A Time Traveller's Guide to South Africa in 2030 deur Frans Cronje: ’n onderhoud

  • 5

A Time Traveller's Guide to South Africa in 2030
Frans Cronje

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624080589

Skrywers oor hul nuwe boeke: Frans Cronje gesels met Naomi Meyer oor sy boek A Time Traveller's Guide to South Africa in 2030.

Hallo Frans, vertel my asseblief wat die toekoms inhou. Ons almal wil weet. Weet jy? Of wat weet jy en hoe stel jy vas wat jy weet? (Anders gestel: dalk kan jy ook iets van jou agtergrond vertel?)

Ek is ’n scenariobeplanner en werk vir Suid-Afrika se voorste beleidsdinktenk, die IRV. Ons gebruik scenario’s om ons kennis van die toekoms so goed te maak soos dié van die verlede. Die IRV doen ’n groot hoeveelheid maatskaplike en ekonomiese ontleding om tendense te identifiseer wat ons samelewing aandryf. Ons versamel ook baie politieke en beleidsinligting. Ons verenig die tendense met die beleidsinligting om ’n beskouing te ontwikkel oor wat in die land gebeur, waarom dit gebeur en wat volgende sal gebeur. Ons is daartoe in staat om 3, 6, 12, 24, 60, en 120 beskouings te toets oor wat om van Suid-Afrika te verwag. Indien ons ons werk behoorlik gedoen het, behoort jy te weet wat in die politiek van die land en die ekonomie sal verander, waarom dit sal verander, wat die implikasie van die verandering vir jou sal wees – en naastenby wanneer dié verwagte verandering sal plaasvind.

Ons weet almal hoe een faktor ’n impak op baie dinge het. Gestel ’n kollega verlaat ’n kantoor, of ’n nuwe klasmaat kom by in ’n skoolklas. Die hele dinamika verander. Dis baie simplisties gestel, maar so is dit sekerlik ook in ’n regering, of hoe? Maar is die land dalk te veel ingestel op Zuma en op hom as president? Of, as mens dink wat Hermann Giliomee onlangs in sy onderhoud met Willemien Brümmer gesê het: moet nooit vir Zuma onderskat nie. Wat is jou gevoel?

Hermann Giliomee is heeltemal reg om te waarsku dat Jacob Zuma nie onderskat moet word nie. Ons het onlangs sewe modelle vir kliënte saamgestel oor hoe die ANC se interne leierskapstryd sal ontwikkel. Zuma het in vyf van die modelle gewen. Hy is ’n uiters gesofistikeerde strateeg en ’n meedoënlose en bekwame opponent. Die media-indruk van Zuma as ’n ploeterende idioot is heeltemal verkeerd. Hy speel op ’n baie hoë vlak skaak en, soos sy vriend Vladimir Putin in Rusland, drink hy nie. Hy het Thabo Mbeki en die grootste deel van Suid-Afrika se sakegemeenskap uitoorlê. In sy dae as hoof van ANC-intelligensie het niemand wat teen Zuma ’n kans gewaag het, ooit gewen nie. Hy kan verslaan word en die kanse teen hom was nog nooit beter nie. Dat hy hoegenaamd onder die huidige druk oorleef, is bewys van sy strategiese vernuf. Ons adviseer kliënte steeds om strategieë te handhaaf vir ingeval die Zuma-kamp nog lank na die einde van die jaar oorleef.

Steeds betreffende die regering: jou boek skryf oor die belang van die regering, maar ook die belang van gemeenskappe, selfs waar die regering nie goeie besluite neem nie. Maar dis moeilik om vanuit mens se eie wêreldbeskouing ’n land te bedink waar die regering nie regeer en beskik oor infrastruktuur, opvoeding, ekonomie en so aan nie. Dink jy egter dis ’n soort oplossing: om te fokus op wat elke individu self kan doen, eerder as om na die regering te kyk vir leiding?

Jy beskryf nou die verbrokkeling-scenario uit die boek. Daar is ’n globale tendens waar nasionale regerings minder belangrik raak, soos ook nasionale grense. Brexit in Europa en die Trump-oorwinning in Amerika toon die mate waarin mense vertroue in gevestigde sentraleregeringsowerhede verloor het. Ons het dieselfde ding gesien met die verbrokkeling van dele van die Sowjetunie na die Koue Oorlog. Moderne kommunikasietegnologie versnel hierdie globale tendensfragmentering. Kubergeldeenhede sal dit selfs vinniger verhaas. Ons is besig om ’n wêreld te betree waar die dinge wat regerings gewoonlik gedoen het, deur individue en gemeenskappe oorgeneem word. Suid-Afrika is, weens sy politieke verdeeldhede en vermoë om tegnologiese vernuwing te absorbeer, aan die spits van hierdie tendens. Ons kan heeltemal voorsien dat Suid-Afrikaners hulle binne nog ’n dekade of wat in lewende enklawes sal bevind wat de facto-minilande is waar plaaslike gemeenskappe in toenemende mate beheer oor funksies sal uitoefen wat strek van onderwys, gesondheidsorg en sekuriteitsdienste tot vullisverwydering, kragvoorsiening en finansiële transaksies.

In hierdie land is daar jare lank geveg vir elke burger se demokratiese reg om te stem. En dis tog waarop ’n demokrasie berus, of hoe? Vryheid van ’n onafhanklike land, met die regering wat regeer omdat hy deur sy burgers aangewys is om dit te doen terwyl hulle voortgaan met hul alledaagse lewe en brood en botter. Of hoe sien jy ’n funksionerende demokrasie?

Wel, ons demokrasie funksioneer nie baie doeltreffend nie. Die aantal gewelddadige teenregeringsbetogings het oor ’n dekade verdubbel. Meer mense verkies om nie te stem nie as diegene wat vir die ANC stem. Ons het gesien dat vertroue in die regering sedert 2007 met die helfte verminder het. Korrupsie is aan die orde van die dag en die media, burgerlike samelewing en howe is nie so gesond en kragtig as wat baie Suid-Afrikaners verkies om te glo nie. Ons dink nie dit is vergesog dat Suid-Afrika in ’n meer outoritêre toekoms sal verval nie, waar burgerlike en politieke regte ondermyn, joernaliste geteister en aangehou, howe geïgnoreer, en die Grondwet, eiendomsregte en regsoewereiniteit grootliks van hul krag beroof sal word.

Dink jy dat soos wat nuwe beroepe ontstaan en vorige beroepe wegval of vervaag met nuwe tegnologiese uitvindings (telefoonhokkies versus selfone; slakpos versus e-pos, byvoorbeeld), nuwe regeringsmodelle in die toekoms wag? Ook in hierdie land?

Ons weet nie wat die beroepe van die toekoms sal wees nie, omdat die meeste van hierdie beroepe en bedrywe nog nie bedink is nie. Tegnologiese vernuwing, van robotte en nanotegnologie tot kommunikasievordering, kubergeldeenhede en kunsmatige intelligensie, kan die wêreld oor die volgende 20 jaar vinniger verander as wat dit oor die afgelope 100 jaar verander het. Selfbesturende motors kan binne ’n dekade algemeen wees op ons paaie. Vliegtuie wat self vlieg of wat deur androïedvlieëniers geloods word is reeds tegnologies moontlik, hoewel lugdienspassasiers dit nog nie genoeg vertrou vir die beheer van kommersiële straalvliegtuie nie. Ons is naby die punt waar jou selfoon jou sal kan vertel dat jy op die punt is om ’n hartaanval te kry en liewer moet sit – en dat dit reeds die paramedici ontbied het. Wanneer ’n mens na die pas van globale tegnologiese vordering kyk, is dit selfs meer onaanvaarbaar dat Suid-Afrika sulke swak onderwysresultate lewer, veral met betrekking tot wiskunde. Dit is net so waansinnig om Suid-Afrikaanse politici te sien kibbel oor wie die grond of die myne behoort te besit wanneer die toekoms van welvaartskepping lê by wat in mense se koppe aangaan.

Is dit herhalings van die geskiedenis? Die outydse denkstroom van die geskiedenis wat homself herhaal – is dit op hierdie land van toepassing?

In ’n sekere mate. Ons voer wel in die boek die argument aan dat alle vorige tydperke van baie swak ekonomiese groei tot beduidende politieke herskikkings aanleiding gegee het. Dit was waar vir die dekade na die Boereoorlog en die jare na die Tweede Wêreldoorlog. Aan die einde van die 1980’s was Suid-Afrikaners 20% armer as aan die begin van dié dekade en dit het bygedra tot die 1994 politieke oorgang. Ons gaan nou ’n tydvak tegemoet wat net so moeilik en gevaarlik is as dié van die 1980’s, en ek twyfel nie daaraan dat die volgende dekade nog ’n fundamentele politieke en ekonomiese herskikking vir Suid-Afrika sal meebring nie.

Vertel my hoe jy die ekonomie sien – en die toekoms daarvan?

Die korttermyn ekonomiese toekoms sal baie moeilik wees. Verwag lae groeivlakke met die voortdurende risiko van resessie. Verwag dat per capita-BBP-syfers sal daal en dat belasting wat geïn word, ’n onderverwesenliking van SAID-teikens sal wees. Die regering se geld sal opraak en hulle sal pensioenfondse probeer plunder of voorgeskrewe beleggings instel om kop bo water te hou. Bestedingsbesnoeiings sal nodig word, maar sal polities baie ongewild wees. Suid-Afrika is op die oomblik in groot ekonomiese gevaar.

Die ekonomiese toekoms op baie langer termyn kan baie beter wees indien die regering strukturele hervormings kan instel om baie hoër vlakke van kapitaal- en vaste belegging na die land te trek. Vastebeleggingvlakke staan tans op slegs 20% van BBP. Dit behoort nader aan 30% te wees. Maar Suid-Afrika sal nie sulke belegging trek indien die regeringsbeleid byvoorbeeld vyandig teenoor eiendomsregte bly, of onduidelik, soos in die huidige geval van mynbou nie.

Ons dink daar is ekonomiese hervormers in die regering. Heelparty hiervan is in die ANC en hulle besef dat steun vir hul party sal afneem namate per capita-BBP daal. Die vraag is egter nog of dié hervormers in die ANC se interne magstryd die oorhand kan kry – en ons sal nie voor die middel van 2019 ’n duidelike antwoord op dié vraag hê nie.

Wat van vryheid in die algemeen: vryheid van spraak, vryheid binne die media, vryheid om te stem en jou sê te sê? Hou dit alles met mekaar verband?

Party van my kollegas verskil daaroor, maar ek dink dat Suid-Afrika noodwendig ’n meer outoritêre samelewing sal word. Daar is opvallende nadelige aspekte daaraan verbonde, maar ook, soos ons in die boek verduidelik, een voordeel, omdat dit ’n toekomstige regering sal toelaat om die baie ongewilde strukturele ekonomiese hervormings (byvoorbeeld die deregulering van die arbeidsmark) af te dwing wat nodig sal wees om vlakke van plaaslike ekonomiese mededingendheid te verhoog en nuwe beleggingsinvloei te trek.

Ek weet dat dit in party dele van die regering en die ANC ’n gewilde sienswyse is. Ons skets ’n scenario daaromheen in wat ons die opkoms van die regsgesindes noem. Hier pas Suid-Afrika party van die lesse van die Asian Tiger-ekonomieë toe om baie hoë vlakke van ekonomiese groei en werkskepping teen die middel van die 2020’s te bereik. In daardie toekoms is Suid-Afrika ’n minder vrye samelewing, maar baie stabiel en sal hulle mettertyd redelik welgesteld raak.

Dink jy ons land se omstandighede is baie anders as baie ander ontwikkelende lande s’n, en is dit dalk nog te vroeg om nou al, enkele jare na demokrasie, ’n voorspelling van die toekoms te waag? Watter ander lande kan naastenby met iets van die Suid-Afrikaanse omstandighede vergelyk word en hoe het hul verlede en toekoms gelyk?

Ons is op die oomblik uniek omdat ons een van die ekonomieë met die stadigste groei in Afrika is, en een van die opkomende markte in die wêreld met die grootste ekonomiese onderprestasie. Ons arbeidsmarkabsorpsiekoers (die persentasie mense van werkende ouderdom wat werk) is net 40%, terwyl die meeste opkomende markte nader aan 70% staan. Tog is die lewenstandaard in Suid-Afrika, weens aggressiewe welvaartherverspreidingskemas en baie suksesvolle diensleweringspogings na 1994, baie hoër as wat dit in 1994 was. Dink net daaraan dat daar vir elke plakkershut wat na 1994 gebou is, 10 formele huise in die land gebou is.

Dié sonderlinge kombinasie van stygende lewenstandaard en baie lae vlakke van ekonomiese insluiting maak ons uniek en gee aanleiding tot die meeste van ons huidige politieke probleme.

Ons toon wel aan dat indien toekomstige regerings leer uit die historiese foute wat deur ander opkomende markte gemaak is en party van hul suksesse begin nadoen, Suid-Afrika ook groeikoerse kan bereik wat vergelyk met wat in die 1970’s en 1980’s in Suid-Korea behaal is of wat tans in Rwanda en Mauritius plaasvind.

Hier is die belangrikste vraag – sal jy waag om dit te beantwoord? Wat wag op ons in Suid-Afrika?

Die volgende 2–3 jaar sal inderdaad polities sowel as ekonomies baie moeilik wees. Daaraan moet geensins getwyfel word nie. ’n Mens sal baie goeie inligting nodig hê, sowel as die vermoë om jou keuses en die besluite wat jy moet neem, baie duidelik te verstaan ten einde veilig rondom die krisisse wat voorlê te navigeer. Teen die vroeë 2020’s raak dit egter moontlik dat Suid-Afrika hom met ’n reformistiese regering mag bevind wat baie hard probeer om die huidige ekonomiese en politieke skade te herstel en die land te herbou. Indien dit nie gebeur nie, is dit onvermydelik dat Suid-Afrika selfs dieper in ons verbrokkelingscenario inbeweeg. Dan sal ons ’n land van enklawes word wat deur middel van netwerke met mekaar en met die res van die wêreld verbind is. Skynbaar teen verwagtinge in sal jy dan, indien jy die enklaweverskynsel goed verstaan en jouself, jou besigheid en jou familie dienooreenkomstig posisioneer, goed genoeg verskans wees om ’n baie hoë lewenstandaard in ’n toekomstige Suid-Afrika te handhaaf.

  • 5

Kommentaar

  • Hanno Visagie

    Die Afrikaanse ekwivalent is 'n Tydreisigersgids na Suid-Afrika in 2030 - Hoekom word dit hierbo in die titel, illustrasie en onderhoud totaal ignoreer? Dis swak.

  • Hélène Lewis

    My intuïsie is dat die scenarios en opsies hierbo genoem hoogs waarskynlik is. In kort, dat die onmiddellike toekoms maar moeilik gaan wees, maar dat dit tog moontlik is dat dit in die 2020's dalk relatief beter kan gaan, al is ek daar dan juis danksy 'n meer outoritêre sisteem. Laasgenoemde is beter as chaos, veral as dit misdaad vasvat. Dis noodsaaklik dat mense veilig voel. Die alternatief van enklawes is 'n logiese moontlikheid indien meer stabiliteit nie bereik word nie. Wat my wel bekommer op die langtermyn is die meerderheid en letterlik miljoene kinders wat nou onder 12 is, en in hierdie huidige uiters disfunksionele omstandighede groot word. As hulle NIE van goeie skole en geestesversorging voorsien word spoedig nie, is ons probleme baie ver van gestabiliseer af. Selfs in die 2020's. Volgens my as psigo-historikus 'n uiters belangrike veranderlike wat gewoonlik misgekyk word!

  • Chris du Plessis

    Frans Cronje: "n reformistiese regering mag bevind wat baie hard probeer om die huidige ekonomiese en politieke skade te herstel en die land te herbou. Indien dit nie gebeur nie, is dit onvermydelik dat Suid-Afrika selfs dieper in ons verbrokkelingscenario inbeweeg. Dan sal ons ’n land van enklawes word wat deur middel van netwerke met mekaar en met die res van die wêreld verbind is. Skynbaar teen verwagtinge in sal jy dan, indien jy die enklaweverskynsel goed verstaan en jouself, jou besigheid en jou familie dienooreenkomstig posisioneer, goed genoeg verskans wees om ’n baie hoë lewenstandaard in ’n toekomstige Suid-Afrika te handhaaf."
    So hoekom is jy dan so gekant teen selfbeskikking vir Afrikaners? Hier sê jy dan self dan enklawe die antwoord is.

  • Die enigste faktor wat ons deur die drif sal dra is die vlakke van welwillendheid in ons gemeenskappe. Ons moet nie hierdie onbesonge dimensie ligtelik ignoreer nie.
    Myns insiens was ons in 'n soortgelyke situasie voor '94 en tsv die doemprofete het ons geseëvier. Dit kort net 'n paar katalisators om die proses te rig. Leierskap gaan van deurslaggewende belang wees. Destyds was dit Kodesa met Madiba en FW aan die spits. Dis weer tyd vir visioenêre leiers om op politieke, ekonomiese en sosiaal-maatskaplike gebiede rigting te gee. Goeie of slegte besluite gaan binnekort deurslaggewend wees vir ons toekoms. In 1948 het Cliff Gladwin gesê, "Cometh the hour cometh the man(woman)" Dis nou sulke tyd ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top