Toegang vs taalregte: ’n ander ingesteldheid

  • 20

Heindrich Wyngaard

http://www.litnet.co.za/category/skoleseminaar/

Na aanleiding van die protes by Hoërskool Overvaal, het Jonathan Jansen in ’n onlangse RSG-gesprek rondom skole se taalbeleid aan Heindrich Wyngaard gesê dat die reg van toegang toenemend swaarder as die reg tot moedertaalonderrig sal weeg. Heindrich Wyngaard gee sy mening.

You’ll walk beside me, I’ll tell you no lies
And then you’ll see another country in my eyes.[i]

Indien dit so is, soos wat Jonathan Jansen aan ons voorhou, dat toegang tot skole toenemend swaarder as die reg op moedertaalonderrig sal weeg, dan vereis dit noodwendig van ons wat ’n erns het oor moedertaalonderrig, dringende bestekopname oor hoe ons hier beland het.

Hoe hét ons hier beland, waar die flikkering van toekomsseine aandui dat die toegang van ’n nie-Afrikaanssprekende leerling tot ’n Afrikaansmediumskool voorrang sal geniet bo die reg van die Afrikaanssprekende leerling se reg op moedertaalonderrig?

Om my te help om die vraag te beantwoord, wend ek my na Another country: everyday social restitution[ii] deur die sosioloog Sharlene Swartz, ’n boek waarin sy die begrip maatskaplike restitusie bekendstel.

Uiteindelik word in dié boek aangedui hoedat gewone mense deur optrede en gesprekvoering “dinge reg kan maak” met mekaar, as’t ware ’n brug bou tussen swart Suid-Afrikaners se ervarings van “onmenslike rassisme” en wit Suid-Afrikaners se “skaamte oor die verlede en angstigheid oor die toekoms”.

In die inleiding van die hoofstuk “Apartheid’s costs: education, opportunities, assets and wellbeing” skryf Swartz onder meer: “[T]he missing element in the South African discussion about the past seems to be a national consciousness about how [the] effects of the past remain in our present [...]”

En is dit nie waarop die regters se meerderheidsuitspraak téén Afriforum se Konstitusionele Hof-aansoek om die Universiteit van die Vrystaat se “verengelsingsbeleid” ongeldig te verklaar neergekom het nie?

Die regters was oortuig dat daar by die aansoekers geen waardering vir of begrip van die fisieke en emosionele skade wat in die verlede teen swart mense – nie-Afrikaanssprekende mense – aangedoen is nie; of geen ooglopende bereidwilligheid om die skade te help herstel nie, terwyl, soos Swartz skryf, “[the] effects of the past remain in our present”.

Eweneens is dit ook waaraan die gewelddadige reaksie op die Hooggeregshof se uitspraak in die Hoërskool Overvaal-saak toegeskryf kan word: hulle wat ontstoke na die skool opgeruk het – die Gautengse LUR vir Onderwys, Panyaza Lesufi, inkluis – is oortuig dat die uitspraak en die skool se aandrang daarop dat daar nie plek is vir meer leerlinge by die skool nie, ’n doelbewuste poging is om (Engelssprekende!) swart leerlinge uit te sluit.

Maar hoe anders sou dit nie (kon) wees (nie) indien die skoolgemeenskap – beheerraad, personeel en ouers – op ’n ander wyse gereageer het as om bloot die “Ons is vol”-bordjie op die hek te hang, soos ’n “Geen parkering beskikbaar”-kennisgewing by sportbyeenkomste of musiekkonserte?

Wat daarvan as hulle gesê het: “Kom gerus binne, maar gee net kans dat ons plek vir julle kan inrig”? Sou die LUR persoonlik én sy departement nie dalk dieselfde energie ingestort het om te sorg dat die nodige geriewe by die skool opgerig word as wat hy aan die opstokery en betogery bestee het nie? Sou die ouers van die nuwe leerlinge nie dalk bereid gewees het om te kom hand bysit sodat hulle kinders gouer geakkommodeer kon word en gehelp word om tuis te voel nie?

Dié vrae word gestel met die veronderstelling dat daar geen bybedoelings was – geen bedekte of doelbewuste (rasgedrewe) uitsluitingsagenda – in die skool se hofaansoek nie; dat dit ’n opregte aanduiding was dat die skool werklik nie kon bekostig om die bykomende leerlinge te huisves nie.

Of sou daar dan, indien die skool wel vir die nuwe leerlinge plek gemaak het, weer gesê gewees het die akkommodasie, die tydelike klaskamers, is van mindere gehalte en dat die onderrig wat aan die (Engelssprekende!) swart leerlinge gebied word by ’n Afrikaansmediumskool van ’n laer standaard is?

Die geluk by dié ongeluk sou dan gewees het dat dit as bewys sou dien, soos daar juis deur sommige betrokkenes beweer en deur sommige waarnemers vermoed word, dat dit uiteindelik nie soseer hier gaan oor toegang vir leerlinge sonder ’n heenkome nie; dat dit in werklikheid ’n kwaadwillige veldtog teen tradisioneel wit, Afrikaanse skole is wat hier deur ’n politieke Trompie en die Boksombende gedryf word.

Maar ons praat in die debat oor die reg op toegang teenoor die reg op moedertaalonderrig immers nie net van wit (Afrikaanse) en swart (Engelse) leerlinge nie. Wanneer dit gaan oor Afrikaanse moedertaalonderrig, móét die stille bruin meerderheid ook tog ter sprake kom. Sou Jansen se toegangsargument dus ook kon beteken dat húlle, dit wil sê leerlinge uit die bruin meerderheid-Afrikaanssprekende gemeenskap, na (wit) Engelse skole kon opruk en daarop aandring om - in Afrikaans – geakkommodeer te word?

Indien ons oor niks anders saamstem nie, moet ons sekerlik saamstem dat hierdie geen eenvoudige vrae is nie; dat die kwessie van toegang tot onderwys teenoor die reg op moedertaalonderwys ’n komplekse een is.

En ongeag hoe jy daarna kyk, bly dit die kinders wat daaronder ly, nie die hardkoppige ouers of die opstokende politici nie, soos wat die konflik buite die Hoërskool Overvaal so duidelik en jammerlik getoon het. Die onwilligheid van die grootmense om mekaar te vind word derhalwe op die kinders se (skool)brood gesmeer.

Overgeset synde, die afwesigheid van barmhartigheid bring mee dat die sondes van die vaders (en moeders), waaroor in Eksodus 20:5 gemaan word, aan die kinders besoek word – dié wat steeds sukkel om ’n klaskamer binne te kom, sowel as dié wat reeds binne is.

’n Slotvraag is dan of die volwassenes in hierdie verhaal bereid is om – ter wille van die kinders – kollektief harder oor blywende oplossings te dink.

Of anders gestel: of hulle die wilskrag het om langs mekaar te loop, gestroop van leuens, en die moontlikheid van die groep Mango Groove en die sosioloog Swartz se “ander land” in mekaar se oë raak te sien.

Heindrich Wyngaard is ’n skrywer en ’n aktualiteitsaanbieder op Afrikaanse radio.

 

[i] Mango Groove, “Another Country”.

[ii] In 2016 uitgegee deur BestRed, ’n druknaam van HSRC Press

 

Lees ook: Afrikaanse onderwys onder beleg

  • 20

Kommentaar

  • Ek hoor jou Heindrich, daai opsie is al probeer. Die feit is egter dat een Engelse kind beteken dat die hele klas in Engels aangebied moet word. Dis waarom Afrikaanse mense nie meer akkommoderend kan wees nie.

    • Ek was my hele skoolloopbaan in destydse dubbelmediumskole en daar was nooit 'n probleem dat een Engelse (of Afrikaanse) kind die hele klas beïnvloed het nie. Die lesse is bloot tweetalig aangebied en as jy nie verstaan het nie (selde) is daar in jou huistaal verduidelik. Die handboeke was in Afrikaans of Engels.

  • GatvolBoereseun

    "... swart Suid-Afrikaners se ervarings van ‘onmenslike rassisme’ en wit Suid-Afrikaners se ‘skaamte oor die verlede en angstigheid oor die toekoms’.
    Wanneer gaan die sin eendag einde kry? Apartheid het al in die vroeë 1990's geëindig. Dus 28 jaar later nou ... en steeds wil jy en al die ander nog steeds bejammer word.

    • Die Anglo-Boereoorlog is al in 1903 very, nie een lewende mens bly meer oor wat daar was nie. Niemand ken iemand wat in die konsentrasiekampe gesterf het nie. Geen van die gevolgtrekkende armoede bly oor nie. En nog steeds wil Afrikaners daaroor bejammer word. Gewoonlik dieselfdes wat wil hê swart mense moet apartheid vergeet terwyl meeste van sy slagoffers nog leef en elke swart mens familielede in die lewende geslagte daaraan afgestaan het en die gevolgtrekkende armoede nog ten volle rondom ons gesien kan word. Terwyl 9% blankes net 1,8% van moordslagoffers is en swart mense bykans die hele ander 98% moet dra. Terwyl werkloosheid in die land naby 50% sit maar vir blankes is dit omtrent 6% (wat op sigself dui dat BEE en AA nie wit mense beskadig het nie, of dit swart mense werklik bevoordeel het is 'n ander debat).

      • A J Venter jy het gelyk - niemand ken meer iemand wat in die konsentrasiekampe was gedurende die Engelse oorlog nie. Ek hét egter iemand geken, my ouma; sy was 'n 14-jarige in een van daardie kampe (saam met haar ma en boetie - wat nie oorleef het nie). Ek het haar eenkeer gevra om my bietjie te vertel van die gruwelikhede in daardie kamp en haar antwoord was "Ai my kind die Engelsman se taal is vir my tog so mooi." Sy wou my niks verder vertel nie. So daar is darem waarvan jy nou weet wat nie jammer gekry wou word nie.
        Jy praat van die “gevolgtrekkende armoede” weens sogenaamde apartheid – so, oral in Afrika waar daar nie die nare Boere se apartheid was nie is daar geen armoede nie? En hoe verklaar jy die toestroming van immigrante na die land toe wat so deur sogenaamde apartheid teruggesit is?
        Jy skiet jouself bietjie in die voet met die statistieke wat jy aanhaal. As die swartes bykans 98% van die moorde moet “dra” en die blankes net 1,8%, wat is die persentasie swart moordenaars teenoor die persentasie wit moordenaars? En kan jy net bietjie gaan sit en dink wanneer het werkloosheid, wat nou volgens jou bykans 50% is, so toegeneem?

  • Hoe anders sou dit nie kon gewees het as die Gautengse Onderwysdepartement bloot op 'n ander wyse gereageer het deur met die skoolgemeenskap in gesprek te tree in plaas daarvan om die skool agv politieke munt te probeer forseer om Engelssprekende leerlinge in te neem nie.

  • Helena Theart

    As daar 55 Engelssprekende leerlinge in skool wat klaar nie meer plek het nie, toegelaat moet word, moet alle saalbyeenkomste, sportbyeenkomste , ens Engels word? Die een skolier het gesê sy moet vroeg opstaan om na skool 20 km verder te gaan ... sy wil bietjie later slaap. Ander ouer het gesê sy huis is oorkant die skool. Het hy nie sy huis op die verkeerde plek gekoop nie?

  • brt van der merwe

    Jou bydraes is gewoonlik vir my sinvol Heinrich, veral jou program op Sondagaande waarop ek graag inskakel. Ek herinner my dat Max du Preez verlede Sondag ook die maklike oplossing van 'n paar ekstra klasse stig en 'n klompie ekstra onderwysers aanstel om die nuutgestigte Engelstalige klasse te behartig en siedaar 'n dubbelmedium skool soos Max in die sestiger jare met baie vrug beleef het. Gelukkig het Teuns Eloff vinnig korte mette van Max se argumente gemaak en wel op grond daarvan dat daar anders as gedurende die sestigs vanweë die potensiële verswelging van die wit kinders se kultuur deur die van die swart kinders wat minstens tien keer meer in getal is, en amper voor die voet 'n baie lae standaard, 'n tipe AfroEngels spoedig sal meebring dat Afrikaans, soos tans by alle universiteite gebeur, geheel en al verdring sal word. Nee, is die voet eers in die deur word Afrikaans, wat ewe jou moedertaal is as myne, kort voor lank gereduseer tot niks. Hef eerder die hoof Swarttale op (bv aanvanklik die Nguni & Sotho groeperinge weens hulle getalle-oorwig - saam met Afrikaans en Engels - ) tot die standaard van geskrewe wêreldtale vir die wetenskap, die akademie in die breë en selfs regspraak en hou op om die een taal uit Suider-Afrika, naamlik Afrikaans, wat lank gelede reeds deur bloed en sweet en baie trane en moeite daardie standaarde bereik het te probeer afbreek en vernietig. Bou dus op eerder as om af te breek!

  • Chris Marnewick SC

    Ek het in 1994 my seuns uit 'n goeie Afrikaanse skool geneem - en na Engelse skole oorgeplaas - juis as gevolg van die halsstarrige houding van sommige ouers en die skoolhoof wat nie swart leerlinge wat in Afrikaans wou leer wou toelaat nie. Wat nog meer irriterend was, was die feit dat sommige van die ouers wat nie die skool wou oopsluit nie, ook geweier het om skoolfondse te betaal.
    Ons moet maar erken dat daar 'n rassistiese en selfsugtige lot onder ons mense is. Ons kan pleit dat apartheid hulle so gemaak het, maar ek dink dit is te laat om daardie verweer te opper want die kinders wat geraak word is lank na 1994 gebore. Hierdie kortsigtiges laat alle Afrikaanssprekendes na rassiste lyk, en dit belg my tot in die diepte van my wese.
    Soos die skrywer aandui, is dit maklik om 'n kompromis te maak. 'n Goeie kompromis is een wat albei partye ewe ongelukkig maak - Langenhoven, as ek reg onthou, wat ook voorgehou het dat 'n "dun" vergelyk beter is as 'n "vet" regsproses.

  • Hélène Lewis

    Die feit is ook, dat indien jy nie in jou moedertaal onderrig word tot en met ongeveer graad 4 of 5 nie, jy 'n agterstand ontwikkel teenoor die kind wat in sy moedertaal onderrig word! So propageerders wat net eenvoudig almal in engels wil laat leer is heel gelukkig dat die oorgrote Suid-Afrikaanse samelewing dommer word? Hulle toekoms benadeel word!
    Aan diegene sê ek: SKAAM JULLE!
    Eerder as om na langtermyn doelwitte te kyk wat tot almal se voordeel strek, word hier met politieke stipsinnigheid en arrogansie geweldige en onherstelbare onreg gepleeg. Dit maak mens woedend en herinner my aan Martin Luther King se desperate woorde, "Nothing in the world is more dangerous than sincere ignorance and conscientious stupidity" nie.
    Ons groot probleem in SA is juis dat daar heeltemal te veel van dié soort in die rondte is. In alle kleure, geure en sommige vol titels en hol stories.

  • Barry Saayman

    "Indien ons oor niks anders saamstem nie, moet ons sekerlik saamstem dat hierdie geen eenvoudige vrae is nie; dat die kwessie van toegang tot onderwys teenoor die reg op moedertaalonderwys ’n komplekse een is." - Heindrich Wyngaard
    Daar is geen reg op moedertaalonderwys nie en daar is niks kompleks aan toegang verbonde nie.
    “Wanneer dit gaan oor Afrikaanse moedertaalonderrig, móét die stille bruin meerderheid ook tog ter sprake kom. Sou Jansen se toegangsargument dus ook kon beteken dat húlle, dit wil sê leerlinge uit die bruin meerderheid-Afrikaanssprekende gemeenskap, na (wit) Engelse skole kon opruk en daarop aandring om - in Afrikaans – geakkommodeer te word?”
    Moedertaalonderrig is nie grondwetlik verskans nie.
    Die reg om onderrig te word in die amptelike taal van jou keuse is egter verskans maar net in soverre die taal geredelik by ‘n bepaalde inrigting beskikbaar is. En enkelmedium-inrigtings is in terme van Art 29(2) van die Grondwet, 1996 wettig.
    Toegang is nog altyd belangriker in post-apartheid Suid-Afrika as die keuse van die amptelike taal van onderrig wat deur ouers/leerders/studente uitgeoefen moet word.
    Dit is egter op almal van toepassing.
    Kinders wie se ouers Engels as onderrigtaal kies het nie ‘n voorkeurreg nie en moet aanpas by die taal/tale wat by ‘n bepaalde skool/universiteit ens geredelik beskikbaar is.
    Kinders wie se ouers Afrikaans as onderrigtaal kies het ook nie ‘n voorkeurreg nie en moet aanpas by die taal/tale wat by ‘n bepaalde skool/universiteit ens geredelik beskikbaar is.
    En indien daar ‘n bewese behoefte in ’n bepaalde voedingsarea is om ’n addisionele amptelike taal/tale by ’n bepaalde opvoedkundige inrigting in te voer (Universiteit van Kaapstad?) dan moet dit op ’n deeglik beplande, verantwoordelike en deursigtige wyse gedoen word.
    “Overgeset synde, die afwesigheid van barmhartigheid bring mee dat die sondes van die vaders (en moeders), waaroor in Eksodus 20:5 gemaan word, aan die kinders besoek word – dié wat steeds sukkel om ’n klaskamer binne te kom, sowel as dié wat reeds binne is.”
    Voltooi Eksodus 20:5 asseblief. Die verdoemende uitspraak is van toepassing op diegene wie se ouers God haat. Ek sou baie versigtig wees om mense daarvan te beskuldig dat hulle God haat en daarom word hulle kinders gestraf. (Mat 7: 1-5)
    Die destruktiewe wegneem en ondermyning van kinders se taalregte by universiteite en skole met die doel om Afrikaans te vernietig en kinders/studente vir die ware en verbeelde sondes van hulle ouers te straf is ongrondwetlik asook moreel en eties onverdedigbaar.

  • Roger Rothner

    Die LUR het geslaap en nou het hy ander mense met kinders opgestook om onwettig op te tree. Wat Prof Jansen betref: Hy het as rektor alles probeer om enige aksie in rassisme te omskep wat die ouers baie geld gekos het om die kinders se onskuld te bewys. Gelukkig is hy nou by 'n plek waar hy sal sien hoe lyk 'n brandgevaar.

  • Tjaart du Plessis

    Dit gaan nie oor toegang vir swart leerders nie. Hoërskool Overvaal het reeds swart leerders wat in Afrikaans skoolgaan. So Lesufi se argument dat swart leerders uitgesluit word is oneerlik. Die enigste ander rede moet dus 'n aanval teen Afrikaans wees. Lesufi weet goed dat meeste dubbel- of parallelmedium skole uiteindelik enkelmedium Engels word. En dit is die einddoel. Die feit dat hy die aandag aftrek van die ware rede waarom daar nie plek is vir leerders nie, naamlik gebrekkige beplanning en optrede, is natuurlik vir hom 'n bonus.

  • Pieter Cloete

    Dink ook jy moet in aanmerking neem dat die meeste Afrikaners nie juis vertroue het in die twee kundiges, Jonathan Jansen en Charlene Swartz se opinies nie. Beide bepleit 'n eenrigtingverkeer teen minderhede. Jansen het 'n aantal blapse by Universiteit Vrystaat gemaak wat vetroue geskend het en Swartz werk met naiewe rasteorie wat net restitusie van blankes eis.

  • De Villiers Hauptfleisch

    Laat ons nou maar eerlik wees met mekaar, die hele ding was polities moedswillig gedrewe. Waarom nou soveel moeite doen om `n "Engelssprekende" kind in te dwing in `n Afrikaanse skool terwyl daar plek is in naburige ander skole? Die mense wat hierdie ding gedryf het, het nie die kinders (Afrikaans- en Engelssprekend) `n guns bewys met hul optrede nie. Dit was en is ontwrigtend vir alle partye en was totaal onnodig. Dit was in plein Afrikaans nou sommer k.k soek!

  • As ek so in my kristalbal kyk sal dit in die toekoms verpligtend wees dat alle
    lande dieselfde tweede taal moet aanleer.
    Dink net hoe maklik dit sal wees as almal by 'n kongres/hofsaak ens mekaar kan verstaan sonder hulp van tolke.

  • Die knoop lê juis in die veronderstelling dat die departement die skool sou ondersteun met ekstra leerkragte en geboue. Ondervinding is dat dit nie gebeur nie.

  • Gustaf Claassens

    Hierdie is hoegenaamd nie 'n gekompliseerde saak nie, ons maak dit moeilik. In wese gaan dit oor die reg om in jou moedertaal onderrig te word, iets wat wêreldwyd 'n reg is en as sodanig erken en aanvaar word. As jy in Afrikaans onderrig wil word kan jy dit doen ongeag of jy swart, bruin, wit, pienk, pers of geel is. Niks rassisties daaraan nie.
    Die omgekeerde, waaroor nou 'n debat gevoer word is bloot moedswillig, hoogs polities met 'n verskuilde agenda soos die feite intussen uitgewys het. Die gaan daaroor om 'n voet in die deur te kry. Die res sal volg deur eers insidente te skep, daardie insidente te verpolitiseer (soos by Universiteite en talle ander instansies) en eventueel, “om konflik te voorkom," sal Afrikaans ook hier die onderspit delf. Dit is presies hoe dinge in Suid-Afrika werk, ons weet dit mos.
    As die heer Marnevick (neem kennis SC) die die behoefte het (of gehad het) om sy kinders uit 'n Afrikaanse skool te haal was/is dit ook sy keuse en reg; iets wat hy blykbaar uitgeoefen het en skynbaar baie tevrede oor is. In sy geval is ras belangriker as taal-onderrig en hy het gedoen wat hy oordeel reg is.
    Wat die polemiek self betref; sou die 55 swart leerlinge bereid wees om in te val by die skool se taalbeleid (en die skool was nie vol nie en die saak nie verpolitiseer nie) sou en moes hulle toegelaat word. Indien nie, sou mens die ras-element (slegs dan) kon inbring en kon daar 'n debat wees. Maar vir die oomblik is dit nie die geval nie.

  • Die probleem lê mi nie soseer by die toelating nie, maar wel by die onderrigtaal.
    As jy Engelssprekend is en jou kind by 'n oorwegend Afrikaansmediumskool inskryf,
    moet ALLE vakke wat die leerders van voorneme is om te neem ook in Engels aangebied word.
    Dit vereis ook dat alle onderwysmateriaal in Engels vertaal of aangekoop moet word. Dit plaas 'n geweldige druk op onderwysers veral in eksamentyd waar vraestelle in beide Engels en Afrikaans opgestel moet word.
    Dit plaas verdere druk op veral Afrikaanssprekende onderwysers wat gewoond is om hul vakke in Afrikaans aan te bied en nou terwille van 'n minderheid Engelssprekende leerlinge dit ook in Engels moet doen.
    Nie alle Afrikaanssprekende onderwysers is ewe vaardig in Engels nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top