Tong

  • 0

Tong

Jou mond was eens ’n mengbak
Jou tong ’n soet houtlepel
Nou is dit ’n weerhaak
Wat terug beur in my weefsel
Getande aalwynblaar
Bitter sap, speeksel

Rieme gevleg in ’n langsweep
Jou tong hits woord en snede
Brandyster, dié wrede spier
Wat my skroeiend verneder
Gapende kaggelmond
Swawel, salpeter

Joune en myne
Vorm nouliks ’n smal brug
Tussen breinstam en gewete
Waarop politieke gevangenes
Onder wapen en visier verwissel is
Ons woorde uit ons diepste murg
Omvorm tot gewelddadige krete
Uitgeruil soos noodseine

Gedagtes gekluister, idees gegysel
Glip deur sinaps, ontsnap uit die vesel
Stu deur die poort met swets en ban
Boender my, laat my verpulp, ontman
Wyl jou vuis van klier en papil
My siel versmoor, my ontneem van my wil
Vreet aan my trots en my geloof verbrysel
My stom laat oor waarom jy my so gésel

Kaapstad, 8 November 2017

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top