Twee pappas en een baba

Bron: www.bu.edu

Met ons Grondwet wat die regte van LGBT-groepe die meeste beskerm, moet ons erkenning gee dat Suid-Afrika probeer om gays te help. Daar is geen twyfel dat Suid-Afrika meer aanneemouers nodig het nie. Gays kan wettiglik aanneem. Gays moet help! Dit is nodig dat ons weer bietjie hierna kyk.

Wettiglik mag gays onder andere trou, openbare uiting aan hul liefde aan mekaar toon en (individueel, in ’n verhouding of getroud) kinders aanneem sonder om vervolg te word. Ons is die énigste land in Afrika wat gays toelaat om te trou!

Dit wil voorkom of daar te veel kinders in kinderhuissorg is wat alles sou gee om ’n liefdevolle pappa of mamma te hê. Maar wat van twee pappas of twee mammas? En moet ons nie oor die rasgrens aanneem nie?

Ek het met ’n ouer gaan gesels oor sy besluit om twee dogtertjies – onderskeidelik nege maande en drie jaar oud – aan te neem. Johan (57) is in ’n verhouding met Peter (44).

Johan voel dat diegene wat dit najaag om kinders van hul eie, weens genetiese redes, te hê, selfsugtig is. Hy voel dat om van ’n surrogaatmoeder gebruik te maak net sodat jou kind deur minstens een ouer op genetiese vlak verteenwoordig word, oneties is.

Al wat ’n kind nodig het, is “’n liefdevolle omgewing, aanvaarbare lewenskwaliteit, om suksesvol die uitdagings te slaag en om hierdie voorsprong te benut”.

Alhoewel hy te kenne gee dat die proses om hulle aan te neem om en by ’n jaar geneem het, was dit die moeite werd.

Eerstens bieg hy: “Dit was ’n l-a-a-a-n-g proses”, maar las by dat dit die samewerking van die kinderhuis was wat hom die meeste geraak het. “Dit was fantasties!”

Volgens hom spring die taak weg met ’n rits onderhoude. Die onderhoude word op ’n een-tot-een-basis of in groepe gevoer. Die maatskaplike werker word deur jou gekies. Dit kan privaat wees of deur die staat voorsien word. ’n Rits sielkundige evaluasies volg. Daarna word alle sertifikate verlang om te bewys dat geen seksuele klag teen jou aanhangig gemaak is nie. Ook nie dat jy skuldig bevind was aan so ’n klagte nie. Indien wel, dui dit daarop dat jy ’n bedreiging vir die kind is. Vir die hof is dit duidelik: die kind moet kan veilig voel.

Wat vir my verbaas het, was toe hy surrogaatskap met aanneming vergelyk het. Waar die surrogaatopsie jou om en by R500 000 uit die sak kan jaag, sal aanneming net so R60 000 kos, soos in bogenoemde geval. As jy deur die staat werk, is dit goedkoper. Toe hulle hul tweede kind aangeneem het, was die onkostes veel laer, want die sertifikate was reeds aangevra.

Wat Johan wel aan my gesê het, was dat hy ’n skenking van R6 000 aan die kinderhuis gemaak het.

“Het die feit dat jy blank en jou kinders nieblank is, jou nadelig beïnvloed?”

“Nee, hoekom sou dit?” vra hy. “My metgesel is dan self nieblank, ’n Indiër.”

Ek dink daar is iets wonderliks daaruit te leer – dat sulke paartjies kan oorleef in ’n samelewing vol kritiek.

Riaan (41), ’n gay haarkapper van Bellville, voel dat daar nie ’n probleem met aanneming is, tensy jy 'n kind aanneem wat reeds puberteit getref het nie.  

“Jy ontneem die kind van sy/haar eie kultuur. Sê nou maar die kind word groot in ’n Afrikaanse blankekultuur pleks van ’n tradisionele (isiXhosa) nieblankekultuur, dan is hy nie tussen sý mense nie. Daai kind word groot in jou kultuur; hy/sy word nie blootgestel aan sy/haar moedertaal nie. Watse ’issue’ gaan dit wees vir daai kind aan die einde van die dag? Jy vervreem die kind van sy eie kultuur. Kultuur maak van jou wié jy is.”

Hy glo ’n mens moet soms net ’n bietjie verder kyk as “liefde, geld en ’n dak oor jou kop”.

Maar wat sê die wet?

Hoofstuk 2: Handves van Regte

(3) Die staat mag nie regstreeks of onregstreeks onbillik teen iemand diskrimineer op
een of meer gronde nie, met inbegrip van ras, geslagtelikheid, geslag, swangerskap,
huwelikstaat, etniese of sosiale herkoms, kleur, seksuele georiënteerdheid,
ouderdom, gestremdheid, godsdiens, gewete, oortuiging, kultuur, taal en geboorte.

http://www.justice.gov.za/legislation/constitution/SAConstitution-web-afr.pdf

Dit beteken dat die wet wel plek maak vir gays om te trou, maar ook aan te neem. Trouens, volgens die Kinderwet is die belangrike dat die kandidaat ter oorweging van edele grondigheid bevoeg verklaar moet word.

Volgens Pam Wilson, hoof van aanneming by ’n Johannesburgse kinderhuis, beïnvloed seksuele oriëntasie nie ’n persoon se vermoë om ’n ouer te wees nie. Vir haar gaan dit oor “om ’n goeie tuiste aan die kind te bied wat weer beter geleenthede aan die dag lê”.

“Of die aanneemouers homoseksueel is, maak nie saak nie. Al wat ’n kindjie kan vra, is liefde, aanvaarding, sekuriteit, versorging en ’n konsekwente verantwoordbaarheid tot ouerskap.

“Om ’n ouer te wees, vra nie jou oriëntasie as mens nie. Die goedkeuringsproses is presies dieselfde.”

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top