If this be treason deur Helen Joseph: ’n resensie

  • 0

If this be treason
Helen Joseph

Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795708176

Dis so maklik om die hoogverraadverhoor van 1956 tot statistieke te reduseer.

Dit begin met 156 beskuldigdes; teen die einde is daar 30. Daar was 211 staatsgetuies; 200 spesiale-tak-polisiebeamptes; 9 000 hofstukke; 1 400 hofure. Totale duur van die saak is vyf jaar (1956–1961); 37 000 km gereis na en van die hof. Die staat se deskundige getuie bring 32 dae in die getuiebank deur, 23 daarvan onder kruisverhoor.

Uitspraak: 40 minute.

If this be treason, geskryf deur beskuldigde twee in die verhoor, Helen Joseph, slaag meesterlik daarin om ons daaraan te herinner dat daar vlees-en-bloed-mense agter die statistieke van hierdie marathonhofsaak was. Dit behoort verpligte leesstof te wees vir elke Suid-Afrikaner wat uit ons politieke geskiedenis probeer sin maak.

Die boek pas nie gerieflik in enige genre nie. Dis niefiksie, maar dit lees so maklik en boeiend soos die beste spanningsfiksie. Dis nie politieke kommentaar nie, maar dit posisioneer ditself gemaklik binne van die stormagtigste dele van ons politieke geskiedenis. Dis nie ’n regsdrama nie, alhoewel die sentrale tema van die boek die hoogverraadverhoor is waar Joseph saam met onder andere Nelson Mandela, Ahmed Kathrada en Walter Sisulu aangekla was. Dis nie ’n tronkdrama nie, alhoewel Joseph vir feitlik die hele tydperk waaroor die boek gaan, in aanhouding was.

If this be treason is in wese ’n dagboek deur ’n vrou in aanhouding op ’n klagte waar skuldigbevinding met die dood bestraf sou word. Die staat wou weerstand in die land smoor deur die militantste lede te dood. Een van die regters in die saak het inderdaad kort voor die hoogverraadverhoor 22 mans ter dood veroordeel, en 21 se vonnisse is voltrek. Joseph en haar medebeskuldigdes was terdeë daarvan bewus dat hulle dieselfde paadjie kon volg. Dis maklik om te vergeet dat terwyl sy besig was om die dagboek te skryf, sy geen idee gehad het van wat gaan gebeur met die saak, of in die land, in die jare vorentoe nie. Sy slaag daarin om die leser te plaas in die kopspasie van ’n persoon wat veg vir wat sy glo reg is, sonder enige versekering dat daar beterskap sal kom.

Joseph se vertelling van die drama tydens die verhoor en hulle tyd in die tronk word in teenstelling geplaas met gebeure wat terselfdertyd in die buitewêreld plaasvind: daar is die Sharpeville-slagting, die noodtoestand wat afgekondig was, gedwonge verskuiwings van groot groepe mense, eetstakings en intimidasie deur die polisie.

Treason se trefkrag lê egter in die beeld wat Joseph skilder van die menslike koste wat die verhoor geëis het. Daar is die verhaal van beskuldigde 17, Robert Resha, wat een middag van die hof terugkeer en vind dat sy huis in Sophiatown deur stootskrapers platgestoot en sy meubels op die sypaadjie gegooi is. Daar is die verhaal van beskuldigde 23, B Ndima, wat vir die eerste keer in agt maande huis toe kan gaan in Port Elizabeth en dan ontdek dat ook sy huis vernietig is, en hy weet nie waar sy vrou en kinders hulle bevind nie. Daar is verhale van beskuldigdes waar beide pa en ma in hegtenis geneem is, en hul jong kinders sonder versorging gelaat is.

Daar is vele verhale van beskuldigdes wat hulle inkomste verloor het en finansiële vernietiging in die gesig gestaar het as gevolg van die verhoor en die intimidasietegnieke wat deur die veiligheidspolisie toegepas is. Joseph vertel aangrypende staaltjies van hegte vriendskappe wat gesluit was tussendeur die stres van die verhoor, van vreugdes wat in klein oomblikke gevind was, van dissipline ten spyte van chaos wat van buite op hulle afgedwing was.

Nêrens word lewe in apartheid-Suid-Afrika beter uitgebeeld as in die verskil in behandeling tussen wit en swart gevangenes nie. Joseph skram nie weg daarvan nie. Dit veroorsaak natuurlik spanning tussen haar en die enigste ander vrou onder die beskuldigdes, Lilian Ngoyi, beskuldigde 14. Hulle word op dieselfde vloer in die tronk aangehou, maar spanning ontstaan uit die staanspoor wanneer Joseph ’n bed, lakens en ’n kussing kry omdat sy wit is. Ngoyi kry ’n matjie om op te slaap. Joseph kry vleis en aartappels om te eet; Ngoyi kry waterige mieliepap. Die eerste nag in aanhouding word die swart manlike beskuldigdes in so ’n klein vertrekkie aangehou dat hulle staan-staan moet probeer slaap.

Daar is ook humoristiese oomblikke, soos toe die tronkbussie gaan staan en daar niemand is om te stoot nie. Op die ou end klim die bewaarder uit en stoot, en Joseph, sy gevangene in aanhouding, bestuur die bussie.

Selfs die publikasie van die boek het met drama gepaard gegaan. Die eerste uitgawe is in 1963 gepubliseer, en blitsvinnig verban. Daarna is dit weer in 1998 uitgegee, en dan is daar hierdie 2018-uitgawe.

Dis jammer dat die uitgewers nie die moeite gedoen het om die inligting in die boek op datum te bring voordat hulle dit hierdie jaar weer uitgegee het nie. Een van die aanhangsels tot die boek is inligting oor elkeen van die 30 beskuldigdes. Beskuldigde nommer 6, Nelson Rolihlahla Mandela, word byvoorbeeld beskryf as die huidige president van Suid-Afrika. Dit sou tog redelik eenvoudig gewees het om sulke inligting by te werk.

Uiteindelik is Treason ’n verhaal van die triomf van die menslike gees oor strukturele en sistematiese pogings tot vernietiging.

If this be treason is ’n boek wat my nog lank sal bybly. Bewys jouself ’n guns: gaan koop dit.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top