Tien vrae: Herman Lategan oor Binnekring van spookasems

  • 1

 

Skrywers oor hul nuwe boeke: Herman Lategan oor Binnekring van spookasems.

Waarom het jy Binnekring van spookasems geskryf – en was daar een idee/emosie waaruit die boek ontspring het, of kan jy verskillende faktore as inspirasie noem?

Binnekring van spookasems is ’n versameling van my Rapport-rubrieke, “Woorde wat wip”, en van my artikels wat in BY, Rapport Weekliks en selfs Vrouekeur verskyn het. (Moet Vrouekeur nie onderskat nie – Willie Burger het onder andere ’n wonderlike literêre rubriek daarin.)

Daar is ook nuwe stories. Van die rubrieke is fiksie, ander is “faction” (fact and fiction), en ander is weer net op feite gebaseer.

Die artikels is uiteraard net feite – baie van hulle is outobiografies, maar hulle is meestal kreatiewe niefiksie (of “narrative journalism”, soos die Engelse sê). Ag hete tog, hoe vervelig klink dit nou, al hierdie leë beskrywings.

Die artikels wissel van my herinneringe aan my jaar wat ek in ’n kinderhuis spandeer het, geheuebeelde oor digters met wie ek in my jeug bevriend was, soos Sheila Cussons en Ina Rousseau, onderhoude, en stories oor randfigure wat in my lewe figureer hier waar ek in Seepunt woon.

“Woorde wat wip” het ontstaan nadat Pieter Malan, redakteur van Rapport Weekliks my genader het om ’n rubriek vir hulle te skryf waarin ek een woord ’n week kies, verkieslik iets ongewoons, en dan iets daaroor skryf. Ek kon skep wat ek wou.

Dit is dus hoe die boek of bundel ontstaan het. Ek het begin deur taamlik esoteriese goed te skryf rondom die woorde – hartseer goed – die Here alleen weet hoekom ek so van die mineurtoon in die lewe hou. Ek het agtergekom dat die deursnee-leser nie eintlik hou van magiese realisme of sprokiesagtige stories nie. Miskien te esoteries. Toe speel ek rond met verskillende tegnieke, en probeer elke week iets anders doen, iets wat die woord van die week sal laat lewe.

Dis tog die hele idee: dit gaan oor die woord (nie Die Bybel nie, asseblief) wat ek gewoonlik daardie week iewers gehoor het, of self opsoek in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Ons wou nie net een woord gooi op ’n stuk papier en dan die betekenis uit die woordeboek daar sit nie, dit moes darem tot ’n mate meer prikkelend wees.

Wat was die moeilikste aspek van die skryfproses van hierdie boek, en hoekom?

Dit is moeilik om elke week iets te skryf wat almal gaan tevrede stel. Dit is onmoontlik, en Afrikaanse lesers, veral van koerante, kan geweldig krities wees. Daar is maar min begrip van hoe baie werk daar in ’n skamele 500 woorde kan ingaan.

Nee, baie mense dink sommer dit val so uit die lug uit. Soms kry ek ook die gevoel dat sommige lesers nie eintlik baie uitgedaag wil word nie – hulle is heel gelukkig met woorde wat soos muurpapier in die agtergrond figureer. “Dis Saterdag/Sondag – hou dit maar eenvoudig. Ons is moeg, wil nie konsentreer nie.”

Ek vermoed TV en die internet het iets daarmee te doen. Wel, nou sê ek basta daarmee. Ek skryf wat ek wil, anders gaan dit my mal maak. En as dit heeltemal ongewild raak, sal ek iewers op die platteland in ’n sweterige ouetehuis loop werk waar ek die bejaardes se boude met babapoeier kan besprinkel.

Het jy op enige plek in die manuskrip ’n dooie punt bereik en indien wel, wat het veroorsaak dat jy dit kon oorkom?

Ja, ek bereik ’n dooie punt elke dag van my lewe. Ek wil elke dag tou opgooi en weghol, my laptop in die see loop gooi, geboue afbrand, kaalgat deur die kerke hardloop, op mense vloek en skel, die polisie bel sodat hulle my kan opsluit en die sleutel weggooi. Elke dag. Skryf is ’n nagmerrie. Daarom suip ek soos ’n sekswerker wat ’n rol note opgetel het.

Wat was vir jou die belangrikste: plot, karakter, ruimte, atmosfeer of tema? (Of iets anders – en, indien wel, wat?)

Die belangrikste is om met so min woorde as moontlik ’n groot storie te vertel. ’n Verhaal, artikel, teater of rubriek wat jou na plekke in jou kop neem wat jou gaan uit-freak en lank bybly.

Het jy, nadat die manuskrip aanvaar is, in alle opsigte na jou redigeerder geluister?

Ja, natuurlik, ’n mens moet die knie buig voor die mense wat aan jou werk skaaf.

Skrywers het nie ’n pensioen nie, boeke maak meestal nie ryk nie. Waarom skryf jy?

Ek vermoed omdat ek ’n doodverlange het, ’n death wish, en dit ’n lieflike manier is om stadig selfmoord te pleeg. Want kyk, die wêreld is te vol walgworsies, oorloë en siektes. The human race has overstayed its welcome here in this universe. Hoe gouer ’n komeet of wat ’n mens ook al die goed noem teen die aarde bots en die hele klomp van ons uitwis, hoe beter. Want die God weet, so kan dit nie aangaan nie!

Werk jy reeds weer aan ’n volgende manuskrip?

Ja, ek het aan ’n roman begin, maar nou is ek geïnspireer deur wat ek op Aardklop op die verhoë gesien het, en nou wil ek eers gaan sit en ’n play skryf. Iets verskiklik hartseer wat die gehoor heeltemal in ’n chroniese en kliniese depressie sal stoot, sodat ek kan sê: “Welkom in my wêreld!”

Wie is jou skryfhelde (plaaslik en Afrikaans, maar ook internasionaal)?

Sonja Loots, Darrel Bristow-Bovey, Damon Galgut, Henry Cloete, Francois Smith, Anastasia de Vries, Nathan Trantraal, Rachelle Greeff (toneel), Athol Fugard, Sandile Dikeni, Kerneels Breytenbach, Paul Slabolepszy (toneel), Christiaan Olwagen (toneel), Dana Snyman (toneel), Saartjie Botha (toneel) ... man, daar is te veel om op te noem; ek voel nou sleg om baie ander goeies uit te laat. Om nie eens van die klomp oorsee te praat nie. Daai’s ’n lys so dik soos die Geelbladsye. Sorrie.

Volg jy Poolshoogte? Wat sien jý, vanuit jou uitsig oor die Afrikaanse letterkunde, as jy terugkyk?

Ja, ek dink Poolshoogte se bydraers doen puik werk. Máár, ek dink nie te veel mense moet te veel oor die letterkunde práát nie; mense moet skrýf: boeke, teater, liedjies, rubrieke ... Daar’s te veel geraas daar buite. Maar dit gesê, ek geniet die bydraes op LitNet geweldig.

As jy omdraai en jy kyk vorentoe, hoe lyk die landskap nou?

Wat Afrikaans betref, kook dit. Alles. Wat ek by Aardklop gesien het, was mind-blowing. Dit was teater, opera, boeke, jongmense sonder politieke bagasie. Dônner, hulle praat ’n mooi, sexy Afrikaans. Ek voel skoon soos ’n pa wat wil sê: Kwit, kom hier lat ek jul hande skud, Pappa is trots op julle. Maar nou klink dit so corny.

En dis nie net by Aardklop en die feeste waar die taal en sy mense kook nie. Kyk na al die flieks. En die bands wat sing soos digters. Nee, ek het besluit om my selfmoordplanne vir eers te laat staan. (Ek is ernstig!)

Daar’s nog te veel om te ervaar ...  

  • Herman praat Saterdag 18 Oktober om 11 vm met die skrywer Sonja Loots by die Protea Boekwinkel in Stellenbosch, en Dinsdag 21 Oktober om 6 nm met die regskenner Pierre de Vos by The Book Lounge in Kaapstad.

Só lyk Herman Lategan se werkspasie:

 

Groenpunt: Hierdie kat proeflees alles wat ek skryf (ook nie baie goed nie!), sy naam is Bingo. Maar dis fyn pikkewyn, ek vergewe hom. Ek werk al vir amper drie dekades op daardie einste tafel, aan en af. Voor Bingo was daar ander katte wat my geselskap gehou het, soos Mabel, 'n wonderlike kat, wat nou in die tuin net buite die venster begrawe lê, oorle van die ouderdom, arme ding. Terloops, Damon Galgut woon al vir jare net oorkant die pad. As ek soms opstaan om bene te rek en buite gaan staan, sien ek hom gereeld met sy stil gesig verbysweef.

 

Seepunt: As dinge te wild raak, soms te luid (lang storie vir 'n ander dag), dan werk ek ook uit 'n vakansiewoonstel van 'n vriend se vriende in Seepunt. Hulle is nooit daar nie, dan is dit stil, ek is gelukkig om 'n ander tipe uitsig te hê, een van Seepunt in die agtergrond. Wens ek was ook ryk ... nie net my voete nie.

 

  • 1

Kommentaar

  • Ansie Leicester

    Beste Herman
    'n Paar maande gelede het jy die mooi storie in die Rapport Weekliks geskryf van die Carl Buchner skildery wat jy by hom gekry het en wat helaas weggeraak het.

    Ek het 'n uitknipsel gemaak, maar helaas dit het ook weggeraak! Hoe op deeske aarde gaan ek weer 'n kopie bekom? Ek is werksaam by Pretoria Kunskamer en is bekend met Carl Buchner se werk.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top