The road of excess deur Ingrid Winterbach

  • 0

Titel: The road of excess
Outeur: Ingrid Winterbach (vertaal deur Leon de Kock)
Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN: 9780798156264

Koop The road of excess by Kalahari.com

Ek neem aan dat die meeste LitNet-lesers óf reeds bekend is met Die benederyk deur Ingrid Winterbach, óf dit sal lees wanneer hulle wel ’n kans kry. Hierdie is dus nie ’n konvensionele resensie van The road of excess, Leon de Kock se Engelse vertaling van Die benederyk, nie. As lesers só ’n resensie vereis, kan hulle gerus Michael Titlestad s’n lees. In hierdie resensie gaan ek eerder aandag skenk aan die geslaagdheid van die boek as vertaling, met ’n spesifieke fokus op die titel van The road of excess.

Die eerste ding wat in die boekwinkel jou aandag trek, is die voorblad en titel van die boek.

Die Afrikaanse voorblad én titel is meer donker en neerslagtig, terwyl die Engelse ontwerp meer “excessive”, buitensporig, is. Ek, en al die ander mense met wie ek gepraat het, het aanvanklik gedink The road of excess is die Engelse vertaling van Winterbach se mees onlangse roman, Die aanspraak van lewende wesens (moontlik as gevolg van die plante op die voorblad).

Die benederyk se titel verwys na verskeie aspekte van die roman: die hoofkarakter, Aaron, se emosionele onderduiking en poging om homself te isoleer na die dood van sy vrou, en sy eie stryd met nierkanker; sy en sy broer Benjamin se belangstelling in visuele uitbeeldings van die hel; sy ander broer, Stefaans, se hellevaart as dwelmverslaafde. Daar kan dus aangevoer word dat hierdie konnotasies verlore gaan in die Engelse titel en dat iets soos underworld meer gewens sou gewees het. Tog is underworld nie so ’n onalledaagse woord soos benederyk nie, en daar is al verskeie romans met daardie titel, waarvan die bekendste Don Delillo s’n is. Netherworld, aan die ander kant, klink soos iets uit ’n rekenaarspeletjie of uit metal-musiek.

Die keuse vir The road of excess as titel word verklaar deur ’n William Blake-aanhaling voor hoofstuk 1: “The road of excess leads to the palace of wisdom.” Die aanhaling verskyn nie in die Afrikaanse weergawe nie, maar daar word wel daarna verwys op bl 234, wanneer Stefaans van sy ervarings met LSD beskryf. Op bl 251 van die Engelse weergawe sê Aaron ook dat “excess” ’n eienskap van sy lewe is; dit ten spyte van die feit dat hy op bl 19 sê dat sy siekte hom gedwing het om alle buitensporighede agter te laat, “all intemperance and transgression – drinking, smoking, irregular hours – what’s left for him to do? Reflection, repentance, and regular hours.”

Tog word sy lewe soos wat dit in die roman beskryf word, wel gekenmerk deur die oorbodige, die “excessive”, al probeer hy dit vermy. Hy kan nie wegkom van die indringing van sy verspotte buurvrou, Bubbles Bothma, en sy eie woede vir sy galery-eienaar (Aaron is ’n skilder) nie – dit is naamlik onduidelik of dié hom nog ten volle ondersteun en van plan is om sy werk in die toekoms ten toon te stel. Excess sluit ook aan by die kanker op Aaron se oorbodige derde nier: kanker is immers die oormatige verdeling van selle.

Die titel herinner ook aan eienskappe van Winterbach se oeuvre in die geheel. In haar romans (sowel as in haar drama, Spyt) is daar altyd groteske, oordrewe en belaglike newekarakters – hier is dit veral Bubbles, die reeds genoemde galery-eienaar Eddie Knuvelder, en Aaron se medekunstenaar Jimmy Harris. Die natuur, veral Durban se plantegroei, word dikwels in haar werke beskryf as oorvloedig. Ironies genoeg (gegewe die voorblad van The road of excess) is dit nie hier so ’n groot motief as in van haar ander romans, soos Landskap met vroue en slang, nie. Een van die eienskappe wat Winterbach se werk so boeiend maak, is dat dit pogings tot interpretasies halsstarriglik ontglip – daar is altyd oortollige elemente wat moeilik is om by ’n gegewe interpretasieraamwerk in te pas.

Laastens kan ook Winterbach se skryfstyl beskryf word as “excessive”. In die persverklaring oor The road of excess word dit byvoorbeeld beskryf as “barok”. Soos wat die “banale en sublieme” (bl 283) volgens Stefaans nie van mekaar geskei kan word nie, en soos wat Aaron se kuns beïnvloed is deur beide die werk van klassieke kunstenaars soos Signorelli en strokiesprente soos The Katzenjammer Kids, wissel Winterbach se skryfstyl van die verhewe tot die alledaagse en vulgêre. Die manier waarop Leon de Kock albei hierdie style goed vasvang en afwissel, is indrukwekkend.

Soos met sy vertaling van Triomf het De Kock ’n Afrikaanse teks wat deurspek is met Engels, vertaal deur die twee net om te ruil: The road of excess is hoofsaaklik in Engels, met hier en daar ’n Afrikaanse woord. Hierdie metode is suksesvol, veral omdat hy dan hierdie woorde, soos ouma en oupa, konsekwent Afrikaans hou. Die resultaat is ’n Engelse roman waarin ’n Afrikaanse leefwêreld oortuigend weergegee word.

Dit is natuurlik nie die hoofdoel van die vertaling nie, maar The road of excess het dit reggekry om ’n roman wat ek al drie maal (in Afrikaans) gelees het, weer vir my vreemd en boeiend te maak.


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top