Tien vrae: Martin Steyn oor skuldig

  • 1

Skrywers oor hul nuwe boeke: Martin Steyn oor skuldig

Waarom het jy skuldig geskryf?

Wel, die idee, die beeld van ’n hand wat daardie sewe letters in bloed teen ’n muur skryf, was onweerstaanbaar!

Daar was veral twee (ander) dinge wat my aangetrek het. Die idee het net eendag in my kop ontkiem. Dit was nie soos die reeksmoordenaar in donker spoor wat ontstaan het omdat ek ’n regte moordenaar se storie gelees het en sy persoonlikheid en sielkunde fassinerend gevind het nie.

Die moordenaar in skuldig is ook heeltemal anders as die reeksmoordenaars wat my so interesseer. Hy is ’n huurmoordenaar. Waar reeksmoordenaars vir hulle eie plesier moor, maak hy dood om iemand anders tevrede te stel. Soos reeksmoordenaars voer hy ook ’n ritueel met die slagoffers uit, maar dit kom nie van hom af nie. Hy doen dit namens iemand anders.

Die storie vra ook ’n interessante vraag, maar dis iets wat self ontdek moet word.

Was dit nie bitter moeilik om, ná die baie goeie ontvangs van jou debuut, donker spoor, ’n volgende spanningsroman aan te durf nie?

Glad nie! Want skuldig se manuskrip was reeds geskryf voor ek donker spoor aan LAPA voorgelê het. Daar was net ’n paar “oop” gedeeltes waarvoor ek nog navorsing moes gaan doen. Met dié dat donker spoor ’n paar keer tydens sy evolusie afgekeur is, het ek solank aan my nuwe idee begin skryf en ná die derde keurverslag het ek eers skuldig klaargemaak. Daarna het ek weer aan donker spoor gewerk, dit hierdie keer aan LAPA gepos en uiteindelik ’n ja-briefie gekry.

Natuurlik wonder mens hoe die tweede boek ontvang sal word, veral omdat ou Mags van donker spoor nie weer ’n hoofkarakter is nie. En die tweede boek is natuurlik belangrik, want dit moet bewys dat die eerste een nie net ’n vloekskoot was nie. Mens wil ook nie die lesers wat bereid was om ’n kans op jou debuut te waag, teleurstel met die opvolg nie.

Het jy op enige plek in die manuskrip ’n dooie punt bereik en wat het veroorsaak dat jy dit kon oorkom?

Nee. skuldig was ’n maklike geboorte. Dit was ’n idee wat baie mooi gevorm na my toe gekom het, titel en alles. Dis nie hoe dit gewoonlik gaan nie. Gewoonlik het ek maar ’n vae idee van wat gaan gebeur en dit raak helderder hoe verder ek skryf. Met skuldig het ek van die begin af geweet waaroor alles gaan, hoe die storielyn min of meer gaan loop, en dit was ook een van die min stories waar die einde gebeur het soos ek dit aan die begin gesien het. Natuurlik was daar nog steeds die lekker om al die besonderhede in te kleur.

Wat was vir jou die belangrikste: plot, karakter, ruimte, atmosfeer of tema?

Ek dink nie so aan ’n storie terwyl ek dit skryf nie. Ek laat dit net kom. Hoe minder ek bewustelik inmeng, hoe meer natuurlik en “reg” voel dit. Ek is wel bewus van karakterisering, veral wat die belangrike karakters betref, want dit was altyd ’n area van kritiek in my skryfwerk. So dit is iets waarna ek oplet. En navorsing is vir my baie belangrik, want ek mik altyd vir realisme.

Het jy, nadat die manuskrip aanvaar is, in alle opsigte na jou redigeerder geluister?

Omtrent. Ek is gelukkig en bevoorreg dat Chanette Paul ná aanvaarding deur my manuskripte lees en sy sien altyd belangrike (en interessante) dinge raak. Wat vir my veral waardevol is, is haar kommentaar op die verhoudings tussen die karakters. Sy het byvoorbeeld gevoel dat Menck se verhouding met sy dogter net reg is, maar dié met sy seun te veel afgeskeep word. Chanette se verslag is vir my baie belangrik, want dit help my om die manuskrip nader aan sy volle potensiaal te kry.

Hierna volg die teksredigering, wat deur Jeanette Ferreira gedoen word. Soms, veral in dialoog, voel die veranderinge nie reg vir daardie karakter nie, en dan probeer ek ’n alternatief kry wat ons albei gelukkig sal maak. Maar Jeanette is baie goed.

In wie se kop boer jy terwyl jy die boek skryf? Of sit jy daar van bo af, as marionettemeester, en afkyk op die hele petalje?

Oorspronklik het ek daar bo gesit, en ek dink dit was een van die redes hoekom my karakters nie heeltemal geleef het nie. Toe ek die skryfkursus by die South African Writers’ College gedoen het, was een van die eerste opmerkings van Wilna Adriaanse: Wie is die perspektiefkarakter? Vertel die storie deur sy oë. Dis waar donker spoor verander het van ’n storie oor ’n polisieondersoek om ’n reeksmoordenaar te vang na Mags se storie. En skuldig is weer Colin Menck se storie: hy het nie dieselfde donker persoonlike worsteling soos ou Mags gehad het nie, maar hy het nogtans sy uitdagings, en elke toneel in die boek word deur hom beleef. Nogtans moet jy as skrywer ook weet wat in die ander karakters se lewens aangaan, ook dit waarvan Menck nie bewus is nie. Maar ek verkies om nie meer te hoog op te styg nie; ek het ontdek jy sien en hoor die lekker interessante dele van karakters wanneer jy daar by hulle is.

Wat was vir jou die grootste uitdaging spesifiek van skuldig, en watter aspek van die skryf van hierdie boek die lekkerste?

Wel, aangesien ek in daardie stadium nog steeds probeer het om ’n manuskrip gepubliseer te kry, was dít nog steeds die standaarduitdaging. En om die karakterisering reg te kry. Ek kan nie enige spesifieke dramas onthou nie; skuldig het meestal redelik maklik gekom. Ek het selfs ’n hoofstuk of wat met die hand in Sedgefield geskryf, sonder my gebruiklike toegang tot boeke, navorsing en die internet – of die res van die manuskrip.

Dis moeilik om gunstelinge te kies, maar as ek moet ... Daar is ’n punt in die storie waar die spanning lekker opbou en nie weer laat los nie. Ek is baie ingenome daarmee, want dis die eerste keer wat ek voel ek dit reggekry het.

Die ander groot lekker is die verhouding tussen Menck en sy vrou, Kathy. Gelukkige huwelike is mos maar skaars in misdaadfiksie en ek geniet hulle interaksie baie. Dis ook altyd lekker as hulle dogtertjie, Casey, by ’n toneel inloop, want sy skryf haarself, absoluut moeiteloos. Ek het egter so ’n nare spesmaas ek en Menck moet hierdie tyd met haar geniet, want as die tienerjare eers aanbreek, gaan ons al ons dae hê.

Wat maak jy direk nadat jou manuskrip voltooi is? Neem jy darem eers ’n blaaskans, of is jy dadelik weer aan die skryf?

As ek die laaste woord van die eerste konsep tik, glimlag ek hopelik (anders is daar groot fout). Dan gaan ek weer deur die laaste hoofstuk, skaaf waar nodig is. As ek tevrede is, begin ek by hoofstuk een en werk van voor af deur die hele manuskrip.

Die volgende stap is om die manuskrip ’n paar weke lank te laat lê. En solank met die volgende een te begin. Wat presies “begin” behels, hang van die storie af. Ek kan aan die eerste toneel van die eerste hoofstuk begin skryf. Ek kan begin met leeswerk vir navorsing. Ek kan die moordenaar se persoonlikheid en agtergrond uitwerk. Ek kan die slagoffers en viktimologie uitwerk. Of ek kan met my kaart van die Skiereiland gaan sit en dump sites soek ...

Skryf voel nie vir my soos werk nie, so daar is nie regtig ’n rede om ’n “blaaskans” te vat nie. Buitendien, om met ’n splinternuwe storie te begin, is een van die opwindendste oomblikke van skryf!

Skryf jy vroeg in die oggend, laat in die nag, of sommer maar net die hele tyd?

Daar word slegs in uitsonderlike gevalle vroeg in die oggend geskryf. Laat in die nag, daarenteen, is baie waarskynlik. Maar ek het nie vasgestelde ure nie. Dit hang af wat daardie dag gedoen moet word. Dit hang ook af wat in die storie aangaan, want soms moet ek eers iewers gaan uitvind wat in hierdie spesifieke omstandighede sal gebeur. En soms is die volgende deel van die storie net nog nie reg om te kom nie.

Die meeste skrywers sou baie graag die luukse wou beleef om net te kan skryf sonder ’n ander vaste inkomste. Hoe hou jy die pot aan die kook?

Ek gaan skep uit die ouerpot – daar is altyd iets lekkers in. 😉

http://blogs.litnet.co.za/izak/2014/08/20/donker-spoor-op-dekatv/
  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top