Tien vrae: Anneli Groenewald oor Die skaalmodel

  • 2

Skrywers oor hul nuwe boeke. Anneli Groenewald gesels oor Die skaalmodel.

Hallo, Anneli. Toe ek laas met jou gesels het, het Die skaalmodel nog nie verskyn nie. Sedert die verskyning wonder ek of jy as skrywer steeds met jou karakter se oortuiginge saamstem: stel mense nog belang om iets te lees wat ‘n uitdaging stel?

Ek weet nie of ek ooit met my karakter saamgestem het nie. Ek dink sy veralgemeen. Natuurlik is daar nog lesers wat 'n uitdaging geniet. Dit sou egter wel interessant wees indien iemand 'n empiriese studie kon doen waarin ons kan sien watter persentasie van lesers die wêreld oor, en in Suid-Afrika spesifiek, uitdagings soek, en watter persentasie slegs vermaak wil word. En hoe dit oor, byvoorbeeld, die laaste vyftig jaar verander het (opgesom in 'n lyngrafiek).

Jou boek handel oor die belang van bewaring. Wat het, volgens jou, ewigheidswaarde, indien enigiets?

Dit hang seker maar af van die persoon wat die ewigheidswaarde soek, of ewigheid probeer definieer. Alles is maar aards en sal mettertyd wegkalwer. Die oudste gebou, die laaste verhaal, die skerpste herinnering.

Die museum as ruimte is in hierdie land ‘n vuurwarm gespreksonderwerp, soos in jou roman. Bewaar ons nie dikwels items wat net vir een groep van die land iets beteken nie? Of wat beteken ‘n museum met sy inhoud vir almal?

Elke museum gee insig en konteks oor die gees waarin hy ontstaan het, en oor die mense wat hom tot stand gebring het. Miskien is die knelpunt nie dat dit net vir een groep iets beteken, of dat net een groep hulself met ‘n bepaalde museum assosieer nie, maar eerder juis dat dit vir verskillende groepe verskillende betekenisse inhou wat moeilik versoenbaar is.

Die versamelstukke waarna in jou roman verwys word, interesseer my. Koerantberigte word betrek, maar ook e-posse. Is e-posse vir altyd?

Dit sou seker kon wees, ja. Maar 'n e-pos loop die gevaar om dieselfde oor te kom as 'n digitale foto – dit word deel van 'n onbeperkte massa wat weinig weer herbesoek word. En watter nut het sulke e-posse indien hulle nie herbesoek word nie?

Joan Hambidge skryf ook in haar Rapport-resensie dat jou boek komponente van die metaroman bevat. Hoe het jou storie gegroei? Was die romanskrywer altyd aanwesig – as karakter – of het sy eers daarbuite gestaan?

‘n Storie leef seker maar net solank as wat hy relevant bly vir lesers. Met betrekking tot die romanskrywer in Die skaalmodel: Sy het 'n baie klein en toevallige kameerolletjie. Ek sou nie sê dat sy juis 'n belangrike karakter is nie. Die storie sou maklik sonder haar kon klaarkom.

Dink jy die skrywer van enige moderne roman kan dit regkry om, in hierdie tyd van die sosiale media en almal se aanhoudende selfies en voor-die-lens-inspring, nog ‘n storie van buite te beskou en te vertel? Anders gestel: Sal die moderne leser – net so deur die sosiale media beïnvloed soos die skrywer - dit nie as baie outyds ervaar as die skrywer nie in die pad van die lens staan nie?

Ek dink nie ‘n storie, of ‘n leser, vereis of verwag noodwendig ‘n teenwoordige skrywer nie. ‘n Storie speel noodwendig op ‘n bepaalde plek af, in ‘n bepaalde tyd en met bepaalde karakters. Soos wat die skrywer van hierdie elemente byvoeg of weglaat, word die storie gevorm, ontwikkel die storie ‘n eiesoortige aard. Daar is verhale waarin die skrywer bloot nie sou hoort nie. Ek dink lesers besef dat wanneer hulle ‘n boek lees, hulle genooi word om te kyk na wat die skrywer wou invoeg of weglaat, en hoe dit die storie vorm.

Besoek jy graag museums en, indien wel, wat is jou gunstelingmuseum?

Dis nie 'n bewustelike stokperdjie nie. Indien die geleentheid hom voordoen, sal ek egter nie nee sê nie. Maar museums is natuurlik net deel van 'n groter prentjie. 'n Mens kan natuurlik ook kerke en katedrale besoek, wat tog ook op 'n manier oor eeue heen uitbeeld hoe 'n bepaalde geloof byvoorbeeld in 'n bepaalde kultuur bewaar is. Huismuseums. As 'n mens 'n bietjie buite die konvensionele raamwerk van museums dink, is elke straat of winkel of kafee of leefruimte 'n museum in die kleine: 'n Aanduiding van hoe en wat die huidige samelewing kies om te bewaar al dan nie.

Daar is ‘n paar museums wat by my vassteek. Om verskillende redes. Westminster Abdy in Londen is byvoorbeeld in teorie ‘n museum vir die dooies. Fassinerend.

‘n Persoonlike gunsteling is Kolmanskop. Daar word terselfdertyd bewaar, maar ook toegelaat dat verweer sy gang gaan. Die besoeker kan nie ontsnap van die son en die versengende hitte nie. Kan nie wegkom van die woestyn nie. Dit is deel van die ervaring.

Watter aspekte van jou joernalistieke werk het jou inspireer ten tyde van die skryf van die roman?

Ek weet nie van inspirasie nie. Ek sou wel sê dat vaardighede wat ek binne die joernalistieke ruimte opgedoen het, neerslag gevind het in my benadering tot die projek. (Soos om byvoorbeeld daagliks spertye na te kom – doelwitte en spertye is belangrik indien ‘n mens so ‘n projek suksesvol wil voltooi. ‘n Ander aspek is die voortdurende gevra van vrae om inligting te bekom.)

Hoe bou mens ‘n skaalmodel? Kan mens dit vergelyk met ‘n boek? Is die simmetrie en wiskundige berekeninge werklik so verskillend as mens die twee konstrukte vergelyk?

Ek het my eerste en laaste skaalmodel op ouderdom elf of twaalf gebou vir 'n skoolprojek, so ek is nie 'n professionele skaalmodelbouer nie en dus waarskynlik nie goed genoeg toegerus om die vraag te beantwoord nie. Ek vermoed 'n mens sou 'n interessante vergelyking kon tref tussen die twee. Maar miskien moet ‘n mens eerder sê skaalmodelbou is soos bak. Daar is ‘n resep en spesifieke bestanddele wat in spesifieke hoeveelhede bygevoeg moet word om sukses te verseker. Alles moet op sy plek gebeur. As ‘n mens kook, aan die ander kant, kan jy begin deur ‘n ui op te kerf en die eindproduk kan een van ‘n magdom disse wees. Want tussendeur kan jy altyd nog ‘n bietjie hiervan en daarvan byvoeg, van besluit verander oor die proteïen, en nog tot heel op die einde ‘n bietjie sout byvoeg vir balans.

Skryf jy weer aan iets? Of wat lees jy op die oomblik?

Ek het ‘n notaboek, maar werk nie tans aan enige iets konkreets nie. Ek lees op die oomblik Ena Jansen se Soos familie, en ‘n reisgids oor Portugal.

  • 2

Kommentaar

  • Claude Möller

    Hierdie Annelie is slim; En sy is 'n slim skrywer, én sy skryf só, dat nie-so-slim mense soos ek, slimmer word.

  • Ek het ook die boek gekoop. Ek dink Anneli Groenewald se antwoorde op die vrae is eerlik en opreg. Dit is ’n boek wat jy nie net kan lees en dink, ek het nou ’n roman gelees en gaan die storie onthou nie, dit is ’n baie DIEP boek en jy moet tyd en aandag gee om hierdie boek te kan verstaan ... Ek glo nie ’n mens wat nie in Geskiedenis, of in wat en hoe jou verlede is of was nie, sal dit regtig kan "inslurp" nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top