Titels van Elisabeth Eybers (1915-2007) se boekery aanlyn beskikbaar

  • 0

Klik nou op die skakel en stel vas of die boek wat jy miskien op ’n keer aan Elisabeth Eybers present gegee het, nog in haar besit was toe haar boekery vyf jaar lede onderdak gevind het in die Zuid-Afrika Huis aan die Keizersgracht in Amsterdam. Tydens ’n simposium wat op Saterdagmiddag 13 Oktober 2012 aan Eybers se boekery gewy is, is die katalogus van haar boeke bekend gestel.


Corine de Maijer, bibliotekaris van die Zuid-Afrika Huis, saam met Vincent Kuitenbrouwer tydens die verskuiwing van die boekery.

Toe Elisabeth Eybers (gebore 1915) op 1 Desember 2007 oorlede is in haar woning aan die Stadionkade 17 te Amsterdam, het sy meer as 2 000 boeke nagelaat wat in ’n aantal boekrakke dwarsdeur haar ruim appartement versprei was. Op haar lessenaar en koffietafel was ook enkele boeke. Kort voor en tydens haar finale siekbed was die bundels van die Poolse digteres Wislawa Szymborska steeds op haar bedkassie.

Soos die boekversamelings van baie mense, was ook dié van Elisabeth Eybers onderhewig aan verandering: tydens verhuisings is boeke afgestoot en sy het gereeld boeke weggegee of afgevoer. Steeds het daar ook nuwe boeke bygekom. Tot op late leeftyd was sy byvoorbeeld geïnteresseerd in nuwe uitgawes van veral Engelse woordeboeke.

Die boekrakke gefotografeer en op basis van hierdie fotografiese dokumentasie kon Eybers boeke in dieselfde boekrakke presies so weer in die Zuid-Afrika Huis georden word.

Ná haar dood het haar dogters en ander familielede boeke wat hulle wou hê, verwyder en die res is aan die Zuid-Afrika Huis te Amsterdam geskenk. Daar is dit in ’n spesiale sogenaamde Eybers-kamer uitgepak presies volgens die opstelling wat dit in haar woning gehad het; boonop in haar eie boekrakke, wat ook aan die Zuid-Afrika Huis geskenk is. Tydens die jare sedertdien is hard gewerk om die boeke te katalogiseer. ’n Eerste uitgebreide alfabetiese katalogus is gemaak deur twee studente van die Universiteit van Leiden waarin baie inligting, soos opdragte en gegewens wat in die boeke gevind is (strepies, aantekeninge), aangestip is. Ook is die vindplekke in die boekrakke daarop aangedui. Hierdie katalogus en die onuitleenbare boeke is slegs in die Zuid-Afrika Huis raadpleegbaar deur navorsers. Van die groot katalogus is toe ’n korter en aangepaste weergawe gemaak volgens genre en taal wat wel algemeen toeganklik is. Dit is op Saterdag 13 Oktober 2012 tydens ’n simposium in Amsterdam aanlyn beskikbaar gestel.


Elisabeth Eybers se dogter Jeanne Wessels het gehelp met die verskuiwing van die boekery.

Die name van mense wat meegewerk het aan hierdie jare lange projek, van die verhuising tot die aanlyn-katalogus, word op die webwerf van die Zuid-Afrika Huis vermeld. Die eindredakteurs van die katalogus is Ena Jansen en Corine de Maijer, bibliotekaris van die Zuid-Afrika Huis.

Die Zuid-Afrika Huis het die simposium aangebied in samewerking met die Commissie Zuid-Afrika van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde (lede is Eep Francken, Ena Jansen, Adriaan van Dis, Jos Damen en Robert Ross). In haar inleiding het Ena Jansen beskryf hoe die verhuising van die boekery na die Keizersgracht 141 plaasgevind het en die besluite wat geneem is in verband met die maak van die twee katalogusse. Haar kollega Lisa Kuitert, hoogleraar boekwetenskap aan die Universiteit van Amsterdam, het ’n lesing gehou oor “De lezende dichter en de traditie van schrijversbibliotheken”, waartydens sy gewys het op die belang van reeds-beskrewe boekerye van Nederlandse skrywers soos Lucebert, Hans Faverey, Simon Vestdijk en Kees Fens. Daarna het Eep Francken in gesprek getree met Tiny Kraan, gepensioneerde dokumentalis van die Afrika Studie Centrum in Leiden, wat as vrywilliger die groot taak van die verkleinde katalogus aangepak het.

Die katalogus is “work in progress”, omdat in die komende jare daarna gestreef sal word om ook die titels in te voer van boeke wat wel in Elisabeth Eybers se besit was ten tye van haar dood, maar wat nou in besit van haar kinders is. Titels van boeke wat sy vroeër weggegee het, kan ook ingevoer word. Op dié manier kan die beeld van haar boekebesit vollediger gemaak word.

Na die pouse het Marisa Botha van die NMMU te Port Elizabeth, wenner van die Elisabeth Eybers-beurs 2012 wat jaarliks deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns toegeken word, ’n lesing gegee met die titel “‘My classy heldin’ – Antjie Krog oor Elisabeth Eybers”. Krog het enkele gedigte geskryf waarin sy onder andere verwys na “die beheersde Eybers my classy heldin” en “ons grootste digteres […] met die hertzogprys in ’n vreemde land”. Marisa kon danksy strepies wat Eybers gemaak het in haar eksemplaar van Lady Anne (wat deur Krog aan haar geskenk is), aantoon dat Eybers op dié manier ook met Krog in gesprek getree het.


Ena Jansen en Gerhard Bruyns, 'n Suid-Afrikaanse argitektuurdosent van Delft

’n Verrassing was die kort optrede deur twee Suid-Afrikaanse sangeresse, Yolande van den Berg en Anneke van der Merwe, wat drie Eybers-gedigte getoonset en uitgevoer het: “Skemerliedjie”, “Liedjie” en “Mistroostig”. Hulle effens melancholiese, maar ook ligte en ironiese, aanslag het baie goed gewerk. Daarna is die televisie-onderhoud vertoon wat Hanneke Groenteman op 10 Januarie 1999 met Elisabeth Eybers en Ena Jansen gevoer het kort nadat Riet de Jong-Goossens se Nederlandse vertaling van Afstand en verbintenis. Elisabeth Eybers in Amsterdam verskyn het.

Voor die middagprogram het Jeanne Wessels, jongste dogter van Elisabeth Eybers, en haar twee kinders Emma en Jasper, die Eybers-kamer besoek. Tydens die pouse kon alle aanwesiges daar gaan inloer.

Sien http://www.zuidafrikahuis.nl/content/eybers.

Lees Ingrid Glorie se perspektief op die Eybers-kamer wat in die Amsterdamse Zuid-Afrikahuis oopgestel is.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top