Tumi Morake: Solidariteit-storm in ’n teekoppie

  • 10

Wat het die radiopersoonlikheid Tumi Morake, die vrou in die Spur-aanranding en Jemele Hill gemeen? In al drie gevalle is dit swart vroue wat standpunt ingeneem het teen wit mans. En deurloop onder die hof van openbare opinie daaroor.

’n Week gelede het Tumi Morake met haar mede-aanbieder in gesprek gegaan oor die gevolge van apartheid. Solidariteit en AfriForum, selfaangestelde beskermer van Afrikanerbelange, se reaksie was so histeries dat ek aanvanklik onder die indruk was dat sy ten minste die grootskaalse uitwissing van die blanke bevolking gepromoveer het. Adverteerders het advertensies aan Jacaranda FM onttrek, op die oog af in reaksie op Tumi se stelling. Lees mens tussen die lyne, klink dit asof die adverteerder in elk geval nie meer die koste kon bekostig nie en dit net ’n gerieflike verskoning is om te onttrek. Haar mede-aanbieder, wat ook ’n sanger is, het ondervind dat van sy optredes gekanselleer is.

Oor die afgelope aantal jare het ons howe oorgenoeg geleentheid gehad om uitspraak te lewer oor presies wat haatspraak is en wat as rassistiese uitlatings beskou kan word. Om dierlike karakteristieke aan mense toe te ken, is rassisties. Selfs internasionale gesaghebbende liggame soos die Verenigde Nasies het geleentheid gehad om uitspraak oor apartheid te lewer. Dis ’n “crime against humanity”, het hulle besluit nadat van die voorste kenners en denkers in die wêreld hieroor besin het. Die gesprek en analogie deur Tumi Morake gemaak kan met die mees gesofistikeerde en entoesiastiese verdraaiing nie inpas in die gevestigde definisie van haatspraak of rassistiese spraak nie.

Wat het sy gesê? Sy het die analogie gemaak, woordeliks aangehaal uit ’n boek oor die WVK, dat gedurende apartheid die boelie die slagoffer se fiets afgevat het en dat daar ná apartheid nou van die slagoffer verwag word om die fiets met die boelie te deel.

In ’n normale samelewing sou regdenkende mense besef dat “crimes against humanity” langtermyn negatiewe gevolge vir die slagoffers daarvan sou hê. In ’n normale samelewing sou Morake se stelling en analogie oor apartheid begryp word as die koste van langdurige menseregtevergrype.

AfriForum en Solidariteit, nog selfvoldaan na hul Pirros-oorwinning in die Spur-saak, het dadelik ekonomiese spiere begin bult, en in die proses die punt wat Tumi probeer maak het, bewys. Solidariteit maak aanspraak daarop dat Afrikaners se menseregte respekteer moet word, en dat hulle vryheid van spraak toegelaat moet word. Wanneer ’n swart vrou, sekerlik die ergste bedreiging wat hulle hulself kan indink, dieselfde aanspraak maak, weier hulle. Anders gestel, Solidariteit wil die fiets ry, maar wanneer iemand anders hulle beurt wil gebruik, word hulle van die fiets afgestamp.

Nou word daar, in tipiese boeliemodus, “rassisme” geskree. Ek wonder of Solidariteit se leiers dit self glo, en of dit net siniese posering is. In Solidariteit se terme: hulle gebruik hulle finansiële spiere, opgebou uit die feit dat hulle toegelaat was om die fiets te deel en voor dit die fiets te besit, om ander te oorheers. Want sien, hier is die ding wat Tumi nie verstaan nie: boelies hou nie daarvan om op hulle foute gewys te word nie. Boelies kan nie kritiek hanteer nie. Hul reaksie is elke keer om dan te kla dat hulle benadeel word, hard en aanhoudend sodat geen ander stem gehoor word nie.

Tumi hoef ook glad nie alleen te voel nie. Jemele Hill, kommentator op ESPN, het Trump as ’n wit “supremacist” beskryf op Twitter. Trump self het natuurlik al veel erger beskrywings omtrent ander gemaak, en geen haan het daarna gekraai nie. Ander het dit ook al omtrent hom gesê. Die onvergeeflike sonde is egter weer dat ’n swart vrou dit durf waag om op te staan teen ’n wit man.

So ook met die Spur-voorval. Niks bedreig wit baasskap meer as ’n swart vrou met ’n brein en ’n tong nie.

Hill was geforseer om verskoning te vra as sy haar werk wou behou. Ten tye van hierdie skrywe was daar van Tumi verwag om met Solidariteit te vergader, seker ook met die oog op ’n “’Skies baas, sallie weerie baas.”

Apartheid as ’n sogenaamde social engineering-projek het misluk. Ons kan nie weer teruggaan soontoe nie. Selfs Solidariteit moet dit besef. Maar wat hulle nou probeer doen, is om openbare diskoers te verander vanaf apartheid as “crime against humanity” na apartheid as ’n wollerige konsep veroorsaak deur swart mense, en hulle as slagoffers. Hulle gebruik hul ekonomiese krag om hul sin te kry. Om te ontken dat apartheid geweldige skade aan groot dele van die bevolking gedoen het, om te ontken dat ander dele van die bevolking voordeel getrek het uit daai selfde skade, smoor die moontlikheid van gesprekvoering in die kiem. Meer as dit, die versugting na die “goeie ou dae van apartheid” wys ’n absolute onvermoë om empatie te hê met die swaarkry van medeburgers. Dit dui op ’n absolute gebrek aan insig in die geleefde werklikheid van soveel mense in hierdie land. Dis maklik om te fokus op Zuma en die Guptas en om te dink dat almal met ’n donkerder vel seker maar skelm is. Die realiteit is egter dat die meeste mense bitter swaar kry juis omdat daar geen ekonomiese geregtigheid plaasgevind het nie.

Dis waar Tumi se stelling vandaan kom. En om dit te ontken, om die gesprek te verander in ’n diskoers oor wit onderdrukking, doen hierdie land ’n absolute oneer aan. Wat ons nodig het, is om na mekaar te begin luister. Luister, nie met die doel om verontskuldigend te antwoord nie, maar met die doel om te verstaan. Dis al manier waarop ons vorentoe kan beweeg. En ’n groot, groot deel van die verstaan is dat daar baie mense met diep seerkry rondloop. Net omdat ons nie die wonde met die blote oog kan sien nie, beteken dit nie dat ons die bestaan daarvan kan ontken nie.

Dis die probleem met “might is right”. Die geleenthede vir gesprekvoering word onderdruk op enige manier moontlik, omdat dit te veel emosionele intelligensie vereis om teenwoordig te bly in ’n moeilike gesprek.

Laat ek dit duidelik stel: apartheid was boos. Elke dag in 2017 ly mense nog steeds onder die gevolge daarvan. Dit speel in die arbeidsektor uit. Dit speel in landbou uit. Dit speel in die ekonomie uit. En wanneer Solidariteit optree soos ’n boelie wat nie net die fiets vir hulself wil hou nie, maar die ander kinders van die veld verwilder, word hulle toegelaat om daai boosheid verder te voer.

Tumi behoort nie verskoning te vra nie. Sy het niks verkeerd gedoen nie. En dit het tyd geword dat ons ’n punt bereik waar moraliteit nie in rand en sent gemeet kan word nie.

  • 10

Kommentaar

  • Goeie maggies. Jy raak meer twak kwyt as Tumi. Dalk sal ek 'n opstel skryf en op elkeen van jou meesterlike "feite" kommentaar gee.

  • Stephan Coetzer

    Alle kante (rasse) is al so voos geslaan met en oor apartheid dat die velle al baie dun is. So miskien is Tumi se enigste sonde dat sy weereens die waarheid gesê het. En ja, gesprek IS nodig - gesprek waar die victim minder word en die creator opstaan!

    Ek wonder net oor die bysleping van seksisme in die artikel - is dit dalk die outeur se eie dun vel wat wys?

    • As jy nie die seksisme in AL die gevalle raaksien nie, is al wat wys, jou patriargale indoktrinasie ...

      • Feit is dat, deur hierdie taktiek van etikettering, diegene wat politieke korrektheid propageer juis meningsvolle gespreksmoontlikheid oor hul idees fnuik.

  • Dis tyd dat al die bevolkingsgroepe in ons land indringend ondersoek wat is die aard van die verskille tussen ons sodat dit aanvaar en gerespekteer kan word. Dan kan die onhaalbare konsepte soos "integrasie" en "one nation" permanent begrawe word. Ons kan gemaklik saam lewe as almal weet waar is die grense tussen groepe.

  • Hans Richardt

    Politieke korrektheid ideologie is reeds verkeerd, beginnend by argument dat almal se bloed rooi is. Honde, katte, ganse, hoenders en skape het ook alles rooi bloed..

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top