Uitverkiesing en evangelikaalse spiritualiteit: die “Bekommerd”-debat

Uitverkiesing en evangelikaalse spiritualiteit: die “Bekommerd”-debat

Vincent Brümmer, buitengewone professor in Sistematiese Teologie, Universiteit Stellenbosch

LitNet Akademies Jaargang 13(3)
ISSN 1995-5928

 

Opsomming

In die dertigerjare van die vorige eeu was daar in Suid-Afrika ’n sterk oplewing van Kuyperiaanse neocalvinisme. Die neocalviniste het hulle begin organiseer in ’n beweging met die doel om die neocalvinistiese ideologie van Abraham Kuyper op alle terreine van die Suid-Afrikaanse samelewing te versprei. Hierdie beweging was veral sterk in die Gereformeerde Kerk en die Potchefstroomse Universiteitskollege, maar het ook ’n groeiende aanhang in die NG Kerk gehad. Die neocalviniste het ook die tradisionele evangelikaalse spiritualiteit in die NG Kerk afgewys as “metodisties”. Ds. A.A. Weich het toe onder die skuilnaam “Bekommerd” die evangelikaalse spiritualiteit teenoor die neocalviniste verdedig. Dit het aanleiding gegee tot ’n lewendige debat in Die Kerkbode. Die meeste teoloë in die NG Kerk het hulleself beskou as goed Gereformeerd en het daarom die calvinistiese uitverkiesingsleer onderskryf sonder om hulle druk te maak oor die logiese spanning tussen hierdie leer en hulle evangelikaalse spiritualiteit. In die “Bekommerd”-debat het hierdie spanning egter duidelik aan die lig gekom. In hierdie artikel word hierdie “Bekommerd”-debat bespreek.

Trefwoorde: “Bekommerd”-debat; J.D. Vorster; J.D. du Toit (Totius); liefde van God; metodisme; neocalvinisme; P.J.S. de Klerk; soewereiniteit van God; spiritualiteit; uitverkiesing

 

Abstract

Predestination and evangelical spirituality: The “Bekommerd” (“Concerned”) debate1

In the 1930s there was a strong rise of the neo-Calvinism of Abraham Kuyper in South Africa. The neo-Calvinists started to organise themselves into a movement aimed at spreading the neo-Calvinist ideology in South Africa. This movement was especially strong in the Gereformeerde Kerk (Reformed Church) and the Potchefstroom University College, but there was also growing support for neo-Calvinism within the Dutch Reformed Church (NG Kerk). From their Kuyperian perspective the neo-Calvinists in South Africa opposed the evangelical spirituality in the Dutch Reformed Church, which according them was “Methodist” and therefore contrary to Calvinism. In 1935 the Rev. A.A. Weich, under the pseudonym “Bekommerd” (Concerned), wrote a series of letters in Die Kerkbode in which he defended the evangelical spirituality of the Dutch Reformed Church against the rising neo-Calvinism in South Africa. These letters evoked a flood of reactions from supporters and opponents of “Bekommerd” in the correspondence column of Die Kerkbode.

This debate brought to light an underlying conflict between opposing forms of theology within the Dutch Reformed Church. Calvin’s doctrine of predestination and the neo-Calvinism of Abraham Kuyper were based on the key metaphor of the absolute sovereignty of God, whereas the evangelical spirituality of the Dutch Reformed Church was based on the key metaphor of the love of God in Christ. To complicate matters, there was also a third type of theology in the background within the debate, namely a theology of merit. In different ways both a theology of divine sovereignty and a theology of divine love were opposed to a theology of merit.

A theology of merit assumes that humans can earn salvation through good works. If we do the will of God, God will reward us with heaven. If, however, we fail to act according to his will, he will punish us with hell. God’s grace is therefore not unconditional. It is dependent on our good works.

A theology of divine sovereignty rejects the idea that we can earn our salvation with good works. Because of the fall of Adam, all human beings have lost the ability to do the will of God, and are therefore doomed to eternal punishment. We can be saved from this fate only by the sovereign grace of God. However, this saving grace applies only to those whom God has from all eternity elected for salvation, whereas all others are left in the eternal doom resulting from Adam’s fall. Both the salvation of some and the doom of others are based exclusively on the eternal and inscrutable decree of God. Our free actions are therefore irrelevant for our salvation. At the synod of Dordt the followers of Jacob Arminius opposed the idea that our actions are irrelevant for our salvation. They agreed with the Reformed fathers at Dordt that God had decreed before all time who are to be saved and who not. However, this decree was based on his infallible foreknowledge of the deeds of all future human beings. The Reformed fathers of Dordt were right in considering this to be a covert form of the theology of merit.

A theology of divine love assumes that through sin all human beings are estranged from God and that their salvation consists in being reconciled with God and restored into a relationship of loving fellowship with God. The two necessary conditions for such reconciliation are divine forgiveness and human repentance and conversion. God’s forgiveness is unconditional and applies to all sinners. God loves all human beings. Repentance and conversion are a human responsibility. God can enable and inspire us to repent, but he cannot cause our repentance, for then it would not be ours. We can be reconciled to God only if we freely return his love. However, since we can do so only when he enables and inspires us, believers give all credit for their own conversion to God alone. Soli Deo gloria.

In the “Bekommerd” debate it is clear that the evangelicals defended a theology of the love of God and the Calvinists a theology of divine sovereignty. This difference had far-reaching implications for both spirituality and preaching. The evangelicals practised a spirituality of conversion and sanctification. The aim of their preaching was to call all human beings to conversion and a life of sanctification in response to the love of God. For the Calvinists, however, conversion and sanctification are not our responsibility but the necessary effect of divine election. Preaching was therefore aimed at making the elect aware of their status as the elect. The Calvinists rejected both the spirituality and the preaching of the evangelicals as contrary to Reformed doctrine. However, in doing so they confused a theology of love with a theology of merit, and therefore mistakenly accused the evangelicals of being Arminians.

The neo-Calvinists not only opposed the spirituality and preaching of the evangelicals. They also wanted to actively spread the neo-Calvinist ideology of Abraham Kuyper to all areas of South African society.2

Keywords: “Concerned” (“Bekommerd”) debate; divine love; divine sovereignty; J.D. du Toit (Totius); J.D. Vorster; Methodism; neo-Calvinism; P.J.S. de Klerk; predestination; spirituality

 

1. Inleiding: Neocalvinisme in Suid-Afrika3

Dit is merkwaardig dat die spanning tussen die oorwegend evangelikaalse spiritualiteit van die NG Kerk en die konsekwente handhawing van die calvinistiese uitverkiesingsleer geen enkele rol gespeel het in die kerkstryd rondom Johannes du Plessis in 1926–1932 nie. Du Plessis was ’n toegewyde verteenwoordiger van die evangelikaalse spiritualiteit van die NG Kerk. Bowendien het die neocalviniste onder sy sterkste teenstanders getel. Nogtans het die geskil tussen hom en die Kaapse sinode primêr gegaan oor sy opvattings oor Bybel-inspirasie en oor die legitimiteit van die histories-kritiese Bybel-ondersoek en het die vraag na die regsinnigheid van sy evangelikaalse spiritualiteit nooit ter sprake gekom nie. Hierdie spiritualiteit was so ’n vanselfsprekende onderdeel van die kultuur in die NG Kerk dat besware daarteen geen skyn van kans gehad het om deur die sinode aanvaar te word nie.

In die 1930’s was daar egter ’n sterk oplewing van Kuyperiaanse neocalvinisme in Suid-Afrika. Die neocalviniste het hulle begin organiseer in ’n Calvinistiese Bond van Suid-Afrika en ’n Federasie van Calvinistiese Studenteverenigings in Suid-Afrika (FCSV).4 Die doel van hierdie bewegings was om die neocalvinistiese ideologie van Abraham Kuyper in Suid-Afrika uit te dra. Hierdie bewegings het veral in die Gereformeerde Kerk en by die Potchefstroomse Universiteitskollege sterk steun gehad. Onder die voormanne hier was die filosoof H.G. Stoker en die teoloë J.D. du Toit (die digter Totius) en P.J.S. de Klerk. Ook in die geledere van die NG Kerk was daar ’n groeiende steun vir die neocalvinisme. Onder hulle was E.E. van Rooyen van die Kweekskool op Stellenbosch, J.D. (Koot) Vorster (later aktuarius van die Kaapse Kerk) en F.J.M. Potgieter (later professor aan die Kweekskool). In 1935 het die FCSV ’n bundel opstelle, Koers in die Krisis, uitgegee onder redaksie van H.G. Stoker en F.J.M. Potgieter. Hierdie bundel was bedoel as ’n soort manifes vir die neocalvinisme in Suid-Afrika.

Die neocalviniste in Suid-Afrika het hulle vanuit Kuyperiaanse perspektief verset teen die evangelikaalse spiritualiteit in die NG Kerk, wat hulle as metodisties en oncalvinisties beskou het. Totius het hierdie beswaar as volg verwoord:

Die grondbeginsels van Calvyn was bekend in ons land. Op grond van dié vroeëre bekendheid, behoort hulle nog bekend te wees. Maar dit is veelsins nie die geval nie. Die lyne van die calvinisme, wat duidelik in ons volkslewe te sien was, is verdof en vervaag deur die metodisme, wat die opperheerskappy verkry het in verskillende, veral huislike en kerklike, kringe. En nou dat die metodisme hom nie meer so kragtig kan handhaaf nie, is daar by vele geen terugkeer na die beproefde pad van die calvinisme nie, maar word ons bedreig deur ’n ander vreemde woekerplant, naamlik die modernisme. Maar ook hierdie nuwe verskynsel, waarvan blykbaar ’n tydelike bekoring uitgaan, sal ons wat getrou wil bly aan die beginsels van Calvyn, nie uit die veld slaan nie. Die calvinisme is in staat om hom teenoor enige mededinger te handhaaf. Dit gaan dieper en hoër as enige ander wêreldstelsel. Daarom is dit dat ek, na jare van skynbaar vergeefse arbeid deur getroue manne op verskillende plekke aan die dag gelê, moedig en vrymoedig die pen weer opneem om te skrywe oor die grondbeginsels van ’n sisteem wat die liefde van ons hart en die toewyding van al ons kragte werd is. (Stoker en Potgieter 1935:38)

Totius het hom hierin aangesluit by die opvattings wat sy vader, S.J. du Toit, meer as 30 jaar tevore aan die Kaap voorgestaan het. In die NG Kerk waarin die evangelikaalse spiritualiteit van mense soos Andrew Murray allesoorheersend was, was S.J. du Toit egter ’n sonderlinge randfiguur. Reeds in sy studentetyd op Stellenbosch het hy hom baie ontuis gevoel in die spiritualiteit van die Kweekskool: “Die godsdienstige oortuiging in die Paarl by my aangekweek, het my bietjie soos ’n uil onder die voëls laat voel in Stellenbosch. Byna al die studente het vyandig teenoor my gestaan” (Brümmer 2013:167). Met die opkoms van die neocalvinistiese beweging in die dertigerjare was die omstandighede vir die verdediging van die calvinisme vir Totius egter gunstiger as in die dae van sy vader.

Die neocalviniste wou egter meer doen as alleen die spiritualiteit van die NG Kerk as oncalvinisties bestry. Hulle wou veral ook die neocalvinistiese ideologie van Abraham Kuyper op alle terreine van die volkslewe uitdra. Hier het ook ’n politieke motief meegespeel, omdat die denksisteem van Kuyper bruikbaar was as ideologiese onderbou vir die Afrikaner-nasionalisme, en aansluitend ook vir die beleid van apartheid. Die evangelikaalse spiritualiteit het egter nie hierdie doel gedien nie. Ek vra my dus af of die neocalviniste nie ook ’n politieke motief gehad het deur die evangelikaalse spiritualiteit in die NG Kerk, in navolging van Totius en van sy vader (Brümmer 2013:167–8, 171–6), “metodisties” te noem nie. Immers, “metodisties” was Engels en daarom volksvreemd! Die spiritualiteit van Hofmeyr en die Murrays was egter veel meer geïnspireer deur die Nederlandse Réveil (kyk Brümmer 2013:19–28). Net soos die Réveil was John Wesley ook sterk beïnvloed deur die Morawiese piëtisme van graaf Von Zinzendorf. Dit beteken egter nie dat Hofmeyr en die Murrays volgelinge van Wesley was nie. B.B. Keet is reg wanneer hy skryf: “Om nou hierdie sterke beklemtoning van die evangelikaalse taak as ‘metodisties’ te bestempel, is ongeoorloof” (Die Soeklig 1936:2).

Hierdie artikel ondersoek die teenstelling tussen calvinisme en evangelikaalse spiritualiteit na aanleiding van die “Bekommerd”-debat in Die Kerkbode van 1935–1936.

 

2. Die “Bekommerd”-debat

In 1935 het A.A. Weich, ’n Du Plessis-ondersteuner, onder die skuilnaam “Bekommerd” ’n reeks briewe in Die Kerkbode geskryf waarin hy die evangelikaalse spiritualiteit van die NG Kerk verdedig het teen die opkomende neocalvinisme in Suid-Afrika.5 Hierdie briewe het toe ’n stortvloed van reaksies uitgelok in die korrespondensierubriek van Die Kerkbode.

B.B. Keet het hierdie twis as volg omskryf (Die Soeklig 1936:1):

Aan die een kant vind ons ’n hartstogtelike instemming met die standpunt van “Bekommerd”, aan die ander kant ’n felle teenkanting. Losgemaak van veel wat glad nie te pas kom nie (ek meen dat hy in twee briewe kon klaar gesê het wat hy wou sê) is sy klagte dat daar in die laaste jare ’n rigting in die Ned. Geref. Kerk te bespeur is wat deur eensydige klem te lê op die soewereiniteit van God, die evangelikaalse roeping van die Kerk verwaarloos en so afdwaal van die rigting wat van oudsher die karakter van ons Kerk geteken het. Oor hierdie stelling is die penne in beweging gebring met pleitredes, voor sowel as teen, en dit lyk nie of die stroom van geskrifte gou sal opdroog nie.

’n Paar algemene opmerkings kan oor hierdie twis gemaak word. Om mee te begin was die reaksies op die briewe van “Bekommerd” baie verskillend. Sommige skrywers het hartstogtelik ingestem met “Bekommerd” se verdediging van die evangelikaalse tradisie in die NG Kerk. Ander weer het met felheid die calvinistiese beklemtoning van die soewereiniteit van God verdedig en hulle verset teen die manier waarop, volgens hulle, die evangelikaalse spiritualiteit van die NG Kerk daarmee in stryd kom. Ander weer het probeer om die hele teenstelling tussen calvinisme en evangelikaalse spiritualiteit af te water en volgehou dat hierdie twee rigtings met mekaar te rym is. Calviniste is ook evangelies en evangelikaalse gelowiges behoort ook calvinisties te wees. Dan was daar ook mense wat die hele onenigheid betreur het. Na die Du Plessis stryd was hulle moeg vir teologiese getwis, omdat dit alleen maar die verdeeldheid in die kerk verder aanwakker.

’n Tweede saak wat opval, is dat “Bekommerd” die teenstelling nie in die eerste plek sien as ’n verskil tussen twee verskillende teologiese modelle nie, maar as ’n teenstelling tussen twee interpretasies van die calvinisme wat respektiewelik in die NG Kerk en die Gereformeerde Kerk beliggaam word:

Maar nou is daar onder die aanhangers van die calvinisme, en seer bepaald ook in ons land en in ons Kerk, twee rigtings. Die een rigting vind sy beliggaming in die (Enkel) Gereformeerde Kerk en die ander in die Ned. Ger. Kerk. […] Verder, elkeen van die twee seksies of rigtings het sy eie interpretasie van die calvinisme, en ooreenkomstig die verskillende interpretasies is hulle ook verskillende sienswyses toegedaan, wat soms taamlik ver van mekaar verskil, en natuurlik ook op hulle lewensbeskouinge en handel en wandel invloed uitoefen en somtyds, vrees ek, in botsing met mekaar kom. En wat sien ons nou, veral in die jongste tien of vyftien jaar of so? Dit, dat daar geweldige magte aan die werk is om ons Ned. Ger. Kerk van ons eie karakteristieke kenmerke te beroof en al meer en meer Enkel-Gereformeerd te laat word. […] Die Ned. Ger. Kerk word veral gekenmerk deur sy sterk evangelikaalse rigting, wat hy deur woord en daad handhaaf, terwyl dit stellig nie die uitstaande kenmerk van die (Enkele) Gereformeerde Kerk is nie. (Bekommerd 1936:1–2)

Dit is egter die vraag of die fundamentele teologiese verskille waarom dit hier gaan, so gemaklik aan die twee kerke verbind kan word. Die teologiese debat word op hierdie manier vertroebel en daar word standpunte aan die twee kerke toegeskryf wat dikwels in die praktyk nie heeltemal klop nie. Bowendien word daar verskille tussen die kerke ter sprake gebring wat alleen sydelings of glad nie ter sake is vir die teologiese vraag of daar ’n teenstelling is tussen die calvinistiese klem op die soewereiniteit van God en die evangelikaalse roeping van die Kerk nie. So gaan “Bekommerd” byvoorbeeld uitgebreid in op die verskil in kerkreg tussen die twee kerke: Is die NG Kerk “kollegiaal” in haar kerkreg terwyl die Gereformeerdes “kongregasionalisties” is?6

Ook bespreek “Bekommerd” uitvoerig die Gereformeerde besware teen die evangelikaalse gesange. Hoewel hierdie saak ’n belangrike rol gespeel het by die oorspronklike stigting van die Gereformeerde Kerk, het dit alleen sydelings te make met die teologiese teenstelling waar dit hier om gaan.7

Keet is daarom reg as hy beweer dat “Bekommerd” baie dinge aanvoer “wat glad nie te pas kom nie”.

Ten slotte gee baie van die briewe alleen maar uiting aan wedersydse irritasies en mededinging tussen die twee kerke en dra dus niks by tot die debat oor teologiese verskille nie. Die twis was dus dikwels op ’n lae peil en nie baie verheffend nie.

’n Derde punt wat opval, is dat “Bekommerd” homself as ’n volbloed-calvinis beskou. Dit gaan dus volgens hom nie om ’n verskil tussen calvinisme en evangelikaalse spiritualiteit nie, maar om twee vorme van calvinisme wat tiperend is vir die twee kerke. Albei vorme aanvaar volgens “Bekommerd” die klassieke uitverkiesingsleer van Calvyn. Dit is volgens “Bekommerd” die Cor Ecclessiae, die hart van die kerk:

Twee beskouings word in verband met die Predestinasieleer gehuldig – die sterkere en die meer gematigde beskouing: die Supralapsariese en die Infralapsariese. 8 Persoonlik het ek geen groot beswaar teen die supralapsariese beskouing nie. Myns insiens lei die Predestinasieleer, tot sy uiterste konsekwensies uitgevoer, vanself tot die Supralapsariese beskouing. Ek is tog bly, baie bly dat die Gereformeerde Kerke nie dié beskouing in hulle belydenis opgeneem het nie, maar die Infralapsariese. Met wat voor die val van die mens geskied het, het ons nie nodig om ons in te laat nie. […] In die dogma self is daar dus geen onderskeid tussen die geloof van die (Enkel) Geref. Kerk en ons nie. Maar waar die groot verskil inkom is in die toepassing of interpretasie van die leer in ons arbeid aan siele. (Bekommerd 1936:21).

“Bekommerd” veronderstel dus dat hy en sy neocalvinistiese teenstanders dieselfde calvinistiese teologie aanhang, maar alleen verskil in die interpretasie of die praktiese toepassing daarvan. Albei aanvaar dus volmondig die uitverkiesingsleer van Calvyn, maar interpreteer dit verskillend. “Bekommerd” doen egter geen moeite om aan te toon dat albei hierdie “interpretasies” ewe regmatig gerym kan word met die uitverkiesingsleer van Calvyn nie. Sy eie betoog, en ook die debat wat dit uitgelok het, fokus veral op die afsonderlike toepassings, veral in die spiritualiteit en die prediking, sonder om in te gaan op die meer fundamentele vraag of hierdie verskillende toepassings inderdaad in dieselfde calvinistiese teologie gewortel is.

 

3. Teologiese Modelle

Al hierdie verskille in toepassing kan herlei word tot twee fundamenteel verskillende teologiese modelle wat op twee verskillende teologiese sleutelmetafore gegrond is (Brümmer 2016:325–6). Die uitverkiesingsleer van Calvyn en die neocalvinisme van Abraham Kuyper berus op die sleutelmetafoor van die soewereiniteit van God (Kuyper 1898:40, 51, 70), terwyl die evangelikaalse spiritualiteit van die NG Kerk berus op die sleutelmetafoor van die liefde van God in Christus.9 Veral John en Andrew Murray en Nicolaas Hofmeyr het in hulle geskrifte die evangelikaalse spiritualiteit van die kerk gefundeer op ’n teologie van die liefde van God in Christus, terwyl Calvyn se uitverkiesingsleer die sterkste moontlike ontwikkeling is van die metafoor van die soewereiniteit van God. Dit gaan dus inderdaad om twee verskillende teologiese modelle en nie om verskille in die interpretasie en toepassing van dieselfde model nie. Die saak word egter verder gekompliseer deur die feit dat daar ook op die agtergrond ’n derde teologiese model ’n rol speel in die debat, naamlik ’n teologie van verdienste. Op verskillende maniere kom sowel ’n teologie van die soewereiniteit van God as ’n teologie van die liefde van God in verset teen ’n teologie van verdienste.

Om goed te sien hoe die verskilpunte in die “Bekommerd”-debat nie losse items is nie, maar nou met mekaar saamhang, is dit nodig om hierdie onderliggende teologiese modelle duidelik te onderskei en die “Bekommerd”-debat in terme daarvan te verstaan. Omdat dit nagelaat is, was die debat dikwels verwarrend en oppervlakkig. Hierdie modelle is reeds uitvoerig in Brummer (2016) bespreek. Dit hoef dus nie weer hier gedoen word nie. Hier kan met ’n kort vergelyking volstaan word:

1. ’n Teologie van verdienste gaan daarvan uit dat die mens sy heil met goeie werke kan verdien. As ons die wil van God doen of die wet van God onderhou, sal God ons met die hemel beloon. As ons egter sy wil nie doen nie, of ons nie aan sy wet hou nie, sal hy ons straf met die hel. Nicolaas Hofmeyr het geargumenteer dat hierdie soort teologie die verhouding tussen God en die mens sien as ’n verhouding tussen ’n heer en sy kneg (Brümmer 2013:29–53 en Hofmeyr 1896): die kneg dien sy heer terwille van die loon wat hy van sy heer ontvang. As hy egter nie die vereiste dienste aan sy heer lewer nie, kan sy heer hom straf deur sy loon van hom te weerhou. God se genade is daarom nie onvoorwaardelik nie, maar afhanklik van ons verdienste.

2. ’n Teologie van die soewereiniteit van God verwerp die opvatting dat die mens sy heil kan verdien. Deur die sondeval het die mens sy vermoë verloor om die wil van God te doen en is hy tot ’n ewige straf verdoem. Hy kan alleen deur die soewereine genade van God hiervan gered word. Sola gratia. Die dade van die mens is daarom nie ter sake vir sy redding nie. Die feit dat nie alle mense gered word nie, word alleen daardeur verklaar dat die saligmakende genade van God nie vir alle mense geld nie. God het sommige mense van alle ewigheid af uitverkies om gered te word en ander voorbeskik om verlore te gaan. Wie wel of nie gered word nie, word dus uitsluitend bepaal in die ondeurgrondelike ewige raad van die soewereine God en nie deur die dade van die mens nie. Die saligmakende genade is bowendien “onweerstaanbaar” in die sin dat die uitverkorenes op wie dit van toepassing is, nie in staat is om dit te weerstaan nie. Iemand gaan dus nie verlore omdat hy die saligmakende genade van God weerstaan het nie, maar omdat hierdie genade nie op hom van toepassing is nie.

By die Dordtse sinode het die Remonstrante hulle in navolging van Jacob Arminius verset teen die idee dat die dade van die mens nie ter sake is vir sy heil nie. Hulle het saamgestem met die Dordtse vaders dat God van ewigheid af soewerein besluit het wie wel of nie gered nie sal word, maar dit gestel dat God hierdie besluit geneem het op grond van sy onfeilbare voorkennis van wie vrywillig tot geloof sal kom en wie nie. Tereg het die Dordtse vaders dit beskou as ’n bedekte vorm van ’n teologie van verdienste.10

3. ’n Teologie van die liefde van God gaan daarvan uit dat die mens deur die sonde van God vervreem is en dat sy heil daarin bestaan dat hy weer met God versoen word en in ’n persoonlike verhouding van wedersydse liefde met God herstel word. Vir versoening geld daar twee noodsaaklike voorwaardes: die vergewing van God en die bekering van die mens. Ten eerste moet God dus die mens sy sondes vergewe. Hierdie vergewing is onvoorwaardelik. Dit is die vrye genade van God wat nie afhang van wat die mens doen nie. Die mens kan daarom nie met sy dade die genade van God afdwing of verdien nie. Hierdie onvoorwaardelike genade gaan uit na alle mense sonder uitsondering. God het alle sondaars lief. Hoewel hierdie vergewende genade noodsaaklik is vir versoening, is dit nie voldoende nie. Versoening is die herstel van ’n tweesydige persoonlike verhouding. Sonder dat die mens hom bekeer en die liefde van God met wederliefde beantwoord, is versoening onmoontlik. Dit is die verantwoordelikheid van die mens.

Liefde is per definisie vry en kan nie afgedwing of verdien word nie.11 Dit geld sowel vir die liefde van God as vir die wederliefde van die mens. God veroorsaak dus nie ons wederliefde nie, omdat dit dan nie ons wederliefde sal wees nie. Maar God maak dit wel op drie maniere vir ons moontlik om sy liefde te beantwoord: in die menswording van sy Seun verklaar God sy liefde aan ons; in sy Vaderlike voorsienigheid skep God vir ons die vermoëns en die moontlikhede om in ons lewe sy liefde te beantwoord; en deur sy Gees inspireer God ons om ons vreugde te vind in die doen van sy wil. Sonder hierdie Trinitariese handeling sou dit vir ons onmoontlik wees om ons tot God te bekeer en God se liefde met ons lewe te beantwoord. Daarom gee die gelowige alle eer vir sy eie bekering aan God alleen. Soli Deo gloria.

Hierdie Trinitariese handeling van God maak dit vir die mens moontlik om God se liefde te beantwoord, maar veroorsaak nie die antwoord nie. So respekteer God altyd die handelingsvryheid en verantwoordelikheid van die mens as persoon voor sy aangesig. In sy bydrae tot die “Bekommerd” debat stel A.J. van der Merwe uit Keetmanshoop dit dat

God die mens as redelike wese in aanmerking neem. God wil nie alleen wees nie; Hy wil medewerking hê van die mens. Jesus het nie gesê, “Ek sal julle in my hou” nie, maar beloof “as julle in my bly”, en later sê Paulus, “Werk julle eie saligheid uit met vrees en bewing.” […] Dit alles wys daarop dat die mens doodseker een deel moet bydra tot behoudenis van sy siel, waaruit blyk dat God – met alle eerbied gesê – niemand kan of wil red sonder medewerking van die persoon self nie. (Die Kerkbode 1935:1193)

Die calvinisme as teologie van die soewereiniteit gaan verder. God maak ons antwoord nie alleen moontlik nie, maar bring dit soewerein en eensydig teweeg. In sy bydrae tot die “Bekommerd”-debat stel P.W. de Lange dit so:

In die wedergeboorte is die mens trouens so min die werker as die medewerker, hy is uitsluitend die bewerkte en die enigste Werker hierin is God. […] Lank voor die wedergeboorte, lê dus ons uitverkiesing, lê ons voorordinering, lê ons regverdigmaking, ons verheerliking, en op Gods tyd plant Hy die saad van die wedergeboorte in ons, en bring hy die buite ons om volbragte werk in ons teweeg en ontdek dit aan ons bewussyn. (Die Kerkbode 1935:884)

Dit is hierdie soewereine eensydigheid van God se handeling wat die calvinisme fundamenteel onderskei van ’n teologie van die liefde van God en die evangelikaalse spiritualiteit wat daarop gegrond is.

Koot Vorster verdedig hierdie soewereine eensydigheid as volg tenoor die “metodisme”:

Omdat die metodis leer dat Christus die saligheid alleen moontlik gemaak het, en die calvinis leer dat Christus die saligheid ook werklik gemaak het; omdat metodisme die genade verwater met verdienste en die calvinisme die suiwere genade leer, daarom staan hulle onversoenlik teenoor mekaar. (Die Kerkbode 1936:186)

Elders skryf hy ook:

Synergistiese sisteme [soos die metodisme] het die spoor byster geraak, met hulle idee dat die eleksie gegrond is op die vooruitgesiene geloof en aanname van die saligheid en volharding daarin – ’n standpunt waartoe elkeen moet kom wat aan die mens nog die vryheid laat om goed te doen. (Die Gereformeerde Vaandel 1934:274)

Vorster identifiseer hier ten onregte ’n teologie van die liefde met ’n teologie van verdienste. In ’n teologie van verdienste is die genade van God nie onvoorwaardelik nie, maar, in die woorde van Vorster, afhanklik van die mens se “vooruitgesiene geloof en aanname van die saligheid en volharding daarin”. In ’n teologie van die liefde is die geloof en bekering van die mens sy selfstandige reaksie op die onvoorwaardelike Trinitariese genadebetoning van God en nie ’n verdienste wat daaraan voorafgaan nie. Hier kan dus geen sprake van wees dat, soos Vorster dit stel, “die genade verwater word met verdienste” nie. Dit is duidelik dat Vorster geen kennis van die teologie van Nicolaas Hofmeyr geneem het nie. Die sentrale stelling van Hofmeyr se teologie is dat die gelowige in sy verhouding met God nie ’n kneg is wat die loon van sy heer wil verdien nie, maar ’n kind wat die onvoorwaardelike liefde van sy Vader met wederliefde beantwoord (Hofmeyr 1896; kyk ook Brümmer 2013:29–53). By Vorster is die verhouding van die mens tot God nie dié van ’n kneg teenoor sy heer nie, en ook nie dié van ’n kind teenoor sy Vader nie, maar dié van ’n onderdaan wat onderwerp is aan die onweerstaanbare almag van sy Heerser.

 

4. Spiritualiteit en prediking

Hierdie verskil het verreikende gevolge vir die spiritualiteit en die prediking. Dit is juis hierdie konsekwensies wat “Bekommerd” bekommer het. Die evangelikaalse spiritualiteit wat tot uiting kom in ’n teologie van die liefde is daarop gerig om met God versoen te word. In die woorde van Paulus: “Ek bid julle om Christus wil: laat julle met God versoen” (2 Korinthiërs 5:20). Hierdie versoening vereis dat die mens self die onvoorwaardelike Trinitariese liefdesbetuiging van God met wederliefde beantwoord. Dit is die mens se selfstandige reaksie op die liefde van God. Die mens moet hom selfstandig afkeer uit sy sondige vervreemding en soos die verlore seun uit die gelykenis van Jesus tot inkeer kom en as kind terugkeer na sy Vader. Dit is wat “bekering” in die evangelikaalse spiritualiteit beteken: dat die mens sy lewe daaraan wy om uit liefde die wil van God na te streef en die liefde van God aan die wêreld deur te gee. “Daarom lê ons ons ook ywerig daarop toe … om Hom welbehaaglik te wees” (2 Korinthiërs 5:9). In sy eindige bestaan is hierdie toewyding van die mens egter nooit volmaak nie. Die lewe van ’n kind van God is altyd een van val en opstaan. Bekering is daarom altyd onvoltooid en word lewenslank voortgesit in die weg van heiligmaking. Dit word in die klassieke Christelike mistiek die via mystica genoem: die weg na liefdeseenheid met God wat nooit in hierdie lewe voltooi word nie (Brümmer 2006:317–31).

Hierdie evangelikaalse spiritualiteit bepaal ook die aard van die prediking. Die prediking van die Kerk moet daarop gerig wees om die evangelieboodskap van die onvoorwaardelike liefde van God aan álle mense te verkondig. Dit is ook die fundamentele motief vir sendingwerk en evangelisasie. God het alle mense uit alle volkere lief. Sy liefde moet daarom aan alle mense en alle volkere verkondig word. Die hele wêreld moet vir die Koninkryk van God gewen word. Alle mense moet dus opgeroep word om hulle tot God te bekeer en ’n lewe van voortdurende geestelike verdieping of heiligmaking te lei. Enersyds, dus, moet almal wat van God vervreemd is, opgeroep word om hulle tot God te bekeer en met God versoen te word. Andersyds moet almal wat hulle met God versoen, aangemoedig word tot ’n lewe van heiligmaking en geestelike verdieping.

In sy bydrae tot die “Bekommerd”-debat lewer G.D. du Toit ’n pleidooi vir hierdie soort prediking:

Ek leef in hierdie beweging tot verdieping van die geestelike lewe. Die geestelike doodsheid in ons dierbare Kerk weeg swaar op my hart. Saam met duisende ander gelowiges bid ek om herlewing onder Gods volk, dank ek God vir die spesiale evangelieprediking, wat daar in ons Kerk geskied en die heerlike seën wat op daardie werk rus, en verlang ek vurig dat daar meer diepte sal wees in die geestelike lewe van ons evangeliedienaars en in die gemeentes wat aan ons sorg toevertrou is: dat die kinders van God meer toegewyd sal lewe en dat hulle nie lou maar warm sal wees in sy diens. […] Het die Heilige Gees dan nie gekom om ons tot sulk ’n lewe in staat te stel nie? (Die Kerkbode 1935:1246)

In sy bydrae stel J.J. le Roux uit Clarens dit dat hierdie soort prediking alleen maar op die emosies werk: “Onder gelowiges word oral gesoek na ‘diepte’, na toewyding, na meer innigheid, na warmer lewe. […] Die diepte wat gesoek word is […] veelal ’n inniger gevoelde gevoel van vroomheid” (Die Kerkbode 1935:1137).

G.D. du Toit verwerp hierdie stelling van Le Roux:

Met grote beslistheid wil ek ontken dat, op die konferensies vir die verdieping van die geestelike lewe, gesoek word na ’n “inniger gevoelde gevoel van vroomheid.” […] Seker kom die gevoel daar ook aan die beurt. Dank God dat dit so is. Die gevoel is tog ook ’n skepping van God. As die Heilige Gees tot sy reg kom in ons lewe, vervul hy die hart met ’n onuitspreeklike blydskap in die Heer, en daardie blydskap word ons sterkte. Ag! dat ons dit meer mag ondervind. Maar dit is beslis nie so, dat op daardie samekomste gekonsentreer word op die gevoel nie: ons waarsku dikwels juis teen die neiging om te wil wandel deur gevoel. Nee, op die genoemde samekomste word gekonsentreer op die groot waarheid, dat die hele mens, gees en siel en liggaam, met al wat hy besit, aan God behoort, en dat Hy die hele mens opeis vir sy diens (1 Thess. 5:23). (Die Kerkbode 1935:1246)

Kortom, die evangelikaalse prediking roep die mens op om uit liefde sy hele lewe te wy aan die diens van God. Die evangelikaalse spiritualiteit gaan dus om ’n lewensverandering en nie om ’n blote emosie nie. Hierdie verandering word egter nie eensydig deur God veroorsaak nie, maar vereis ook dat die mens self hom aan die diens van God sal wy. Die versoende verhouding met God word tweesydig teweeggebring. As dit egter eensydig deur die soewereine daad van God veroorsaak word, soos in die uitverkiesingsleer van Calvyn, impliseer dit ’n baie ander soort spiritualiteit en prediking. A.H. Murray12 stel dit so in sy bydrae tot die “Bekommerd”-debat:

Kuyperisme lê klem op die Uitverkiesing eerder as op die Verbondsgedagte, as uitgangspunt vir sielsorg. […] ’n Verbond veronderstel die bedrywigheid van twee partye en waar daar ’n verbond is tussen God en mens, moet die mens ook sy deel bydra; terwyl die leer van die Uitverkiesing, wanneer dit eensydig beklemtoon word, oorgaan tot ’n leer van gedane sake en selfvoldane berusting. (Bekommerd 1936:66)

Die uitverkiesingsleer van Calvyn impliseer ’n spiritualiteit van berusting of “lydelikheid” (Brümmer 2016:329, 335). As God eensydig en soewerein van alle ewigheid af bepaal of ek wel of nie tot die uitverkorenes gereken kan word nie, dan kan ek daar self niks aan doen nie. Ek moet dan berus in die ewige raadsbesluit van God. Al wat ek kan doen, is afwag totdat hy aan my bewussyn openbaar wat my status in die uitverkiesing is. Ek moet deur God “aan myself ontdek word”.

In ’n interessante bydrae tot die debat vanuit Goes in Nederland skryf A.M. Wessels dat hierdie soort lydelike spiritualiteit vandag nog onder oud-Gereformeerdes in Nederland gevind word:

Die oud-Gereformeerdes sê: “God moet dit doen, en hoe minder óns daaraan doen hoe beter!” […] “God moet dit doen!”, ja, dit is ’n groot waarheid, maar nie die volle waarheid nie, want dit is ook ’n groot waarheid, dat die Heer ons roep om sy wil te doen en dit te doen, steunende op sy beloftes. […] Die lydelikheidsleer, die eensydige onmagsleer lei tot verstarring en verstening en maak dikwels goddelose en sorgelose mense. Ons hoop dat in Suid-Afrika geen broeders en susters gevind word nie wat alles alleen maar van Gods kant wil verwag in lydelike afwagting. (Die Kerkbode 1936:62–3)

In Suid-Afrika was (en is) hierdie lydelike spiritualiteit baie seldsaam.13 Inteendeel, Abraham Kuyper en sy neocalvinistiese navolgers in Suid-Afrika het hulle aktief gewy aan ’n omvattende program om God se eer op alle terreine van die samelewing uit te dra. Hulle het dus enersyds die uitverkiesingsleer van Calvyn volmondig onderskryf en andersyds alle lydelikheid verwerp en hulle aan ’n neocalvinistiese aktivisme gewy. In sy bydrae tot die bundel Koers in die krisis argumenteer L.E. du Toit dat calvinisme iets heeltemal anders is as lydelike fatalisme (Stoker en Potgieter 1935:368 e.v.).14 Tog voel Du Toit dat hier iets ongerymd is wat hy nie kan oplos nie:

Hoe kan met mekaar gerym word: (a) die absolute soewereiniteit van God oor alles, Sy vrymagtige raadsbesluit en uitverkiesing en (b) die wilsvryheid van die mens en sy verantwoordelikheid aan God? […] Die Calvinis […] stel voorop: of die menslike rede die vraagstuk kan oplos of nie, waar bly tog die Skrifwaarhede: God beskik oor alles en die mens is aan God vir sy dade verantwoordelik. Omdat die Heilige Skrif beide waarhede gee, weerspreek hulle mekaar nie, ook al kan die mens nie insien nie, hoe hulle verbind kan word nie. Ook al weet die Calvinis nie, hoe om hierdie vraagstuk op te los nie, glo hy tog in Gods vrymagtige beskikking en sy eie verantwoordelikheid aan God, en voel hy hom geroepe om vir Gods eer te stry. (Stoker en Potgieter 1935:370)

Die uitverkiesingsleer van Calvyn impliseer ook die leer van die “beperkte versoening” (Brümmer 2016): die verdienste van Christus geld nie vir alle mense nie, maar alleen vir die uitverkorenes. Hiermee stem Abraham Kuyper en die neocalviniste in Suid-Afrika saam. In die woorde van Vorster: “Calviniste volg Christus daarin dat hulle bely dat Christus in laaste instansie slegs vir die uitverkorenes gesterf het” (Die Gereformeerde Vaandel 1934:274).

Dit het verreikende implikasies vir die prediking. In teenstelling tot die evangelikaalse rigting, is die heilsboodskap in Christus nie vir alle mense bedoel nie, maar alleen vir die uitverkorenes. Aangesien ons egter nie vooraf weet wie wel en wie nie tot die uitverkorenes behoort nie, moet die heilsboodskap aan alle mense meegedeel word, hoewel dit uiteindelik alleen vir die uitverkorenes bedoel is. Die doel van die prediking is daarom nie om alle mense tot bekering op te roep nie, maar alleen om die uitverkorenes in die hele wêreld bewus te maak van hulle uitverkore status en op hierdie manier bewustelik deel te maak van die Kerk as gemeenskap van die uitverkorenes.

P.J.S. de Klerk stel dit as volg:

Die Kerk is ’n organisme, maar aan hierdie organisme ontbreek nog ’n deel. Daarom soek die Kerk hierdie ontbrekende deel. […] Die Kerk is geen instituut wat met sy sending daarop uit is om siele te red ter wille van die redding van siele nie. Ons verwerp beslis hierdie “sielreddingssisteem”. […] Die Calvinis weet dat die volle getal van die uitverkorenes eers moet ingaan, voordat die koms van Christus daar is. Deur sy sendingwerk werk hy mee aan die koms van sy Heiland. Dit is hom dus nie te doen om die kerstening van die wêreld nie, maar om die getal van die uitverkorenes vol te maak. Hieruit merk ons dat sending drywe dus nie metodisties is soos sommige meen nie. Nee, dis deur en deur calvinisties. (Stoker en Potgieter 1935:122)

In teenstelling tot die oud-Gereformeerdes in Nederland het die neocalviniste dus in navolging van Abraham Kuyper die uitverkiesingsleer van Calvyn geïnterpreteer op ’n manier wat ruimte laat vir ’n calvinistiese aktivisme.

Totius stel dit so:

Calviniste, elkeen staan julle in diens van God; elkeen om in sy eie omgewing en werk aan God trou te bewys. Maar saam het julle die opdrag om die beginsels wat ons saamvat in die woord “calvinisme” te verhef tot ’n mag in die land (Stoker en Potgieter 1935: 37).15

 

Bibliografie

Bekommerd (Ds. A.A. Weich). 1936. Christus die deur. Twee rigtings in die kalvinisme. Kaapstad. HAUM.

Brümmer, V. 1993. The model of love. Cambridge: Cambridge University Press.

—. 1998. Andrew Murray en die liefde van Christus. Nederduits Gereformeerde Teologiese Tydskrif, 39:39-46.

—. 2006. Brümmer on meaning and the Christian faith. Collected writings of Vincent Brümmer. Aldershot: Ashgate.

—. 2011. Wat doen ons wanneer ons bid? Wellington: Bybel-Media.

—. 2013. Vroom of regsinnig? Wellington: Bybel-Media.

—. 2016. Uitverkiesing en evangeliese spiritualiteit. LitNet Akademies, 13:322–44.

Die Gereformeerde Vaandel. Verskillende jaargange.

Die Kerkbode. Verskillende jaargange.

Die Soeklig. Verskillende jaargange (aangegee in die verwysings).

Du Plessis, J. 1925. De Gereformeerde Kerk in wording en werking. Paarl: Paarl Drukpers Maatskappij.

Du Toit, J.D. 1917. Ds. S.J. du Toit in weg en werk. Paarl: Paarl Drukpers Maatskappy.

Hofmeyr, N.J. 1896. Niet knecht maar kind. Kaapstad: Jacques Dusseau.

Kuyper, A. 1898. Het Calvinisme. Amsterdam: Höveker & Wormser.

Malan, D.G., D. Lategan en E.E. van Rooyen. 1936. Christus en Calvinisme. Die ware toedrag van sake teenoor “Bekommerd” toegelig. Stellenbosch: Pro Ecclesia Drukkery.

Stoker, H.G. en F.J.M. Potgieter. 1935. Koers in die krisis. Stellenbosch: Pro Ecclesia Drukkery.

 

Eindnotas

1 This is the second of three papers on the relation between the Calvinist doctrine of predestination and evangelical spirituality in the Dutch Reformed Church in South Africa. In my first paper on “Predestination and evangelical spirituality” (Brümmer 2016:322–44) I argued that from the second half of the 19th century there was a notable tension in the Dutch Reformed Church between the Calvinistic doctrine of predestination and the predominant evangelical spirituality in the church. From time to time a number of strict followers of Calvin, especially the Rev S.J. du Toit and his followers, objected to the evangelical spirituality and preaching in the church which, according to them, was not in accordance with orthodox Reformed doctrine. The Dutch Reformed theologians at the Cape considered themselves to be thoroughly Reformed in their theology and therefore formally accepted the doctrine of predestination as orthodox Reformed teaching, while in practice they ignored the logical implications of this doctrine that were not consistent with their evangelical spirituality and preaching. The strict Calvinists, on the other hand, took these implications seriously and therefore had strong reservations about the current evangelical spirituality in the Church.

2 In a following paper I will explain what was “neo” about neo-Calvinism and show what form this ideology took in South Africa.

3 Hierdie artikel is die tweede in ’n reeks van drie oor die verhouding tussen die calvinistiese uitverkiesingsleer en die evangelikaalse spiritualiteit in die NG Kerk. In my artikel oor “Uitverkiesing en evangelikaalse spiritualiteit” (LitNet Akademies, Mei 2016, ble. 322–44) is aangetoon dat daar in die NG Kerk vanaf die tweede helfte van die 19de eeu ’n merkwaardige spanning was tussen die oorwegend evangelikaalse spiritualiteit van die kerk en die konsekwente handhawing van die calvinistiese uitverkiesingsleer. Van die kant van ’n aantal strenge handhawers van Calvyn se uitverkiesingleer, veral ds. S.J. du Toit van Noorder-Paarl en sy volgelinge, is daar sporadies beswaar gemaak teen die evangelikaalse spiritualiteit en prediking in die kerk wat volgens hulle ongereformeerd was. Die NG teoloë aan die Kaap het hulleself egter beskou as goed gereformeerd en het daarom die uitverkiesingsleer formeel onderskryf as ’n ortodoks-gereformeerde leerstuk, maar hulle in die praktyk min moeg gemaak oor logiese konsekwensies daarvan wat moeilik te rym was met hulle evangelikaalse spiritualiteit en prediking. Die strenge calviniste het egter erns gemaak met hierdie konsekwensies en daarom sterk voorbehoude gehad oor die heersende evangelikaalse spiritualiteit van die Kerk.

4 Kyk Stoker en Potgieter (1935:381 e.v.).

5 Hierdie briewe is later as pamflet uitgegee met die titel Christus die deur. Twee rigtings in die Kalvinisme. (“Bekommerd” 1936). As reaksie het die Kweekskool-professore Malan, Lategan en Van Rooyen ook ’n pamflet uitgegee met die titel Christus en Calvinisme. Die ware toedrag van sake teenoor “Bekommerd” toegelig. (Malan, Lategan en Van Rooyen 1936).

6 Oor hierdie vraag het veral dr. P.J.S. de Klerk, ds. J.D. Vorster, en dr. J.H. Eybers met mekaar en met “Bekommerd” in debat getree. Ek meen egter dat hierdie debat min te make het met die teologiese teenstelling tussen calvinisme en evangelikaalse spiritualiteit.

7 Ook prof. Du Plessis het jare tevore in Die Kerkbode sy polemiese pyle op die Gereformeerde Kerk gerig en gewaarsku teen “verdoppering” in die NG Kerk. Ook sy briewe is as boekie uitgegee (Du Plessis 1925). Sy polemiek was egter uitsluitend gerig op die ontstaansgeskiedenis van die Gereformeerde Kerk, op die kerkregtelike verskille en op die gesangekwessie. Hy gaan merkwaardig genoeg nie in op die teologiese vraag na die verskil tussen calvinisme en evangelikaalse spiritualiteit nie.

8 In Brümmer (2016:328) word die verskil tussen supra- en infralapsaries uitvoeriger bespreek.

9 In sy bydrae tot die “Bekommerd”-debat lyk dit of ds. J.J. le Roux uit Clarens, as neocalvinistiese teenstander van “Bekommerd”, dit aangevoel het sonder om die konsekwensies daarvan te besef. Hy skryf: “Die grootste teks vir die Metodiste in die Bybel is: ‘Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê’ (Joh. 3:16). En dit sal ewiglik ’n heerlike waarheid bly vir die vrome gemoed, en ’n versekering van goddelike liefde aan die onbekeerde gebied. Die grootste teks vir ’n Calvinis: ‘Want uit Hom (God) en deur Hom en tot Hom is alle dinge’ (Rom. 11:36). […] En te midde van die uitoefening van Gods soewereiniteit […] is bepaald die herskepping van Sy beeld […] in die kroon van Sy skepping (die mens), die heerlikste.” (Die Kerkbode 1935:1087)

10 Die opvatting van Arminius is egter net so deterministies as die dubbele predestinasieleer van Calvyn: Wat God van alle ewigheid onfeilbaar weet, moet noodsaaklik só gebeur. Kyk vir ’n uitvoerige bespreking van hierdie punt: Brümmer (2011:46–52).

11 Elders het ek hierdie punt uitvoerig beredeneer. Kyk Brümmer 1993:156–73 en Brümmer 1998. Ook Hofmeyr het hierdie verband tussen liefde en vryheid beklemtoon. Kyk Brümmer 2013:34–43.

12 Andrew H. Murray was ’n kleinseun van die teoloog Andrew Murray. Hy was later professor in filosofie aan die Universiteit van Kaapstad.

13 ’n Uitsondering is miskien S.J. du Toit. Kyk sy beskrywing van sy eie wedergeboorte in J.D. du Toit (1917:6–8). Kyk ook Brümmer (2013:165–6).

14 Kyk ook die voorwoord tot hierdie bundel van J.D. Kestell (Stoker en Potgieter 1935:iii–vi).

15 Wat het Abraham Kuyper se aktivistiese interpretasie van die calvinisme behels? Wat was “neo” aan die neocalvinisme? En watter vorm het hierdie aktivisme in Suid-Afrika aangeneem? In my volgende artikel wil ek hierop ingaan.

Kommentaar

  • Na die protestantse rebellie en daaropvolgende hervorming het westerlike Christenskap se spiritualiteit agteruitgegaan.
    Tot almal se nadeel.
    Die besef daarvan lei tot hedendagse belangstelling daarin.
    Daar is baie modelle daarvoor van die eerste eeu na Christus.
    Mense kan nou makliker oplees oor die kerkvaders deur die toeganklikheid wat deur die Internet moontlik is!

  • Geloof is 'n vertrouensaak. Geloof sonder vertroue is ongeloof, maak nie saak uit watter
    hoek jy die onderwerp benader nie. As Christen moet ek dus vetrou dat al die beloftes
    van God soos opgeteken in die Bybel eendag vir my ook 'n werklikheid sal word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top