NASA hul ruimtefoto’s nou gratis beskikbaar stel en dit ’n internasionale neiging is om nou muurpapier van dié hoë resolusiefoto’s te maak. Muurpapier is met mening terug, so ook daardie outydse spieëltafels waarmee ons grootgeword het.

Daar is ’n terugbeweeg na natuurlike materiale: hout, bamboes, wol, glas en ’n besliste fokus op Art Deco - nie net die herlewing van die dertigerjare se ronde kurwes nie, maar ook ’n meer eko-bewuste aanslag in ontwerp.

Edelkoort glo jong ontwerpers sal robotte hul vriend maak: hulle is nie meer die slagoffer van robotte nie, maar die meester daarvan.

Grys bly ’n gunsteling vir dekor, maar dit het ’n blou ondertoon en met grys en baie gevlegde matte en mandjies, gebreide komberse en kussings, verskerp dit die nesidee waar mense veilig voel.

Ter afsluiting het sy gesê dat jy nie meer een materiaal hoef lief te hê nie; jy kan maar ’n verskeidenheid materiale gebruik en geniet, sodra dit natuurlik en eerlik is.

Foto: verskaf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top