Pass 'ie torch aan

  • 11

Die ATKV-tak op Atlantis het besluit om twaalf vroue as fakkeldraers te vereer. Hierdie vroue is pioniers. Hulle is bakens, elkeen dra hulle eie lig na die donkerste dele van die gemeenskap.

Die gemeenkap hoop om hiermee ook ’n jonger generasie aan te moedig om diensbaar te wees. Dit is ’n dankie dié, maar dit is ook ’n pleidooi, in die taal van Atlantis: “Asseblief, pass ‘ie torch aan.”


Rachael Watson

Rachael Watson is ’n passievolle radio-omroeper wat ook baie doen om jonger mense op te lei en geleenthede in die uitsaaiwese te bied.

16-08-05-atlantis-a5301

Rachael Watson (gebore Visser) is die vyfde van agt kinders. Sy het in Bishop Lavis in Kaapstad grootgeword. Haar pa sterf toe Rachel net nege jaar oud was. Hy was maar 40. Haar ma was ’n huishulp. Rachel moes op 14 die skool verlaat en gaan werk om die pot aan die kook te hou. Toe sy 19 was, is hul huis deur ’n brand vernietig. Hulle kon eers 12 later jaar weer in ’n ordentlike huis intrek.

Sy is in 1985 getroud.

Die egpaar het hulle in Atlantis gaan vestig.

In 1986 word sy by Ensign Clothing, waar sy toe gewerk het, aangestel as die leier van ’n vakbond in die klerebedryf. Sy het in die aande, ná werk, haar kennis oor die vakbondwese verbreed en het hard gewerk om haar Engels te verbeter. Omdat sy in die openbaar moes optree, het sy gereeld voor die spieël geoefen. Sy was ook die kaptein van die fabriek se netbalspan.

In 2006 raak sy betrokke by die samestelling van die boek Labour Pains for the Nation: Eight women workers tell their stories, wat later met die Labour Media Award bekroon is.

In 2007 sluit sy aan by die gemeenskapsradiostasie Radio Atlantis. Van toe af was daar geen keer aan haar nie.

Sy dien die gemeenskap deur met passie en toewyding aan die stasie se nuus- en programinhoud te werk. Die stasie se groei help hulle deesdae om ook aan jongmense blootstelling te gee aan die uitsaaimedia en die joernalistiek, en een van die toenmalige vrywilligers werk nou voltyds by RSG.

Rachael glo ’n mens moet hard werk om bo uit te kom en sal altyd ander aanmoedig om hul beste te lewer. Dié merkwaardige vrou is tans die voorsitter van Workers’ World Media Productions.

Sy is die ma van twee seuns.


Mary Tenggren

Mary Tenggren is ’n kranige tuinier wat nie net vir haarself nie, maar ook vir die gemeenskap baie geld insamel met haar vyf groen vingers.

16-08-05-atlantis-a5357

Mary Tenggren is ’n 60-jarige weduwee van Atlantis en ‘n moeder van vyf. Sy het meer as vyftien jaar gelede die helfte van haar hand verloor in ’n fratsongeluk by die fabriek waar sy gewerk het, maar het nie toegelaat dat dit haar onderkry nie.

In 2001 het sy met tuinbouprojekte begin en kon so haar liefde en passie vir die natuur gebruik om ’n inkomste vir haar gesin te genereer deur die kweek van blomme vir verskeie funksies, soos begrafnisse en skole se matriekafskeid. Mary se groen vingers het haar al verkeie toekennings besorg.

Toe sy ’n ruk gelede genader is om deel te word van die ATKV-tak in Atlantis se tuinbouprojek, het sy dadelik ingewillig. Dit sou aan haar die geleentheid bied om haar kennis van groentetuine uit te bou. Sy is altyd gereed vir nuwe uitdagings, maar noem dat sy niks plant voor sy nie behoorlik navorsing gedoen het nie, want sy wil nie geld, tyd en energie verkwis nie; dit wat sy plant, moet vir haar ’n inkomste inbring.

Mary het ’n al naskoolgroepie begin waar sy vir die jongspan die kuns van tuinbou leer en sy het onlangs ook op die perseel van ’n organisasie wat met gestremde mense werk, ’n lappie grond bekom wat sy vir haarself benut; in ruil daarvoor deel sy haar vaardigheid met die inwoners van die organisasie. Sy maak ook altyd ’n bydrae tot haar kerkbasaar deur plante uit haar tuin te skenk wat hulle kan verkoop. Wanneer bure of vriende verjaar, is sy altyd gereed met ietsie uit haar tuin.

Mary doen gereeld motiveringspraatjies vir ander vroue in die gemeenskap, en by die seniorburgerklub waarvan sy ’n lid is, moedig sy mense aan om hulle talente tot hul eie voordeel te gebruik.

Sy is dankbaar teenoor haar hemelse Vader vir die talent, ook dat sy nog diensbaar kan wees en vir niks hoef terug te staan nie, al het sy net vyf vingers.


Olivia Pharo

Olivia Pharo is die hoof van verpleging by die Wesfleur Hospitaal en bied elke Dinsdag die program Prontuit Gesond op Radio Atlantis aan.

16-08-31-atlantis-7107

Olivia Pharo is gebore in Ravensmead, Kaapstad, en woon al lank op Atlantis. Sy was by Saxon Sea Primêr in Atlantis op skool en het by Atlantis Sekondêr haar skoolloopbaan voltooi.

Ná sy ’n rukkie lank gewerk het, kon sy in 1990 gaan studeer in verpleegkunde by Tygerberg Hospitaal. Sy is in 1995 aangestel by Wesfleur Hospitaal in Atlantis, waar sy nou al nou al 21 jaar lank werk.

Die studiegogga wou haar nie los nie en sy het haar ingeskryf by die Universiteit Stellenbosch vir ’n gevorderde diploma in primêregesondheidsorg, wat sy cum laude geslaag het. Dié merkwaardige vrou staan tans aan die hoof van verpleging by Wesfleur Hospitaal. Sy mentor ook studente.

Olivia is lief vir haar gemeenskap en onderrig voortdurend kliënte oor verskeie gesondheidskwessies. Sy was ook betrokke by die oplei van minderbevoorregte mense om as tuisversorgers te kwalifiseer. Saam met ’n kollega het sy ook ’n tienerklub gestig waar die jongmense gehelp word met skoolwerk en die aanleer van vaardighede sodat hulle vrye tyd positief benut kan word. Vir kinders wat dwelms gebruik, is Olivia ook daar om die nodige verwysings moontlik te maak. Na ure skenk sy haar dienste aan diegene wat sukkel met ’n familielid wat sterwend is.

Olivia lees graag, luister na musiek en hou daarvan om tyd met haar gesin te spandeer. Sy is getroud en het twee seuns; haar oudste studeer rekeningkunde aan die Universiteit van die Wes-Kaap.

Elke Dinsdag bied sy die program Prontuit Gesond op Radio Atlantis aan.


Sillene Oppel

Sillene Oppel het in 2004 ’n fiets gekoop om fiks te bly. Sy het nou reeds tien Argus-fietsrenne en twee Comrades-wedlope voltooi.

16-08-31-atlantis-7091

Sillene Oppel is in Namakwaland gebore en getoë. As 24-jarige het sy ’n beter lewe in die Kaap gaan soek en het by die Tedelex-vervaardigingsaanleg in Atlantis ’n werk gekry. Daar was sy werksaam tot die maatskappy in 2010 finaal hul deure moes sluit. In November 2011 het sy weer by Oskava, wat skaapvelprodukte vervaardig, begin werk. Sy is tans die maatskappy se boekhouer en help ook met kantediens.

Soos haar kinders begin groot word het, was haar lyf nie meer so ferm soos sy dit wou hê nie. Selline het besluit om iets daaraan te doen. Sy koop toe in 2004 vir haar ’n fiets en het dadelik aan fietswedrenne begin deelneem. Aanvanklik het sy met die fiets werk toe gery vir oefening, maar het later ook die strate om haar huis “tot vervelens toe platgery”. In 2007 skryf sy haar in vir die Argus-fietstoer, ’n wedren van 109 km; teen 2016 het sy dié wedren reeds tien keer suksesvol voltooi.

Dit is egter nie al nie. In 2004 het haar oudste dogter vir Selline ingeskryf vir ’n staptog van 10 km. Selline se bene was baie seer ná die uitdaging, maar sy beskryf dit as ’n “absoluut fantastiese seer”. Die gevoel het haar laat uitsien na ’n volgende keer. Met die raad en motivering van ander atlete het sy met ’n nuwe geesdrif en ywer begin drafstap. Haar tye het verbeter – en toe was daar absoluut geen keer meer nie. Sy het van die 10 km na die halfmarathon beweeg. Toe sy dít kon doen, het sy ’n volle marathon (42 km) gehardloop. Steeds was dit nie genoeg nie en in 2010, op die rype ouderdom van 52, besluit sy om die Comrades-marathon (ongeveer 88 km} aan te durf.

Baie bang, en baie opgewonde, het sy aangetree. Toe, “met baie genade”, kon sy 11 uur en 13 minute later, lank voor die afsnytyd van 12 uur, ’n Comrades-medalje om haar nek hang. Sy beskryf dit as “die grootste oomblik in my lewe”. Die volgende jaar het sy dit weer reggekry en kon so die “back to back”-medalje, ’n eer vir ’n langafstandatleet, tot haar versmaling voeg.

Selline sê fietsry, en veral draf, hou soveel voordele in: dit bou karakter, hou jou liggaam in toom en jy smaak gereeld die vreugde van jou prestasies. Dit is nie maklik nie, maar enigiets wat ’n mens in die lewe wil bereik, vra absolute dissipline en deursettingsvermoë. Sy moedig deesdae mense aan om ook te begin draf, want, sê hierdie energieke gryskop, niemand het ’n verskoning nie. Bruce Fordyce, wat die Comrades nege keer gewen het, sê mos: “Enige mens wat kan stap, kan draf ook.”


Carol Muller

Carol Muller is ’n toegewyde onderwyseres wat al aan generasies van Atlantis se jongste leerders ’n toekoms bied.

16-08-05-atlantis-a5358

Carol Muller is in Port Elizabeth gebore as die oudste dogter van Freddie en Valerie Muller.

Toe sy maar vyf jaar oud was, het sy al geweet dat sy ’n onderwyseres wil word vir klein kindertjies en sy kon uiteindelik dié doelwit bereik deur haar ouers se ondersteuning en die genade van Bo. Sy hou nou al jare lank skool vir graad 1’s by Hermeslaan Primêr in Atlantis.

Waarom dié passie vir die kleintjies?

Carol sê dit is oor hulle baie sorg nodig het. Verwaarloosde en minderbevoorregte kinders het ’n spesiale plekkie in haar hart. Sy wil minderbevoorregte kinders help om op hul eie bene te staan en verantwoordelike volwassenes te word wat ’n positiewe bydrae tot die samelewing kan lewer, daarom droom sy daarvan om eendag ’n baie groot huis te bou waar sy sulke kinders onder haar vlerk kan neem.

Carol leef haar uit in haar beroep, want daar is sy op haar gelukkigste. Sy dra opsetlik gemaklike klere, soos ’n T-hemp of ’n woltrui, want, sê sy, sy wou net nooit ’n “upstairs juffrou” wees nie. Lief vir skoene is sy wel.

Mense beskryf haar as ’n goeie luisteraar en iemand wat baie gedissiplineerd is. Kinders vertel graag hoe lief hulle vir haar is, want sy luister na hulle. Dit bring die beste na vore in die jongspan, want sy glo in hul potensiaal.

Carol kook graag en hou daarvan om dinge sélf te doen; dan weet sy mos dit is reg, presies soos sý daarvan hou.

Haar motto is: Seëninge uit God se hand maak ons ryk; Sy liefde en genade is elke dag verniet.


Lenie Maya

Lenie Maya en haar man bedien al 14 jaar lank die gemeenskap op die gebied van MIV/Vigs-voorkoming en werk hard om die stigma rondom die pandemie te elimineer.

16-08-05-atlantis-a5316

Pastoor Lenie Maya is gebore in Knysna en was die oudste van vyf kinders.

Haar droom was om ’n onderwyser te word, maar sy het uiteindelik haar liefde vir mense uitgeleef toe sy haar man, pastoor Tom Maya, se visie gesteun het om ’n gemeenskapskerk, genaamd Power Ministry, te begin. Hulle bedien nou al vir 14 jaar die gemeenskap met gesondheidsorg en die voorkoming van Vigs. Hulle stel ook die kerk beskikbaar aan die Wesfleur Hospitaal om dienste aan die gemeenskap te lewer.

Lenie is een van die stigters van die Atlantis Integrale MIV- en Vigs-netwerk waar sy as vrywilliger begin werk het. Die organisasie bestaan nou al tien jaar en Lenie is tans die hoof uitvoerende beampte. Onder haar leiding is baie vrywilligers opgelei en hulle lewer dienste aan meer as 300 kliënte. Die netwerk neem ook deel aan kwartaallikse gemeenskapsdialoë om die stigma rondom die MIV-pandemie te elimineer.

Lenie het ook ’n mentor geword vir gebroke vroue en kinders. Van haar kliënte, wat alkoholverslaafdes was, werk nou saam met haar om ander te help. Daar was ook groot vreugde toe ’n weesdogtertjie wat deur Lenie onder hande geneem is, haar Boland-kleure in atletiek behaal het, al het talle mense nie veel hoop vir die kind gehad nie. Dit is die vreugde wat sy uit sulke prestasies put wat haar motiveer om aan te hou, want dit is nie altyd maklik om pastoor, ma, vrou, gemeenskapsleier en kampvegter vir gebroke mense te wees nie. Tog, met haar wysheid en die genade van God kan en wil sy nog baie gee.

Sy glo dat ’n belegging in mense jou grootste bate is, want só help jy bou aan ’n gesonde gemeenskap.

Lenie is die ma van vier kinders en agt kleinkinders.


Sylvia Losper

Sylvia Losper is ’n verpleegster wat reeds meer as 45 jaar in die diens van Atlantis staan; op 76-jarige ouderdom dink sy nog nie aan uittree nie.

16-08-05-atlantis-a5309

Sylvia Wilhelmina Losper het in die Transkei grootgeword en wou nog altyd ’n verpleegster word. Haar droom is bewaarheid toe sy by die Coronation College in Johannesburg kon aanmeld vir opleiding.

In 1985 het sy op Atlantis kom woon en het lief geword vir die dorp en sy mense. Sylvia was deel van ’n groep verpleegsters wat skool- en huisbesoeke gedoen het in Mamre en Atlantis.

Sylvia is drie tale magtig: Engels, Afrikaans en Xhosa. Haar talle Xhosa-sprekende kliënte in Witsand, ’n gebied naby Atlantis, is altyd dankbaar dat sy hul taal kan so vlot praat.

 In 2001 het sy haar eie praktyk begin en later, toe die werkslading te veel word, ’n vennoot ingekry, want daar is ’n groot aanvraag na haar dienste. Sy het nog ’n goeie verhouding met Wesfleur Hospitaal, waar sy voorheen gewerk het, en verwys soms ernstige gevalle soontoe. Sy bedien tot 70 kliënte per dag.

Sy beskou haarself as ’n instrument in God se hand en vra altyd sy leiding voor sy ’n diagnose maak; dit maak dat sy soms in vreemde situasies kan help. Sy onthou nog ’n mismoedige mamma met ’n huilende kindjie wat haar spreekkamer besoek het. Die ma was al raadop. Toe Sylvia die kleintjie se skoene uittrek, is die probleem opgelos; die skoene was te klein en het die dogtertjie seergemaak.

Sylvia Losper is al vir 45 jaar in diens van Atlantis. Sy sê sy wou nog nooit iets anders doen nie en op 76-jarige ouderdom dink sy nog nie aan uittree nie; sy wil praktiseer tot die Vader haar kom haal.

Al is sy soms deur moeilike tye, is opgee nie ’n opsie nie. In haar vrye tyd lees sy graag. Verder doen sy naaldwerk en help dikwels met die maak van skoolsweetpakke.


Christine Lewis

Christine Lewis is ’n afgetrede maatskaplike werker wat nog elke dag betrokke is by bejaardesorg en verantwoordelik is vir vyf seniorklubs in Atlantis en Pella.

16-08-05-atlantis-a5336

Christine Lewis is oorspronklik van Kensington en het aan Windermere Hoërskool gematrikuleer. In 1982 kwalifiseer sy as maatskaplike werker. Haar liefde vir ander het sy gekry van haar ma, wat altyd loseerders ingeneem het. Christine se pa is oorlede toe sy maar 15 jaar oud was.

Sy het haar werk by die diakonale dienste in Elsiesrivier begin. Van daar is sy na die ACVV se kantore in Mitchells Plain. In 1986 het sy as maatskaplike werker by Avondale in Atlantis begin werk, waar sy gevallewerk, groepwerk en gemeenskapswerk gedoen het. Atlantis vorm deel van die Kaapse metropool, so die vasbytvrou werk nou al dekades lank vir die Stad Kaapstad.

Christine het al gehelp om verskeie projekte op die been te bring. Sy is ’n stigterslid van die vroeëkinderontwikkelingsforum Umnyama, wat aan die prinsipale van kleuterskole opleiding bied en hulp verskaf met registrasie; ook van Soenklip, ’n speelgroepie en voedingskema wat ongeveer 700 kinders per dag voed, én van die Abbeyfield- en Atlantis-verswaktesorgsentrum.

Danksy haar aansoeke vir befondsing van die Departement van Gesondheid kon sy ook verskeie tuinbouprojekte in Atlantis, Mamre en Pella van stapel stuur.

In 1998 help stig sy ook ’n liggaam wat verantwoordelik is vir vyf seniorklubs in Atlantis en Pella. Hier word tuisversorgers opgelei wat selfs op internasionale vlak erken word; twee van hulle kon intussen selfs as stafverpleegsters kwalifiseer.

Hoewel sy veral bekend is vir haar werk met die ouer mense, het Christine, ná haar aftrede, ook met straatmense begin werk. Sy doen tans monitering en evaluering van die assesseringsentrums wat deur die Stad Kaapstad befonds word en werk steeds ’n hele aantal uur per week op straat, waar sy onderhoude doen met die haweloses in ’n poging om hulle met hul gesinne te herenig.

Haar visie is eenvoudig, maar duidelik: sy wil ander sien sukses behaal; daarom motiveer sy mense om hul potensiaal uit te leef en hulleself te bemagtig.


Mandy Jonker

Mandy Jonker is ’n suksesvolle sakevrou wat ook heelwat tyd skenk aan die gemeenskap se stryd teen kanker.

16-08-05-atlantis-a5375

Mandy Jonker is ’n suksesvolle sakevrou en gemeenskapswerker.

Sy het byna 30 jaar gelede met vyf dosyn paar sokkies ’n informele onderneming begin. Haar klante was vriende, bure en familie. Danksy haar eerste profyt kon sy toe haar ware by die plaaslike vlooimark gaan verkoop.

Op daardie stadium was werkloosheid baie hoog in Atlantis en sy moes haar man in ’n baie mededingende omgewing bystaan. Sy was vasberade om ’n sukses te maak en haar onderneming het vinnig begin groei; sy kon uiteindelik twee tydelike werkers aanstel om haar te help. Mandy sê hierdie nederige begin, in die wind en weer, het haar gehelp om integriteit te kweek en liefde vir haar medemens te koester.

Met die koms van die Atlantis-winkelsentrum kon sy met nuwe ywer die skuif na die formele sektor aanpak. Dit was ’n enorme aanpassing, weens die groot oorhoofse kostes, maar sy het vasgeklou aan haar beginsel dat die klant se behoeftes eerste gestel moet word. Mandy het toe begin spesialiseer in skoene. Sy was later bekend as die “skoenevrou van Atlantis”, want mense het haar uit die omliggende streke kom besoek, wetende dat sy moeite sal doen om skoene op te spoor wat ander winkels nie sal kry nie.

Dié sakevrou is betrokke by Cansa en werk hard aan fondsinsameling- en bewusmakingsveldtogte in Mamre, Pella en Atlantis.

Die afgelope paar jaar het sy haar sakeonderneming begin afskaal om meer tyd aan haar gesin en die gemeenskap te bestee. Mandy se byna onuitputlike energie waarmee sy projekte aanpak en die ekstra myl wat sy altyd sal stap om in haar klante se behoeftes te voorsien, is egter steeds aansteeklik. Sy skryf haar sukses toe aan die genade van haar hemelse Vader en bid dat sy nooit die dryfkrag vir haar onderneming en die liefde vir haar klante sal verloor nie.


Chrissie Cloete

Chrissie Cloete word vereer vir haar vrywillige werk in diens van Atlantis om drank- en dwelmafhanklikes te rehabiliteer.

16-08-31-atlantis-7155

Antie Chrissie, soos almal in die dorp haar noem, woon al vir meer as dertig jaar op Atlantis. Sy het ’n passie vir die gemeenskap en is betrokke by heelwat organisasies. Sy glo omgee is haar Godgegewe talent, sodat sy mense se lewens beter kan maak.

Christiana Cloete is in Namakwaland, net langs die Oranjerivier, gebore en het dikwels as jong dogter saam met haar ma gaan diens doen in die gemeenskap. Dit is waar die liefde en die omgee vir mense begin het.

Die liefdevolle antie Chrissie is al sedert 1981 besig met vrywillige werk. Sy help met maatskaplike ontwikkeling, het ’n groot passie vir die rehabilitasie van drank- en dwelmafhanklikes en is een van die stigterslede van die Christelike Afhanklikheidbediening (CAB) wat hul beywer om nasorg te bied vir mense wat van rehabilitasiesentrums af terugkom. Sy kan met trots sê dat terwyl sy by die afhanklikheidbediening betrokke is, hulle al talle verslaafdes bevry het van drank en dwelms. Sy is die Here innig dankbaar vir dié bevryding, want deur hulle getuienis kan ander ook bevry word.

Antie Chrissie is ’n liefdevolle mens met ’n hart wat warm klop vir die jeug. Sy het vir jare katkisante onderrig en het ook Bybelstudie vir die katkisante aangebied, wat die jongmense geestelik moes help vorm om verantwoordelik te kan optree, positiewe keuses te kon maak en geestelik volwasse te word. Voorts was sy vir vyf jaar die sekretaresse van die vrouebediening in die VGK.

Die ywerige tannie sit nie stil nie. Sy neem tans rekenaarklasse en op die ouderdom van 70 sluit sy by die leeskring aan wat bedryf word deur Atlantis se ATKV-tak. Sy is die oudste leser in die kring.

Sy maak die lekkerste roosterbrood en gebruik dié talent om fondse vir die kerk en die gemeenskap in te samel.

Haar motto is: “Doen altyd goed aan jou medemens, gee altyd jou beste en moenie verwyt nie.”


Mary-Ann Cedras

Mary-Ann Cedras het oor die jare haarself én die gemeenskap van Atlantis opgehef deur haar volgehoue diens aan die Orion Organisation, ’n organisasie vir gestremde mense.

16-08-05-atlantis-a5329p

Mary-Anne Cedras se liefde vir gestremdes kom uit haar hoërskooljare toe sy saam met ’n vriendin vrywillige werk gaan doen het by die Orion Organisation tydens hul skoolvakansies. Sy het dit nie net geniet nie, maar het ook geleer dat mense met gestremdhede baie spesiaal is.

In 1989 het sy by Orion begin werk as pakker, maar het deurentyd kursusse gedoen om haarself te bekwaam tot voordeel van die organisasie en die mense wat hulle dien. In 1991 voltooi sy ’n oorsienerskursus en word daarna bevorder tot hoofoorsiener. Sy hou egter nie op leer nie en bekwaam haar as finansiële klerk; daarmee neem Mary-Anne toe die verantwoordelikheid om die hele organisasie se finansies te bestuur, op haar skouers.

In 2007 doen sy ook ’n internasionale kursus in rekeningkunde.

Mary-Ann is ambisieus en wil graag nog groter uitdagings die hoof bied. Sy streef daarna om haar persoonlike waardes, soos integriteit, verantwoordelikheid en werksetiek, by die werk toe te pas en glo ’n mens is nooit te oud om te leer nie, want ons moet altyd tred hou met die tyd, aangesien die wêreld baie kompeterend is.


Francis Brown

Francis Brown het op 62-jarige ouderdom ingeskryf by die ATKV se liedjieslypkompetisie; deesdae tree sy as deel van ATKV-Crescendo by Afrikaanse feeste op.

16-08-05-atlantis-a5381

Francis Brown is ’n selfversekerde vrou wat op die ouderdom van 62 ingeskryf het by die ATKV se liedjieslypkompetisie. Sy is as een van die finaliste gekies en is toe gevra om aan ATKV-Crescendo deel te neem. Vir tannie Francis, soos sy genoem word, was dit ’n droom wat waar geword het en sy tree deesdae op by Afrikaanse feeste regoor die land; vir haar het die verhoog ’n tuiste geword.

Tannie Francis skryf ook self haar liedjies en droom daarvan om ’n album op te neem.

Dié talentvolle vrou is egter al jare lank betrokke in die gemeenskap. Sy het die Dura-Jeugkoor gestig in ’n poging om jongmense besig te hou en te ontwikkel. Onder haar leiding vind daar ook gereeld modekompetisies plaas waar sy die streek se jongmense help om hulle talente te slyp.

Tannie Francis en haar man spog ook met ’n pragtige tuin wat hulle begin het om hul omgewing te verfraai, en stel dit aan die gemeenskap beskikbaar vir funksies. Paartjies kom ook gereeld daar foto’s neem. Die egpaar het onlangs ’n toekenning vir hulle tuin het ontvang.

Tannie Francis het vier kinders, 12 kleinkinders en drie agterkleinkinders. Sy is lief vir lees en is tans besig met ’n manuskrip onder leiding van LAPA Uitgewers.

Dié sangsensasie gee graag eer aan God wat haar geseën het met vele talente en erken dat sy sonder Sy genade verlore is.

Haar motto is: “Beteken iets vir iemand en maak ’n verskil aan iemand se lewe, al is dit hoe klein.”


 

Dié twaalf vroue verskyn ook op ’n lessenaarkalender wat deur ATKV-tak op Atlantis verkoop word om fondse te in vir gemeenskapsprojekte. Belangstellendes kan Elize Fortuin kontak by efortuin@atkv.org.za.

Fotografie: Izak de Vries

  • 11

Kommentaar

  • Wonderlik! Ons het meer sulke "goeie nuus" verhale en erkenning nodig. Gewone mense kán buitengewone dinge doen en 'n verskil maak. Baie dankie 😀

  • Marc-Andre Daniels

    Ek woon nou al 40 jaar op Atlantis. Dis verbasend -- en 'n riem onder die hart! -- om te hoor van vroue wat so stilweg in die gemeenskap die moeite aangaan om ander te help. Mens kan so maklik in verslaȅnheid net jou hande in die lug opgooi, en beweer jy kry ook swaar; maar hier is vroue wat met 'n moedershart uitreik na ander, ten spyte van ons gemeenskaplike swaarkry! Twee of drie van hulle ken ek persoonlik, en kan beaam wat oor hulle gesê word. Wel gedaan, vroue van Atlantis. Dis harte en gesindhede soos julle s'n wat maak dat ons dorp nog nie totaal verlore is in wanhoop nie!

  • Dis wonderlik man, altyd goed om te lees hoedat mense betrokke raak en tyd opoffer om ander te help. Ek is nog baie jonk maar 31 jaar oud en dis hartroerend en hartseer om te aanskou hoedat baie dinge verkeerd gaan in ons gemeenskappe. Ons kan net dankie sê aan hierdie puik vroue wat hul tyd opoffer om 'n verskil te maak. Hou so aan, julle is in my gebede. God seën.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top