US Woordfees 2014: Trippie

  • 2


Geen foto's mag gedurende Trippie geneem word nie. Hierdie steelfoto is met spesiale toestemming geplaas. Die gehoor kan hul deurlopend in die spieël sien.

Die US Woordfeesprogram beskryf die drama Trippie só:

"Teen alle verwagting, ten spyte van positiewe denke en drome, gryp die onsigbare hand van die noodlot jou soms by die kraag, klap jou deur die gesig en los jou vir die wolwe. Ons staan op, ons eet, ons werk, ons slaap met goeie bedoeling. Ons is gewone mense. Dan is daar hulle."

Die bus waarin Trippie plaasvind, laai die gehoor op. Die enjin skakel aan.

"Waarheen gaan ons?" vra iemand.

Niemand antwoord nie.

Daar kan nie 'n formele resensie oor Trippie geskryf word nie. Dit sal te veel weggee van wat mens kan verwag wanneer jy die stuk beleef. Die ander probleem met 'n resensie is dat dit nie sal kan beskryf waarmee die stuk jou agterlaat nie. Mens loop die gevaar om woorde te gebruik soos "onvergeetlik".

Die enigste detail: Nicola Hanekom, skrywer van die teks, vertolk waarskynlik die hoofrol.

Iewers gedurende die busrit, tref dit my: As mens op 'n bus sit, kan jy net afklim as die bus stop. Dis een van die redes waarom Trippie briljant is. Die gehoor móét deelneem, móét meemaak. Trippie kan beskryf word as 'n "happening" of as "happen art". Die grense tussen die een wat toneelspeel en die een wat kyk, vervaag. Op 'n manier neem almal deel.

"Dis nie oor die eindbestemming nie, dis oor die reis," vertel Nicola Hanekom se karakter op 'n stadium.

En wát 'n reis. Die naam Trippie is sekerlik ironies bedoel. Of dit verwys na hoe mens voel terwyl Hanekom se karakter jou in haar kop na binne neem. Mens voel bietjie bedwelm. En dis dalk 'n bad trip, van tyd tot tyd.

Maar die stuk is allesbehalwe 'n bad trip, dis seker een van die bestes wat daar is.

Die teks knetter. Nicola Hanekom is talentvol as skrywer en as aktrise, dit lei mens af uit al die benoemings en toekennings. As mens die trippie meemaak, dan beleef mens dit in lewende lywe.

Wát 'n kragtoer. Wát 'n reis.

Gaan doen dit. As jy in Stellenbosch kan uitkom, gaan klim op daardie bus.

Trippie
8, 9, 10, 11 Maart 16:00 & 18:00| Vertrek vanaf kykNET Hoërskool Stellenbosch | 60 min | R120 | Geen o/14

 

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top