US Woordfees 2014: Die Goëlaar

  • 0

Kyk. Kyk weer. Christine Truter, regisseur, vertel Naomi Meyer van die
magiese US Woordfeesprogram, Die Goëlaar.

Jy is regisseur van Die Goëlaar. Wat is jou agtergrond?

Ek is ongelukkig geen towenaar nie. Ek kom uit ’n drama-agtergrond. Na ’n paar jaar as sepieskrywer bevind ek my weer terug by die teater.

Christine Truter

Ek vertel my seun van Die Goëlaar, en hy vra kan kinders dit kyk. Is die toneelstuk bedoel vir grootmense of vir kinders?

Dit is ’n toneelstuk vol kulkuns en toordery, maar dis beslis nie vir kinders bedoel nie.

Wat is die verskil tussen ’n goëlaar en ’n towenaar?

Die een bemoei hom met truuks en die ander met regte toordery. Jy kan maar self besluit wie is wie.

Kan mense verwag om kulkunsies te sien soos by Martino van ouds? Indien nie, kan mense verwag om die magte van die okkulte aan die werk te sien?

Mense gaan beslis geflous, gefnuik en gekul wees, maar anders as tradisionele kulkunsvertonings span Die Goëlaar ook die magiese krag van teater in. En nee wat, geen okkultiese goed nie, net oëverblindery.

Kan jy die storie van Die Goëlaar opsom sonder om als te verklap?

Daniël die Goëlaar is ’n kulkunstenaar van formaat. Sy ambisie is om eendag te kan verdwyn. Tydens sy vertoning dreig sy persoonlike lewe egter om alles te ontspoor.

Die tema van vanjaar se US Woordfees en die titel Die Goëlaar laat my voel of die stuk spesiaal op dié fees gemik is. Of is dit blote toeval, die ooreenkoms met die magiese en toordery?

Daar is wêreldwyd ’n herlewing in die kulkuns, maar die ooreenkoms met die US Woordfees-tema is ’n toevallige gelukskoot. Geon Nel is al twee jaar lank besig om te kyk hoe kulkuns en storie saam kan smelt op die verhoog.

 

 

Elke toneelstuk goël met die teaterganger se kop – mense glo goed wat nie regtig so is nie. Wat maak Die Goëlaar anders?

Alle toorkuns is ’n vorm van teater en alle teater is ’n vorm van toorkuns. By Die Goëlaar vervaag die grense tussen die twee vorme. Mens is nie aldag seker wat werklik is en wat jy jou verbeel het nie. Daar is natuurlik ook baie dinge wat jy wéét onmoontlik is, selfs al het jy dit pas met jou eie oë gesien.

Wat is vir jou die belangrikste taak as regisseur by hierdie produksie spesifiek?

Om toorkuns en storie te probeer balanseer. En om gefokus te bly ten spyte van die feit dat Geon voor my oë die props laat verskyn, verdwyn en sweef. Dis ook nie aldag dat die akteur met wie jy werk, in ’n oogwink verdwyn nie.

Gaan jy tyd hê om ook saam fees te vier? Wat sal jy graag self by vanjaar se fees wil kyk?

Ek kan nie wag om Oorsee te sien nie. Na-aap is beslis ook op my lys. En Die Menere. O ja, en Die Louis en Llandi Show.

Naomi Meyer het vroeër vanjaar ook met Geon Nel, die akteur wat die rol van die goëlaar vertolk, gesels. Hier is 'n paar van sy indrukke.

Hallo Geon, ek weet jy is waarlik ’n goëlaar. Maar vertel ons eers van jou ander talente, want van jou weet ek jy is ook danser en akteur.

Ek is nou al vir ’n paar jaar ’n voltydse akteur, poppespeler en kulkunstenaar – ek weet nie of ek myself ’n danser kan noem nie. Die naaste aan dans wat ek die afgelope paar jaar gekom het op die verhoog, was met Balbesit wat ons onlangs gedoen het. Ek weet ook nie of ek dit juis “dans” sou noem nie. Maar ja, as ’n produksie vereis dat ek moet dans, dan kan ek sekerlik mense flous om te dink dat ek kan dans! 

Die afgelope paar jaar was ek by verskeie produksies betrokke as akteur (oa Romeo en Julia, Die Storm, Kringe in ’n bos en meer onlangs Balbesit, waarvoor die hele cast ’n Kanna gewen het vir beste akteur). Ek het drama studeer by die Universiteit Stellenbosch en het my honneursgraad in spel daar verwerf.

Ek het ook n paar jaar gewerk by die satiriese program ZANews as poppespeler, waar ons ook ’n SAFTA gewen het vir beste ensemble.

As kulkunstenaar eet die kinders uit jou hande; ek het jou al sien optree in biblioteke en teaters. Hoe het die samewerking tussen jou en Hugo Theart-hulle van TEATERteater begin?

Ja, dit is vir my ongelooflik lekker om te sien hoe die kinders dit geniet. Hulle glo nog aan regte-egte towenaars, en dit maak die lewe vir my ook bietjie meer pret!

Ek het al ’n paar keer saam met Marthinus Basson gewerk aan produksies, en ek het vir Hugo ontmoet in een van hierdie produksies waarin hy ook gespeel het (Die Storm). Ek kan nie presies onthou wanneer ek dit vir hom genoem het nie, maar ek het begin praat oor die idee om kulkuns en teater saam te smelt en ’n toneelstruk daaruit te skep. Hierdie idee het so ’n paar jaar rondgeswem in ons koppe, tot ons besluit het die tyd is nou reg om dit aan te pak. Hieruit het die Woordfees-kindervertoning en Die goëlaar gespruit; al twee is vir ons sover eksperimente om te kyk wat moontlik is met die vermenging van kulkuns en teater.

Is toorkunsies alles sommer maar net oëverblindery?

Dit is nogals ’n vraag wat ek baie kry, en ja, dit is als oëverblindery en truuks! Geen bose magte word ingespan nie!

Waar het jou eie belangstelling hierin begin? Kan jy die dag onthou waarop jy besluit het dis wat jy gaan doen om jou brood en botter te verdien?

Sjoe, ek was seker so nege jaar oud toe ek die eerste keer daarmee begin het. Ek kan nog goed onthou dat ek ’n vertoning van Martino gesien het en dit my onmiddellik gefassineer het. My ma het daarna vir my ’n hele biblioteekboek afgerol en in ’n lêer gesit en dis hoe dit begin het. Ek kan nie onthou dat ek ooit regtig ’n besluit geneem het dat dit een van my beroepe gaan word nie; dit het so te sê vanself gebeur. Ek was na skool vir twee jaar Londen toe, en ek dink dis daar waar die idee van kulkuns as ’n beroep my die eerste keer regtig bygeval het.

Wag ’n bietjie, is dit waarmee jy jou brood en botter verdien? Of is jy net ’n vermaaklikheidskunstenaar, ’n entertainer in ’n bedryf waar mens al jou talente gebruik om kos op die tafel te kry?

Op die oomblik is kulkuns nie al hoe ek my brood en botter verdien nie. Ek wissel maar af tussen akteur wees, kulkunstenaar en poppespeler. Dis maar ’n moeilike bestaan somtyds in die vermaaklikheidsbedryf, so ’n mens moet maar so veelsydig as moontlik probeer wees om kos op die tafel te kry.

Geon Nel

Hoe sou jy Die goëlaar beskryf?

Ja, ’n mens sou dit as ’n magies-realistiese toneelstuk kon beskryf. Ek wil nie te veel verklap nie, maar die atmosfeer en beligting van die stuk is veronderstel om die paar kulkunsies en illusies soveel meer trefkrag te gee. Dit gaan maar meer om karaktervorming en om ’n interessante storie te vertel en dit dan in te kleur met ’n paar kulkunsies. So ja, magies-realisties klink vir my reg.

 


Sign up for LitNet’s free weekly newsletter. | Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief.


 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top