US-konvokasie 2017: toespraak deur Wim de Villiers

  • 0

Goeienaand, dames en here. Dankie vir die uitnodiging om die stand van sake aan die Universiteit Stellenbosch met u, as ’n belangrike belanghebbersgroep, te deel – ek gaan ’n terugskouing op 2016 doen, maar ook aantoon dat ons doelgerig gefokus is op die toekoms.

Ek doen dit graag aan die hand van ons visie om ’n inklusiewe, innoverende en toekomsgerigte instelling te wees, maar ek begin by innovering – en daarby ingesluit uitnemendheid wat by ’n wêreldklas universiteit hand aan hand loop.

Innoverende en uitnemende instelling

Met verwysing na innovasie en uitnemendheid wou u in die fotolus wat vooraf vertoon is, van 2016 se hoogtepunte en prestasies kennis geneem het. Dit sluit in erkenning van akademiese uitnemendheid; die universiteitskoor se prestasie by die Wêreldkoorspele en as wenner van die Varsity Sing-kompetisie; asook ons Maties-atlete wat op nasionale vlak en by die Olimpiese Spele en Paralimpiese Spele in Brasilië meegeding het.

’n Universiteit se reputasie is immers gekoppel aan sy kernfunksies van leer en onderrig; navorsing en innovasie; en sosiale impak.

Verlede jaar was in talle opsigte vir die hele hoëronderwyssektor, en vir die US, ’n baie beduidende uitdaging – onder meer vanweë protesaksie oor transformasie, dekolonisering en studentegelde; verwagtinge van gratis hoër onderwys en die risiko vir finansiële volhoubaarheid na die aankondiging van geen styging in studentegelde vir 2016 nie. Dit was ’n besonder komplekse jaar, en volgens USAf en die 26 visekanseliers wat die organisasie verteenwoordig, die onstuimigste en mees uitdagende tydperk in die hoër onderwys na 1994.

Nietemin het die US ’n uitsonderlike jaar van volgehoue prestasie en nuwe hoogtepunte beleef:

  • In Desember is 5 395 kwalifikasies toegeken, met ’n nuwe rekordgetal van 138 doktorsgrade, teenoor 127 in Desember 2015. En dit het ons bereik deur ons akademiese jaar suksesvol en volgens skedule te voltooi – iets wat nie veel ander instellings vermag het nie.
  • Verlede Donderdag het ek vir ons nuwelinge gesê dat hulle by die regte plek is, onder meer omdat die sukseskoers van ons studente konsekwent rondom 84% is – ’n volle 10% bo die gemiddelde prestasie by ander universiteite. Ons retensiekoers is selfs nog beter – 17% bo die nasionale gemiddelde.
  • Prof Yusef Waghid het in 2016 die US se eerste oop aanlyn kursus (MOOC) aangebied, met 2 500 inskrywings van oor die wêreld. Dit was die wêreld se eerste MOOC oor Afrika-onderwysfilosofie.
  • Wat navorsing aanbetref, het ons NNS-gegradeerde (Nasionale Navorsingstigting-/NRF-) akademici toegeneem van 220 in 2012 tot 392 in 2016.
  • Daarmee saam is die US reeds vir vier opeenvolgende jaar die voorste Suid-Afrikaanse universiteit op die terrein van geweegde navorsingsuitsette per voltydse personeellid. Die US is ook die mees produktiewe Suid-Afrikaanse akademiese instelling in terme van navorsingsuitsette.
  • Volgens die jongste Patent Cooperation Treaty se data het die US in die tydperk 2009 tot 2016 altesame 98 patente geregistreer. Die US is steeds die Suid-Afrikaanse voorloper, met meer patente as selfs Sasol en die WNNR.
  • In 2016 het ons navorsingskontrakkantoor 882 nuwe navorsingskontrakte en -ooreenkomste ten bedrae van ongeveer R1,78 miljard verwerk. In 2015 was die bedrag R1,18 miljard en in 2012 was dit R550 miljoen.
  • Die totale NNS-inkomste was in 2016 meer as R367 miljoen, teenoor die ongeveer R260 miljoen in 2015.
  • Die aantal befondste navorsingsleerstoele neem toe van 23 in 2013 tot 37 in 2016.
  • In die tydperk Januarie tot Desember het filantropiese skenkings R338 miljoen bedra – 54% meer as in 2015. Dit sluit ’n beduidende toename in skenkings deur individue in, grootliks van alumni.

Waaraan kan hierdie suksesse toegeskryf word?

  • Ek glo hierdie prestasies kan tot ’n betekenisvolle mate toegeskryf word aan die US se duidelike visie soos uiteengesit in die Institusionele Voorneme en Strategie; en doelgerigte uitvoering van sy Institusionele Plan, tesame met ’n toekomsgerigte ingesteldheid.
  • Met betrekking tot ons studentegemeenskap het die sterk klem van die verlede op koshuisverband verskuif na akademiese en sosiale integrasie om studentesukses te bevorder. Dit word bewerkstellig deur middel van verskeie studente-ondersteuningstrukture en innoverende fisiese infrastruktuur in die leef- en leeromgewings.

By verlede week se verwelkomingsgeleentheid het Delecia Davids, hoof van die klustersameroepers, hierdie benadering van die US so aan nuwelingstudente en hulle ouers verduidelik:

I’ve come to think of Stellenbosch University as an ecosystem – a community of interacting organisms which form interconnected systems and relationships. You form a part of this institution by being a registered student and as such belong to a certain faculty. In this instance you are one of about 30 000 students … this can really cause one to feel lost in the crowd. But as a university who values inclusivity and belonging, there are other smaller learning communities whose core focus is student success through interaction. Such a community is your cluster. A cluster consists of a number of residences and private student organisations, and plays a significant role in the integration and support of new students.

Waarom is hierdie prestasies so betekenisvol?

  • Dit bevestig die US se leiersposisie op die terrein van studentesukses, en hoe ons benadering ten opsigte van studente-ondersteuning en -ontwikkeling daartoe bydra.
  • Dit illustreer die diepte van die US se navorsingsbasis, maar ook ons vermoë om die US se uitsette en intellektuele eiendom te ontsluit tot voordeel van gemeenskappe en die US se finansiële volhoubaarheid.
  • Dit illustreer die erkenning wat die US se akademiese personeel geniet.
  • Dit illustreer die US se verbintenis tot en sukses met die groei in nagraadse studente en navorsing.
  • Die derde- en vierdestroominkomste is ’n aanduiding van die vertroue in die US se kundigheid, in die relevansie van ons werk en in ons betroubare finansiële beheer en bestuur (sound corporate governance).

Inklusiewe instelling

Wat nou van Stellenbosch as ’n inklusiewe en toeganklike instelling? Verskeie faktore kan die uitsluiting van studente tot gevolg hê: meer akademiese prestasie, finansiële uitdagings en ook die onderrigtaal.

Inklusiwiteit gaan nou saam met die verbreding van toegang tot die US vir alle studente wat hier wil kom studeer. Van 2008 tot 2015 het ons inname van swart, bruin en Indiërstudente van 31% tot 38% gestyg, en ons hoop om in 2017 40% te bereik. Vir 2020 is ons mikpunt dat BSI-nuwelinge 50% van ons inname sal uitmaak.

Ons beskou diversiteit as ’n voorvereiste vir uitnemendheid. Blootstelling aan ’n groter verskeidenheid mense en idees verruim die denke en verryk ons uitsette.

Ons is hoopvol dat die finansiële uitdagings en studentegelde-kwessies deeglik in 2017 aangesny en besleg word na die uitreiking van die Presidensiële Kommissie se verslag en regeringsaksies. Ons moet stabiliteit in die breë hoëronderwyssektor verseker – geweld, brandstigting en intimidasie is kriminele dade en doodgewoon onaanvaarbaar.

Ons kan ook nie oor inklusiwiteit praat sonder om na die US se nuwe Taalbeleid te verwys nie. Die aanvaarding van die nuwe Taalbeleid in Junie 2016 deur die Universiteitsraad met die instemming van die Senaat was ’n belangrike verwikkeling.

Daar is egter intussen ’n hofaansoek teen die US gebring om die besluite oor die nuwe Taalbeleid tersyde te stel. Teen hierdie agtergrond kan ek nie oor die meriete van die aansoek uitwei nie. Wat ek wel kan doen, is om die Taalbeleid kortliks toe te lig.

Die 2016 Taalbeleid is gebaseer op twee normatiewe grondbeginsels:

  1. Dat taal toegang tot die instelling moet bevorder en die akademiese en beroepsukses van studente en personeel moet ondersteun.
  2. Dat taaltoepassing opvoedkundig-verantwoordbare leer en onderrig moet fasiliteer.

Dus, wat moet die Taalbeleid en die toepassing daarvan bewerkstellig?

  • Die Taalbeleid het onder meer ten doel dat geen student weens ontoereikende vaardigheid in Engels of Afrikaans op grond van taal of ras van die akademiese aanbod uitgesluit word nie; en so ook nie enige personeellid van die werksaamhede van die universiteit nie. Die Taalbeleid bevorder dus inklusiewe meertaligheid en die verbreding van toegang.
  • Afrikaans bly ’n onderrigtaal en die akademiese potensiaal van Afrikaans sal bevorder word deur ’n verskeidenheid van aksies.

Ek moedig u aan om die nuwe Taalbeleid en die dokumente wat algemene vrae behandel, op die webtuiste te bestudeer: www.sun.ac.za/taal.

Ek stem hoegenaamd nie saam met die kommentaar dat die 2016-Taalbeleid die Afrikaanse taal of Afrikaanse kultuur ondermyn nie; dat dit Afrikaanssprekendes van die geleentheid ontneem om in Afrikaans onderrig te ontvang nie; of dat dit Afrikaans as onderrigtaal uitrangeer nie.

Die gebruik van parallelmediumonderrig word doelgerig uitgebou. Ons projeksies vir 2017 is dat meer as 40% van ons studente in modules hul lesings in parallelmedium sal ontvang. Tolking word ook al reeds jare lank ingespan om studente se verstaan van die voorlesings ? lesings ? te verbeter.

Taaltoepassing en die US se onderrigmodel is nou met mekaar verweef. ’n Kombinasie van verskillende gefasiliteerde leergeleenthede (lesings, tutoriale en praktika) word in alle fakulteite gebruik en word ondersteun deur inligtings- en kommunikasietegnologie, onder meer video- of klankopnames (podcasts of potgooi), intydse tolking in sommige lesings en leermateriaal in Afrikaans en Engels. Die tradisionele lesingformaat (sg chalk and talk-metode of sage on the stage) wat my geslag onthou, maak ’n baie klein persentasie uit van hedendaagse onderrigmodelle. Die klem val toenemend op gemengde leer.

Toekomsgerigte instelling

Volgende jaar, in 2018, vier ons die US se eerste eeu. Terselfdertyd is ek optimisties oor die nuwe eeu wat vir hierdie inklusiewe, uitnemende en toekomsgerigte Afrika-universiteit voorlê. Die US is ’n nasionale bate met ’n beduidende sosiale impak.

Ek noem graag net een voorbeeld van die US se fokus op die toekoms aan die hand van goeie nuus wat ons vandeesweek ontvang het. Ons Hope@Matiesprogram berei leerders in onderwysbenadeelde skole voor om toegangsvereistes na te kom en vir universiteitstudie.

In 2016 het ons Hope@Maties-leerders weer uitstekend presteer! In die Wes-Kaap het die 236 leerders ’n gemiddelde persentasie van 78% behaal, en die Noord-Kaapse 57 leerders ’n gemiddelde van 80%. Die sukses van die program het intussen onder die aandag van die Departement Wetenskap en Tegnologie gekom en ons het verlede week verneem dat die vestiging van nege provinsiale sentra met befondsing van meer as R80 miljoen goedgekeur is. Meer as ’n 1 000 leerders sal baat vind by die projek, en so word die aansoekerspoel vir veral studierigtings in wetenskap en wiskunde vergroot.

Slot

Ek doen vanaand ’n ernstige beroep op ons konvokasielede om die US te steun op hierdie reis na groter inklusiwiteit, innovering en toekomsgerigtheid. Reik saam met ons uit na al 120 000 alumni: ook veral na ons jonger professionele en ander gegradueerdes. Wees saam met ons trots op ons alma mater se vele prestasies; en besef terdeë dat ons personeel, die Institusionele Forum, die Senaat, die Universiteitsbestuur en die Universiteitsraad in die beste belang van ons instelling optree.

Ek sluit af met ’n uittreksel uit Pierre Lombard, voorsitter van die Primkomitee, se toespraak by die verwelkoming van 2017 se nuwelingstudente en hul ouers:

What it meant to be a Matie 30 years ago does not mean the same thing today, but there is still a golden thread running through all of us. Die ervaringe gaan anders wees vir u kind, en dinge gaan nie dieselfde wees soos wat u dit onthou nie, maar vandag se Matie is nog net so trots om ’n Matie te IS as wat u was toe u hier weggestap het.

So Maties, be excellent. Embrace the diversity of Stellenbosch. Make your ride at Stellenbosch a meaningful one, and it is important to remember that the problems we have today cannot be solved with the same thinking we used when we created them.

’n Universiteit is juis ’n plek van debatvoering, kritiese ondersoek en verskillende standpunte. Dat ons van mekaar verskil, is nie noodwendig ’n teken van spanning of swak verhoudinge nie. Ek glo werklik die konvokasie van oudstudente deel ons visie vir ’n uitnemende Universiteit Stellenbosch, in belang van vandag en die volgende eeu se studente, en die breë Suid-Afrikaanse, Afrika- en globale gemeenskap. Kom ons bly gefokus op die pad vorentoe. Baie dankie.

Foto van Wim de Villiers: Naomi Bruwer

Lees ook:

US-konvokasie 2017: toespraak deur Jan Heunis

Jan Heunis
Universiteitseminaar | University Seminar

"Die uitdaging is om te besef dat ’n aanspraak om in ’n moedertaal onderrig te word, ’n regverdige, grondwetlik-gefundeerde aanspraak is."

 
US-konvokasie 2017: US se taalstryd duur voort

Jean Oosthuizen
Universiteitseminaar | University Seminar

"Die felheid en intensiteit waarmee die taaldebat aan dié universiteit die afgelope paar jaar gevoer word, het verskeie kere na vore gekom tydens die vergadering."

 
US-konvokasie 2017: videogreep van Wim de Villiers oor die US-taalbeleid

Naomi Bruwer
Universiteitseminaar | University Seminar

Kyk 'n kort videogreep, wat spesifiek aansluit by die US-taaldebat, uit Wim de Villiers se toespraak by die US-konvokasievergadering 2017.

 
US-konvokasie 2017: videogreep van Christo Viljoen oor die US-taalbeleid

Naomi Bruwer
Universiteitseminaar | University Seminar

Christo Viljoen, vorige voorsitter van die US-konvokasie, het by die US-konvokasievergadering 2017 kortliks oor die US-taalbeleid gepraat.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top