Twintig vrae aan LAPA se jeugromanwenners

  • 0

Die wenner en die twee naaswenners van LAPA Uitgewers se jeugromankompetisie is gepubliseer. Miemie du Plessis, die hoof van die kinder- en jeugafdeling by LAPA, beskou die tekste as “grensverskuiwende tienerboeke”.

Al drie verhale beskryf die woede van tieners en al drie vertel ’n opwindende, aksiebelaaide storie.

Izak de Vries het met die wenner, Jan Vermeulen, en die twee naaswenners, Fanie Viljoen en Marita van der Vyver, gesels.

Wenner: Asem

9780799379037Jan Vermeulen se wenboek, Asem, het in September verskyn.

Ouderdom: 15+

9780799379037

R160

Koop die boek hier.

Asem laat jou uitasem. Dit is ’n aksieboek. Dit is ook ’n keiharde verhaal oor ’n seun se woede. As jy al ooit met tieners gewerk het, sal hierdie boek sin maak, én seer maak. Daar is nie maklike antwoorde nie, maar die einde, wat ek nie sal verklap nie, wys dat dinge tog regkom, al is dit baie anders as wat ons verwag.

Asem is beslis nie vir kleintjies bedoel nie, maar dit hoort op elke moeilike tiener se rak. Ouers sal dit waarskynlik nóg beter verstaan.

Barries wil wraak neem op sy pa. Dit is hoekom hy rottegif koop.

jan-vermeulen

Jan, ten eerste geluk. Jy het groot name uitgestof. Hoe het jy gevoel toe jy gehoor het?

Hoe het ek gevoel toe ek hoor wie die ander wenners is? Op ’n ligter trant: ek het gevoel nou is ek ook ’n groot naam. Om saam met die twee groot skrywers ’n wenner te kan wees, is vir my ’n groot eer, een wat my lewe lank met my saam sal gaan, wat nooit weer weggevat kan word nie. Dit laat my ook weer glo in my eie roeping as skrywer. Maar dit voel eintlik nog steeds onwerklik.

Jy het al tevore wenboeke geskryf. Wat is jou geheim?

As ek ’n Bybelaanhaling mag gebruik wat my benadering tot skryf die beste verwoord: Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie; ek slaan soos ’n bokser wat nie in die lug slaan nie. Maar ek oefen ... My geheim is, ek sit alles in en gee my absolute bes om net die beste te doen, niks minder nie.

Jy skryf nie baie nie, maar jy tref duidelik die kol. Hoekom skryf jy vir tieners?

Toe ek ’n tiener was, was fiksie die voedsel vir my verbeelding. Opwindend, genesend, inspirerend, ondersoekend. So ek glo vas daar is vandag ook nog tieners wat sulke leesstof soek. Dis asof ek vir myself skryf, terugwerkend.

Jy was lank stil, en toe hierdie ontploffing. Wat het jou laat deurdruk met hierdie manuskrip?

Die karakter Barries het so geleef langs my dat hy my as ‘t ware laat klaar skryf het. En laat herskryf het. En weer laat herskryf het. Nou het hy tot rus gekom. Aan die ander kant wou ek graag darem ten minste drie boeke deur Jan Vermeulen langs mekaar op my boekrak sien. Nou ís daar drie. Nou kan ek mik vir vier of vyf.

Ek noem Asem ’n ontploffing. Barries, jou hoofkarakter, is ’n woedende jong man wanneer ons hom ontmoet. Baie tieners verstaan daardie plek. Hoe kon jy Barries so akkuraat beskryf?

Ek glo ek het myself in Barries uitgeleef. Al daardie tienergevoelens en taboes wat nog onopgelos in my lê; maar ek het ook oor die loop van jare baie met tieners te doen gehad (ook met my eie tienerdogters). Het tieners se lief en leed gedeel, hoe hulle dinge in die lewe bevraagteken en ondersoek. Het hulle gesien grootmense word en (self ook grys in die baard raak), hoe hulle die grootmenswêreld hanteer. In my tweede huwelik het ek die voorreg gehad om ’n meer hedendaagse tienerseun se grootword onder my dak te beleef. Barries (en sy medespelers) vertoon net so ’n fraksie van wat ek glo ek ervaar het. Daar kan nog heelwat boeke kom.

Jy skryf nooit neer op Barries se woede nie. Inteendeel, die leser het simpatie met hom. Wil jy vir lesers sê tienerwoede is oukei?

In ons tyd het ons geleer kinders moet gesien word, nie gehoor word nie. Ek dink daardie gesegde het ’n wrede deksel op kinders se lewens gesit, wat drukpotte veroorsaak het, en eindelik skiet die deksels af en almal staan verstom. Tienerwoede is nie net oukei nie, dis in die meeste gevalle nodig en geregverdig. Tienerwoede lewer nog ’n belangrike vorm van kommentaar op die lewe, soos hulle dit ontdek en beleef. Tieners moet daarom ruimte hê om betyds uiting daaraan te kan gee sodat hulle in die proses ook lewensvaardighede vir hulleself kan aanleer, konsekwensies van keuses kan leer aanvaar, emosioneel kan groei. (Die ergste algemene vorm van rebellie in my tienertyd was die toeslaan van jou kamerdeur en dan moes jy daar binne bly tot jy geleer het om jou mond te hou.) Barries se woede was te lank opgekrop en misken.

In die pers word daar gereeld genoem dat jy ’n opgeleide dominee is. Hierdie boek is egter glad nie ’n preek nie. Hoe versoen jy storievertel met die rol van ’n moderne herder?

Ek het nog altyd ’n broertjie dood aan die idee van preek. Daarom volg ek graag (met versigtigheid en erkentlik) in die voetspore van die eerste Moderne Herder. Met sy “stories” oor die lewe boei Hy meer as 2 000 jaar later steeds die lesers.

Barries groei baie ná hy raaksien dat grootmense – ook hulle wat naby hom is – dikwels maar ewe vol foute is. Dis eerlik, maar nogal gewaagd. Hoe voel jy oor hierdie stelling?

Gewaagd? Op die ou end, ja, maar dit was nie my plan om gewaagd te skryf nie. Net eerlik. Die waarheid maak soms seer, maar die waarheid sal mens vry maak. Daarom is dit beter om ’n eerlike beeld van die lewe in ’n boek aan tieners voor te hou, eerder as ’n illusie. Tieners hou van eerlikheid. Hulle kom gou agter as hulle integriteit (ook in fiksie) onderskat word.

Daar is nie sedelessies nie; daar is nie eens ’n maklike einde nie – tog is daar hoop. Waarom het jy dit nie makliker gemaak vir ou Barries nie?

Want dit is nie hoe die lewe is nie. Om dit vir Barries makliker te gemaak het, sou ook oneerlik wees teenoor die gang wat ’n storie soms selfs neem. Sou hy kon gekom het waar hy gekom het as dinge heelwat makliker vir hom was?

Jy het nou al ’n paar wenners op jou kerfstok. As jy vir iemand moet raad gee oor die skryf van ’n jeugverhaal, wat sal dit wees?

Moenie jou laat mislei deur die term “jeugverhaal” nie. Asof dit iets anders is of makliker is as ’n sogenaamde volwasse roman. Asof jy kan “af” skryf na jongmense toe. Dink in die eerste plek aan die storie wat brand om vertel te word. ’n Storie oor die lotgevalle van mense. Soos ervaar deur jongmense. Só word die jeugverhaal dan net die vorm waarin jy die storie giet en kan tieners én volwassenes dit enduit lees.

Naaswenner: Afkop

9780799372885Fanie Viljoen se Afkop het in Mei verskyn.

Ouderdom: 15+

ISBN: 9780799372885

R140

Koop die boek hier.

Alles gaan oukei wees, het Decker gesê.

Decker was verkeerd. Trent beland saam met sy sogenaamde vriende in ’n gesteelde motor. Die motor rol. Sy sogenaamde vriende hardloop weg en los hom in die wrak.

Met moeite kom Trent uit en loop hom vas in ’n sak vol kontant.

Wat moet hy doen met die geld wat hy op die ongelukstoneel gekry het? Kan hy regtig sy vriende vertrou?

Afkop is ’n klassieke teks in die tipiese styl van Fanie Viljoen. Aksie. Geweld. Spanning. Dinge loop in regte Tarantino-styl skeef.

fanie-viljoen

Nog ’n doller-as-Afkop-, ek bedoel, kop-af-boek! Sien jy die aksie wanneer jy skryf?

Ja, beslis. Dit speel soos ’n fliek voor my af en maak die skryfwerk groot pret.

Die wonderlike ding van jou boeke is dat daar geen preke is nie. Die leser moet gewoon vasklou. Watter tipe boeke lees jý graag?

Ek hou veral van boeke wat handel oor menseverhoudings. Natuurlik ook goeie jeugverhale. Volwasse speurverhale werk nie vir my nie, al is dit deesdae baie gewild en blykbaar goed geskryf.

Trent, jou hoofkarakter, wil vreeslik graag inpas. Hoekom is jy so lief daarvoor om die antiheld te skets?

Ek het seker ’n donker kant wat daardie wêreld op ’n veilige manier wil verken. Dis ook opwindender as ’n vervelige skrywerslewe.

Op ’n manier kry jy dit baie goed reg om vir kleiner kinders te skryf – dankie aan Lulu se avonture – en dan ook vir die tieners. Hoe kry jy dit reg?

Ek hou daarvan om te waag. Sommige stories en/of style werk, ander nie. Al my probeerslae word gelukkig nie gepubliseer nie. Ek dink ’n skrywer van jeugboeke moet nie wegskram van die werklikheid nie. Tieners sal jou gou uitkyk en weet jy weet nie.

Jy is een van Afrikaans se suksesverhale. Watter raad sou jy hê vir almal wat baie graag vir die jeugmark wil skryf – want daar is baie mense wat dit wil doen.

Lees baie jeugverhale. Jy moet ten minste al die pryswenner Afrikaanse jeugverhale lees, en weer lees. Dan moet jy ook weet wat internasionaal gebeur. Uiteindelik moet jy jou eie stem vind en jou boek gaan skryf.

Naaswenner: Al wat ek weet

9780799378993Al wat ek weet, deur Marita van der Vyver, het in Augustus verskyn.

Ouderdom: 15+

9780799378993

R160

Koop die boek hier.

Hy is kwaad vir die hele wêreld. Sy enigste wapen is ’n rugsak vol woorde.

Gabriel is vyftien jaar oud. Fifteengoingonfifty, soos sy ma altyd geterg het. Ná haar dood weet hy skielik nie meer waar hy inpas nie.

Die sielkundige wil hê hy moet oor sy gevoelens praat, maar hoe verduidelik jy vir haar dat dit die afgelope paar maande makliker geword het om met woede te cope as met snot en trane?

Hoe verduidelik jy dat jou kastige “gemengde bloed” jou anders as die res maak?

Hoe verduidelik jy dat dinge net nie meer dieselfde tussen jou en jou pa is nie?

Daarom verloor Gabriel homself in die wêreld van performance poetry, waar hy sy woede in woorde kan omsit en dit vir ’n gehoor uitbasuin. By die sielkundige ontmoet hy vir Sasha, wat mooier is as Sneeuwitjie en boonop ’n ding of twee van poësie weet.

marita-van-der-vyver

Gabriel is ’n rymkletser, of eintik ’n “performance poet”. Ek ken ’n paar lede van die “tribe”. Waar het jy aan die idee gekom?

Dit het begin toe ek so drie jaar gelede vir my seun Daniel ’n kletsrympie vir sy verjaardag geskryf het. Hy was heeltemal verstom dat sy ma só iets kan doen. Maar ek was mos op my dae 'n tienerdigter. In my matriekjaar het ek ’n studiebeurs vir vier jaar aan die universiteit van my keuse gewen met drie van my gedigte. Vandat ek boeke begin publiseer het, is die digkuns omtrent die enigste genre wat ek nog nie (weer) aangedurf het nie. Gabriel se rymkletsery was ’n lekker manier om weer met daardie onderdrukte tienerdigter in myself te konnekteer.

Gabriel is Afrikaans. Hy is ’n kind van die nuwe Suid-Afrika in alle opsigte. Tog, in hierdie boek is daar talle temas wat jy al jare oordink in jou boeke – iets soos die fietsryer se uitbarsting. Hoe benader jy ’n jeugboek anders as ’n roman vir volwassenes – indien enigsins?

Die hele storie het begin by die onbeskofte fietsryer se uitbarsting. In daardie stadium kon ek dit óf deur die ouers óf deur die seun se oë vertel. Aanvanklik het ek sekere hoofstukke ook deur die pa se oë geskryf, maar Gabriel het my oorrompel en oortuig hy wou sy eie storie hê. Toe weet ek dit gaan ’n jeugboek wees. 

Gabriel en die beeldskone Sneeuwitjie ontmoet mekaar by die sielkundige. Gesprekke met die sielkundige is ook iets wat reeds lank in jou boeke voorkom; hier gaan dit egter oor jongmense wat hulleself sny. Dis nou ’n seer ding om aan te raak. Hoekom dít ingooi?

Sy moes een of ander probleem hê, want Gabriel ontmoet haar by die sielkundige wat in tienerprobleme spesialiseer – en ek wou dit ’n weggesteekte probleem maak, iets wat jy nie dadelik sien as jy na die mens kyk nie. Selfskending met messe of lemme is een van die mees weggesteekte probleme onder tieners wat heeltemal “normaal” lyk. 

Gabriel se woede teenoor sy pa – die sagte man – is nogal iets om te ervaar. Hoekom het jy juis tienerwoede probeer vasvang met jou verhaal?

Watter tienerseun is nie soms woedend vir sy pa nie? Oedipus het sy pa doodgemaak – dis waarom Gabriel ook ’n kletsrym oor Oedipus skryf. Ek wou hierdie woede neem en dit verder as die “normale” woede vat. Dit was die soort uitdaging waarvan ek hou as ek met ’n nuwe storie begin.

Jy is baie suksesvol met tekste vir volwassenes en jongmense. Wat sê jy vir mense wat dink dis maklik om ’n jeugverhaal te skryf?

Dink weer!

*

Alle foto’s verskaf. Foto van Marita van der Vyver deur Willem Lourens.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top