US Woordfees 2016: Brugbouers na gister

  • 0

Helene de Kock en Irma Joubert

Irma Joubert is deesdae ’n internasionale skrywer met uitstekende verkope in Nederland, Duitsland en die VSA. Sy skryf historiese romans en vang telkens ’n tydperk in die geskiedenis vas.

Helene de Kock, die skrywer van meer as veertig romans, waaronder Debora en seuns (Human & Rousseau), het op 9 Maart 15:30 by die US Woordfees met Irma ’n onderhoud gevoer oor Immer wes. Die roman speel af vanaf die eerste Bolsjewistiese revolusie in 1905 tot net ná die Tweede Oorlog.

Helene het in ’n kort inleiding genoem dat die skrywer van historiese romans as brugbouer tussen generasies en kultuurgroepe optree. Vandag se lesers kan hulself nie indink in die tydsgees van ander tye nie. Dit is waarom fiksie belangrik is. Fiksie help die leser om daardie tye te interpreteer.

Irma vertel dat sy baie navorsing doen deur te luister na ander mense se stories. Haar ma was byvoorbeeld ’n verpleegster en was besonder behulpsaam om Hildegard se karakter te help verstaan terwyl die karakter in die hospitaal werk tydens die Eerste Wêreldoorlog.

Irma sê feite staan vir haar vas, maar sy vleg uiteindelik die verskillende karakters se stories in die feite in om seker te maak dat haar leser haar situasies geloofwaardig kan vind.

Irma doen moeite om die plekke te besoek waaroor sy skryf. Dan lees sy baie en probeer altyd om na mense se eie stories te luister. So het Hildegaard ontstaan. Hoe meer sy navorsing gedoen het, hoe meer het die meisie vir haar lewendig geword. Op hierdie manier kan sy uiteindelik haar leser met haar saamneem in ’n woordreis na die verlede.

Helene het daarby aangesluit dat sy sorg dat selfs die kos histories korrek is. Dit help die brug na die verlede bou.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top