Tien vrae: Riette Rust oor Vlees en bloed

  • 2

 

Vlees en bloed
Riette Rust
LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799374995

Skrywers oor hul nuwe boeke: Riette Rust oor Vlees en bloed.

Riette, jou boek Vlees en bloed het onlangs verskyn. Dit klink lyflik en dit klink ook of dit iets met misdaad te doen het. Watter soort boek is dit hierdie?

Lees ook:
Bloedsusters (wat met ‘n waarskuwing kom, nogal!)

Dit is niefiksie wat oor misdaad handel, vandaar die woord bloed in die titel. Vlees sinspeel weer op die verwantskap tussen die twee (ware) susters wat misdaadtonele skoonmaak en oor wie die boek handel. Maar vlees verwys natuurlik ook na die liggame van oorledenes. Vlees en bloed handel egter oor soveel meer as net gruwelstories. Die susters maak ook opgaarders se huise skoon, red wat te redde is ná ’n brand of vloed en help onrustige siele wat vermoor is, maar wie se afsterwe aan selfdoding toegeskryf is, om na die Ander Kant oor te gaan. Daarby help hulle sulke sake oplos. Die twee gesels ook onder meer oor pedofiele wat hul pad kruis, die eienaardige seksspeelgoed wat hulle op tonele vind en oor hoe hulle stres hanteer. Kenners beantwoord vrae soos: Hoekom fassineer misdaad ons so? Wat loop verkeerd in sommige kinders se lewe dat hulle later misdadigers word? Watter gevare skuil in bloed? Hoe werk ophanging (body suspension, deel van BDSM) en hoekom doen mense dit? Waarin lê die prikkeling en ook die gevare van die outoërotiese speletjie waaraan veral tieners soms sterf? Hoekom wend soveel tieners hulle tot selfdoding? Wat kan gebeur as ’n getraumatiseerde nie behandeling vir posttraumatiese stres sou kry nie? Dis besonder interessant. Ons vertrou dat Vlees en bloed lewens sal help red. 

Op die boek se omslag word aangedui dat Eileen de Jager en Roelien Schutte deel was van hierdie skryfproses. Wie is hulle?

Hulle is die “bloedsusters” oor wie Vlees en bloed (en Bloedsusters, wat deur Ilse Salzwedel geskryf is en ook by LAPA Uitgewers verskyn het) handel. Dié twee besonderse vroue het hul lewe met my gedeel. Hulle lewer daagliks ’n belangrike diens – jy wil tog nie sélf jou ma, suster of kind se bloed en weefsel skoonmaak nie. Hul benadering is uiters professioneel. Dit het hulle jare geneem om in samewerking met kenners hul spesiale skoonmaakmiddels te ontwikkel. Daarby staan hulle skropborsel in die hand op hul knieë en is hulle net twee in elke span wat die werk doen. Crime Scene Clean-up, hul besigheid, het oor 16 jaar al 7 600 misdaadtonele skoongemaak en daar was nog nie een klagte nie. Die Bloedsusters werk so deeglik dat hulle soms selfs kaste uitbreek en afstandbeheerders oopbreek om by bloed en weefsel te kan uitkom. Maar Eileen en Roelien is allesbehalwe bullebakke. Hulle benader die gesinslede van slagoffers met empatie en versorg ook getraumatiseerde en honger diere op tonele. Die twee is besonder sensitief. Eileen is bang vir naalde en word flou wanneer haar man of een van haar seuns ’n snytjie opdoen, “want lopende bloed is lewe”. Roelien is weer bang vir spinnekoppe. Sy is knap met houtwerk en haal antieke motors tydens die skoonmaakproses uitmekaar. “Soms paap jy maar lekker as daar een skroefie oorbly en jy nie weet waar om hom te sit nie,” sê sy. Ja, hulle is nog snaaks ook. Roelien vertel byvoorbeeld van die dag toe sy van aangesig tot aangesig met leeus op ’n misdaadtoneel gekom het. “Jy weet, soos Sylvester Stallone bo-oor ’n kar se bonnet gly en dan so onderstebo by ’n kardeur inklim: dit was ék daardie!” sê sy. Die twee het ’n pragtige verhouding en leef hul Christenskap uit. Hulle sê openlik dat hulle nie die werk sonder die Here sou kon doen nie. Daarby doen hulle moeite om die mooi in die lewe raak te sien. Hulle glo dat 85 persent van die bevolking goed is en sê ons moenie toelaat dat die ander 15 persent ons van ons lewensvreugde beroof nie.

Vroue en bloed rym nie normaalweg nie, dalk soos vroue en spinnekoppe. Of hoe? Wat het hierdie twee vroue gemotiveer om hulle werk te kies, soos wat jy dit kon aflei?

Eileen stel dit só: “Die Vader wil hê ons moet mense help. Dis Hy wat ons stuur. Ons besef dat as ons nie daar was nie, duisende slagoffers van misdaad (wat dan self die skoonmaakwerk sou moes doen) deur nog erger trauma sou moes gaan.” Die susters sê jy kan dié werk doen net as jy daarvoor gebore is. Hulle raak nie flou of braak op tonele nie, maar hulle raak wel dikwels hartseer. Hul trane hou hulle vir die pad huis toe. Ander se dankbaarheid maak hul werk die moeite werd. “Die beste dankie is wanneer iemand jou actually in die oë kyk,” sê Eileen. “Daardie oomblik dat ons oë die getraumatiseerde s’n ontmoet, sien ons sommer tot binne-in daardie mens se siel net hóé dankbaar hy of sy werklik is.”

En hoe was dit vir jou as skrywer (en as vrou wat dalk ook nie so baie van bloed hou nie)?

Ek was ontsteld en ek hét enkele bloedbadnagmerries gekry, maar wanneer ek die groter prentjie – die motivering agter die susters se werk – in gedagte gehou het, kon ek aangaan. Ek het ook, soos hulle, doelbewus die mooi in die lewe gaan opsoek. Eileen en Roelien sê die nege maande waarin ek via Skype die onderhoude met hulle gevoer het, was vir hulle besonder terapeuties. En dit beteken vir my baie. In die geheel gesien was die skryf van Vlees en bloed ’n lewensveranderende ervaring. Ek het baie oor die menslike psige geleer. Daarby waardeer ek die lewe en my geliefdes nou soveel meer. Wanneer ek ’n probleem het, is dit nie wérklik meer een wanneer ek dit vergelyk met dit waarmee die susters daagliks gekonfronteer word nie. Dis ook asof ek die kosbaarheid van elke oomblik nou eers werklik besef. Dis tog nie die moeite werd om oor gister of oor môre bekommerd te wees nie. Gister is verby en jy kan nie met sekerheid sê dat jy môre nog hier sal wees nie. Daarom probeer ek op die nou fokus en die beste daarvan maak.

Eileen en Roelien doen baie belangrike werk in ’n land met soveel misdaad soos ons s’n. Noem asseblief een aspek van hul werk wat lesers sal interesseer, as dit nie te veel sal verklap van die boek nie.

Ek kan nie voorspel wat vir lesers interessant sal wees nie, maar ek hoor dat hulle die susters se humorsin geniet. Twee hoofstukke wat vir my die lekkerste was om te skryf, was dié oor bonatuurlike verskynsels en ook dié oor opgaarders. Daar is baie mense wat skepties is oor die psigiese – totdat hulle ons boek lees of dalk self so ’n ervaring het. Die Bloedusters wil beslis nie interaksie met dooies hê nie, maar as jy daagliks met die stryd tussen lewe en dood te doen het, is dit ’n gegewe. Dit was eweneens fassinerend om uit te vind dat opgaring ’n erkende sielkundige versteuring is wat onder ryk en arm voorkom. Sommige gaar kristaldiertjies op, ander gebruikte (!) toiletpapier. Ek skryf ook oor ’n vrou wat haar kind verloor het en toe aangehou het om klere en speelgoed volgens die ouderdom wat hy daardie jaar sou gewees het, te koop. Die inligting oor opgaringsversteuring het my mond laat oophang.

Jou boek Die AA tot OE van seks was sekerlik ‘n gans ander skryfervaring, of hoe? Tog was dit ook ’n navorsingsboek, ook niefiksie. Wat was vir jou anders en wat eenders as mens die skryfproses sou vergelyk?

Al twee boeke het geweldig baie navorsing geverg en tydens die skryf het ander hul ervaringe met my gedeel. Die AA tot OE van seks én Vlees en bloed het my ook dikwels laat lag. ’n Mens verstaan dit seker wanneer dit by seksspeelgoed en eienaardige seksposisies kom, maar misdaad? Humor is een van die maniere waarop die Bloedsusters ontlont en hulle kry dit reg om die snaakse kant van die lewe raak te sien. Soms span hulle galgehumor in. Maar met die misdaadboek het ek ’n emosionele band met Eileen en Roelien opgebou. En dit maak die ervaring uitsonderlik. Ek en die Bloedsusters het binne drie minute gekliek en hulle het my van dag een af met die inligting en met hul emosies vertrou. Dis ongelooflik hoe goed ons mekaar via Skype leer ken het. Toe ek hulle onlangs met ons eerste boekbekendstelling in Gauteng in die vlees (!) ontmoet, was ek glad nie teleurgesteld nie. Ons het mekaar opgedruk en heerlik saamgekuier. Ek het soveel respek vir hulle en daar’s nie ’n dag dat ek nie terugdink en van vooraf deur hulle geïnspireer word nie.

Waarom is hierdie boek belangrik en wie moet dit lees?

Die boek is belangrik omdat dit volgens die Bloedsusters sal help lewens red. Daar is baie raad in oor hoe om misdaad te voorkom. En dit begin by elkeen van ons. Tienerselfdood is ’n geweldige probleem in ons land en jy sal kan lees hoe om uit te kyk vir die tekens van tienerdepressie. Jy sal beslis ook meer gereeld met jou ouers in verbinding tree nadat jy die hoofstuk gelees het oor bejaardes wat alleen sterf. Vlees en bloed is nie vir sensitiewe lesers nie. Ek is gewoonlik ook een, maar as jy (soos ek) allesoorheersend nuuskierig is, is hierdie boek vir jou. Dis tog ook goed om in voeling met jou donker kant te bly. (Elkeen van ons hét een.) Die Switserse psigoanalis Carl Jung het juis gesê hoe meer ons die morbiede onderdruk, hoe meer wakker dit neuroses of psigoses aan.

Wil jy ook weer fiksie aandurf as jy weer iets skryf?

My kortverhaalbundel, ’n Lyf onthou (Protea, 2012), lê my besonder na aan die hart. Hoewel dit vir my nóg moeiliker is om fiksie as niefiksie te skryf, sal ek graag weer kortverhale en dalk ook ’n roman wil aandurf.

Wat lees jy op die oomblik, of waaraan skryf jy?

Ek lees op die oomblik ’n sielkundehandboek, A Student’s A-Z of Psychology deur V van Deventer en M Mojapelo-Batka, omdat die skryf van Vlees en bloed my geïnspireer het om weer sielkunde te studeer. Ek begin van vooraf en dié keer deur Unisa. Bloot vir die lekkerte. Ek skryf tans aan boek vyf, ook niefiksie, maar nie misdaad nie. Ek verkies om liewer niks verder te sê oor brood wat nog in die oond is nie.

 

  • 2

Kommentaar

  • Is daar enige boekbekendstelling hiervan binnekort in die Kaap Noordelike voorstede. Ek sal dit graag wil bywoon

  • Tania, ja. Ons beplan wel een. Besonderhede is net nog nie bekend nie. Hou gerus hierdie webwerf en Die Burger dop. Dankie vir jou belangstelling!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top