toe vind ek jou

  • 4

tussen ou telefoonboekblaaie se
dikgetikte nommers
(alfabetiesbelys) 
vingerlees ek
op soek
na jou –

in Sunnyside se hokkies onthou ek 
my woorde deur geld in gleuwe glip
as jou stem weg-stip
op ’n grens waar jou diens
my waardeloos sien;

ek het o-so-bliksemsbang
jou japon om my gehang;

ek het sinneloos gebid dat 
Old Spice ons sou bind
ter wille van ’n ongebore kind

toe vind ek jou :

in-staatsie-rou

© Susanne Pike

  • 4

Kommentaar

  • Die skok by die onverwagte ontdekking van iemand se skielike afsterwe, is ontstellend voelbaar in hierdie skitterende gedig.

  • Desiré Klopper

    'n Uitnemende skryfster!
    Susanne mag ons en ons nageslagte nooit ophou om jou feesmaal van woorde te geniet nie!
    Skryf gedurig, ons wag gretig.

  • Gideon C du Toit

    Fantasties bewoord. 'n Mens verwag wat kom, maar is tog geskok die oomblik as jou vermoede bevestig word. Uitstekende gedig.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top