Foto-onderhoud: Keina Swart oor Koms van die biblioteekbus

  • 3

Koms van die biblioteekbus en ander stories
Keina Swart
Naledi
ISBN: 9780928316377

Naomi Meyer vra Keina Swart uit oor Keina se bundel Koms van die biblioteekbus.

Waar het jy grootgeword en hoe gereeld het die biblioteekbus sy opwagting gemaak?

Ek het in die Limpopo-vallei naby die Pont Drift-grenspos tussen Suid-Afrika en Botswana grootgeword. Daar waar die Mapungubwe Nasionale Park vandag is. My pa het met katoen en tabak geboer en my ma het ’n plaaswinkel bedryf - een van daardie regte outydse winkels wat alles verkoop het van meel, trekkerbande en diesel tot atjar, niekerbôls, oorbelle, fopspene, rolle materiaal, pruike en selfs ’n kitaar of twee.

In die een hoek het Anna Mashete op haar swart naaimasjien klere vir ons vier kinders gestik. In die ander hoek was die kas met die biblioteekboeke. Die regering se mobiele biblioteek het so een maal per maand sy rondtes gedoen en nuwe boeke gebring, wat die omliggende mense dan by my ma se winkel kom uitneem het. Dit was die hoogtepunt van my lewe — die koms van die biblioteekbus.

Die uittreksel waarna ek in vraag een verwys is ’n verlangende onthouflits. Vertel ons nog iets anders van daardie tyd; vertel ons van die omgewing waarvandaan die stories in die biblioteekbus jou weggeneem het?

Ek het nie wortels nie. Daarvoor het die treklorrie te veel kere voor ons huis gestaan. Ek is op ses koshuis toe en daarna het ons gesin verskeie kere verhuis. Ek was in een jaar in drie verskillende skole. Dit is nie lekker om in die middel van die termyn na ’n nuwe skool te gaan nie. Naderhand kom jy agter die veiligste plek is in jou eie kop. Jy leer om te luister en te kyk wat die ander doen, want dit is veiliger as om iets te doen of te sê. Jy word die biblioteektannie op elke dorp se beste vriend en lees in boeke van plekke waar dit Kersfees sneeu of van diere soos koalabere en Bengaalse tiere en besluit jy wil ook eendag soontoe gaan. Ek het “selektiewe geheue” oor die slegte plekke waar ek as kind was — en daar wás ’n paar. Ek onthou dit, maar net kortstondig. As mense my vra waar ek vandaan kom, kies ek die twee plekke waarvan ek die meeste gehou het: die lieflike dubbelverdieping grasdakhuis op die walle van die Limpopo en die armsalige kartonhuis in die voormalige tuisland Gazankulu. 

Keina Swart

Jy is joernalis, maar ook 'n reisskrywer. Bevat hierdie boek van jou rubrieke uit jou pen, of ook nuwe verhale?

Die meeste van die verhale in die bundel het as rubrieke in Die Burger verskyn. Daar is ook ander wat oorspronklik in ander publikasies verskyn het, en dan is daar ’n paar nuwes. Uit die nuwes is die een wat die meeste reaksie uitlok “Die reuk van Vicks”. Dit is eintlik ook ’n reisstorie — ’n kopreis-storie.

AB de Villiers, “Die skoolseun teen die baksteenmuur” - bladsy 110

Watter stories trek jou aan: om te lees, en om te skryf?

Ek bou graag boektorings voor my bed en eers as die toring soos Jerigo se mure maak, gaan pak ek van die boeke in die boekrak. Die toring bestaan uit kinderboeke, jeugboeke, grootmensboeke, woordeboeke, digbundels en tydskrifte. Tans lê Johan Bakkes se Openbaring heel bo-op die toring. Wat my eie skryfwerk betref, is kinderboek skryf vir my die maklikste, jeugboek skryf die moeilikste, joernalistiek die hardste (en ondankbaarste) werk en rubrieke skryf die lekkerste. 

Jou kinders lees ook graag – of hoe? Maar dink jy vandag se kinders sal ewe verruk wees deur ‘n biblioteekbus as wat jy was?

Ons dorp het nie ’n biblioteek nie. Die dorpsbiblioteek het elf jaar gelede afgebrand en hoewel al die boeke gered kon word, dink die munisipaliteit blykbaar nie dis belangrik om weer ’n biblioteek te hê nie. Ek wil in my hande huil daaroor. Hoewel my kinders ook e-lesers het, hou hulle — nes ek — van die reuk van boeke. Boekwinkels maak hulle opgewonde. Nes die biblioteekbus my destyds  opgewonde gemaak het.

“In juffrou Santie se stoorkamer”, bladsy 31

Praktiese vraag: waar het daardie biblioteekbus van jou kinderdae rondgery. (En bestaan daar nog enige plek in hierdie land werklik sulke busse, weet jy?)

Die regering het destyds ’n mobiele biblioteekbusdiens vir afgeleë plekke gebied. “Ons” bus het sy voorraad in die destydse Pietersburg gekry. Die biblioteekbus het altyd op Vrydae op ons plaas aangekom en die bustannie het dan by ons middagete geëet. Iewers in die gesprek met my ouers sou sy noem dat sy vroeër die dag ook op Waterpoort, ’n piepklein dorpie so ’n paar uur se ry van ons af, was.

Ek het anderdag op die N4-snelweg tussen Pretoria en Witbank gery, toe my oog ’n verbete klein lorrietjie (ek kan dit niks anders noem nie) in die linkerbaan vang. Agterop het daar “Mobile Library” gestaan. Ek het ’n verkeersknoop veroorsaak soos ek rem getrap en my selfoon probeer uithaal het om ’n foto te neem. Ek het tot langs die bestuurder gery en probeer kyk wie dit is en of ek boeke kan sien, maar helaas. Die trokkie was weg voordat ek enige bewyse kon kry. Miskien het ek dit gedroom. Maar dan weer, ek hét dit tog gesien?

 “Die dag as ’n dorp doodgaan, waai al die stories weg.” Wanneer gaan ’n dorp dood?

’n Dorp gaan dood wanneer die lewe te swaar word en die kinders nie meer wil terugkom huis toe nie. En soms gaan ’n dorp ook dood wanneer biblioteke afbrand en dit niemand skeel nie.

"Wanneer ’n dorp doodgaan", bladsy 22

Vertel ons hoe jy as joernalis dit regkry om tyd te kry vir niejoernalistiek-skryf ook? Is jy besig met ’n ander kreatiewe skryfprojek?

Ek wens ek was van daardie mense wat met min slaap kon klaarkom. Ek droom soms oor alles wat ek sou vermag as ek net vier ure slaap per nag nodig gehad het. My day job by Die Pos, die plaaslike koerant vir die Waterberg-streek, hou my baie besig. Ek doen so nou en dan vryskutwerk vir ander publikasies, maar nie meer so baie soos voorheen nie. Deesdae hou ek my besig met die interessantste navorsingswerk van my lewe. Ek is die produk van immigrante-grootouers uit Nederland en ek het op dagboeke afgekom wat my oupa en ouma in die 1930’s en ‘40’s geskryf het. Hulle storie was ’n liefdesverhaal wat ’n mens se hart breek. Ek het uit dié dagboeke geleer dat ouers 80 jaar gelede dieselfde drome en vrese oor hul kinders gehad het as wat ons vandag het. En dat mense oor dieselfde dinge gelag en gehuil het. En dat oorlog vernietigend is. My navorsing het my al Nederland toe geneem, diep in die Soutpansberg en na verlate murasies in die ou Noord-Transvaal. Ek werk pakke dokumente, fotoalbums en ander geskrifte deur. Ek skryf dié stories op, maar dit sal nie vir publikasie wees nie; dis net vir in die hart bêre vir die nageslag.   

Vertel ons van jou gunstelingstorie in hierdie bundel.

Miskien die een oor die wind wat kinders se drome uit hul tekenboeke gryp, dit by die skoolgrond uitwaai en langs verlate voetpaadjies neerfrommel (Daar’s ’n under conda in die gras, p 82).

Limpopo is inderdaad die vergete provinsie. Hierdie storie is die hartverskeurende verhaal van my provinsie se kinders.

“Die stomme Alexander”, bladsy 116

Waarheen reis jy graag, en hoekom?

Ek reis graag na plekke met onuitspreekbare name en min ander mense, en wat slegs per grondpad bereikbaar is. Namibië het my nog nooit teleurgestel nie.

Foto's deur Keina Swart voorsien

  • 3

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Biblioteke brand nie vanself af nie. Ek dink nie ons besef hoeveel skade die biblioteekwêreld tydens "die bevrydingstryd" en sedert ons veelgeprese "vrywording" in 1990/1994 gely het nie. Diegene wat nou die plaaslike besture beheer, verkies meesal om openbare geld eerder aan ander dinge as biblioteke te bestee. Groot ondoeltreffendheid het weens nie-meriete aanstellings in die provinsiale biblioteekdienste en in ander biblioteke ingetree. Daar is gerugte dat Afrikaanse boeke op groot skaal uit versamelings verwyder en verkwansel of vernietig word. Die biblioteekbusverskynsel was 'n gewaardeerde diens in die tweede helfte van die vorige eeu, maar wat daarvan oorgebly het, is waarskynlik min. Daar is nog oudbibliotekarisse met eerstehandse ondervinding van die goue biblioteekera wat gerus hulle herinneringe kan dokumenteer, bv op LitNet. Nederlanders en Duitsers het 'n groot rol in die vestiging van professionele biblioteekdiens in Suid-Afrika gespeel. Hulle en die ander pioniers ontvang nie genoeg erkenning nie. Die hele waardestelsel in Suid-Afrika het verander (om dit omsigtigheidshalwe baie sag te stel).

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top