US-konvokasie 2017: US se taalstryd duur voort

konvokasie650

Die taalstryd aan die Universiteit Stellenbosch wat ontaard het in ’n regstreekse konfrontasie tussen die president van die US se konvokasie, Jan Heunis, en die rektor en visekanselier, Wim de Villiers, was boaan die agenda tydens die universiteit se jaarlikse konvokasievergadering wat Donderdagaand in Stellenbosch gehou is.

Albei die rolspelers in die stryd het as sprekers opgetree tydens die vergadering, waar emosies soms hoog geloop het.

Die vergadering het in die Paul Roos-sentrum op die skoolterrein van Paul Roos Gimnasium plaasgevind.

Die erge spanning tussen die konvokasie aan die een kant en die bestuur, die rektor en viserektore, raad en senaat van die US aan die ander kant het soos ’n donker wolk oor die vergadering gehang.

Teen die agtergrond van beweerde sensuur op die konvokasie se bestuur en aantygings dat ’n klein groepie studente dit reggekry het om die US-bestuur na hulle pype te laat dans, het sowat 300 alumni die konvokasie se jaarvergadering bygewoon om hulle stemme te laat hoor.

Dit was aansienlik minder as die byna 2 000 wat verlede jaar se vergadering bygewoon het.

Studente, sakemanne en akademici is deur Heunis opgeroep tot die stryd vir meertaligheid en die beskerming van veral inheemse tale.

Die felheid en intensiteit waarmee die taaldebat aan dié universiteit die afgelope paar jaar gevoer word, het verskeie kere na vore gekom tydens die vergadering.

Hoewel daar ’n paar jonger stemme was, het die gehoor hoofsaaklik uit ouer alumni bestaan. Daar was geen teken van die #FeesMusFall-groep wat verlede jaar se vergadering bygewoon het nie.

Sommige van die sprekers het wel die universiteit se nuwe taalbeleid sterk gesteun, al was hulle in die minderheid.

Die meerderheid was sterk ten gunste van die behoud van Afrikaans as akademiese en onderrigtaal.

Jan Heunis, voorsitter van die US-konvokasie

“Ek is hier omdat ek vir 'n idee staan; vir 'n beginsel,” het Heunis aan die begin van sy toespraak verklaar.

Hy sê dit is ’n stryd wat verdien om voor gestry te word en een wat Afrikaanssprekendes saam met ander bevolkingsgroepe kan stry.

Volgens Heunis verg dit nie net ’n aandrang op Afrikaans as taal van onderrig nie. Dit noodsaak ook die ontwikkeling van ander inheemse tale as akademiese en wetenskapstale.

“Ek is verbaas oor die felheid en intensiteit van die teenstand wat my standpunt ontlok, maar die voortbestaan van hierdie idee is nie van my afhanklik nie. Dit leef in die harte van duisende Afrikaanssprekendes en dit sal deur hulle in stand gehou word.”

Lina Spies

Lede van die konvokasie, onder andere die digter Lina Spies en die vorige president van die konvokasie en gewese viserektor van die US, Christo Viljoen, was, soos die meerderheid van die gehoor, sterk ten gunste daarvan dat Afrikaans se status as akademiese en onderrigtaal behou moet word.

Heunis het sy argument gebou op die taalregte wat in die Grondwet verskans is en die demografiese verspreiding van Afrikaans.

“Die Universiteit Stellenbosch is nie 'n eiland in die see van Suid-Afrikaanse tersiêre onderrig nie. Die implementering van die Grondwet en die ministeriële beleid aan hierdie universiteit behoort ingelig en bepaal te word deur 'n groot verskeidenheid faktore,” het Heunis gesê.

Vanjaar se konvokasievergadering het plaasgevind teen die agtergrond van vier Suid-Afrikaanse universiteite wat binne die bestek van 'n jaar Afrikaans se status as primêre taal van onderrig (saam met Engels) beëindig het.

Volgens die 2011-bevolkingsensus is Afrikaans die huistaal van 6,8 miljoen mense of 13,5% van die totale bevolking. Dit is die derde grootste huistaal naas Zulu en Xhosa; Engels, wat 4,8 miljoen huistaalsprekers het, is die vierde grootste huistaal.

Afrikaans is die huistaal van 75,8% van bruin mense en 60,8% van wit mense. Indien die 2016-middeljaar-raming van Statistiek Suid-Afrika toegepas word, is daar 7,5 miljoen Afrikaanstalige mense, van wie 3,6 miljoen bruin mense is.

In die Wes-Kaap is Afrikaans die huistaal van 49,7% van die inwoners en Engels die huistaal van slegs 20,2%.

Heunis het vier beginsels uitgestippel waarvan niemand volgens hom uitgesluit behoort te word nie:

  • gelykheid
  • menswaardigheid
  • sekerheid van die persoon, wat beteken dat almal aan hierdie debat moet kan deelneem sonder vrees vir lewe en veiligheid
  • vryheid van uitdrukking.

“Daar kan nie meer ruimte wees vir die uitskakeling van mense op sterkte daarvan dat hulle kwansuis teruggryp na die verlede terwyl die enigste rede waarom hulle daarvan beskuldig word, 'n armoede aan geldige weerleggende argumente is nie.”

Wim de Villiers, visekanselier en rektor van die US

In sy toespraak het De Villiers klem gelê op Stellenbosch as ’n universiteit van uitnemendheid en gefokus op die toekoms soos hy en die universiteit se bestuur dit sien.

Hy het verskeie mylpale uitgestip wat in die onlangse verlede deur die universiteit bereik is.

Oor die taalbeleid en die meriete daarvan wou hy in die lig van die hangende hofsaak nie in diepte ingaan nie. Hy het egter ten sterkste ontken dat die universiteit besig is om Afrikaans uit te rangeer.

Hy sê 2016 se nuwe taalbeleid beteken nie die ondergang van Afrikaans as akademiese taal nie. Dit is daarop ingestel om toe te sien dat niemand op grond van taal of ras uitgesluit word as hulle aan die universiteit wil studeer nie.

Volgens Heunis word beide die grondwetlike opdragte om inheemse tale tot wetenskapstale te ontwikkel, asook die opdrag om Afrikaans se status as akademiese taal uit te bou, egter verontagsaam.

Hy glo die huidige koers sal groter ongeregtigheid en ongelykheid meebring. “As daar meriete was in die aanklag dat Engelssprekende studente nie gelykwaardig behandel was nie, is daar nou meriete in die aanklag dat Afrikaanssprekende studente nie gelykwaardig behandel word nie.”

Hy sê nie een van die twee uitkomste behoort nodig te wees nie.

Volgens hom sal dit, in die woorde van die konstitusionele hof, lei tot die "equality of the graveyard, not of the vineyard".

Een van die konvokasielede wou weet waarom haar dogter, wat ’n A-student is, uitgesluit word net omdat sy blank is. “Ek is jammer, maar ek kan u universiteit nie meer ondersteun nie,” het sy aan die rektor gesê. De Villiers het voor die tyd aangedui dat hy nie vrae tydens die vergadering wil beantwoord nie.

Hy het vroeër in sy toespraak gesê die universiteit se mikpunt is om in 2017 40% swart studente te hê en teen 2020 50%.

’n Mosie waarin die konvokasie die hofaansoek ondersteun wat die tersydestelling van die US se nuwe taalbeleid ten doel het, is met ’n groot meerderheid aanvaar.

Heunis se deelname as ’n applikant in die aansoek is ook deur die konvokasie goedgekeur.

Hulle het die US weer eens versoek om bo en behalwe enige lesings wat in Engels aangebied word, ook ’n gelykwaardige voorgraadse aanbod met Afrikaans as voertaal aan studente te maak.

Danie Marais, bestuurder van PEN Afrikaans

Die mosie is deur die bestuurder van PEN Afrikaans, Danie Marais, ingedien.

’n Tweede mosie, waarin JD Blackenberg, een van die jonger bruin alumni, gevra het vir voortgesette gesprekke tussen die verskillende groepe, die konvokasie en die universiteitsbesuur om groter debat en oop gesprek toe te laat sodat almal se menings gehoor kan word en nie net dié van een groep nie, is ook deur die konvokasie aanvaar.

Baie van die sprekers het hulle sterk verbintenis ten opsigte van Afrikaans verklaar en gepleit dat die universiteit nie sy Afrikaanse karakter prysgee nie.

JD Blackenberg

In die Wes-Kaap is vier universiteite waarvan drie volledig in Engels onderrig gee.

Skoolhoofde van bruin Afrikaanse hoërskole in die Wes- en Noord-Kaap wys daarop dat hul matrikulante met Afrikaans as huistaal baie moeilik suksesvol aan Engelse universiteite studeer, en dat vir B-graad-studie die uitsaksyfer van bruin studente 34% is – heelwat hoër as die 24% van swart studente en 22% van wit studente.

Heunis sê dit is waarskynlik een van die belangrikste redes waarom bruin mense die laagste deelnamekoers van alle bevolkingsgroepe aan hoër onderwys het. Die verengelsing van die US sal bruin studente volgens hom van nog geleenthede ontneem.

Diegene wat hulle vir meertaligheid beywer, sê die stryd gaan nie net oor Afrikaans as onderrigtaal nie, maar sluit al die inheemse tale in.

Heunis sê dít het implikasies vir meer as die tale: dit het implikasies vir gemeenskapsontwikkeling, vir die gehalte van onderrig, vir die ekonomie, en vir ons geloof in die waardes wat onderliggend aan ons Grondwet is, en omdat dit so is, het dit implikasies vir ons politieke stelsel.

Foto's: Naomi Bruwer

Lees ook:

US-konvokasie 2017: toespraak deur Jan Heunis

Jan Heunis
Universiteitseminaar | University Seminar

"Die uitdaging is om te besef dat ’n aanspraak om in ’n moedertaal onderrig te word, ’n regverdige, grondwetlik-gefundeerde aanspraak is."

 
US-konvokasie 2017: videogreep van Wim de Villiers oor die US-taalbeleid

Naomi Bruwer
Universiteitseminaar | University Seminar

Kyk 'n kort videogreep, wat spesifiek aansluit by die US-taaldebat, uit Wim de Villiers se toespraak by die US-konvokasievergadering 2017.

 
US-konvokasie 2017: toespraak deur Wim de Villiers

Wim de Villiers
Universiteitseminaar | University Seminar

"Ons beskou diversiteit as ’n voorvereiste vir uitnemendheid. Blootstelling aan ’n groter verskeidenheid mense en idees verruim die denke en verryk ons uitsette."

 
US-konvokasie 2017: videogreep van Christo Viljoen oor die US-taalbeleid

Naomi Bruwer
Universiteitseminaar | University Seminar

Christo Viljoen, vorige voorsitter van die US-konvokasie, het by die US-konvokasievergadering 2017 kortliks oor die US-taalbeleid gepraat.

Kommentaar

  • Leon de Vries

    Baie dankie adv Heunis: Die voortbestaan van Afrikaans "leef in die harte van duisende Afrikaanssprekendes en dit sal deur hulle in stand gehou word". Dit is treffende woorde wat, glo ek, nog lank in die toekoms geëggo gaan word. Mag u en al die ander wat u ondersteun suksesvol wees om Afrikaans, lieflike, skuldlose taal, se toekoms op Stellenbosch te verseker. In die stryd om die voortbestaan van Afrikaans is Stellenbosch van besondere belang. Stellenbosch het groot simboliese betekenis. As Stellenbosch val, gaan dit verreikende negatiewe gevolge hê. Nie net vir Afrikaans nie, maar ook in die hart van baie Afrikaanses wat voel hulle word al meer in Suid-Afrika eenkant toe geskuif. Die voortbestaan en groei van Afrikaans is belangrik vir ons reënboognasie. Baie sterkte, energie en uithouvermoë vir die Derde Afrikaanse Taalstryd.

  • Die feit dat Wim de Villiers nie bereid was om vrae te beantwoord nie (in skrille teenstelling met die houding van sy voorgangers) spreek boekdele.
    Die belangrikste is die mosie wat aanvaar is, en wat vra dat Afrikaans gelykberegtiging met Engels aan die US as onderrigtaal sal geniet, en wat die Gelyke Kanse beweging steun in hul hofaansoek teen die taalbeleid van die US.
    De Villiers het andermaal 90%+ van sy toespraak in Engels (eintlik Amerikaans - met woorde soos "pattints") gelewer, ten spyte van die feit dat die gehoor vir 90%+ Afrikaanssprekend was.

  • Braam de Vries

    Wat in werklikheid aangegaan het op dié konvokasievergadering word uitstekend weergegee in Jean se berig: "Hy het egter ten sterkste ontken dat die universiteit besig is om Afrikaans uit te rangeer." (Rektor)
    "Hy het vroeër in sy toespraak gesê die universiteit se mikpunt is om in 2017 40% swart studente te hê en teen 2020 50%." (Rektor)
    In watter taal is die meeste swart studente se skoolopleiding, professor De Villiers?
    Waarom kleur en ras alwéér stel bo iets so wesentliks soos taal? Herken u werklik nie in u standpunt die ou NP se voorliefde vir en kleur en ras nie?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top