Tot in die soveelste geslag

  • 0

Die adellike swaeltjie Erika von und zu Berghoven (née Schüler) het elke jaar vanuit die koue Keulen in die Boland by haar aangetroude Afrikaanse familie kom kuier. Stellenbosch was vir haar die paradys. Die perskes was soeter en die mense gasvryer. Voor die oorlog het haar ouers nog vriende onthaal, maar na 1945 het hul net gewerk om die “ekonomiese wonderwerk’’ te laat geskied.

Die Februarie-hitte en -son was vir haar ’n lafenis. Elke dag het sy saam met haar gashere se kleinkind, Günther, gaan swem. Daarna met ’n koppie rooibostee onder die prieel gaan sit en uit Marcus Zusak se topverkoper The book thief gelees.

“Quatsch! Quatsch!”

“Wat is nou soveel onsin, tante Erika?”

Die gasvrou, Eia, het geweet dit kon nie die Nazi-werklikhede in die boek wees wat haar so ontstem het nie. Sy het immers nooit die duistere Duitse verlede ontken nie.

Sy het ’n gedeelte uit die slothoofstuk voorgelees:

Finally, in October 1945, a man with swampy eyes, feathers of hair and a clean shaven face walked into the shop. He approached the counter. “Is there someone here by the name of Liesel Meminger?”

“Yes she is in the back,” said Alex. He was hopeful, but wanted to be sure. “May I ask who is calling on her?”

Liesel came out. They hugged and fell to the floor.

Tante Erika was verontwaardig oor die toeval in die boek. Wat is die kans dat die dogtertjie, Liesel, en Max, die Jood wat tydens die oorlog by hul weggekruip het, mekaar weer na soveel jare sou raakloop? Volgens haar kon so iets net in stories gebeur.

Haar gasheer se verbysterende musiekkennis het haar baie beïndruk. Om te kom uit die land met die meeste simfonie-orkeste in die wêreld en om dan aan die suidpunt van donker Afrika na so ’n verskeidenheid musiekopnames te kon luister, het haar verstom gelaat. Dit sou dan ook musiek wees wat haar haar binnewêreld laat oopmaak het.

Aanvanklik was dit Mireille Mathieu se sang wat haar tong bietjie los laat raak het:

Die hele Parys is ’n teater
daar word gespeel in die dag en in die nag
En presies soos in elke teater
word gehuil en gelag ...

“Ja, Parys is ’n teater wat my altyd sal laat huil.”

Tog was dit Marlene Dietrich wat die laaste skans afgebreek het:

Vor der Kaserne, vor dem grossen Tor,
stand eine Laterne und steht sie noch davor.
So wollen wir uns wiederseh’n,
bei der Lanterne wollen wir steh’n.
Wie einst Lili Marleen,
wie einst Lili Marleen.

Sy, die enigste kind, was maar so 25 jaar oud gedurende die oorlog. Op ’n perdeplaas, in die omgewing van Stuttgart, het sy oorlogsdiens gedoen. Perde geroskam en gevoer. Haar moeder het alleen in Keulen agtergebly, want haar vader, Heinrich, is na Parys – hy was in die Abwehr.

 Nee, hy was nie ’n Nazi-spioen nie.”

Die Suid-Afrikaanse Eia het maar niks gesê nie. Sy het darem ’n paar boeke oor die Tweede Wêreldoorlog gelees. (Die Abwehr was tog die Duitse militêre intelligensie wat lynreg teen die Vredesbepalings van Versailles reeds in 1920 gestig is en wat Hitler gebruik het om sy oorlogspoging uit te bou.)

Klein besonderhede staan egter nie in geskiedenisboeke nie. Tante Erika het vertel dat die agente hul geheime radiodiens moes aanskakel die oomblik wanneer Lala Andersen se “Lili Marleen” deur die Duitse Rundfunk voorgespeel is.

Na die oorlog is Erika en haar ma verenig. Hul het oorleef en hul huis aan die buitewyke van Keulen het die lugaanvalle gespaar gebly. Van die vader van die huis het hul niks gehoor nie. Hul het wel geweet dat hy die oorlog oorleef het en moontlik terug was uit Parys, maar waar hy hom bevind het, was die groot misterie. Soos die moeder van Gideon Scheepers het ma en dogter ook berigte om hul koppe hoor “krys”:

“Ek het hom in Bingen langs die spoor gesien ...”

“Ek as werker in Primasens se skoenfabriek ...”

“Ek: in ’n Münchense biertuin met ’n hele liter bier ...”

Erika het by die dag ongeduldiger gewag op haar vader se terugkeer. Sy was verloof aan Jörg, ’n jong arts. Die oorlog het reeds die verlowing té lank uitgerek en die tyd het begin uitloop. Dit het te gou na haar sin té laat geword. Jörg se ouers het hom gedwing om die verlowing te verbreek. Wie sou ’n skoonpa wat net verdwyn, ooit kon vertrou?

Op ’n aand aan die voet van Helderberg, met ’n glasie Pinotage in die hand, het die verhaal ontvou: “Ek het die brief uit Ulm versigtig oopgeskeur. Die handskrif was onbekend. ’n Foto van ’n vrou en twee kleuters, ’n seuntjie en dogtertjie, het op my skoot geval. Vreemd. Wie sou tog hierdie foto met die onbekende gesigte aan my gestuur het? Ek het die brief in die ou Gotiese handskrif begin lees:

“‘Veel geëerde mejuffrou Schüler

“‘Ek skryf aan u sodat ons mekaar beter kan leer ken. Ek is in Parys met u vader getroud. Die twee kleine kindertjies op die foto is u halfbroer en -sussie, Helmut en Ute. Ek is natuurlik u vader se nuwe vrou – amper so oud soos u. Ek was ’n tyd lank in ’n Paryse tronk. U vader het na ons kindertjies omgesien. Nou is die Alptraum* verby en kom ons Düsseldorf toe. Ons sal dan nie ver van u wees nie.

“‘Hartlike groete

“‘Christine Schüler.’”

“My vader, my held ... Ongeloof het oorgegaan in woede – hy het ons lewens verwoes.

Keulen en Düsseldorf! Twee stede wat mekaar in elk geval haat. Almal ken in elk geval die ou-ou gesegdes: ‘Liewer siek in Keulen as gesond in Düsseldorf.’ ‘’n Karnaval in Düsseldorf is soos ’n begrafnisstoet in Keulen.’ My pa, my alles, het ’n leuen geleef. Hy het ’n oneerlike spel gespeel. Die woord ‘integriteit’ het vir hom nie meer bestaan nie. Wie gewond is in die proses, was vir hom bysaak.

“Hy was nie ’n geskeide man nie. Dieselfde dag is ek na die Standesampt waar huwelike en geboortes geregistreer is. Die huwelik is ongeldig verklaar. Christine en die kinders moes afstand doen van ons familienaam, Schüler. Sy en die kinders sou voortaan onder haar nooiensvan, Wentzel, bekend staan.

“Vader wou regmaak waar hy verbrou het. Hy het twee gesinne begin onderhou – die kers aan beide kante gebrand. Hy het werk in Dortmund aanvaar. Gedurende die week het hy hom daar halfdood gewerk. Naweke het hy afwisselend by sy vrou en dogter in Keulen en by sy minnares met sy ander twee kinders in Düsseldorf deurgebring. Die vroue was beide onbewus van hierdie reëling.

“Soos ’n goeie Rooms-Katoliek het ek hom vergewe en alles voor die deur van die oorlog gelê. Geen mens kan uiteindelik jou brood aan albei kante gebotter hê nie. Vader het tydens ’n naweek by ons op ’n gladde vloer gegly en sy heup gebreek. Hy is in die Keulen-kliniek opgeneem.

“Die oomblik van waarheid het uiteindelik aangebreek. Twee kinders van so om en by ses en agt jaar oud het die hospitaalkamer ingestorm, ‘Pappi, pappi’ geroep en sjokoladestafies in hul vader se hande gedruk. Vir die eerste keer was daar in die twee onderste hoeke van die driehoek twee vroue teenoor mekaar en in die boonste hoek ’n byna patetiese, bejaarde man. Twee kleuters het verstom hul veel ouer halfsuster aangegaap.

“Christine het duidelik nie geweet dat haar geliefde gereeld by sy vrou en dogter tuisgegaan het nie. Almal was oorbluf. My vader het die jong vrou met die aarbeiblonde hare en die twee koperkoppies direk aangespreek: ‘Julle drie wil ek nooit, ooit weer sien nie.’

“Die sjokolade het op die steriele vloer geval. Christine het die huilende kinders gegryp en die deur finaal agter haar toegemaak.

“Kort daarna is Vader oorlede. Moeder het haar doodgetreur oor haar ontroue man. Ek het op veertig deur my huwelik met Georg deel van die Pruisiese adel geword. Na een miskraam het ek geweet dat ek te oud is om ooit kinders van my eie te kon hê. ’n Voorreg wat Vader my ontneem het.”

’n Deur word baie moeilik finaal op knip getrek. Soms gaan dit weer op ’n skrefie oop. Na haar man se dood het tante Erika Baden-Baden toe getrek. Op ’n dag het ’n advertensie in die plaaslike koerant haar aandag getrek: “Dr med Helmut Wentzel, Internis, het ’n praktyk geopen. Skakel hom by 631 310 4498.”

Die ontvangsdame het tante Erika na die dokter deurgeskakel. Helmut was bereid om sy halfsuster vir ’n koppie koffie te ontmoet. Uiteindelik het bloed gekruip waar dit nie kon loop nie. Hul liefde vir klassieke musiek en die musiektalent wat hul van vader Heinrich geërf het, het hul aan mekaar verbind. Tante Erika het deel van Helmut se gesin geword. Sy kinders was soos haar eie. Hulle sou uiteindelik haar erfgename word.

“Is dit fluit-fluit my storie is uit?” het tante Erika aan haar verstomde toehoorders gevra, en self geantwoord: “Nee, dit is nie. Helmut het nooit ’n pa geken nie. Hy het nie geweet hoe om ’n pa te wees nie. Die onkunde oor pa-wees het hy ook op sy seun, Hanno, oorgedra. Hanno wat sy hart nie in Heidelberg nie, maar in die Eikestad verloor het.

“Vandag moet daar, hier in Afrika, vir eens en altyd aan dié bose kringloop ’n einde gemaak word. Günther, maak jou Afrikaanse oupa jou rolmodel. En ... net indien toeval dalk ’n rol mag speel: jy moet nooit, ooit ’n verhouding met ’n meisie met die van Schüler aanknoop nie. Jy is my pa, Heinrich Schüler, se agterkleinkind.”                   

“Gmf! En Saul het Paulus geword ...”

* Alptraum: nagmerrie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top