Terwyl die skemer daal

  • 0

Die susters het noukeurig beplan aan die keer wat hulle Herklaas se spook oorgenooi het.

"Moet ons nie maar afsien nie, Sara?"

"Nee, Sarie. Die saak is dringend. Kan nie wag nie."

Daar was niemand anders om te vra nie, want dié twee het hulle kliphuis in afsondering bewoon. Jare al. Eenkantmense.

Als moes reg vir die gas. Die huis moes skoon. Kierie in een hand en stoffer in die ander. Sit plat op die aarde om onkruid langs die tuinpad uit te trek. Groot storie om weer op te kom.

"Sal ons op die stoep dek? Of by die eetkamertafel?"

"Eetkamertafel."

Klein plek wat meteens groot voel. Veral as jy styfrug onder elk van die enkelkatels probeer vee. Onder die hangkaste. Die matte afborsel.

"Die bedgoed moet buitentoe om lug te kry. Net mooi kyk vir as die wind opkom laat dit nie die hekeldekens vol stof waai nie." Sara hyg onder die praat en vee met ‘n nat lap oor die rooiklip van die vensterbank; poleer dan die koffietafel in die sitkamer, die riempiesbank en die laaikas.

***

Die vorige dag nog sit hulle op die agterstoep oor die rooi erf en uitkyk.

"Vir wat so stil, Sara?" ‘n Stilte wat stiller is as gewoonlik se stil.

"Nee, Sarie, dink sommer."

Sara vroetel met die kieriehaak. Sarie het reg. Daar ís iets wat krap. Aanvanklik het sy die saak by haarself bedink, maar nou het dit tyd geraak vir praat.

"Wat, reken jy, kom na die dood?" vra Sara uiteindelik. In haar agt-en-tagtigste jaar raak sy opeens onrustig oor haar eie tydelikheid.

"Rus en vrede. Hoe lyk dit by die stoof? Die beskuit moet seker al uit."

"Waar gaan ‘n mens? Hoe maak jy? Van alles kan jy iéts weet, maar sekerheid omtrent die allersekerste ontwyk die mens en bly maar ‘n donkere mirakel." Die kwessie sal opgeklaar moet word, want Sara is bekommerd, en dis te verstane, oor hierdie naderende reis wat sy aanstons liggaamloos sal moet aandurf.

"Ek kan sweer ek ruik iets brand."

Dit vat heeldag om ‘n plan te bedink, maar wat gou duidelik raak, is dat hulle die saak met ‘n kenner sal moet bespreek.

Maar wie?

Een naam staan bo alle ander uit: Herklaas.

"Dié se doppie het ses jaar gelede reeds geklap," praat Sara, "en tydens sy aardse tyd kon ons vrymoedig altyd op sy knoppie druk in tye van onsekerheid en nood. Dalk sal hy raad weet en lig kan werp op hierdie duisterheid."

Ja. Herklaas Joubert, gestorwe 1913, was ‘n man van reguit praat.

En vies krap Sarie die ergste van die brandsel van die baksel af.

***

Hulle moet voorbereid kom.

Maar waar begin ‘n mens? Hoe kook jy vir iemand wat nog moet laat weet of hy kom?

"Hoe gaan ons vir Herklaas maak opdaag?" vra Sara.

"As jy ‘n spook wil sien, van wat ek weet, moet jy jou hare teen middernag voor die spieël kam. Dan sal jy hom kort later agter jou in die weerkaatsing gewaar."

"Nee wat. So ‘n laat-opbly sal nie deug nie. Vlees moet rus!"

Die tantes is vroegslapers. Staan met sonsak se tyd reeds bed se kant toe. ‘n Ruk lank is dit stil en dan stel Sarie voor dat hulle ‘n sambreel in die huis oopmaak.

"’n Oop sambreel bring dood, nie spooksels nie."

Sara onthou uit haar kleintyd dat jy onderstebo tussen jou bene deur moet kyk om die hiernamaals te sien, maar met haar gewig en jare moet jy versigtig.

‘n Swart kat, weet sy, help ook, maar dié is skaars.

Beste is seker maar net wag en hoop. Sy gunstelingdis kook. ‘n Uitnodiging met die wind af roep.

In die lewe was Herklaas die ordentlikheid self en ‘n mens kan maar net hoop dat sulke deugde nie met die aardse vergaan nie.

***

Die tafel staan gedek met drie borde en drie glase. Twee olielampe.

Toe hulle aansit, is dit met ‘n tikkie versigtigheid. ‘n Mens wil nou nie aan kerriehaas verstik as daar ‘n wasemrige gedoente oorkant jou kom plaasneem nie. Was die nooiery werklik ‘n goeie idee?

"Hierdie laat, op ‘n manier, my dink aan oom Dirk van die winkel se begrafnis toe ons kinders was." Sara kyk baie jare terug.

Sarie skep rys en boontjies in en gee die bak vir Sara aan. "Op watter manier?"

"Op die stoep was daar die kis met die liggaam. En ons kinders het heeltyd gewonder wat daarbinne is; hoe die dood lyk."

"En party van jul het nader gesluip om te loop loer. Ek onthou."

Sara stryk die garinkies op die tafeldoekrant plat. "Ek moes nie gekyk het nie, want daai foto hang steeds nog in my kop, tagtig jare later. Sonder stof en geraam in swart."

Sarie skep haas oor haar rys. "Gaan jy nie eet nie?"

"Party deksels is bedoel om toe te bly."

"Hierdie haas lyk lekker. Ook heeldag se ding om gekook te kry."

"Want binne die kis is daar net één ding en dis die dood. Sóveel daarvan dat ses mense daaraan moet help dra."

Sara skink wyn in ‘n platglas en slaan ‘n groot sluk weg. Sarie trek Sara se bord nader en begin vir haar inskep. "Jy moet eet, voor dit koud raak. Dis nie aldag dat ons vir so ‘n spesiaalte aansit nie."

"En vanaand, weer, is daar ‘n kis wat wag. ‘n Deksel wat wag vir die oplig."

"Of vir die toelaat. Hoe lekker is hierdie uie dan nie!"

Die stoel aan die tafelhoof het hulle vir Herklaas oopgelos. En Sara merk vies dat die tafeldoek aan daardie punt slordig op ‘n plooi lê. "Die doek is nie mooi platgeveeg nie, Sarie!"

"Dit was reg toe ek gedek het –"

Buite is dit donker. As jy met ‘n spook wil kuier, wag jy vir donker, want hulle loop mos nie bedags nie – vrees die lig, soos wat ons lewendes bang is vir die donker.

"’n Doodskis is bedoel vir wegbêre, nie vir oopmaak en binnekant rondkyk nie," hou Sara aan. "Dis ‘n doodskar vir die lyk om mee weg te ry."

En dan draai een van die lampe af sonder dat iemand daaraan vat, en die susters kyk verstyf daarna, ongekoude kos wat lank in hulle monde bly lê.

"Daai ding het nooit probleem gegee nie," merk Sara op.

"Wat, Herklaas of die lamp?"

***

‘n Gedempte week later.

Sara waag ‘n laaste skoot: "Grafmodder."

Sarie dog die ding was besig om oor te waai. "Modder?"

"Smeer dit om jou oë dat jy vér kan kyk. Reg tot in die middelste middel van die anderwêreld."

"En met die geesgoeters praat ook?"

Sara raak kort van draad en uitskellerig. "Ai, Sarie, maak dit nou saak?"

"Maar as jy nie vir Herklaas gesien kry nie?"

"Dan leef hy nog êrens of sit hy in die hel oor die een of ander geheimsonde."

Sarie wens sy kon dinge terugvat na hoe dit was voor die vrae begin het: ‘n oogklaplewe van eenvoud. Daarom laat sy haar suster begaan. Teenkanting blaas als dalk net opnuut aan.

En asof die voorsienigheid met haar saamstem, kom daar ‘n ontydige reënbui te midde van die Tranvaalse winter en koers hulle na ‘n veldgraf wat ‘n ent daarvandaan lê. Die aarde hier is deurdrenk sodat hulle diep wegsakspore laat.

Sarie buk. Sy het ‘n glasfles om die nat aarde in op te skep. Nie baie nie. Met respek. Net ‘n handvol of wat.

***

En ná die stap: ‘n middagslaap.

Maar nie alle slaap is een waaruit jy wakker word nie, want Sara slaap vandag besonders diep en besonders stil. Seker van die ver stap, dink Sarie toe haar suster meer as ‘n uur later nog roerloos op haar rug lê.

Sarie is in die kombuis besig om die tee reg te kry toe die besef haar skielik binneval. In haar haas kantel sy die ketel op die stoof om en strooi sy teesakkies sover as wat sy hardloop.

Die kyk op die dooie se gesig is vreedsaam, soos een wat ingenome is met waar sy is. En Sarie sit ‘n foto daarvan in haar kop, in ‘n goudraam, vir later se weer en weer kyk.

***

Altyd snaaks hoeveel mense van oral af uitpeul as die dood kom klop, want skielik is die anders sluimerende werf ‘n miernes van roubeklaers.

Gevolg deur ‘n aand van stilte. Sarie se eerste alleen-aand ooit. Daar is niks trane nie; net die eensaam.

Die lamp in die eetkamer staan hoog oopgedraai. Sy sit by die tafel, vroetel met haar vingers in die grafgrondfles rond, smeer die modder om haar oë. Haar gedagtes wil ver gaan draai vanaand. Lange jare se onthou. Sy dwaal deur die huis en maak tee, uit verveling eerder as dors. Karring hier, karring daar.

Totdat daar onverwags ‘n potret van die muur af loskom en op die vloer neer kletter. Soos die knal van ‘n geweerskoot deur die stilte.

"Helsim jy!"

Sy pyl wasbak toe om die grond om haar oë te loop afwas en ‘n besem te kry om die prent se flenters mee op te vee.

"Gáán jy!" ruk sy haarself op. "Loop klets by Herklaas as jy nie kan stil nie! Jou deksel is toe en toe gaan hy bly!"

Daar lê ‘n lang nag voor, want sy moet voorbereid kom. Môre trek sy dorp toe.

Uit en klaar.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top