Uit die Beek deur Barend Vos: ’n resensie

  • 9

Uit die Beek
Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796320339

Net soos elke jaar nuut begin, so is daar elke jaar ’n Uit die Beek vir die nuwe jaar. Die pad is lank en ver. Oor bulte en deur dale. Soms is die son skroeiend, die wind nukkerig, die maan ’n flou skynsel. Elke dag het genoeg van sy kwaad en goed. Juis daarom bied Uit die Beek drinkplek vir elke dag. Dit is ook vir alle dae se stemminge bedoel.

Uit die Beek is Afrikaans se oudste Bybeldagboek. Die eerste weergawe hiervan het reeds in 1925 verskyn. Dit was in Nederlands. Sedert 1927 staan die Bybeldagboek as Uit die Beek bekend. Volgens sommige bronne is die naam aan Psalm 110 se laaste vers ontleen. En dit op die voetspoor van die Nederlandse Statebijbel. Die vers lui: “Hij zal op de weg uit de beek drinken; daarom zal Hij het hoofd omhoog heffen.”

Die dagboek is in 1927 in Afrikaans gepubliseer, met die titel wat dit sedertdien dra. Hierdie Bybeldagboek het ’n besondere verbintenis met die Van Wijk-familie. AJ van Wijk was die eerste skrywer, en sy kleinseun, Attie van Wijk van Wellington, het die skryf hiervan met bekwaamheid die afgelope tien jaar waargeneem. Hy het lesers stelselmatig deur die hele Bybel begelei.

Die dagboek vir 2018 word deur die bekroonde skrywer Barend Vos op uitmuntende, vars en vindingryke wyse versorg. Hy volg in sy daaglikse Skriflesings die bekende leesrooster, Rivised Common Lectionary (RCL) se liturgiese Jaar B. Met die aanbreek van Advent, dié van die Jaar C.

’n Buiteblad is vir my ’n sleutel tot die boek. In hierdie geval is die kleurvolle buiteblad uiters effektief vir die boek. Die boot suggereer ’n reis op ’n waterpad. 

Ek kyk na die boek vanuit hermeneutiese en kommunikatiewe gesigspunte. Uit hermeneutiese perspektief word gelet op die wyse waarop die skrywer die Bybeltekste hanteer. Ek verwys net na enkele voorbeelde. Die skrywer noem die eerste dagstuk van die jaar met reg “In die Here se hand”. Hy gebruik Jes 62:1–3 as Bybelteks. Dit is duidelik dat die skrywer dit (met reg) as ’n naballingskapteks beskou. Op ’n vars wyse formuleer die skrywer: “Julle sal ook hoor dat julle ’n nuwe naam het. Niemand sal julle dus meer Teleurgesteld kan noem nie …” Insig in die historiese omgewing van Jes 62, sou die skrywer gebaat het. Die historiese agtergrond van Jes 4–66 is nie meer die Assiriese tyd nie, maar die oorgang van die Babiloniese na die Persiese heerskappy. In Jes 55–66, ook bekend as Trito-Jesaja, word die tyd na die inwyding van die heropgeboude tempel in Jerusalem in die jaar 510 weerspieël. Die teks waarna Barend Vos verwys, moet binne hierdie raam verstaan word.

Die skrywer se gebruik en uitleg van Ps 23 verdien al ons aandag (128, 129). Hy lig Ps 23 voortreflik toe. Ps 23 se aanvangswoorde, “Die Here is my herder”, is oorbekend. Vyf glansende woorde met ’n reikwydte wat oor eeue strek – juis omdat dit een van die mees geliefde en mees gebruikte psalms is. Dit is ’n troosryke psalm in tye van siekte, lyding en dood. Maar dit is ook ’n bemoedigende psalm. “Die Here is my herder.” Ps 23 is ’n belydenis van die Here se leiding, beskerming en sorg.

In die halfwoestyn van Palestina word groen weivelde en water selde gesien. Die enigste groen plantegroei word gewoonlik rondom die fonteine aangetref. Daarom is die kudde van ’n goeie herder afhanklik, ’n herder wat weet waar om groen weivelde en water te vind waarheen hy hulle kan lei. Daar kan die kudde ook skuiling teen die ongenaakbare son vind. Só ’n herder is die Here. Met hierdie invoeging sou die skrywer sy uitstekende dagboek nog verder kon verryk het.

Die verwysing na die “die donker dieptes” (vers 4a) dui nie net op die skadu van die dood, soos die skrywer reken nie, maar ook op die gevare wat die kudde bedreig. Tussen die berge van Juda is diep, gevaarlike en donker kranse met talle grotte wat gereeld rowers en roofdiere huisves. In hierdie gevare beskerm die Here as herder sy kudde.

Vers 4b is die draaipunt van die psalm. “U self is immers by my.” Hierdie woord kom presies in die middel van die psalm voor. Wat ’n troosryke woord is dit tog nie.

Oor die Here as gasheer (vers 5) sou Vos ook na die Nagmaal kon verwys het. By dié fees is daar volop brood en wyn uit die groot Boland.  

Die skrywer is nie net ’n uitstekende hermeneut nie, maar ook ’n taalvaardige kommunikeerder. Hy slaag uitnemend daarin om die tekste vir die hedendaagse leser te ontsluit. Met die oog hierop benut hy vars beelde, metafore en vergelykings. Ek gee enkele voorbeelde hiervan. Oor Ps 23 se tweede gedeelte skryf Vos: Die Here “word ’n gasheer, ’n gul onthaler, die skinker van ’n tot boordens toe vol beker.” En die gevaarlike teenstander? “Dié staan buite en kan bloot vanuit die donker toekyk. Ontwapen en ontmagtig. Binne skyn die lig, en die partytjie gaan vrolik voort.” Daar is in die dagboek talle voorbeelde van taalskatte.

Dit is ’n dagboek wat die leser oor berge en deur dale van die Here se teenwoordigheid en genade verseker. Geen wonder 31 Desember 2018 sluit met Psalm 149:13 as teks af nie: “Prys die Here!” elke dag tot die laaste dag van 2018.

Ek beveel die gebruik van die lafenis uit die Beek sterk aan. Dit is eintlik ’n móét vir die gelowige.

  • 9

Kommentaar

  • Goeie more, ek het nou al my nuwe Uit die Beek 2018 aangekoop en groot was my teleurstelling toe ek so bietjie deur hom gaan en sien dat hy nie by die vorige een aangaan waar Attie opgehou het nie. Die Psalms wat ons in die verlede net op Sondae gedoen het was vir my baie spesiaal en nou het dit verander. Ek het ongelukkig nie al die vyf jaar met Attie se boek deurgegaan om die Bybel deur te werk nie, maar nou voel dit vir my ek moet heel voor begin omdat hierdie "Uit die Beek" nie met Attie s’n aangaan nie. Ek moet nou gedeeltes doen wat ek alreeds gedoen het en dan is daar gedeeltes van die Bybel wat ek nog nie gedoen het nie.

  • Carel Oberholzer

    Ek moet met Chris saamstem. Ek is ‘n leser van Uit die Beek vir 38 jaar plus. AH van Zyl was vir lank die skrywer. Die Bybel is sistematies, boek vir boek deurgewerk. Van Zyl was n Ou Testamentiese Kenner en het waarlik die OT se boeke ontsluit. Later het dit verander in die huidige vorm waar boeke gewissel het tussen OU en Nuwe Testamentiese Boeke. Jy is steeds "gedwing" om al die Bybelboeke te lees. Hierdie jaar was dit weer wonderlik om Ester en van die kleiner profetiese boeke te lees.
    Ek was bitter teleurgesteld toe ek die nuwe formaat in my hande neem.(Dis die eerste keer dat ek dit as ‘n geskenk kry!) Uit die Beek is nou net nog ‘n dagboek. Vir 2019 sal ek waarskynlik bloot deur die dagboeke blaai en besluit op een.

  • Bakkes Muller

    Ek kan net beaam wat Carel en Chris meld oor die "nuwe" Uit Die Beek. Wat 'n teleurstelling!

  • Inus Longland

    Januarie 2018 het al goed gevorder ,maar ek mis die ou formaat van aanbieding van Uit Die Beek. Ek lees al sedert 1967 Uit Die Beek. Net soos die vorige 2 persone is ek teleurgesteld met die 2018 uitgawe. Die ou tema nl die deurlees oor vyf jaar van die Bybel was bevredigend. Met die nuwe uitgawe word min uit die Bybel gelees en dis meer 'n verklaring oor die teks. Die teksverklaring van die huidige is goed maar ongelukkig is hierdie nou net 'n gewone dagboek.

  • Inus Longland

    Januarie 2018 het al goed gevorder, maar ek mis die ou formaat van aanbieding van Uit Die Beek. Ek lees al sedert 1967 Uit Die Beek. Net soos die vorige twee persone is ek teleurgesteld met die 2018 uitgawe. Die ou tema nl die deurlees oor vyf jaar van die Bybel was bevredigend. Met die nuwe uitgawe word min uit die Bybel gelees en dis meer ’n verklaring oor die een teks.
    Die teksverklaring van die huidige is goed en in my mening beter as die vorige paar jaar. Ek hou nie van die rondspring tussen hoofstukke, dus is dit vir my soos enige gewone Bybelse dagboek.

  • Elmer Swanepoel

    Ek ondersteun Inus Longland. Barend Vos se grammatika en sinsbou laat veel te wense oor.

  • Baie dankie Barend, ons geniet die 2018 Uit die beek sommer baie en ons word geestelik daardeur geseën. Ons hoop en glo en bid dat Barend 2019 s'n ook sal doen. Groot, groot asseblief.

  • Ons het die 2018 Uit die Beek gekoop, maar nie die 2019 weergawe nie.
    1Dit gebruik n leesrooster maar verduidelik nie eers waar dit vandaan kom of wie dit opgestel het nie;
    2. Die 2018 weergawe het rondgespring van een bybelboek na die ander vir geen sinvolle rede nie.
    3. Ek en my vrou het Uit die Beek seker al 30 jaar lank gebruik en ons bybelkennis is oor die jare uitgebou en verryk omdat daar volgens 'n spesifieke program gewerk is. My ma het dit gebruik vir solank ek kan onthou tot sy in 2010 oorlede is, maar die nuwe weergawe is nie van dieselfde kaliber nie.
    4. Ek soek iets wat my sinvol deur die Bybel kan begelei en nie hierdie rondspring van een teks na 'n ander nie.
    Johan Basson

  • Ek stem saam met al die kommentaar. Meer spesifiek met Johan Basson. Ons is besig met 2019 se uitgawe maar ai, ek weet nie wie die uitleg gedoen het nie. Ons is gewone plat op die aarde mense en kan nie altyd die uitleg verstaan nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top