Twee jaar vir die k-woord

  • 18

“Die tong het nie ’n been nie, hy klap soos hy wil” is ’n waarskuwing wat ons gereeld gehoor het as kind.

Ek het dit nie verstaan nie, tot heelwat later. Anders as enige ander deel van die liggaam, wat beperk word deur bene in hoe beweeglik hulle is, is daar niks wat die tong keer nie. Net die brein en wilskrag, daai ander onsigbare dinge, hou die tong in toom.

Nou het Vicky Momberg se tong haar drie jaar gevangenisstraf, waarvan een jaar opgeskort is, besorg. Of hierdie vonnis op appèl gaan bly staan is ’n ope vraag. Dat Momberg gaan appelleer staan seer sekerlik soos ’n paal bo water.

Ek erken ruiterlik, ek was verstom dat sy direkte gevangenisstraf opgelê was. In hierdie land waar die lewe goedkoop is, waar rowers loskom en moordenaars beswaarlik ’n nag agter tralies deurbring, word iemand tronk toe gestuur vir crimen iniuria? Haibo. Ek wil nie weet wat maak daai landdros met ’n kinderverkragter nie.

Maar wat beteken dit vir ander rassiste in die toekoms? ’n Landdros se beslissing is nie bindend op ander landdroste nie, maar dit beteken nie ander gaan nie geïnspireer word deur die ferm optrede van hierdie landdros nie. Dit sal interessant wees om te sien of die volgende rassis wat die h-woord, of die b-woord, uiter, ook die gevaar van verblyf op staatskoste in die gesig sal staar.

Anders gestel, is alle rassistiese uitsprake gelyk, of is daar ’n hiërargie? Is dit erger om die k-woord te sê as die h-woord byvoorbeeld? Is dit ernstiger as die woord meer as een keer gesê word en moet dit dan ernstiger bestraf word?

Die teorie van vergeldende geregtigheid vereis dat “the punishment should fit the crime.” Daar is ’n ongemak in my dat hierdie straf nie vergelykbaar met die oortreding is nie. Daarmee probeer ek glad nie argumenteer dat Momberg nie gestraf moet word nie. Sy moet. Sy moet sommer spyt wees dat sy ooit daai woord gehóór het, laat staan dit oor haar eie lippe laat gly het. Rassisme moet aangespreek word, en die tyd het gekom dat dit met erns gedoen word.

Maar of Momberg in dieselfde klas kriminele as diewe, huisbrekers, rowers en moordenaars is, is ’n ander vraag. Dit gebeur bitter selde dat ’n persoon vir ’n eerste oortreding direkte gevangenisstraf opgelê word indien daar rehabilitasie kan wees.

Herstellende geregtigheid doen aan die hand dat dit veel beter is vir ’n oortreder om in die gemeenskap uit sy oortredings te leer, en om geleentheid gegee te word om te verbeter. In hierdie vonnis sien ek nie ’n greintjie herstellende geregtigheid nie.

Wat ek wel sien, is die geleentheid vir sekere groepe om Momberg tot martelaarstatus te verhef.

Dit bekommer my nie. Daar sal wel regse histerie wees omdat sy tronkstraf opgelê is, en dit sal gekoppel word aan die narratief van wit vervolging en wit uitwissing en wit plaasmoorde.

Wat my wel bekommer, is hoe goedkoop dit ander strawwe en ander misdrywe maak. Wat doen dit aan die persoon wat aangerand is en weke in die hospitaal moes deurbring wanneer hulle aanvaller net een jaar gevangenisstraf kry? Wat doen dit aan die vermoorde se familie wanneer hul geliefde se moordenaar vyf jaar gevangenisstraf kry, waarvan drie jaar opgeskort word?

Dis maklik om te sê dat elke misdryf op sy eie meriete geoordeel moet word. Dis moeiliker om geloof in ’n regbank te handhaaf wat lewe as goedkoop hanteer.

Elke persoon wat aan die ontvangkant van ’n rassistiese uitspraak is, se waardigheid word geskend. Dit betwis ek nie. Daar moet daadwerklik opgetree word om rassiste in hul spore te stop. Dit staan soos ’n paal bo water.

Wat egter ewe onbetwisbaar is, is dat daar elke dag derduisende klaers deur ons hofstelsel gaan, elkeen met ’n klagte waar hulle waardigheid op een of ander manier geskend is. Ook hulle verdien om hulle waardigheid herstel te kry.

Frans De Waal van Emory-universiteit het ’n aantal jare gelede ’n eksperiment gedoen met twee apies om te kyk hoe hulle daarop reageer om verskillend behandel te word. Onlangs het hy die eksperiment herhaal en die resultate op video opgeneem. In die video word twee apies in hokke langs mekaar geplaas. Hulle kan mekaar dus sien. Albei word gevra om dieselfde taak te verrig. Die eerste apie voltooi die taak suksesvol, en kry ’n stukkie komkommer, wat hy heel bly is om te kry. Dan doen die tweede apie presies dieselfde taak, en word met ’n druiwekorrel beloon. Die eerste apie kyk verbaas, maar toon geen ander reaksie nie.

Die eksperiment word herhaal. Toe die eerste apie weer komkommer kry en die tweede apie ’n druiwekorrel, gooi die eerste apie sy stukkie komkommer in ontevredenheid weg en gaan amok in sy sel.

Die eksperiment het ten doel gehad om te bewys dat diere ongelyke behandeling as onregverdig beskou. Hoeveel te meer nie mense nie?

As crimen iniuria en geweldsmisdade nou op dieselfde vlak hanteer word, wat verhoed gewone burgers dan om hul eie vorm van vergeldende geregtigheid toe te pas?

 

  • 18

Kommentaar

  • Chris de Weerdt

    Goeiedag,

    Ek het 'n goeie, normaalweg fatsoenlike, vriend wat, wanneer hy 'n spanningsvolle situasie ervaar, hy in 'n woedeuitbarsting die mees onaanvaarbare taal gebruik. Hy is met Tourette-sindroom gediagnoseer.

    Die dame se optrede in die video-opname laat my wonder of sy nie ook 'n Tourette-lyer is nie. Haar optrede is na my mening soortgelyk aan die van my vriend.

  • Ronel Scheffer

    Ek dink jou redenasie kon maar gebly het, Bettina. Jy vergelyk appels en pere. Hierdie onderwerp is van landsbelang, dis ‘n kwessie van skreiende misbruik, van vreedsame voortbestaan. Daarom die strawwe vonnis. Dis ‘n skande dat ons nog hieroor moet praat soveel jare na 1994.
    Die magistraat probeer ‘n boodskap uitstuur vir alle tye – kry dit nou in julle kop, mense. Daar is niks onbenullig omtrent hierdie woord nie, dit ontmens Suid-Afrikaners al vir baie baie jare. Dis nie ‘n blote kwessie van waardigheid skend nie, dit reik tot in die diepste wese van menswees. Die woord word nog steeds elke dag dwarsoor ons land vir swart mense gebruik, deur wit, bruin en Indiër. In hulle gesig en agter hulle rug. Jy hoor hoe sogenaamde beskaafde mense dit vir mekaar fluister. Party dink dis ‘n grap, ander sê dit steeds met venynige haat en veragting. Hulle hou die rassehaat te lekker aan die gang maar hou nooit op kla oor Julius Malema nie.
    Iemand wat die woord meer as 40 keer herhaal gaan heel waarskynlik nooit luister nie, dan moet ons hulle maar weer en weer tronk toe stuur. Welgedaan magistraat, ek betaal graag om dié klas van minagting van my medemens te bekamp.

    • Jy is seker geregtig op jou opinie, alhoewel dit nie die saak van alle vorme van rassisme en die ongelykheid mbt die hantering daarvan na vore bring nie ...

  • Dit is verstaanbaar dat mense huiwerig is om kommentaar te lewer, want jy kan maklik van 'rassisme' beskuldig word as jou kommentaar nie polities korrek is nie.
    'n Mens wonder of die woord 'rassisme' ooit sou ontstaan het as die woord 'ras' nie bestaan het nie.
    Dieselfde met gewraakte 'k'-woord ,wat sy oorsprong het in 'n woord wat sy oorspronklike betekenis verloor het. Is die straf wat Momberg opgelê is maar nie 'n simptoom vans ons tyd nie waarin minderwaardigheid gebore uit 'n verlede, gelykgestel aan 'misdaad teen die mensdom' vervang word met meerderwaardigheid noudat die skoen aan die ander voet is en daar so 'n 'tit for tat' posisie ontstaan?

  • Alle rassiste oor alle grense heen moet net oor dieselfde kam geskeer word - sommiges se onderrokke hang ver uit en word oor die hoof gesien - en haatsprake uit sommiges se monde word totaal geignoreer - hulle weet presies wie hulle is en die publiek is nie onnosel nie!

  • Wat interessant is, is dat die k-woord in die HAT, wanneer dit met ‘n hoofletter geskryf word, aandui dat dit ‘n woord is van Arabiese afkoms wat beteken om te kwets en verneder. Met ‘n kleinletter geskryf, is dit nie neerhalend nie en word dikwels vir plante en diere gebruik. Nou wonder ek net het sy die een met die kleinletter of hoofletter gebruik. Trevor Noah het eenkeer in een van sy aanbiedings gesê dat ons die angel uit die woord moet trek en dit nie soveel waarde gee nie.

  • Gerhard Scheepers

    Die vrou is duidelik, aan haar stem te hore, emosioneel aangetas en wat die videobeeld wys sal die vader weet. Die wet het in hierdie land al hoe minder en minder bestaansreg as hulle sekere politici nie onmiddellik lewenslank tronk toe vat en elke met-die-dood gedreigde mens nie minstens R1miljoen vergoeding betaal nie. Die uitspel, op die nuus, van 543 stemme in antwoord op die SABC se vraag, wat nie eers die opsie van nul jare lank gegee het om voor te stem nie, is skreiend belaglik. Politieke korrektheid ruk al hoe meer hande uit, veral in die beste kringe en dis wat ons land vergiftig en onmin tussen mense help uitkring.

  • Goeie uiteensetting Bettina! Ek vermoed hier is 'n geval waar die landdros met 'n saak opgeskeep is wat sy in der ewigheid nooit wou verhoor nie. Pleks dat sy 'n gepaste vonnis oplê waarvoor sy verwyt sou word deur almal en sy sussie wat so PK is dat hulle kan vrek, het sy maar haar hande gewas soos Pilatus en 'n onvanpaste vonnis gegee wat sy weet 'n hoërhof sou verander.

  • Andre Stander

    Dink net hieraan ... As die uitvaagsels wat haar aangeval het in die "smash & grab"-voorval hulle pote vir hulself gehou het, dan sou geen van hierdie dinge gebeur het nie. Kyk na die gedrag van sommige mense en vra dan weer hoekom kook party mense se potjie oor? Elke dag moet ek hoor hoe ek kwansuis die swartmense se grond gesteel het. Ek raak dik daarvoor. Ek het niks gesteel van enigiemand nie. Anders as die wat gedurig beskuldig lei ek 'n eerbare lewe met goeie beginsels. Ek het 'n leeftyd gewerk vir my eiendom en besittings, net soos die meeste wetgehoorsame en eerbare mense. As hulle dink daar gaan net oorgegee word is hulle baie verkeerd.

  • Heidi Pretorius

    Die irrasionele onverdraagsaamheid van wit teenoor wit is asemrowend. Soos die Kameraad Gillian Schutte en die Regter Mabel Jansen.
    Die vrou Momberg is duidelik die kluts kwyt maar tronk toe gmf! Dis al weer 'n politieke skousaak. Daarby saam het haar regsverteenwoordiger ernstig droog gemaak.

  • Sal die straf nou vir wit en nie-wit werk? Julius sê wat hy wil en as dit geld moet hy amper lewenslank tronk toe gaan.
    Ek voel wat goed is vir een is goed vir die ander ...

  • Ons politici en aktiviste is besig om politieke speletjies te speel waarin die emosionele snare van rassisme en grond getokkel word. Die rassegroepe word lekker teen mekaar opgesweep, sodat hul politieke munt daaruit kan slaan. Met al hul lyfwagte, gebrek aan aanspreeklikheid en geld, is dit vir hul 'n lekker voordelige speletjie.
    Hoekom word daar nie eerder op werkskepping, misdaadbekamping, verdraagsaamheid en nasiebou gefokus nie. Om heeltyd ou koeie uit die sloot te grawe was en sal altyd 'n stinkerige affêre bly.
    Die politici moet hulself afvra hoe suksesvol hul die afgelope 24 jaar was om rasseverhoudinge in Suid-Afrika te verbeter. Ek dink hul het 'n groot gemors daarvan gemaak en nou blameer hul die enkele rassiste daarvoor.
    Die landdros het ongelukkig 'n voorbeeld van Vicky Momberg gemaak. Haar weiering van borgtog hangende appèl beklemtoon ongelukkig haar onoordeelkundigheid verder. Dit mag dalk goeie kindersielkunde wees maar skep uit 'n regsoogpunt 'n dilemma. As rassisme dan in die toekoms met tronkstraf begroet gaan word, moet dit ten minste konsekwent vir alle rasse toegepas word en nie net op 'n regstellende wyse wat slegs sekeres benadeel nie. Hoe op aarde kon sy in haar wildste drome raai dat sy drie jaar tronkstraf vir crimen injuria sou kry, as niemand nog ooit in Suid-Afrika vir 'n dag lank daarvoor tronk toe gestuur is nie?

  • Chris Marnewick SC

    Hoe ouer ek word, hoe minder verstaan ek wat om my aangaan.
    In die 1980s het ek 'n hofsaak gehad met Justice Poswa (nou 'n regter) as opponent. Sy getuies het na witmense verwys as amabhunu wat die tolk as Boere getolk het. Toe ek beswaar maak en daarop wys dat daardie woorde vir witmense aanstootlik en beledigend is, het Poswa dit ontken. Terug by my kamers vra ek vir Louis Skweyiya (later 'n regter in the Konstitusionele Hof) vir sy insette. Het meen toe dat amabhunu en Boere bedoel is om te kwets en neerhalend te wees.
    'n Tweede aspek: In die advokate se teekamer het Poswa (luidkeels), Skweyiya, Vuka Shabalala (later regter-president in KZN), Pius Langa (later Hoofregter) en ander van my swart kollegas die argument voorgedra dat wit regters en landdroste uit voeling was met die kultuur, lewens- en wêreldbeskouing, vrese, probleme en lewensomstandighede van swart mense en dat geregtigheid (justice) gevolglik nie in die howe geskied wanneer swart persone voor wit regters en landdroste verskyn het nie.
    Nou wonder ek net: Is die omgekeerde nie nou ook 'n geldige argument nie? En indien wel, waarheen nou?

    • Gerhard Scheepers

      Beste Chris, duidelik het Justice Poswa in die 1980's vir jou gelieg. Wat was die uitkoms van die argument destyds tussen die swart advokate? As Staatspresident het Zuma bewys dat groot kulturele verskille tussen wit en swart bestaan en deur booswigte uitgebuit sal word. Dieselfde geld vir peuter met die waarheid veral waar die konsep nie bestaan nie.
      Sonder twyfel is wit en swart regters buite kultuurgevoel van die ander. Is dit van toepassing op wettigheid?
      Romeinse wetsbenadering is ouderwets in moderne, Christelike lewe. Geld dit vir swart Afrika-wette? Is daar so iets? Wat ek onlangs van hul kultuur by 'n 39 jaar oue deels verwesterlike sangoma geleer het, in 'n ure lange voorlegging, is kortliks, dat jou beeld in ander se oë van belang is en dis dit. Dus, jy werk aan daai beeld eerder as aan jou self sover jou menswees betref en sal jy bv jok om 'n beter beeld te skep. Word jy deur die die gemeente voor stok geneem loop die gesprek om staaltjies, as kulturele wyshede wat namekaar in argument voorgelê word. Ek dink die doel is werkend aan jou beeld, teenoor jou skuldig vind wat miskien dan 'n Westerse konsep is en vreemd tot die kultuur. Jou destydse advokate, later regters, sou swaarlik die waarheid kon nastreef, of hoe?

  • Theodorus du Plessis

    So bewerkstellig ons groter eenheid met die diktatoriale bewind van Egipte wat een van hulle populêrste sangeresse, Sherine Abdel Wahab, in Februarie vanjaar ses maande gevangenisskap opgelê het oor 'n grappie wat sy omtrent die Nyl gemaak het.

  • Die regering het een stap nader aan fascisme beweeg. Die uitspraak is ʼn skande vir die land.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top