Die vrystelling van slawe, uit die argief: Ons slawe-erfenis – 'n Foto-toer

  • 0

'n Erfenissimposium is op 5 Desember 2013 deur die Afrikaanse Taalmuseum en –monument in samewerking met die Paarl Museum aangebied. Menán van Heerden het dié simposium bygewoon. Hier is haar indrukke en foto's.

Die erfenis wat die meeste van ons van slawerny het, is die abstrakte, die herinneringe, die stories wat ons ouers vir ons oor ons erfenis vertel. Ja, daar is geboue wat daarmee geassosieer word, maar dit is die herinneringe in ons huise wat dit 'n lewende erfenis maak, omdat dit steeds beoefen word.

— Aangehaal uit Cecilene Muller se referaat.

Van links na regs: Regina Bell, Phillipina Moses, Marinda Sameuls, Mandee Janse, Caty Fortuin, Margaret Schrich (agter Caty Fortuin), Anna Ronganger, Katrina September (agter), Sheree Juries (voor Katrina September), Anna Koopman, Rachel Jonkers, Cecile Isaacs, en Johanna Hoff. Al die dames kom van Paarl (behalwe Cecile Isaacs, van Kraaifontein).

Douvoordag op Donderdag 5 Desember 2013 het ek na die Paarl vertrek om die spoor van Suid-Afrikaanse slawe-geskiedenis in dié geweste na te loop.

’n Gratis erfenissimposium, wat die nalatenskap van slawerny vier, is op hierdie dag deur die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in samewerking met die Paarl Museum aangebied.

Volgens die simposiumpamflet het slawe “die ruggraat gevorm van ons koloniale ekonomie, maar vandag is hul merkwaardige bydraes byna vergete. Deur hierdie simposium bring ons hulde aan ons slawe-erfenis”.

Die daglange simposium het die slawegeskiedenis nagevolg deur middel van referate en gesprekke, asook deur middel van die mobiele uitstalling, “Slawegedenkplekke – Kaapstad en omgewing”. Die uitstalling, georganiseer deur die Departement Kultuursake en Sport, word tans in die Paarl Museum ten toon gestel.

Na afloop van die reeks referate, het ek, saam met lede vanuit veral die Paarl-gemeenskap, op ’n bus geklim om verskeie slawe-erfenisterreine te besoek – van die Bredastraat Moskee en Moslemskool,  tot Het Gesticht Museum. Die groep het van terrein tot terrein deur die strate van Paarl geloop om die geskiedenis wat agter die sluier van die daaglikse lewe skuil, te ontdek.

Catherine Snel, bestuurder van Erfenis en Opvoeding by die Afrikaanse Taalmuseum én ons toerleier, het die belangrikheid van die bewaring, bewusmaking, opvoeding, die verbreding van kennis, asook die bydrae van ons erfenis, benadruk: “Dit is belangrik om elke dag bewus te raak van kultuur en erfenis. Die waarde en belangrike bydrae daarvan word nie altyd besef nie; dit wat ons het, word as vanselfsprekend aanvaar”.

Hierdie simposium is veral vanjaar van belang, aangesien dit die 175ste herdenking van die volledige bevryding van slawe is.

Slawerny is offisieel in die Kaapkolonie op 1 Desember 1834 afgeskaf, maar slawe moes as vakmanne vir vier jaar vir hul eienaars gewerk het. Slawe is dus ten volle bevry op 1 Desember 1838.
 

Dieselfde groep dames (name by voorgaande foto gevoeg) voor die Afrikaanse Taalmonument

 

Catherine Snel, Steward van Wyk, en Ria Olivier

Snel is die bestuurder van Erfenis en Opvoeding by die Afrikaanse Taalmuseum en
-monument; Van Wyk is die voorsitter van die  Departement Afrikaans en Nederlands by UWK; en Olivier is ’n projekbestuurder by die Afrikaanse Taalraad.

 

Jack Louw en Michael Jonas

Louw is die direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum en –monument en het in sy openingstoespraak genoem dat 7 % van witmense (Louw inkluis) slawe-bloed in hulle are het.

Jonas het die Departement Kultuursake en Sport verteenwoordig.

 

Cathy Raymond

Komplekse stories “gee lewe aan die mense wat hier gebly het. Dit gee name aan hierdie mense”

Raymond, lid van die Drakenstein Erfenisstigting, het Robert Shell se navorsing oor slawe aan die Kaap weergegee. Sy het die belangrikheid van die fyn besonderhede, stories, en menslikheid van slawe as individue (in teenstelling met ’n ongedifferensieerde massa) benadruk.

 

Annemarie van Zyl lewer haar referaat, “Die rol wat die slawe in die vorming van Afrikaans gespeel het”.

Van Zyl is die kurator van navorsing en versamelings by die Taalmuseum. Haar navorsing steun sterk op die werk van Christo van Rensburg, Ernst Kotzé, Achmat Davids en Robert Shell.

Van Zyl het onder andere die volgende interessante feite uitgelig:

  • ’n Banneling van die VOC, Tuan Guru, ’n prins van Tidore in die Ternate Eilande (Indonesië), het in die laat-agtiende eeu die Dorpstraat madrassah opgerig. Afrikaans is al in 1815 daar in Arabiese skrif getranskribeer.
  • Afrikaans is die enigste Germaanse taal wat in Arabiese skrif getranskribeer is.

 

Afrikaanse woorde van Maleise oorsprong, genoem deur van Zyl

Volgens die simposiumpamflet, het slawe "vanuit die Ooste en Afrika vanaf 1654 reeds bygedra tot die vroeë totstandkoming van Afrikaans aan die Kaap.  Deur die slawe het onder andere die volgende woorde in Afrikaans bekend geword: blatjang, baadjie, koejawel, katel, bredie, sambok”.

Klik hier vir LitNet-foto’s van die nuwe uitstalling by die Taalmonument wat die ontwikkeling van Afrikaans van toeka tot nou uitbeeld.

 

 Argeoloog Cecilene Muller lewer haar  referaat, “Waardes van die Kaapse Klopsemusiek”.

Muller is die bestuurder van gradering en verklarings van erfenisterreine by die South African Heritage Resources Agency (SAHRA).

Muller (wat haar erfenisse van Zanzibar, Madagaskar, en die Karibiese Eilande genoem het) sê erfenis leef vandag steeds voort. Die volgende groepe, byvoorbeeld, tree met erfenis in gesprek: Die Kaapse Klopse (waarvan die komplekse herkoms aangeraak is), Nagtroepe, Kaaps-Maleisiese kore, koperblaasorkeste van voormalige sendingstasies, soos byvoorbeeld Mamre en Wupperthal, en madrasahs wat kinders vandag nog op die Kaapse Vlakte bywoon.

Muller het ook beklemtoon dat erfenis nie staties is nie; dit word deurgaans herbedink.

 

Referate en gesprekke het by die Historium Konferensiesentrum, langs die Afrikaanse Taalmuseum, plaasgevind.

Catherine Snel het die referaat van Najumoeniesa Damon (van Iziko Museums van Suid-Afrika), “Slawe en geloof aan die Kaap”, in Damon se afwesigheid voorgelees. 

Toerstop 1: Afrikaanse Taalmuseum

Die erfenistoer – deur die strate van Paarl se geskiedenis – is afgeskop by die Afrikaanse Taalmuseum wat die geskiedenis en ryke diversiteit van Afrikaans uitbeeld.

Ray-Marsha Sharter en Arlene Gaffley, lede van die Taaljunkies
-jeugklub van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument.

 

Quinton en Christine Fortuin van Pniel, Hester de Kock, en Rowena Petersen van die The Boschendal Manor House in Pniel. Volgens Fortuin en De Kock het hul elk ’n slawe-voorsaat.

 

Christine Fortuin, Anna Koopman en Sanna Malgas (toerleier by Museum van de Caab op Solms-Delta Wynlandgoed) luister na Catherine Snel (nie op foto) wat oor die invloed van slawe op Afrikaans gesels het.

Toerstop 2: Paarl Museum

Ray-Marsha Sharter, Arlene Gaffley, Misha Booysen en Mpaballeng Matsoso (almal lede van die Taaljunkies-jeugklub) voor die Paarl Museum

Hierdie museum “beeld die geskiedenis en erfenis van die Paarlvallei uit”, volgens die simposiumpamflet.

 

Deel van die Gribble foto-versameling (Paarl Museum)

Na die afskaffing van slawerny, het die Moslemgemeenskap se sosiale status gou gestyg, en is hulle as ’n geloofsgemeenskap gevestig.

Die eerste plek van aanbidding is in ’n huis in Oranjestraat gevestig, waar ’n aantal prominente Moslem-families gedurende die tweede deel van die 19de eeu gewoon het (volgens die pamflet van
Paarl Muslim Jamaa’).

 

Slawekettings (Paarl Museum)

 

“Slawe-register afkomstig van die Registrateur-kantoor in Kaapstad van 10 Augustus 1829. Slawe Pamela en Klaartje van die Wed en David Gerhardus Roux word daardeur aan Gertruida Maria Roux gesedeer.” (Paarl Museum)

Toerstop 3: Die Bredastraat Moskee en Moslemskool

Die moskee in Bredastraat is in 1889 voltooi. Die gemeente se eerste Imam was Imam Habiel Domingo.

Die moskee is steeds in gebruik en is die oudste moskee in Paarl.

 

Zenobia  Pieterson en Sanna Malgas voor die Bredastraat Moskee. Albei is toerleiers by Museum van de Caab op Solms-Delta Wynlandgoed.

 

Moutie Richards vertel die geskiedenis van die Bredastraat Moskee. Richards, die voorsitter van Paarl Muslim Jamaa’, “’n forum vir opvoedkundige- en sosio-godsdienstige aangeleenthede” (Paarl Museum), se pa se oom was Imam Habiel Domingo.

 

Die Paarl Moslemskool in Bredastraat.

 ’n Formele skool is in 1917 vir leerders van Graad 1-7 gebou,  maar is in 1974 gesluit as gevolg van die Groepsgebiedewet.

Leerders is toe gestuur na die New Orleans Primêre Skool.

Volgens Richards het die Groepsgebiedewet die gemeenskap opgebreek.

 

’n Gedenkplaat van die Drakenstein Erfenisstigting teen ’n muur van die Moslemskool lui soos volg: “Herdenk die gemeenskap, waarna as nie-blankes verwys is, wat in terme van die Groepsgebiedewet van 1953 gedwing was om te verskuif van die ‘Ou Tuin’-area.”

Toerstop 4: Die Strooidakkerk

Die Strooidakkerk

Volgens die simposiumpamflet, het “slawe en ander ‘nie-blankes’ aanvanklik die eredienste in die Strooidakkerk bygewoon. Slegs ’n beperkte aantal van hulle kon egter die dienste bywoon, weens die beperkte ruimte en omdat die kerktaal Hollands was en nie almal dit kon verstaan nie”.

Toerstop 5: Het Gesticht Museum

Hybré van Niekerk, die bestuurder van Het Gesticht, die vierde oudste sendingkerk-gebou in Suid-Afrika.

Het Gesticht in 1813 opgerig met die doel om godsdiensonderrig aan slawe te voorsien wat voorheen die kerkdienste in die Strooidakkerk bygewoon het, maar nie meer kon nie omdat die kerk te klein geword het. Van Niekerk het die belangrikheid van familie-erfenis-navorsing aan die gehoor, waarvan baie lede vanuit die Paarl gemeenskap afkomstig is, oorgedra.

 

’n Portret van Jason Adams se kleinseun (links).

Adams was een van die eerste mense wat in bogenoemde gemeente in 1820 gedoop was. Hy was ’n slaaf van Hermanus Bosman, ’n voormalige eienaar van De Nieuwe Plantage.

’n Straat in Paarl-Oos is na Adams vernoem.

Toerstop 6: De Nieuwe Plantage (vandag, die Grande Roche Hotel)

Anthea Shortles en Zenobia Ayford voor die slawekerk by De Nieuwe Plantage, wat Hermanus Bosman vir sy slawe in 1737 gebou het (simposiumpamflet).

Shortles is die bestuurder van ruimtelike beplanning by die Drakenstein Munisipaliteit.

Ayford is die erfenis-inspekteur by die Drakenstein Munisipaliteit.

 

Binne die slawekerk.

 

Die slaweklok langs die kerk. Die klok het op ’n spesifieke manier gelui om gevaar aan te dui en is ook gebruik om werksure aan te kondig.

Die laaste toerstop: Die Afrikaanse Taalmonument

Toergroeplede Angeline Lavense, Alice Levember, Constance Peterson, Elizabeth Jansen en Lena Afrika

 

Dieselfde groep dames voor die Afrikaanse Taalmonument, waar die simboliek van die Taalmonument verduidelik is.

 

Die dag is afgesluit met ’n optrede deur die Super Stars junior koor, ’n klopsegroep van Wellington.

Ter afsluiting is dit interessant om in ag te neem, soos die Paarl Museum ons herinner, dat Paarlberg deur die Khoekhoen “Skilpadberg” genoem is voordat Abraham Gabbema dit in 1657 “den Diamandt ende Peerlbergh” gedoop het.

Nelson Mandela het die laaste gedeelte van sy sewe-en-twintig-jaar-lange gevangenisstraf by Victor Verster (Drakenstein) gevangenis, Paarl, uitgedien.

Oorspronklik verskyn: 19 Desember 2013

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top