The twinkling of an eye deur Sue Brown: ’n resensie

  • 0

The twinkling of an eye
Sue Brown

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798174794

Die foto’s in die boek vertel die hele storie: ’n gesonde twaalfjarige kind met ’n onnutsige kyk in die oë wat die lewe stormloop. Omring van maats, laggend, sportief en jong akteur op die verhoog. Dan volg die foto’s van dieselfde kind wat bestraling ontvang, met die laaste een ’n skoolbank vol geskryf van vriende se afskeidsboodskappe. Jy weet reeds waarvoor jy jou inlaat met die lees van die voorwoord. Jongste van twee kinders, enigste seun, breingewas. ’n Graad 7-jaar in 2011, wat bedoel is vir die uitleef van laerskooldrome, skop af met trauma. Die verkose onderhoofseun begin die jaar in die hospitaal met ’n swaard oor sy kop. Die vrees van elke ouer. ’n Kind wat ly.

Die skrywer, Sue Brown, ’n fisioterapeut en ma van die lewenslustige seun, beskryf in besonderhede die dae wat haar gesin se lewe vir ewig verander het. Sy vind haar seun op die trappe, bleek, met sy kop tussen sy hande. Erge hoofpyn, maar gaan steeds skool toe. Maande tevore het spontane braking begin wat deur die dokter as angs gediagnoseer is. Hy word na ’n sielkundige verwys. Die ouers bespreek hul bekommernis met die sielkundige: hulle vriendelike, innemende kind het in ’n boelie ontaard. Heeltemal teenstrydig met sy persoonlikheid, knou hy sy maats mondeling af en is bakleierig met sy ouers en suster.

’n MRI-skandering wys die oorsaak van die hoofpyn, naarheid en vreemde gedrag: ’n gewas in die midbrein, moontlik reeds twee jaar daar. Twee operasies verwyder dit en dan die fatale uitslag: kanker. Bestralings volg, waarna besorgde medici dophou dat geen verdere komplikasies en verspreiding plaasvind nie.

Die leser volg die weë van die gesin. ’n Ma se skuldgevoelens omdat sy die tekens nie met genoeg erns bejeën het nie en haar kind verkwalik het vir sy onaanvaarbare gedrag. ’n Pa wat nooit huil nie, maar dan ook op ’n dag ineenstort. ’n Dogter wat stil by die huis wag en deur vriende versorg word. Jy lees van lojale ondersteuners en mense wat werklik omgee en die gesin deur die moeilike tyd bystaan, maar ook van die altyd teenwoordige toeskouers wat onnadenkende opmerkings maak, soos Brown skryf: een vrou het haar by die elite groep verwelkom van “spesiale” ma’s met “spesiale siek kinders”. Jy lees van die ma se hartseer omdat haar kind swaarkry en haar woede en geloofstryd. Jy leer die maats in die blaaie ken wat hul besorgdheid wys en onderwysers wat individuele klasse gee en oumas en oupas met lomp gerusstellings, soos: “Alles sal regkom. Kinders is sterker as wat ons dink.”

Wat egter uitstaan, is Craig se positiewe ingesteldheid en grappies wat hy voortdurend, siek of nie, met almal maak. Dat dit ’n kind is wat die lewe liefhet, is duidelik. Selfs die vooruitsig van bestraling hou hom nie van ’n piekniek op die strand weg nie en net na die dertig bestralingsessies onderneem hy ’n skooltoer na Durban saam met sy maats.

In die winter van 2011 wys ’n jong radioloog met trane in sy oë twee nuwe breintumors op die skanderings. ’n Week later het hulle verdubbel.

Moeilik om te glo die siek kind het net ’n week tevore sy tenniswedstryd in Durban gewen.

Die leser se hart breek by die lees van Craig se woorde aan sy pa: “Ek dink ek gaan sterf, maar moenie bekommerd wees nie.”

“Ek sal al my geld spandeer om jou gesond te kry,” sê sy pa.

“Dit sal baie onnosel wees,” antwoord die dapper kind.

Die finale fase van die boek beskryf die ouers se stryd om besluite te neem wat die beste vir hul ongeneeslik siek kind is en die besef dat geen mediese ingryp sy lewe kan verleng nie, dit hoogstens meer draaglik kan maak. Dit vertel van ouers se afskeid van hul kind en die onversoenbaarheid van die twee wêrelde waarin albei met een voet staan: die lewe wat aangaan, waar vorms steeds ingevul word, rekenings betaal moet word en versoeke vir orgaanskenking onder jou neus gevryf word. En dan die wêreld van verlies. Die afskeid van ’n kind.

’n Mens staan verstom vir die onsensitiwiteit van mense. ’n Vrou wat met die Bybel onder haar arm voor sy bed in die waakeenheid kom staan en sê sy het ’n visioen gehad dat Craig gesond sal word as sy vir hom ’n spesiale gebed doen van ’n kerk in Amerika.

Die mees pynigende gedeelte in die boek is wanneer hy vir ’n laaste keer nog praat en sy ma bedank vir die ma wat sy is. In Augustus 2011, wanneer die lykbesorgers se bed nie by die huis kan inkom nie, dra sy pa die kind in sy arms by die huis uit, soos die dag wat hy hom as baba daar ingedra het.

Die boek sal baie beteken vir mense wat Craig geken het, hulle familie en vriende. Ook vir mense in soortgelyke omstandighede. Die skrywer se eerlike weergawe van haar gesin se belewenis bied die woorde wat ander sal help om hul eie ervarings te verstaan. Gedeelde smart is halwe smart.

Die boek eindig met ’n huldeblyk aan Craig deur sy suster, Meg.

Tien teen een is die boek nie ter wille van terapeutiese waarde geskryf nie, maar die katarsis, neerskryf en uitskryf is waardevol, al is dit dan net om vrede te maak.

En om te besef: jy is daar deur. Nie meer dieselfde mense as voor die allerverskriklike trauma nie; gelouter, maar onoorwonne. Dit is die boodskap wat ek daaruit kry. Dit is nie ’n weergawe van mense wat jammer gekry wil word nie, maar ’n storie vertel van Craig, hulle seun en broer, ’n twaalfjarige kind wat die lewe tot die einde gelééf het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top