Tussen vriende: ’n onderhoud met Derick van der Walt

  • 0

Tussen vriende
Derick van der Walt
Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795801419

Skrywers oor hul nuwe boeke: Derick van der Walt gesels met Naomi Meyer oor Tussen vriende.

Derick, baie geluk met jou boek Tussen vriende. Kan jy kortliks vertel waaroor die storie gaan?

Drie getroude paartjies in hulle vyftigerjare is al jare lank vriende. Elkeen het sy eie ding wat pla, tipies van die uitdagings wat hulle in dié tydperk van jou lewe kom aanmeld.

Dis natuurlik meer as een storie; dis ’n hele vriendekring se (uiteenlopende en tog ineenverweefde) verhale. Vertel my asseblief van jou karakters in die boek.

 Adriaan is met Ingrid getroud. Hy is ’n tandarts, maar wonder of hy ooit die regte loopbaankeuse gemaak het. Dan is daar sy familieplaas wat verkoop gaan word. Ingrid voel weer ’n knop in haar bors. Gaan dit soos die vorige keer net ’n vals alarm wees?

Cassie en Phoebie het ’n vreemde seun wat in ’n bedenklike nagklub in die agterstrate van Johannesburg sing. Cassie is ’n sakeman en Phoebie ’n tuisteskepper met ’n slegte verhouding met haar ma.

Will het ’n verhouding agter Soekie se rug met ’n bloedjong meisie by die werk waaroor hy wroeg en skuldig voel en angsaanvalle kry. Soekie ontdek die verhouding geleidelik en vermoed dat sy deur al Elisabeth Kübler-Ross se fases sal moet gaan om by aanvaarding uit te kom, maar sy is nie seker nie.

Gaan Will se verhouding die vriendekring ontspoor?

Om oor ’n man en ’n vrou te skryf, meestal in die intieme derde persoon: hoe hanteer mens dit as skrywer? Want dis ’n boek met, durf ek sê (durf ek? – ek dink ek vra jou ook hieroor), vroulike temas. Jy skryf oor romantiese verhoudings, man-vrou-verhoudings en gesinne. Hoe dink jy jou ook in die vel van jou vroulike karakters in?

Ek dink nie dat ’n mens mans en vroue (en hulle temas!) meer in ouderwetse kassies kan plaas nie. Baie van die temas in die boek is juis deur my mansvriende geïnspireer. Op die ou end is ons maar almal net doodgewone mense en die sake wat in Tussen vriende aan bod kom, is juis dinge waaroor mans ook dink en praat, glo my maar. (Vroue sal waarskynlik verras wees waaroor ons praat wanneer ons bier drink.)

Behalwe mans en vroue se anatomiese verskille dink ek hulle is wat die sake van die hart betref, nie regtig soos Venus en Mars geskei soos wat algemeen beweer word nie. Ons mans is net so bekommerd oor ons kinders en ons ouers wat oud word soos oor die wel en wee van die Blou Bulle en die effektebeurs. En ja, ons praat baie oor alles. Hoekom ken julle ons so sleg?

Ek kom uit ’n familie van formidabele vroue en ek het formidabele vriendinne (en ja, mans kan dié soort no strings attached-verhoudinge met vriendinne hê, al sê die ou siniese en vroom garde nou ook wat). En ek het vroulike kollegas wat jy ook nou nie juis as fraaie poppies kan afmaak nie. Hulle maak ’n indruk op my.

Die soms problematiese verhoudings tussen ma’s en dogters byvoorbeeld is vir my báie bekend.

Temas hier aangeraak: ontrouheid, kanker, groter kinders, wat nog? En is dit doelbewus, die temas? Wat was eerste, hoender, eier, karakter, storiegegewe of temas? Wat kom eerste vir jou as jy skryf?

Toe ek destyds Daan Dreyer se blou geranium geskryf het, was ek verras hoe lekker dit was om oor ’n karakter van my ouderdom te skryf en ek het geweet ek gaan dit weer doen.

Ek dink die temas was hier eerste voordat ek aan die karakters gedink het, maar dit het waarskynlik hand aan hand gegaan. Ek kan nie meer presies onthou nie.

Ek wou in die boek oor die sake skryf waaroor ek en my vriende deesdae praat en wat ons lewe geword het: kinders wat die nes verlaat, maar nog nie heeltemal op eie bene kan staan nie; kinders wat soms vreemde keuses maak wat jy moet respekteer, want dit is ná alles hulle lewe; die agteruitgang van die lyf; en veral die issues met ouers wat oud en siek word en die besluite oor ouetehuise en versorging; en so aan.

Ek beplan nooit vooruit wanneer ek ’n boek skryf nie, maar het gewoonlik ’n tema in gedagte en die karakters kom taamlik gou. Ek weet dadelik min of meer hoe die storie gaan eindig. Ek skryf die einde dikwels eerste, hoewel ek natuurlik later baie daaraan skaaf. Oor hoe ek daar gaan kom, het ek gewoonlik nie ’n koekie se clue nie. Maar dis die lekker van skryf vir my, dat dit ’n heerlike avontuur is.

Ek duik in ’n storie in sonder om te weet waar ek gaan uitkom. Dis ’n baie deurmekaar organiese proses wat ek baie geniet, maar wat my ook baie jittery maak. Dit verras my elke keer as daar ’n boek heelhuids anderkant uitkom. Maar dit is blerrie bitter en harde werk, jy wil nie weet nie. ’n Mens is so blootgestel as die boek verskyn het. Enigiemand kan met groot, plat voete op jou hart trap.

Ek het gedink, terwyl ek die boek lees, dat die mark vir vyftigers dalk effens afgeskeep word – vir mense in hul vyftigs wat in algemene gesinsituasies leef, bedoel ek. Daar is liefdesverhale tussen jonger karakters. Of hoe ervaar jy dit? Of skryf jy nie vir “’n gaping in die mark” nie?

Ek het nog nooit ’n boek geskryf met ’n spesifieke leser of marksegment in gedagte nie. Dis waarom ek nog nooit gedink het my jeugverhale is uitsluitlik jeugverhale nie.

Ek het nie geweet daar is ’n gaping in die mark nie, maar ek en my bankbestuurder is baie bly om daarvan te hoor en sien reikhalsend uit.

Ek het die vraag aangedurf, die wie-mag-wie-se-storie-skryf-vraag, toe ek jou gevra het oor ’n man wat so in die ervaringswêreld van ’n vrou (ook) inklim om vroulike en manlike karakters te beskryf. (’n Paar jaar gelede het David Nicholls dit gedoen met One day.) En jy doen dit met warmte en empatie. Hoe kry jy dit reg om jou karakters verskillend van mekaar te laat klink? Enige tegnieke, of doelbewuste dinge wat jy in die skryfproses inbring?

Ek dink nie in die eerste plek aan my karakters se ouderdom of geslag nie, maar aan hulle as mense. Wie is hulle as hulle alleen is en wat is hulle goetertjies en dingetjies?

Daarom is ek ewe gemaklik om oor vroulike en manlike karakters te skryf (soos baie ander skrywers) en bedink ek nie verskillende tegnieke vir elk nie. Ek bedink in elk geval geen tegniek van enige aard as dit by skryf kom nie.

Ek glo dat jy jou karakters goed moet ken en weet hoe elkeen se kop werk. Dan is dit maklik om hulle as eiesoortig te skryf sonder dat jy daarop moet konsentreer om hulle deur middel van ’n kunsmatige tegniek individue te maak.

Soos reeds gesê, ek het geen stelsel nie. My instink het tot dusver vir my die wa deur die drif getrek en my gebrek aan ’n stelsel van die een of ander aard pla my nie meer soos tydens my eerste pogings nie.

Jy is meestal bekend vir die skryf van jeugverhale. Wil jy dalk uitbrei op hoe dit vir jou verskil van die skryf van boeke vir volwassenes?

Ek het nog nooit gedink dat ek spesifiek jeugboeke skryf nie. Volwasseneboekklubs wat my jeugboeke lees nooi my dikwels om met hulle te kom gesels. Ek verpes die rigiede klassifikasie van jeugboeke in ouderdomsgroepe. Lesers werk nie so nie, boeke ook nie. En as jy ’n matriekmeisie as hoofkarakter geskryf het, beteken dit ook nie jy het ’n boek net vir jongelinge geskryf nie.

Marita van der Vyver het die spyker onlangs op die kop geslaan toe sy gesê het dat ’n goeie jeugboek nie ouderdom ken nie.

Dus nee, ek skryf maar altyd dieselfde, ongeag die ouderdom van die karakters en die lesers, aan wie ek glad nie dink nie.

Wat lees jy?

Enigiets, veral koerante oor ’n naweek as ek vir ’n verandering nie werk het om te doen nie. Die politiek lê my baie na aan die hart. Maar ek volg die Afrikaanse letterkunde ook taamlik noukeurig.

My groot gunstelinge is Etienne van Heerden (sjoe, vir Die swye van Mario Salviati), Eben Venter (sjoe, vir die kordate Santa Gamka met die mooiste eerste sin ooit) en Ingrid Winterbach. Hulle hou my baie nederig.

Winterbach se Die aanspraak van lewende wesens is waarskynlik my gunsteling Afrikaanse boek van alle tye.

Wat skryf jy op die oomblik?

Dit gaan simpel klink, en as iemand anders dit vir my sou vertel het, sou ek beslis my oë gerol het. Ek het verlede jaar een nag ’n storie gedroom oor ’n Afrikaanse gesin wat ’n skrikwekkende ervaring in ’n vreemde land beleef het. Nee, ek weet nie waar daai droom en die vreemde land vandaan gekom het nie, en Chardonnay was nie eers naby ter sprake nie. Ek werk nou so aan en af tussen die vele day job-dinge daaraan. Dalk is ek heldersiende of het buitensporige vermoëns en hoop en ek bepeins dikwels die droom. My drie seuns sê: Nee wat, Pa, jy is maar net effens af. Nou ja toe. Ek vertrou my drie seuns.

Maar ek dink dit is oukei om effens af te wees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top