Teletubbies en die likkewaanbrein

  • 0

Op SêNet, daardie gladde virtuele seepkis, is daar onlangs na die Teletubbies verwys. Ene Zippy vertel dat haar Londense woonstelmaat, ’n mal Kanadese raver, gereeld uitgeroep het: “Teletubbies is pure acid, man!” Tele bye bye!

Hierdie oulike viermanskap was deel van my verwysingsraamwerk toe my kinders kleiner was. Ek het ’n soort Teletubby-beheptheid ontwikkel en soms met groot vreugde ’n pers of geel Tubby raakgevis met ’n staalarm-masjien buite die plaaslike kafee. Ek kon nooit hulle name onthou nie. Lala lui ’n klokkie. Hulle omgewing, groener as Heidi se berge, het ’n gevoel van welgeluksaligheid by my laat posvat – so het ek die hemel as kind gevisualiseer: sagte groen heuwels, wolke en fokol.

Ek het baie beter gevoel oor my fiksasie toe ek in die rolprent Iris sien dat die formidabele skrywer en filosofie-professor Iris Murdoch in haar laaste dae aan die Teletubbies verslaaf was. Dit was, helaas, nadat sy die grootste gedeelte van haar brein aan Alzheimer afgestaan het.

Natuurlik is die Tubbies so hoog soos arende: kyk maar na die stokstywe ogies (die hele iris een groot pupil), die stadige, strompelende bewegings, die skaapagtige, verstrooide wuifies en herhalende lieftallige gegroet. Alles is slo-mo soos in ’n sitkamer in Obz op ’n Sondagmiddag. Hulle wêreld is so gekleurd soos die Botaniese Tuine nadat ’n mens ’n towersampioen geëet het.

Dit het my laat nadink oor middels wat verdoof. Laat ek nou maar prontuit sê dat dit nie een van my vices is nie. Ek is hoog gebore en die mense rondom my beland nou en dan op my plak met ’n chemiese hulpmiddel of twee. Ek kan nugter in ’n vertrek vol mense met mossel-oë wees sonder om eensaam te voel. As ek self die revs probeer aandraai, loop dit so gou soos nou op ’n kortsluiting af. Na veertig aanvaar ’n mens dié soort van ding en staak die eksperimentering.

Waarom vul mense hul longe, neusgate, are, met toorgoed? Ek dink die antwoord is verwant aan besorgde ouers se kritiek dat die Teletubbies “dumbing down” gedrag vertoon. Halfdier maar met ’n hoogs ontwikkelde serebrale korteks wat ons van die res van die dierewêrld onderskei, smag ons soms na om en dom, na ga-ga. Na eenvoud. Na ons kindertyd, toe alles nuut, helder en oorweldigend en ons reaksie daarop ’n simplistiese “gooooeeee” was – borrelend soos reënwater in ’n geut. En selfs vóór dit: ons verlang terug na die eerste maand van ons bestaan, toe ons soos ’n komma sonder serebrale korteks in louwarm vrugwater rondgedryf het. Miskien wil ons vir ’n wyle op autopilot, op die spinale korteks, die primitiewe likkewaanbrein, vlieg.

Die Teletubbies is geensins nuut nie. Dink maar aan daardie psigedeliese oumagrootjie, Alice in Wonderland, wat al in 1865 by die haasgat afgetrippel het. Ek het al tesisse (lelike woord) gelees wat oortuigend uitwys hoedat hierdie helder nagmerrie duidelik met die hulp van gemoedverskuiwende middels geskryf is.

Dan is dit seker waar dat die meeste grootmense die prelogiese wonderwêreld van kindwees slegs kan bykom nadat hulle aan ’n paddastoel of twee geknibbel het. Mother’s little helper?

Die soeke na hoenderkop is egter gevaarlik en potensieel destruktief. Dit het ek gesien in ons besoekers uit die Transkei, vredeliewende mensies wat in hulle dorpie graag umqomboti brou en ’n bok slag vir ’n feesmaal met die bure. Ek was nog nie daar nie, maar het al gehoor van bierdrink-, dans- en praatsessies wat vir ’n paar dae aanhou. (Ek visualeer groene heuwels soos by die Teletubbies, vriendelike wuifbewegings en ’n stadige transdans.) Maar hier in die grootstad loop hulle hul vas in Klipdrift en goedkoop soetwyn. Kort voor lank, soos nou twee weke gelede in ons voorstedelike huis, bliksem hulle mekaar heelnag op en gil soos ware likkewane tot dagbreek toe. Die bure vermy nou nog ons oë. Ja, daar is donker grotte in die likkewaanbrein ook. Ons huis is nou drankloos.

Maar niks daarvan sal ’n mens ooit in Teletubbies-land gewaar nie. Daar is alles koergeluidjies, reënboog, dou wat blink, ’n sagte sonstraal en skitterwit wolkies wat verbydryf.

Gelukkig is ek een van die geseëndes wat op ’n lang uitstappie kan gaan terwyl ek na ’n lawa-lamp staar. Tele ga-ga …

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top