US Woordfees 2016: Daar doer in die fliek deur Leon van Nierop

  • 2

Die bekroonde woordkunstenaar Leon van Nierop se jongste boek, Daar doer in die fliek, is ‘n viering en verering van die Afrikaanse rolprent die afgelope 117 jaar. Hy gesels  met Christiaan J de Swardt oor die Afrikaanse rolprent en sy liefde vir woorde, klank en beeld.

 “Sensuur, pioniers wat nie rolprentgeletterd was nie, vrees om aanstoot te gee, om veilig te speel - én draaiboeke, draaiboeke, draaiboeke (of die gebrek daaraan!) was die grootste juk wat die rolpentbedryf in die verlede gekniehalter het. Nou, in 2016, is ek opgewonde dat die nuwe geslag rolprentmakers rolprentkundig, passievol, rateltaai, lekker moedswillig kan wees en blinkslim is. En hulle is nie bang nie. En dat Danie Bester ons voorste, mees filmgeletterde, menslike en briljante dapper vervaardiger is,” meen die rolprentkenner Leon van Nierop.

Sy jongste boek, Daar doer in die fliek, is vir almal wat die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf op die hart dra, liefhet, bande daarmee gevorm het en met nostalgie terugdink aan die eerste Afrikaanse rolprent wat hulle gesien het.

‘n Viering

“Dit is wat hierdie boek probeer vier en selfs vereer. In ’n tydperk waarin dit in ’n toenemende mate lyk of Afrikaans gemarginaliseer word, is die Afrikaanse film aan die begin van 2016 op een van die beste plekke waar hy nog ooit was,” meen hy.

Leon gaan haal die storie in sy boek in 1898 toe president Paul Kruger in ‘n koets geklim het, op pad raadsaal toe, en toe Afrikaans die eerste keer in 1931 in die rolprent Moedertjie gepraat is.

Tot 1997 het die rolprentbedryf in Afrikaans gewoel, maar toe gesterf en het eers weer in 2007 met die rolprent Ouma se slimkind opgeflikker en in 2015 die briljante Dis ek, Anna en  in 2016 die meesterstuk SINK opgelewer.

In sy boek plaas Leon die kollig op die Afrikaanse rolprentbedryf die afgelope 117 jaar. Tot einde 2015 is al oor die 370 Afrikaanse rolprente uitgereik.

Die resensent

Leon het al duisende internasionale en Suid-Afrikaanse rolprente gekyk; waarvan 350 Afrikaanse flieks is. Hy kyk deesdae tot vyf rolprente per week -  wat hy eerlik, kundig en onverskrokke resenseer.“Daar was enkele individue wat verkies het om nie deel van die boek of van die televisiereeks te wees nie as gevolg van ’n enkele sin wat dalk dertig jaar gelede in ’n resensie voorgekom het waarvan hulle nie gehou het nie. Dit is jammer, maar ek het steeds probeer om nugter oor hulle en hul rolprente te skryf. Martin Scorsese, die befaamde Amerikaanse rolprentregisseur, het eendag gesê dat resensies nie saak maak nie. En selfs al is ’n resensie positief, is dit altyd daardie enkele sinnetjie wat iets gekritiseer het wat bly vassteek.“

Jans Rautenbach se 1968-baanbrekerrolprent Die kandidaat (met Cobus Rossouw en Marié du Toit) het Leon begeester om sy eerste resensie in standerd agt, toe hy 15 was, te skryf. “Veral toe ek sien hoe dit my ouers se vriende en familie laat praat het. Daardie bekgevegte het my genoop om my eie eerste onsekere mening in ‘n opstelboek te lug. Dit was lomp en aarselend, maar twee sinne wat pertinent by my vasgesteek het, was: ‘Apartheid is verkeerd! Ons doen verkeerde dinge!’ Dit het tóé al, deur middel van ‘n rolprent, na my toe deurgeskemer. Van toe af het ek oor feitlik elke rolprent geskryf wat ek gesien het.” (Lees ook hierdie essay oor Jans Rautenbach.)

Dit bring hom by dié gevolgtrekking oor die tien beste Afrikaanse rolprente nóg:

  • Dis ek, Anna (2015; Sarah Blecher)
  • Die Kandidaat (1968; (Jans Rautenbach)
  • Katrina (1969; Jans Rautenbach)
  • Paljas (1997; Katinka Heyns)
  • Sink (2016; Brett Michael Innes)
  • Daar doer in die bosveld (195; Jamie Uys)
  • Faan se trein (2014; Koos Roets)
  • Jannie Totsiens (1970; Jans Rautenbach)
  • Roepman (2011; Paul Eilers)
  • Die storie van Klara Viljee (1992; Katinka Heyns)

daardoerindiefliek2Die navorsing

Leon het met soveel mense, pioniers, nuwelinge en gevestigde akteurs en tegnici as moontlik gepraat in sy navorsing. En waar van hulle reeds oorlede was, het hy met hul kinders of vriende en familie gesels en waardevolle inligting gekry. Maar hy het ook na die vroegste resensies in Afrikaans in koerante soos Die Transvaler, Die Vaderland en selfs Dagbreek en Landstem en die eerste uitgawes van Rapport gaan kyk en bestudeer hoe rolprentresensies deur die dekades verander het en selfs meer lesersvriendelik geword het. Saam met Christa en Johan Lategan het hy ook ure en ure se onderhoude vir die TV-reeks op kykNET, Daar doer in die fliek, gedoen. Uiteraard kon hulle nie al daardie materiaal vir die TV-reeks gebruik nie en sommige van daardie staaltjies en inligting het hul pad in die boek gevind.

Wat is die vyf mees verrassende en mees ingrypende gevolgtrekkinge oor die Afrikaanse rolprent waartoe jy tydens jou navorsing gekom het?

  • Dat hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. Ons maak selfs in 2016 steeds enkele rolprente wat presies dieselfde foute maak as in die jare veertig.
  • Dat ons veral in 2015 en 2016 vir die eerste keer begin het om temas aan te durf wat ons nie eers 10 jaar gelede sou gewaag het om te oorweeg nie.
  • Dat bitter min van die ouer garde (daar is natuurlik uitsonderings! Soos onder andere Jans Rautenbach, Koos Roets en Katinka Heyns) werklik filmkundig was en maar eintlik geleer het terwyl hulle films gemaak het. Die nuwe geslag post-2007 kom feitlik almal uit rolprentskole.
  • Dat ons bemarking, veral deur die flink Alishia van Deventer (Pad na jou Hart, Ballade vir ʼn Enkeling) met ligjare ontwikkel het.
  • Dat draaiboeke en enkele jong draaiboekskrywers se onvermoë om kritiek te hanteer steeds, nes 40 jaar gelede, die grootste struikelblok bly.

Hoe vergelyk die (Suid-)Afrikaanse rolprent van 2015 met doerietyd se flieks?

Tegnies is dit strate beter. Jong regisseurs soos Quintin Krog en Corné van Rooyen dink filmies en maak volbloed rolprente; nie verfilmde televisie nie. Maar dan is daar ʼn klomp rolprente wat steeds radio met prentjies of verhoog met ‘n kamera bly. Staties en visueel geyk en vervelig.

Kon jy spesifieke tydperke met gepaardgaande style en tendensies afbaken?

  • 1950 was die Pierre de Wet/Jamie Uys-era waar hard probeer is om elke kommersiële smaak te bevredig.
  • 1960 was die tyd van eksperimentering en klipharde sensuur, met Jans Rautenbach as die visionêre leier.
  • 1970 het teen televisie probeer kompeteer en te veel radioverhale verfilm.
  • Die jare 80 het oorgegee aan televisie en was saam met
  • 1990 ons swakste rolprentjare waar daar geen verskil tussen TV en film was nie (uitgesonder die werk van Katinka Heyns).
  • Post 2007 was die dapper eksperimentele en jong New Wave-bewegings wat vandag ʼn hoogtepunt bereik het.

Wat was die grootste omkeeroomblik in die geskiedenis van die Afrikaanse rolprent?

Die vreeslose koms van die grootse Jans Rautenbach:  spesifiek Die Kandidaat in 1968.

Is daar ‘n wissselwerking tussen gehalte en gewildheid versus vermaak en kuns?

Gewild kan steeds gehalte wees - soos Jamie Uys se rolprent en die onlangser Pad na jou Hart en Hollywood in my huis en vele ander moderne rolprente - soos Die Pro - bewys het. Maar in 2016 is daar weer té veel rolprente wat lukraak gemaak word en ons dekades terugneem met slaphakskeen-regie en ondeurdagte draaiboeke, terwyl klein meesterstukke soos SINK weer ʼn ernstige verdieping bring.

Waaroor moet ons nog rolprente maak en wat moet ons nou liefs vermy?

Ons wag nog vir die groot speurrolprent (Die Ontwaking is nie dáárdie rolprent nie!) en rolprente oor wat NOU met en in Afrikaans gebeur, veral nav die Fees must fall-beweging, marginalisering van Afrikaans en insidente by Stellenbosch Universiteit onlangs, asook ʼn ordentlike gay rolprent, sónder stereotipes, en ʼn weldeurdagte rolprent oor die gruwels waardeur boere worstel met plaasmoorde.

En wat is jou vooruitsigte vir die toekoms?

Ek takel van bogenoemde temas in twee draaiboeke, maar kan nog nie sê wat dit is nie. Dit is nog in die ontwikkelingstadium.

Nuwe terreine

“Ek is altyd gereed vir nuwe uitdagings en is altyd bereid om te leer. ‘n Mens mag nooit selftevrede of gemaklik raak nie. En jy moet altyd probeer om nuwe terreine en gebiede te ontgin.”

Juis, soos besoekers aan die US Woordfees en die KKNK vanjaar gaan vasstel. Daar’s ’n Leon (van  Nierop), ’n Rocco (de Villiers), ’n tikmasjien, ’n klavier en ander instrumente. Twee bekendes doen in dié produksie wat hulle glo hulle kan doen, wat hulle goed kan doen, wat hulle nie so goed kan doen nie, wat hulle wil doen, maar ook wat hulle nie wil doen dit nie. En ook, wat hulle nou vir die eerste keer wil waag om te doen. Dit bring ’n lighartigheid, erns en draakstekery met mekaar na die verhoog, maar dit bly altyd vermaaklik en verrassend. Hulle beweeg van die bekende na die onbekende (vir die gehoor, maar ook vir hulself) en waag dit buite hul gemaksones op ’n reis na wie weet waar.

Genreveelsydig

Leon (63) se opleiding en ondervinding as uitsaaier, akteur, regisseur, vervaardiger, resensent, romanskrywer, radioverhaalskrywer en draaiboekskrywer vir TV en rolprente en filmlektor strek oor 41 jaar.

Uit sy pen het  sowat 30 kortverhale, verskeie radiodramas, 25 radiovervolgverhale, 30 romans (ook onder die skuilnaam  Jacqueline Brink), ses TV-reekse en twee rolprente - die lokettreffers Wolwedans in die skemer en Ballade vir ‘n enkeling - gevloei. Tussendeur het hy twintig jaar lank klas gegee in rolprentontleding by die destydse Pretoria Technikon en Wits Universiteit, en was vier jaar lank hoof van TUT se rolprentakademie, waar hy jong rolprentmakers opgelei het – as professor Van  Nierop!

Leon wys uit elkeen van dié genres waarin hy werk, het sy eie dissiplines en vereistes. “Ek respekteer elkeen daarvan. Dit hou my brein ook flink en aan die gang om met my voete op verskeie plekke te staan en te weet dat ek ʼn verantwoordelikheid op elke gebied het.”

Leon-en-Rocco

Onthulling

“Ek kan (kon) klavier speel. Ek ly aan erge hoogte gevrees en die rolprent The Walk was vir my een groot nagmerrie. Ek slaap net ses uur per nag op die uiterste, hou van tuinmaak en ek was my hele skoolloopbaan mateloos verlief op Marié du Toit!”

  • Daar doer in die fliek word in samewerking met kykNET en Proteaboekehuis uitgegee en is gegrond op die gewilde kykNET-reeks, wat deur Johan en Christa Lategan, geregisseer en vervaardag is, met Leon as mede-navorser en aanbieder.
  • Leon se eerste optrede rondom die boek by die US Woordfees is op Saterdag 5 Maart om 14:00 by die HB Thoms Teater in Stellenbosch. Op 10 Maart gesels hy by die Dros by Willow Bridge in Kaapstad daaroor.
  • Christiaan J de Swardt, die skrywer van dié artikel, se loopbaan in kunste- en vermaakjoernalistiek strek ook 36 jaar. Hy is verlede jaar met die BASA-toekenning (silwer) vir uitmuntende kunstejoernalistiek bekroon.
  • Foto's: boekomslag, foto van Leon van Nierop en die foto van Leon van Nierop en Rocco de Villiers is verskaf
  • 2

Kommentaar

  • Siegie van der Walt

    In die middel van die 1960's was daar 'n fliek waarin die musiek van "Thula baba" baie indrukwekkend was . Deesdae word die musiek veral deur die Soweto Strings-orkes uitgevoer. Wat was die naam van die fliek?

    • Amanda Groenewald

      Jamie Uys se rolprent, "Dingaka," is in 1965 vrygestel. Een van die liedjies wat in die rolprent gehoor kan word, is "Tula Baba (Onika's song)." Interessantheidshalwe word "Shosholoza" ook in hierdie rolprent gehoor. 'n Paar jaar gelede het die Nasionale Film-, Video- en Klankargief van Pretoria spesiaal hierdie rolprent tydens die Kunstefees in Bloemfontein kom wys. 'n Baie goeie film!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top