Tjaila-tyd vir Zuma se span: hoe lyk dit?

  • 0

Bathabile Dlamini
Foto: GCIS, Attribution-NoDerivs 2.0 Generic (CC BY-ND 2.0)

Zille het Dag Zero, die dag wanneer Kaapstad se krane droogloop, vergelyk met die Tweede Wêreldoorlog, en met die sg 9/11, wat sekerlik een van die grootste moderne terreuraanvalle was.

Sy’s verkeerd. Die dag dat die Sassa-geld opdroog, dís die dag dat ons ’n geween en ’n gekners van tande gaan hoor. Nie dat die minister van maatskaplike ontwikkeling, Bathabile Dlamini, die geringste teken toon dat sy bewus is, of omgee, dat sy eiehandig ’n burgeroorlog kan veroorsaak nie. Dlamini moet besef dat tjailatyd naby is, maar sy strompel voort, skynbaar onbewus dat sy nie meer koeëlvaste beskerming geniet nie. En tjailatyd gaan heel waarskynlik vroeër aanbreek vir haar as vir die President.

Want sien, waar Zille die fout maak, is om te dink dat wat in Kaapstad se voorstede aangaan, ’n impak gaan hê op die res van die land. Dalk op Facebook en Twitter, maar nie veel verder nie. Die mense van Khayelitsha en Nyanga is tog immers lankal gewoond daaraan om te moet toustaan vir water. Hulle doen dit hulle lewe lank. Vir die meeste is die vyftig liter wat hulle nou belowe word, ’n luukse. Dis die mense met die swembaddens en die lowergroen grasperke wat gaan sukkel om aan te pas.

Aan die ander kant is AllPay en die Michael Jackson-geld vir die kinders vir baie mense die verskil tussen lewe en dood. AllPay is nou R1 600, en die Michael Jackson-geld is in die omgewing van R380. Dan het die meeste munisipaliteite ook ’n deernistoelaag, waarmee hulle mense wat nie kan bekostig om munisipale dienste te betaal nie, subsidieer. Dis nie veel nie, maar dit hou die wolf van die deur.

Wat gebeur as daai betalings stop? Wat gebeur as munisipaliteite nie meer daai subsidies kan bybring nie? Dit maak nie eens regtig saak of dit stop omdat die trog leeg gevreet is, en of dit stop omdat daar nie voldoende voorsiening gemaak is vir lewe na CPS se onwettige kontrak nie. Vir Dlamini is daai geld dalk maar die prys van ’n middelmatige whiskey, maar vir die meeste mense in subekonomiese behuising, vir die werkloses wat geen ander inkomste het nie, vir die gestremdes, is dit lewe.

Dis hoekom die ondersoek om vas te stel of die Minister in persoonlike hoedanigheid verantwoordelik gehou moet word vir die kostes van die Black Sash-aansoek, so belangrik is. Verantwoording moet gedoen word, en in hierdie geval is dit redelik eenvoudig om ’n prys daaraan te koppel.

Die regsverteenwoordigers se getakseerde rekeninge moet nog voorgelê word, maar die koste sal heel waarskynlik ses syfers voor die komma beloop. Hopelik vir die Minister se eie rekening.

Verantwoording was tot nou toe ’n vreemde, onverstaanbare konsep vir Zuma se akoliete. #LifeEsidimeni, Eskom en Sassa kan hulle anders leer. Die voer in die krip het ’n stopkraan wat toegedraai kan word. Die voer in die krip kan baie maklik maagpyn veroorsaak.

Wat word van die Zuma-lojaliste as ons hom vaarwel toeroep? Die meeste is nie bevoeg genoeg om in die privaatsektor te werk nie. Hulle sal persona non grata wees in die openbare sektor. Zuma sal vir homself sorg en die res vir die wolwe gooi.

Die klein dorpie waar ek woon, is in baie opsigte ’n barometer wat die koors van die res van die land neem. Een van die plaaslike ANC-elite het die septer geswaai. As sy inkom, moes ander padgee. Vergaderings begin nie voordat sy nie, ’n uur of twee laat, daar aankom nie. Toe vind die party iemand anders wat vir hulle van groter nut is, en binne weke was sy op die ashoop gegooi. As sy nou by ’n vergadering aankom (ongenooid, want sy is nie meer nuttig nie), dan draai ander hulle rug op haar. Haar kar is teruggeneem. Die meubelwinkels het haar meubels kom haal. Gelukkig vir haar is sy oor sestig, dus het sy, ironies genoeg, ten minste die Sassa-geld om haar deur te dra.

Dis waarskynlik die voorland vir heelparty Zuma-lojaliste. Onder ’n nuwe regime het hulle nie veel politieke mag nie, omdat hulle in hul arrogantheid brûe verbrand en vyande gemaak het. Boonop hulle het min ander bemarkbare vaardighede. Waar die Zuma-verbintenis voorheen deure wyd laat oopswaai het, begin hulle toenemend vind dat daai selfde verbintenis nou deure in hulle gesigte laat toeklap.

Wanneer ek na Bathabile Dlamini kyk soos wat sy swoeg en sweet en beskuldigende vingers rondswaai en haar pad probeer uitbluf, dink ek aan hierdie Shakespeare-aanhaling: “Life is but a walking shadow, a poor player that struts and frets his hour upon the stage. It’s a tale told by an idiot, full of sound and fury, signifying nothing.”

Signifying nothing.

Wat ’n gepaste aanhaling om op die grafsteen van die Zuma-administrasie te plaas.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top