Tegniek en Republiek: Wisselende vryheidsbegrippe in Afrikaner- en Suid-Afrikaanse politiek

  • 0

 

Tegniek en Republiek: Wisselende vryheidsbegrippe in Afrikaner- en Suid-Afrikaanse politiek
Johann Rossouw

Abstract

 

Abstract

Technics and Republic: Varying concepts of freedom in Afrikaner and South African politics

In this article different concepts of freedom that have occurred especially among Afrikaners, and to a lesser extent in South African politics, since the Dutch establishment at the Cape are investigated with reference to the three technical milieus or mediaspheres in which Afrikaners have found themselves so far. After a very short overview of aspects of the thought of Bernard Stiegler and Régis Debray’s philosophy of technics these aspects are applied to especially Afrikaners and, to a lesser extent, South African political history. The hypothesis is defended that distance was and remains the most important factor in the South African political economy. This hypothesis is defended with an interpretation of Afrikaners’ political history in the logosphere, the graphosphere and the videosphere. The article concludes with some speculative remarks on Afrikaners, Afrikaans and South Africa in the contemporary videosphere.

 

Opsomming

Tegniek en Republiek: Wisselende vryheidsbegrippe in Afrikaner- en Suid-Afrikaanse politiek

In hierdie artikel word die verskillende begrippe van vryheid wat sedert die Nederlandse vestiging aan die Kaap onder veral Afrikaners, en in mindere mate in die Suid-Afrikaanse politiek, voorgekom het, ondersoek met verwysing na die drie tegniese milieus of mediasfere waarin Afrikaners hulle tot dusver bevind het. Na ’n baie kort oorsig oor aspekte van die denke van Bernard Stiegler en Régis Debray se filosofie van die tegniek, word hierdie aspekte toegepas op veral Afrikaners, en in mindere mate die Suid-Afrikaanse politieke geskiedenis. Die hipotese word verdedig dat afstand die belangrikste faktor in die Suid-Afrikaanse politieke ekonomie was en bly. Hierdie hipotese word verdedig met ’n vertolking van Afrikaners se politieke geskiedenis in die logosfeer, grafosfeer en videosfeer. Die artikel word afgesluit met enkele spekulatiewe opmerkings oor Afrikaners, Afrikaans en Suid-Afrika in die hedendaagse videosfeer.

 

Tegniek en Republiek: Wisselende vryheidsbegrippe in Afrikaner- en Suid-Afrikaanse politiek1

“Die Afrikaners se geskiedenis word oorheers deur ’n sekere dialektiek. Daar is aan die een kant ’n fatalistiese afwagting van ’n gewisse kollektiewe nederlaag en finale ondergang, maar aan die ander kant is daar ook ’n misterieuse lewenskragtigheid” (Giliomee 2003:665). So skryf Hermann Giliomee in die laaste paragrawe van Die Afrikaners. ’n Biografie.

Maar hoe moet hierdie oënskynlike teenstrydigheid tussen “’n fatalistiese afwagting van ’n gewisse kollektiewe nederlaag en finale ondergang” en “’n misterieuse lewenskragtigheid” verstaan word? Hoe is dit te verklaar?

Die geskiedenis sowel as die filosofie in Suid-Afrika gedurende die twintigste eeu is deur minstens drie denkstrominge gevorm, naamlik gemeenskapsdenke, waarvan Afrikaner-nasionalisme en Swart Bewussyn die belangrikste voorbeelde is; klasdenke, waarvan Marxisme en in ’n mindere mate Kritiese Teorie die belangrikste voorbeelde is; en subjekdenke, waarvan Liberalisme die belangrikste voorbeeld is.

’n Vrugbare ontleding van Afrikaners se politieke geskiedenis, en die verskillende begrippe van vryheid wat tot dusver daarin voorgekom het, kan egter ook vanuit die filosofie van die tegniek, en meer spesifiek die mediologie van Régis Debray, gemaak word. Trouens, die vooruitgang wat die afgelope dertig jaar en meer in die filosofie van die tegniek gemaak is, mag dalk nie net ’n waardevolle aanvulling tot die denke van gemeenskap, klas en subjek wees nie, maar mag selfs die heersende opvattings van gemeenskap, klas en subjek as sodanig vatbaar vir hersiening maak.
 
Hoe dit ook al sy, die spesifieke argumente wat hier onder met betrekking tot die politieke geskiedenis van Suid-Afrika en Afrikaners ontwikkel word, is ’n poging om aan die hand van veral Debray se mediologie ’n aanvullende vertolking van hierdie geskiedenis aan te bied tot die bestaande lesings. Ofskoon die tersaaklike, korrekte historiese gegewens so ver moontlik hier gehanteer word, moet die vertolking hier aangebied as ’n voorlopige hipotese beskou word wat vanselfsprekend oop is vir kritiek en verdere navorsing sal verg.

Op hierdie selfde hipotetiese trant word die begrip republikanisme en die verskillende vorme wat dit in Afrikaners se geskiedenis aangeneem het, nie hier in detail ondersoek nie, en ook nie watter nuwe vorme hierdie republikanisme telkens binne ’n nuwe tegniese milieu aangeneem het nie. Sodanige ondersoek kan ongetwyfeld interessant wees, maar in hierdie artikel is ons oogmerk eenvoudig om voorlopig te probeer lig werp op hoe republikanisme en drie verskillende vryheidsbegrippe deur verskillende tegniese milieus heen onder Afrikaners bly leef het. Die generiese definisie wat ons hier vir hierdie verskillende republikanismes aanvaar, is dié van die strewe van ’n aantoonbare historiese gemeenskap om sy eie geskiedenis te skryf, en waar ’n eie gebied as voorwaarde vir hierdie geskiedskrywing beskou word, en assosiasie met hierdie gebied (eerder as “ras”-  of bloedverwantskap) die voorwaarde van lidmaatskap van die gemeenskap is.

 

1. Die filosofie van die tegniek: ’n baie kort oorsig

Die tegniek word in die alledaagse lewe dikwels beskou asof dit bloot gaan oor ’n instrument waarmee ons die een of ander taak verrig. Wanneer die instrument werk, maak dit ons lewe makliker, en wanneer dit breek, kan ons dit, as ons tegnies aangelê is, herstel, net om dan weer na normaal terug te keer waar alles werk soos dit moet en ons tevrede is. Dit kan beskryf word as die instrumentele siening van die tegniek, waarvolgens ’n tegniek een of ander apparaat of funksie is wat deur die subjek aangewend word om een of ander objektiewe taak af te handel.

Belangrike verstellings aan hierdie naïewe siening van die tegniek het oor die afgelope dertig jaar of wat ten minste in die Franse debat ingetree. Twee pioniers in hierdie verband was die filosoof Gilbert Simondon en die paleoantropoloog André Leroi-Gourhan.2 Wat Leroi-Gourhan onder meer aangetoon het, is dat elke denkbare tegniek nie net ’n aspek van menswees veruiterlik en optimaliseer nie, maar op sy beurt weer ons innerlikheid en ons denke herskik.3 Dink aan die voorbeeld van die persoonlike rekenaar, wat aanvanklik ’n aspek van die menslike geheue veruiterlik en optimaliseer, en hoe ons dan later begin sê die menslike brein is soos ’n superrekenaar – hoewel die rekenaar slegs enkele aspekte van die menslike brein, soos memorisering en inligtingskategorisering, in beperkte mate veruiterlik en optimaliseer.

Simondon en Leroi-Gourhan se werk is verder gevoer deur Bernard Stiegler met onder meer sy reeks La technique et le Temps (Tegniek en tyd).4 Wat Stiegler onderskei, is dat hy, afkomstig uit die Duits-Franse fenomenologiese tradisie, wegbreek van dié tradisie se negatiewe blik op die tegniek deur subjektiwiteit en tegniek in ’n wedersyds transformerende verhouding te bedink. Régis Debray het Stiegler per geleentheid teenoor hierdie skrywer beskryf as “’n Heideggeriaanse tegnofiel”.

Stiegler se Heideggeriaanse tegnofilie word goed geïllustreer deur sy herlesing van Heidegger se begrip wêreldhistorisiteit (Stiegler 2001:67). Stiegler se betoog is in wese dat waar die tegniek volgens Heidegger die wêreld afsluit, die tegniek inderwaarheid nie net die wêreld ontsluit en stig nie, maar dat daar inderwaarheid geen wêreld sonder die tegniek moontlik is nie. Tussen ons en die wêreld is die tegniek, die tegniek is die wêreld. Waar die fenomenologie leer: “Wys my jou wêreld en ek sal jou sê wie jy is”, impliseer Stiegler: “Wys my jou prostese en ek sal jou sê wie jy is.”5

 

2. Die mediologie van Régis Debray: ’n kort oorsig

Die vooruitgang in die filosofie van die tegniek waarna ons hier bo verwys het, kom ook deur die mediologie van Régis Debray.

Wat is mediologie? Mediologie is die studie van oordrag, wat nie met kommunikasie verwar moet word nie. Debray omskryf kommunikasie en oordrag soos volg:

Om te kommunikeer … is om ’n stuk inligting in ruimte te transporteer, en om oor te dra, is om ’n stuk inligting in tyd te transporteer. Natuurlik moet daar gekommunikeer word om oor te dra: ’n nodige, dog onvoldoende voorwaarde. Want as daar “kommunikasiemasjiene” (Pierre Schaeffer) soos die radio, die bioskoop, die televisie, die rekenaar, ens. is, is baie meer nodig om oor te dra …”   (sy klem) (Debray 2001:8).

Dit is onder meer met hierdie “baie meer” as kommunikasie wat vir suksesvolle oordrag nodig is, waarmee die mediologie sig besig hou. Vir die medioloog is oordrag die sentrale verskynsel waaroor besin word, en juis omdat dit so absoluut bepalend is vir wie en wat ons is. “Wys my wat aan jou oorgedra is, en ek sal jou sê wie jy is,”
postuleer die medioloog.

Die naaste wat vóór die mediologie en die filosofie van die tegniek aan die studie van oordrag gekom is, was beperk tot pogings in die geskiedenis en die ideëgeskiedenis. As historici oor die oorsake van die Franse Rewolusie gepraat het, sou hulle byvoorbeeld sê dit het nie net weens groeiende ontevredenheid by die gepeupel met die aristokrasie plaasgevind nie, maar ook weens die bydrae van filosowe soos Voltaire en Rousseau. Die medioloog sê: Ja, maar dit is nie genoeg nie: ons moet ook kyk na die rol van tegniese en materiële faktore. Die Franse Rewolusie vind nie net plaas weens populêre ontevredenheid en filosofiese idees nie, maar ook weens ’n goeie paaienetwerk, posdiens, drukperse wat pamflette druk, literêre kafees waar dit bespreek word, en so meer. Al hierdie tegniese en materiële faktore was bepalend vir die feit dat suksesvolle oordrag tussen die denkers en die gepeupel geskied het, en sonder suksesvolle oordrag is daar geen maatskaplike verandering nie.

Debray verfyn sy besinning oor oordrag deur die begrip van die mediasfeer. Wat is ’n mediasfeer? Dit is ’n “tegnomaatskaplike milieu van oordrag en vervoer met sy eie tyd-ruimte” (Debray 2000:44). ’n Mediasfeer ontstaan telkens wanneer hierdie of daardie tegniese innovasie ’n spesifieke medium van oordrag begunstig en wat nie net aan ou instellings nuwe vorm en inhoud gee nie, maar ook nuwe instellings tot stand bring. En instellings, sê Debray, is noodsaaklik, want sonder instellings is daar geen oordrag nie. Voorts word ’n mediasfeer ook telkens deur ’n taal gekenmerk. As ’n nuwe mediasfeer opkom, beteken dit ook nie dat die vorige een verdwyn nie, maar wel dat dit nie meer so bepalend is as die nuwe mediasfeer nie.

Debray onderskei drie mediasfere in die geskiedenis: die logosfeer, wanneer die gesproke woord en landvervoer domineer; die grafosfeer, wanneer die gedrukte woord en seevervoer domineer; en die videosfeer, wanneer die oudiovisuele en lugvervoer domineer. In Europa leef mense tot en met die middel van die 15de eeu en Gutenberg se boekdrukkuns in die logosfeer. Vanaf Gutenberg tot aan die einde van die 19de eeu en die koms van die rolprent leef hulle in die grafosfeer, en sedertdien betree hulle die videosfeer.

Dit is egter nie net kommunikasiemedia en -tegnieke wat bepalend is vir mediasfere nie, maar ook ander vorme van tegniek, en dan veral vervoer. Die perdekar, die skip, die trein, die boot, die fiets, die motor en die vliegtuig speel almal uiters belangrike rolle in oordrag.

Dit behoort teen hierdie tyd duidelik te wees dat die mediologie ryk ontledingsmoontlikhede vir die Suid-Afrikaanse konteks inhou, maar voor so ’n poging hier onder aangewend word, eers enkele kwalifikasies oor die mediologie in die Suid-Afrikaanse konteks.

Debray merk iewers op dat die kultuur en die politiek deur herhaling gekenmerk word, maar dat die tegniek deur vooruitgang gekenmerk word en sigself nooit herhaal nie. Miskien kan gesê word dat geskiedenis afspeel in die gaping tussen kultuurpolitieke herhaling en tegniese vooruitgang, maar belangriker vir hierdie artikel is dat Debray se stelling tipies is van iemand wat in Wes-Europa woon, waar geweldige tegniese vooruitgang die afgelope ses eeue of wat, en meer bepaald die afgelope vyftig jaar, aan die orde van die dag was, om van Noord-Amerika nie eens te praat nie. In veral Wes-Europa het ’n nuwe mediasfeer telkens weens ’n belangrike tegniese innovasie in dieselfde geografiese ruimte tot stand gekom.

In ’n koloniale konteks soos dié van Suid-Afrika het nuwe mediasfere egter telkens tot stand gekom weens tegniese innovasies wat van elders ingevoer is, sy dit Nederland vir die logosfeer, Brittanje vir die (Afrikaanse) grafosfeer en die VSA vir die (Afrikaanse) videosfeer. Met ander woorde: wie op ’n gegewe tydstip Suid-Afrika se koloniale moederland is, hang telkens af van onder wie se tegniese dominasie Suid-Afrika staan: tegniek oefen ’n groot invloed op die staatkunde uit. Mediologies gesproke, gegewe die huidige videosfeer wat Suid-Afrika onder die invloed van veral Amerikaanse tegniek en bowenal kulturele inhoude betree het, is Suid-Afrika nou ’n Amerikaanse kolonie.

Afrikaanse republikanisme kan verstaan word as ’n voorbeeld van ’n poging om Suid-Afrika nie in die eerste plek staatkundig onafhanklik te maak nie, maar tegnies, want dit is uit tegniese onafhanklikheid dat staatkundige onafhanklikheid voortvloei, en nie andersom nie.6 ’n Datum soos 1961, dit wil sê republiekwording, het byvoorbeeld, gevolg op die redelik geslaagde vestiging van die inheemse Afrikaanse grafosfeer. Eweneens volg 1994 se staatkundige omwentelings na 1975, dit wil sê die jaar toe Suid-Afrika met die koms van televisie die videosfeer in alle erns betree het. Kortom, wat tegniese innovasie in ’n Westerse konteks vir die mediasfeer is, is wat tegniese invoer vir die mediasfeer in die Suid-Afrikaanse konteks is.

Hierdie gegewe is dan die eerste rede waarom ons wil aanvoer dat die belangrikste faktor in die geskiedenis van Afrikaners en selfs Suid-Afrika nie ras, klas, groep of individu is nie, maar afstand, want nie net moet enorme geografiese afstande tussen 1652 en 1975 vir tegniese vooruitgang (deur hoofsaaklik die invoer van uitheemse tegniek) in Suid-Afrika oorbrug word nie, maar ook word die hele Suid-Afrikaanse geskiedenis en politiek deur verskillende materiële en simboliese aspekte van afstand medebepaal. Die hipotese wat ons hier wil voorhou met betrekking tot Afrikaners se politieke geskiedenis, is die volgende:

Die afstand wat in die Afrikaanse logosfeer as gegewe gegeld het, het in die Afrikaanse grafosfeer die ideaal geword, waarvan Afrikaners in die videosfeer sou wegdraai.

Suid-Afrikaanse en Afrikaner-politiek is in ’n hoë mate ’n eeue lange stryd om die beheer oor Suid-Afrikaanse mobiliteit en oordrag. Wanneer ons hier onder die wisselende vryheidsbegrippe van Afrikaners in die drie mediasfere aan die orde stel, sal ons hierdie gedagtes verder toelig.

’n Verdere belangrike gegewe van die plaaslike mediologiese konteks, en iets wat dan ook bepalende gewig aan afstand in die Suid-Afrikaanse geskiedenis verleen, is dat waar die tegnieke en instellings van oordrag in Wes-Europa en Noord-Amerika talryk en wydverspreid is, en die inhoud daarvan dus betreklik gevarieerd, dit in Suid-Afrika anders gesteld is: in Suid-Afrika is die tegnieke en instellings van oordrag baie minder, en is die inhoud daarvan dus betreklik minder gevarieerd. Meer nog, die feit dat Suid-Afrika se geografiese afstand gedurende die logosfeer en die grafosfeer, dit wil sê tussen 1652 en 1975, meebring dat Suid-Afrika fisies ver is van die wêreldsentrums van nuwe idees, beteken dat wie die plaaslike tegnieke en instellings van oordrag oorheers, aansienlike mag het. Dit het die Britse koloniale bewind tussen die logosfeer en die grafosfeer gegeld, maar ook die Afrikaners tussen die grafosfeer en die videosfeer, soos nou die ANC in die videosfeer.

Nog meer, die opkoms van ’n nuwe mediasfeer in Suid-Afrika stel ook telkens ’n nuwe groep aan die bewind. Vir politieke verandering het dit minstens twee implikasies, naamlik eerstens, dat politieke verandering afhang van die mate van toegang tot die dominante mediasfeer, maar, tweedens, dat hierdie verandering uiters moeisaam kom, omdat die geskiedenis toon dat wie die aansienlike mag van die monopolie op plaaslike oordrag geniet, baie moeilik ontsetel word. Trouens, die oorgang van een mediasfeer na ’n ander staan dan ook in die teken van erge maatskaplike konflik en ellende, soos byvoorbeeld die Anglo-Boereoorlog, wat die oorgang van die logosfeer na die grafosfeer vir Afrikaners aandui, of die bloedvergieting wat Suid-Afrika weens die grensoorlog, politieke onrus en misdaad met die oorgang van die grafosfeer na die videosfeer gekenmerk het.

Kortom, die tradisie van Verligtingsredelikheid, waarvolgens die beter argument bepalend is, verloor heelwat geldigheid in die Suid-Afrikaanse konteks, waar die beter argument dikwels veels te laat gehoor word weens die monopolie op oordrag wat die swakker, status quo-handhawende argument begunstig.7 Dit was so met die katastrofe waarop in die Afrikaanse grafosfeer met Afrikaner-nasionalisme en apartheid afgestuur is, en dit mag weer so wees in die Anglo-Afrikanistiese videosfeer met nasiebou en transformasie waarin Suid-Afrika hom tans bevind.

 

3. Afrikaners in die logosfeer, grafosfeer en videosfeer

3.1 Die logosfeer

Hier bo het ons genoem dat as ’n nuwe mediasfeer opkom, dit nie die oue laat verdwyn nie, maar dat die oue nie meer so bepalend as die nuwe is nie. Die geskiedenis van die drie mediasfere in Suid-Afrika lê egter ’n belangrike feit met betrekking tot Afrikaners bloot, naamlik dat waar Afrikaners vir bykans 250 jaar in die logosfeer geleef het, hulle maar sowat 50 tot 100 jaar in die grafosfeer was en tot dusver skaars 30 jaar in die videosfeer. Soos die geskiedenis van die Christelike kerk wys, is dit heeltemal moontlik vir ’n korpus inhoude om van een mediasfeer na ’n volgende oorgedra te word, en dit was dan ook so met Afrikaners en hulle kultuur deur die drie mediasfere heen, waarvan die republikanisme ’n aspek is. Trouens, met betrekking tot Afrikaner-republikanisme is die mediologiese vraag: Waarom het ’n beduidende aantal Afrikaners republikeine geword in die logosfeer, in die grafosfeer republikeine gebly en in getalle gegroei, en sal van hulle dit in die videosfeer bly of nie? Maar meer nog: Presies watter vorm en inhoud het die drie mediasfere telkens aan Afrikaner-republikanisme gegee?

Dit is onmoontlik om hierdie vrae te beantwoord as ons nie veral die Afrikaanse logosfeer met groot erns bejeën nie. Nie net is die bepalende aspekte van Afrikaners se identiteit in die logosfeer vasgelê nie, maar ook het die betreklik kort tydjie waarin Afrikaners hulle in die grafosfeer beleef het, beteken dat die videosfeer vandag weer die logosfeer by Afrikaners sterk begunstig, waarvan Afrikaners se beperkte vermoë om tot dusver in die videosfeer ’n politieke lewe te ontwikkel ’n sprekende voorbeeld is. Wanneer ons hier praat van Afrikaners se identiteit, is dit omdat daar inderdaad so iets bestaan wat deur die wisselwerking tussen tegniek en afstand tot stand gebring is, maar wat ook verander soos wat hierdie wisselwerking verander.

Hier bo het ons gesê dat waar tegniese innovasie in Wes-Europa telkens tot ’n nuwe mediasfeer gelei het, ’n nuwe mediasfeer in Suid-Afrika met tegniese invoer gekom het. Hierdie stelling word bevestig deur die feit dat terwyl Nederland, die koloniale moederland van die Afrikaanse logosfeer, geleidelik vanaf die Kerkhervorming die grafosfeer betree, die Kaapse nedersetting en later kolonie vir bykans 160 jaar, vanaf 1652 tot met die Britse kolonisasie van 1806, vir alle praktiese doeleindes in die logosfeer leef. Nie net die enorme geografiese afstand tussen Nederland en die Kaap nie, wat slegs per tydsame skip oorbrug kon word, maar ook die VOC se minimale ekonomiese besteding aan die Kaap, verseker dat Afrikaners tydens die hele Nederlandse bewind in die logosfeer bly, en dus vir alle praktiese doeleindes ’n gemeenskap van die gesproke woord bly.

Soos wat Giliomee in Die Afrikaners aantoon, ontstaan daar binne vyf jaar na 1652 ’n situasie wat die res van Afrikaners en Suid-Afrika se geskiedenis sou bepaal. Hierdie situasie is die volgende: van die drie bates wat die landelike ekonomie van die logosfeer bepaal, naamlik kapitaal, arbeid en grond, was slegs grond aan die Kaap beskikbaar, en wel in oormaat (Giliomee 2004:7-9). Wat Giliomee egter nie spesifiseer nie, is dat hierdie situasie ten diepste ’n tegniese aangeleentheid is, in die sin dat voormoderne landboumetodes en werktuie van arbeid ’n faktor maak. As die Vryburgers oor moderne metodes of werktuie beskik het, sou arbeid minder van ’n kwessie gewees het.
 
Dit is dan hierdie tegniese situasie wat nie net aanleiding gee tot die invoer van slawearbeid nie, maar ook die Vryburgers baie gou tot veeboerdery dwing. Nogmaals weens voormoderne landboumetodes ontstaan ’n patroon van vestiging waarvolgens plaaslike boere telkens genoodsaak was om hulle nog verder ooswaarts van die Kaap te gaan vestig soos wat die weiding op die veld telkens uitgeput was.

In hierdie omstandighede ontstaan daar baie gou ’n situasie waar die plaaslike veeboere van Europese afkoms, oftewel die proto-Afrikaners, hulle al hoe verder moes vestig van ’n koloniale owerheid, wat nie net in die Kaap gevestig was nie, maar waarvan die territoriale invloed ook uiters swak was, vanweë begrotingsbeperkings, beperkte vervoermiddels soos die perd en die ossewa, en brose militêre mag, wat nie net uit die klein garnisoen voortgespruit het nie, maar ook uit hul wapens, soos die snaphaan.

Kortom, die politieke gebied van die logosfeer in die Kaapkolonie onder die VOC was uiters prekêr vanweë beperkte tegniese middele. Slegs met die grootste inspanning kan ons met ons moderne tegnieke van gebiedskepping, soos vegvliegtuie, satelliete en motors, ons indink hoe prekêr gebied as verskynsel gedurende die Nederlandse tydvak was. Op die koop toe was hierdie gebied natuurlik vanaf Van Riebeeck se koms betwis, aangesien Van Riebeeck en sy mense baie gou met die plaaslike Khoi-San in botsing gekom het. Soos die proto-Afrikaners al hoe dieper die binneland in beweeg het, en ook later met die Xhosa in kontak gekom het, het ’n situasie ontstaan waar die stryd om grond en vee – dit wil sê die voorwaardes van materiële bestaan wat deur die Europese en inheemse inwoners gedeel is – permanente spanning tussen die twee groepe geskep het.

Hoewel die Xhosa en Khoi-San nie in alle opsigte kultureel eenvormig was nie, het hulle bestaan inderdaad rondom vee en grond gewentel, net soos dié van die proto-Afrikaners van die binneland. Wat die Xhosa en Khoi-San enersyds, en die proto-Afrikaners andersyds, ook twee identifiseerbare groepe maak, is dat die wapens en vervoermiddels van die Xhosa en Khoi-San nie aan hulle dieselfde mag en vestigingspotensiaal as dié van die proto-Afrikaners met hul ossewaens, perde en snaphane gegee het nie. Trouens, die vraag kan met reg gevra word of die kommunale grondbesit van byvoorbeeld die Xhosa nie in die eerste plek voortspruit uit die feit dat hulle wapens en vervoermiddels nie die begrip van individuele grondbesit begunstig het nie, anders as wat die geval by proto-Afrikaners met hulle meer “individualistiese” tegniese middele was.

Ons kan ons hier nie verder oor so ’n hipotese uitlaat nie, maar as dit korrek is, kan dit baie help om die huidige gronddebat in Suid-Afrika van sy moralistiese en rasgebaseerde verwysings te bevry. Wat ons egter wel wil voorstel, is dat die botsing tussen Xhosa en Khoi-San enersyds en proto-Afrikaner andersyds nie net ’n tegniese botsing was nie, maar ook die basis vorm van die begrip ras in Suid-Afrika, wat verder deur die (Engelse) grafosfeer vanaf 1806 versterk is. Om dit uiters eenvoudig te stel: wanneer twee groepe wat om dieselfde bronne wedywer, maar waarvan die een se tegniese middele hom voorlopige dominasie oor die ander gedurende die logosfeer gee (ons weet dat die Xhosa eers teen die middel van die 19de eeu, dit wil sê met die vaslegging van die Engelse grafosfeer met sy beter vervoer-, kommunikasie- en veiligheidsmiddels as dié van die logosfeer, finaal verslaan is), en die een groep met sy meerdere tegniese middele anders lyk as die swakker groep, mag tegniek die basis van ras in Suid-Afrika wees. Wat gebeur, is dat tegniese dominansie van een groep oor ’n ander kort voor lank deur die dominante groep ook as kulturele gevorderdheid en dus rasmeerderwaardigheid gesien word.

Waar die wynboere nie te ver van die Kaap was nie, en dus onder die invloed van die regering, naby die mark, plekke van aanbidding en mediese sorg, en nie so blootgestel aan roofdiere, vyandige Khoi-San en Xhosa nie, was dit presies die teenoorgestelde met die binnelanders, oftewel die Trekboere. Vir die Trekboere het hul gebrekkige vervoermiddels beteken dat hulle weens afstand ver van die regering was, daar geen nabye mark was nie, of plekke van aanbidding, mediese sorg, veiligheid teen roofdiere of vyandige groepe nie. Van sy kant het die Kaapse owerheid min gedoen om die Trekboere in hul isolasie by te staan, sodat hulle nie net negatief teenoor die owerheid was nie, maar ook op hulself aangewese vir oorlewing en, nog belangriker, oordrag.

As ons praat van vestiging in die logosfeer, dan gaan dit ook om ’n uiters prekêre vestiging. Plaasopstalle was kilometers van mekaar; draadheinings word eers teen die 1830’s na die Kaapkolonie gebring; droogtes en weidingsgebrek, asook die botsing met die Khoi-San en Xhosa, het die Trekboere geteister. Die begrip plaas het in feite slegs bestaan waar ’n boer en sy gesin altyd op hul grond teenwoordig was, en grondbesit was nie soseer deur die regering gewaarborg nie, maar eerder deur ’n soort volgehoue besetting wat voortdurend verdedig moes word.

Van die groepe proto-Afrikaners waarna Giliomee verwys, is daar drie groepe wat mekaar chronologies opvolg en wat vir hierdie artikel belangrik is, naamlik die Vryburgers, die Trekboere en die Voortrekkers. Wat al drie hierdie groepe gedeel het, was ’n sin van vryheid en mobiliteit, laasgenoemde weliswaar baie beperk by die Vryburgers. Nog belangriker: vanweë hul gespanne verhouding met die Kaapse owerheid was vryheid vir hierdie drie groepe die swakker "self" (die Vryburgers, Trekboere en Voortrekkers) om sig op ’n afstand van die sterker "ander" (die Kaapse owerheid, eers Nederlands en later Brits) te plaas. As ons sê swakker, bedoel ons met minder tegniese middele en instellings tot hul beskikking as die (sterker) ander. Vryheid in die logosfeer hou vir Afrikaners twee momente in, naamlik eers beweging (weg van die sterker ander) en dan vestiging. Omdat die vestiging egter nooit baie seker is nie, bly beweging, begunstig deur perd en ossewa, asook die beskikbaarheid van grond weens tegnomilitêre voorspronge, altyd belangriker as vestiging, tot en met die opkoms van die noordelike Boererepublieke.

Wanneer dit in die Afrikaanse logosfeer oor republikanisme gaan, is die eerste belangrike oomblik die Groot Trek. Die Groot Trek was in wese ’n aantal gesinne, waarvan ’n groot gedeelte uit die mees oostelike deel van die Kaapkolonie gekom het (oftewel die meeste aan afstand uitgelewer was), wat min of meer dieselfde waardes en beweegredes gedeel het, asook dieselfde vervoermiddels en wapens. Die ossewa is natuurlik ook ’n vervoermiddel wat die gesin as maatskaplike eenheid, net soos die plaas as geografiese eenheid, in die sentrum stel. Dit is juis in hierdie gedeelde beweging onderweg na vestiging wat die Groot Trek was, dat Afrikaners as politieke gemeenskap tot stand gekom het, en wat uiteindelik voldoende was om die politieke gemeenskap van ’n republiek te skep.

As ons egter in die logosfeer van republieke praat, dan is dit nie die republieke wat die nasiestate van Wes-Europa in die grafosfeer was nie, met hulle sterk nasiebegrip, staatsmasjien, skoolstelsels en dies meer. Nee, die Boererepublieke was in wese versamelings plase waarin oordrag mondeling geskied het en die tydsbegrip siklies was, soos byvoorbeeld geïllustreer deur die aanvanklike jaarlikse verkiesing van die Volksraad in Natal en die ZAR. Die OVS onder invloed van Nederlandse juriste en Skotse onderwyskundiges begin die beweging na die grafosfeer al ’n tydjie voor die ZAR maak. Wat egter belangrik is, is dat republikanisme in die logosfeer omskryf kan word as ’n groep gesinne wat hulleself in ’n netwerk van plase so ver as moontlik van die sterker ander en van mekaar vestig, en waarvan die vestiging ietwat sekerder as in die Oos-Kaap was.

Soos ons hier bo genoem het, is die logosfeer ook belangrik omdat sekere temas van Afrikaner-identiteit daar gevestig is, wat dan in mindere of meerdere mate na die grafosfeer en die videosfeer oorgedra sou word. Ons som die temas baie kortliks hier op:

  1. Die Calvinistiese religie, waar die onsigbare God as lotsbeskikker verstaan word. God is net so abstrak as wat eie tegniese mag relatief is.
  2. Republikanisme, oftewel ’n gebied met sy eie nasie, wat later in die grafosfeer as “Boerevolk” getipeer sou word,
  3. Die kultuur van vleis, wat voortspruit uit veeboerdery en jag in die veld. Mense met karige vestigingsmiddele voer eerder ’n bestaan uit vleis as gewasse.
  4. Die primêre ruimtelike eenheid is die plaas.
  5. Die primêre maatskaplike eenheid is die gesin en uitgebreide familie. Aangesien die gesin in die logosfeer die primêre lokus van oordrag is, geniet vroue ook ’n stewige posisie, waarvan Giliomee talle voorbeelde gee.
  6. Die primêre instelling is die N.G. Kerk (NGK), wat nie net die enigste groter maatskaplike ruimte van die protogemeenskap is nie, maar ook wesenlik funksioneer soos die Rooms-Katolieke Kerk voor die Hervorming, waar die geletterde herder absolute gesag oor sy ongeletterde kudde uitoefen.
  7. Die vrees vir sogenaamde gelykstelling, wat manifesteer as proto-Afrikaners se jaloerse bewaking van hul basiese geletterdheid en Christelike godsdiens, oftewel hul tegnokulturele magsbasis teenoor ander plaaslike kultuurgroepe, en wat dan ook hul vyandigheid teenoor sending verklaar, waar geletterdheid en Christelikheid oorgedra is na ander gemeenskappe met wie Afrikaners soms op gespanne voet verkeer het.
  8. Die sterk leier, gebaseer op die posisie wat die man as jagter, grondbesitter en wa-eienaar geniet, en wat later (veral tydens die Groot Trek en daarna, waar benewens die kerk geen noemenswaardige gemeenskapsinstellings aanvanklik voorkom nie) die leiers en hul volgelinge politieke agente is.
  9. ’n Baie sterk individualisme, wat voortspruit uit die groot afstande tussen plase, die “gesinsbegunstigende” ossewaens en “individubegunstigende” perde, en die gebrek aan gemeenskapsinstellings naas die kerk.

3.2 Die grafosfeer

Soos ons reeds aangedui het, word die grafosfeer deur die Britte na Suid-Afrika gebring met hul oorname van die Kaapkolonie in 1806. Dit is binne die eerste 30 jaar na hul bewindsoorname dat boeke, koerante, drukperse, ’n vrye mark, die tradisie van liberale regte en ’n moderne regbank, skole, en ’n bietjie later politieke partye gevestig word. Dan was daar natuurlik ook nog hul nasionalisme, Engels as openbare taal, en later die trein en telegraaf.

Binne enkele jare na Britse vestiging word die botsing tussen die Engelse grafosfeer en die Afrikaans-Nederlandse logosfeer vertaal as erge kultuurpolitieke spanning tussen die twee groepe. Waar die oorgang van die logosfeer na die grafosfeer in Europa oor ’n tydperk van 200–300 jaar plaasgevind het, gebeur dit in Suid-Afrika binne 50 jaar. Hierdie enorme gaping tussen mediasfere – dit is die Engelse grafosfeer en die Afrikaanse en ander inheemse logosfere – is vertaal in ’n meerderwaardigheidskompleks by Britte en ’n minderwaardigheidskompleks by Afrikaners, Khoi-San en Xhosa. Dit is eers soos laasgenoemde groepe die aanvanklike skok van die grafosfeer verwerk het dat hulle geleidelik hul kultuurpolitieke selfvertroue herwin en teen die Engelse grafosfeer begin reageer het, soos wat proto-Afrikaners byvoorbeeld met die stigting van die eerste Nederlandse koerant in 1831, De Zuid-Afrikaan, gedoen het. As die Britte byvoorbeeld verwys het na Afrikaners se gebrek aan belangstelling in vooruitgang, was dit omdat ’n begrip soos vooruitgang en die belangstelling daarin eers daar bestaan waar ’n liniêre tydsbegrip aan die orde is, oftewel die grafosfeer (waarmee ons nie impliseer dat die begrip vooruitgang sonder meer nastrewenswaardig is nie!).

Kort voor lank het Afrikaners in die suide voor twee keuses te staan gekom: hulle kon óf die taal van die Engelse grafosfeer vir hul moedertaal verruil, óf hulle kon die grafosfeer vir hul moedertaal toe-eien. Die Kaapse Afrikaner-elite het eersgenoemde gekies, en die figure in die Eerste en Tweede Taalbewegings het laasgenoemde gekies. In wese was die Eerste en Tweede Taalbewegings dus ’n reaksie van die Afrikaanse logosfeer op die Engelse grafosfeer, net soos wat die Derde Taalbeweging van die 1990’s ’n reaksie van die Afrikaanse grafosfeer op die videosfeer was die oomblik toe Afrikaners in 1994 beheer oor die openbare videosfeer verloor het.

Die Eerste Taalbeweging is natuurlik gevoer deur ’n groep predikante en onderwysers, oftewel proto-Afrikaners wat via Nederlands die grafosfeer betree het, en wat Afrikaans, oftewel die gesproke taal van gewone mense, soos hulle dit gestel het, na die grafosfeer wou neem. Dit het hulle gedoen deur die stigting van die eerste Afrikaanse koerant, Di Kaapse Patriot, die skryf van ’n Afrikaner-geskiedenis, die eerste treë na ’n taalnasionalisme te gee, boeke uit te gee, en so meer. Die rede waarom hulle in 1881 deur die NGK-sinode gesensureer is, was in wese dat hulle as lede van die grafosfeer reeds begin wegkalwe het aan die magsbasis van die logosferiese NGK, wat sy posisie verder kon handhaaf deur dienstigheid aan die Engelse grafosfeer, oftewel politieke onderdanigheid aan die Kaapse Britse owerheid.

Die Tweede Taalbeweging was ’n voortsetting van die voer van Afrikaans na die grafosfeer. Veral Langenhoven was ’n briljante medioloog. Dit het hy geïllustreer deur sy stryd om moedertaalonderrig ná Uniewording, wat hy gemotiveer het deur te sê dat Afrikaanse skoolonderrig nie net volwassenes sal skaam maak omdat hulle nie hul moedertaal kan lees en skryf nie, maar ook die omgewing sal skep waarbinne ’n Afrikaanse letterkunde kan gedy. Natuurlik was die stryd om ’n Afrikaanse grafosfeer nie net teen Engels nie, maar ook teen Nederlands. Dat Afrikaans teen 1915 die stryd teen Nederlands in die logosfeer begin wen het, het Langenhoven verwoord toe hy gesê het: “Als Nederlands ons taal is dan moet ons hom praat, en als Afrikaans ons taal is dan moet ons hom skryf” (Giliomee 2004:320). Daarmee het hy bedoel dat mense juis eerder Afrikaans gepraat het, oftewel Nederlands as spreektaal vervang het, en dat die skryf daarvan logieserwys moes volg. Die aanvaarding van Afrikaans as amptelike taal in 1925 was die staatkundige beseëling van Afrikaans in die grafosfeer, net soos 1933 se Bybelvertaling dit religieus gedoen het.

Met die opkoms van die gedrukte woord in die Afrikaanse suide het ook die belangrikste instellings van die Afrikaanse grafosfeer gekom, naamlik Nasionale Pers en Die Burger in 1915; De Huisgenoot, wat hom met groot welslae tot die vernaamste maatskaplike eenheid van die logosfeer, die gesin, gerig het; die Nasionale Party (NP) in 1915, en Sanlam in 1918. Party, drukkersgroep en versekeringsmaatskappy – al drie instellings was slegs moontlik omdat Afrikaners in die grafosfeer in die suide nou nie meer so siklies en in jare gedink het nie, maar liniêr en in dekades en eeue.

Die NGK was as vernaamste instelling van die logosfeer die traagste om die grafosfeer te betree, en het dit eers met die Bybelvertaling gedoen, waardeur die klassieke mediologiese tendens bevestig is van hoe die dominante oordraginstelling van een mediasfeer aanvanklik agtergelaat word deur die instellings van die nuwe mediasfeer en oordragmedium. Maar die NGK sou (ook in klassieke mediologiese styl) ná die uitwissing van sy agterstand ten opsigte van die ander grafosferiese instellings van die Afrikaanse grafosfeer met hulle kombineer om ’n uiters hegte oordragmilieu te skep waarin vorm en inhoud só nou gekorreleer het dat Afrikaners nie net vir die eerste en enigste keer in hul geskiedenis vir 40 jaar lank – van 1935 tot 1975 – verenig is nie, maar ook as outomatiese spieëlbeeld van hul oordragmilieu gefunksioneer het. Hier sien ons dan dat die beperkte tegnieke, instellings en inhoud van oordrag in ’n koloniale konteks tot ’n vorm van slaafse navolging aanleiding gee. Kortom, waar elke Afrikaner by wyse van spreke in die individualistiese logosfeer met sy swak oordragmilieu in sy eie rigting getrek het, het hulle almal in die kollektiwistiese grafosfeer eensklaps verander in modelle van gehoorsaamheid aan gesag.

Wat die voormalig republikeinse noorde betref, was die verhouding tussen die Afrikaanse logosfeer en Engelse grafosfeer ietwat anders. Die eerste rede hiervoor lê ook in die politiek van afstand: waar die republiek hom van die sterker ander op ’n afstand wil plaas, wil die Empire die swakker ander nader trek. Soos wat die tegniese vaardigheid van die ZAR dan met die ontdekking van goud en diamante – ’n magtige aandrywer vir die beweging na die grafosfeer met sy treine, busse, stede en myne, koerante en skole – toegeneem het, het die suidelike Kaapse buitepos van die Empire hom begin mobiliseer om die noordelike swakker republieke nader te trek voor hulle tegniese vermoëns hulle afstand van die Empire kon verseker.
 
Kortom, die Anglo-Boereoorlog was die Engelse grafosfeer wat die Afrikaanse noorde se beweging na die grafosfeer wou bepaal. Die Britte kon nie anders nie as om die oorlog te wen, want die logosferiese Boere se mobiliteit van perd en ossewa, hul algemene traagheid en gebrek aan kollektiewe aksie, het hulle uitgelewer aan die doeltreffender, vinniger en gerigte Engelse grafosfeer en sy troepe. Die vernuftigste strategiese daad van die Engelse grafosfeer was om die sentrale ruimtelike eenheid van die Afrikaanse logosfeer, naamlik die plaas, te vernietig en die bewakers van oordrag, oftewel die vroue, in kampe te konsentreer, oftewel hulle van hul uitgespreidheid oor afstand en hul oordragpotensiaal te ontneem.

Dat die Anglo-Boereoorlog eintlik eers in alle erns ná die val van Pretoria en Bloemfontein begin het, hoef ons nie te verbaas nie, want vir die grafosferiese Britte het die stede baie groter simboliese gewig gedra as vir die logosferiese Boere met hul plase. Miskien is die treffendste beeld van die oorwinning wat die Engelse grafosfeer in die noorde behaal het, die samehurking van Afrikanermans, -vroue en kinders ná die oorlog al langs die spoorlyn, daardie oerkanaal van die grafosfeer. Paradoksaal genoeg was dit dan ook die vernietiging van die plase wat, saam met die mynwese, Afrikaners se massiewe noordelike beweging na die stede vanaf 1902 aangehelp het.

Maar hierdie blitssnelle beweging stadwaarts ná die verlies aan die plaasruimte, wat vir meer as 250 jaar die ruimtelike basis van die Afrikanerwêreld was, sou minstens twee beduidende gevolge hê, wat ons kan saamvat as die metafisiese reaksie wat op die verlies aan die fisiese gebied gevolg het.

Eerstens is die plaas in die stad tot metafisiese oerruimte van Afrikaners verhef, wat dan ook die inspirasiebron van die eerste groot Afrikaanse letterkundige oes was, oftewel die naoorlogse digters en romansiers, en wat nog tot in die 1950’s, en selfs later, ’n houvas op die Afrikaanse letterkunde sou hê. Soos wat die skok van verstedeliking verwerk is en massaskoling onder Afrikaners teen die 1930’s voltrek is, sou die stad en die universalisme van die grafosfeer lei tot die tweede groot Afrikaanse letterkundige oes, naamlik Van Wyk Louw en die Dertigers.

Tweedens het die verlies aan gebied wat akuut deur die gemeenskap gevoel is, gelei tot ’n metafisiese sluiting van die gemeenskap, oftewel die mitologie waarvolgens God die Afrikaner as volk sou uitverkies het met ’n spesiale roeping in Afrika, ’n teologie wat aanvanklik by uitstek in die noordelike deel van die Afrikaanse grafosfeer beoefen is, dit wil sê waar die verlies aan gebied die ergste gevoel is.
         
Die stigting van Christelik-Nasionale skole in 1905 in reaksie op Milner se skoolverengelsingsbeleid was ’n bepalende tree in die Afrikaanse grafosfeer. Die slagspreuk van die CNO-beweging was dan ook: “In isolasie bestaan ons krag”, waarmee afstand nogmaals ’n leitmotief gemaak is.

In 1918 sou die Afrikaner-Broederbond as eerste vername noordelike grafosferiese instelling tot stand kom, en sou dit, soos Giliomee aantoon, vir die grootste gedeelte van sy bestaan in diens van die NP met sy netwerk van predikante en onderwysers funksioneer as formidabele masjien van oordrag. Twee en twintig jaar na Die Burger in die suide sou Die Transvaler onder Verwoerd in die noorde as republikeinse koerant tot stand kom.

Die skeiding wat tussen Suid en Noord met die Groot Trek in die logosfeer ontstaan het, sou in die Afrikaanse grafosfeer vanaf die 1930’s verder verdiep. Hiervoor kan minstens twee redes aangevoer word. Ten eerste het die Suide, wat toe reeds meer as ’n eeu se interaksie met die Engelse grafosfeer agter die rug gehad het, en wat nooit in dieselfde mate as die Noorde aan die verskrikking van afstand blootgestel is nie, ’n sagter nasionalisme beoefen as die Noorde met sy verlies aan gebied en sy traumatiese verwisseling van plaas vir stad. Ten tweede het die Suide, weens sy voorsprong bo die Noorde in sy betreding van die grafosfeer, ongetwyfeld ’n intellektuele voorsprong bo die Noorde gehad, en het hy sy voorsprong gehandhaaf deur die feit dat die suidelike grafosferiese instellings sterker as dié van die Noorde was en dus ’n groter greep op Afrikaner-oordrag uitgeoefen het.8

Laastens moet noordelike republikanisme in sy felheid ook verstaan word as ’n driftige verlange na die veiligheid wat die herstel van die band met die suidelike oorsprong sou beteken. In wese het die beweging noordwaarts, eers deur die tegniese limiet wat in plekke soos Schoemansdal omring van ander gemeenskappe bereik is, en later deur die verlies van die twee Boererepublieke, beteken dat die logosferiese vryheidsbegrip van vryheid-in-afstand sy absolute grens bereik, wat ’n virtuele beweging terug na die suidelike oorsprong ná die Anglo-Boereoorlog op gang geplaas het, en wat uiteindelik die pylvak betree het toe die noordelike republikeine met Strijdom en Verwoerd in die 1950’s beheer oor die NP verkry het. Die totstandkoming van die hedendaagse Suid-Afrikaanse gebied, wat deur Milner met die bou van ’n nasionale treinnetwerk en skoolstelsel ná die Anglo-Boereoorlog begin is en polities met Uniewording in 1910 aangedui is, is voltooi met die Afrikaanse grafosfeer se triomfantelike oomblik, naamlik republiekwording in 1961.

Wat vryheid betref, het die twee momente van beweging en vestiging in die logosfeer tydens die grafosfeer omgeruil, sodat eers vestiging en dan beweging vir Afrikaners gelykstaande aan vryheid was. Die vestiging het gemanifesteer in die grootskaalse verstedeliking ná die Anglo-Boereoorlog. Teen die 1930’s was die vestiging so ver gevoer, en is genoegsame territoriale stabiliteit bereik, dat geleenthede soos die 1938 Simboliese Ossewatrek – oftewel die mitologisering van beweging onder die gevestigdes – asook volksfeeste, soos 1949 se inwyding van die Voortrekkermonument, en die sportbyeenkomste van die 1950’s tot 1970’s, as verheerliking van beweging die tweede moment van vryheid in die grafosfeer was.

Republiekwording in 1961 het die politiek van afstand gehandhaaf. Waar die Afrikaners in die logosfeer die swakker self teenoor die sterker ander was, het hulle hulle nou op die hoogtepunt van die Afrikaanse grafosfeer in ’n dubbelsinnige posisie bevind: betreffende die internasionale wêreld, versinnebeeld deur die Statebond onder Brittanje, was hulle steeds die swakker self, en het Suid-Afrika se geografiese afstand van sy koloniale moederland dit moontlik gemaak om die ou motief van om die self op ’n afstand van die ander te plaas, weer tot herhaling gebring. Dít is beliggaam in Verwoerd se uittrede uit die Statebond net voor republiekwording.

Teen hierdie tyd was die Weste reeds in die videosfeer met sy netwerke, multilateralisme en neiging tot globale integrasie, waarin die politiek van afstand vir die politiek van nabyheid verruil word. Dit is dus verstaanbaar dat Suid-Afrika vanaf 1960 deur die internasionale gemeenskap met isolasiemaatreëls onder druk geplaas is, maar hierdie isolasiemaatreëls sou doodeenvoudig aan die belangrikste motor van Afrikaner-nasionalisme, die sug na afstand, nuwe energie gee, wat eers sou uitbrand met die finale betreding van die videosfeer vanaf 1975.

Binnelands, daarenteen, was die Afrikaanse grafosfeer in ’n sterker posisie as die swart logosfeer, en kon hy met sy politieke beheer oor mobiliteit en kommunikasie, oftewel die politieke Heilige Graal van die uitgestrekte Suid-Afrika, die swakker (tegniese) ander op ’n afstand van die sterker (tegniese) self plaas.
         
Dat nasionalisme in die Afrikaanse grafosfeer so sterk was, hoef ons ook nie te verbaas nie, want nie net het die Afrikaner-elite, soos ons reeds gesien het, ’n gedugte stel tegnieke en instellings van oordrag beheer nie, maar ook was vervoer by wyse van die trein, die bus en die trem nou in openbare Afrikaner-hande. In hierdie verband is insiggewende leesstof hoe M.E.R. vertel van hul treinritte na NP-saamtrekke, of hoe Bloemfontein in Karel Schoeman se Die Laaste Afrikaanse Boek tot in die 1950’s as halfwegstasie tussen die Suide en die Noorde funksioneer, waarna die vliegtuig en die motor dié stad sy status ontneem.

Wat betref die temas van die logosfeer wat na die grafosfeer oorgedra is, die volgende:

  1. Waar die God van die Calvinistiese religie in die logosfeer as onsigbare lotsbeskikker verstaan word, word Hy nou die bedinkbare, vertolkbare waarborg van apartheid en uitverkorenheid. Dat die politieke beheer wat Afrikaners oor mobiliteit en afstand in die grafosfeer verkry het, dan weerklank gevind het in die teologiese begronding van apartheid, naamlik die verhaal van die Toring van Babel of die vers in Handelinge waarvolgens God alle volke apart geskape het, is nie verbasend nie.
  2. Republikanisme, oftewel ’n volk met sy eie gebied, wat in die grafosfeer die Republiek van Suid-Afrika sou word, en waar republikanisme, gedryf uit die van sy republiek ontneemde Noorde, die knie sou buig voor nasionalisme, waar die gemeenskap eerder as die gebied die bepaler is.
  3. Die kultuur van vleis, wat met die volksfeeste in braaivleis as nasionale gereg herleef het, en waar die eetgewoontes van die veld in die stad herdenk is.
  4. Die primêre ruimtelike eenheid is die stad.
  5. Die primêre maatskaplike eenheid is die volk. Aangesien die volk met sy skool in die grafosfeer die primêre lokus van oordrag is, verloor vroue vanaf die 1920’s hul posisie in die openbare lewe. Wat die kombuis vir vroue se mag in die logosfeer beteken het, is wat die klaskamer vir hulle magsverlies in die grafosfeer beteken het. Die huis sou voortaan die ruimte word waar hulle dikwels via hul kinders die stryd met die patriargie van kerk en party moes aanknoop, ’n onverkwiklike geveg waarin niemand beslissend as oorwinnaar uitgetree het nie.
  6. Die primêre instelling is die NP, wat Afrikaners as gemeenskap vir 40 jaar lank via ’n netwerk van openbare instellings verenig.
  7. Die vrees vir gelykstelling, wat nou manifesteer as Afrikaners se jaloerse bewaking van die openbare wit skool en die NGK, en die mindere bronne wat aan sendingkerke en swart skole toegedeel is.
  8. Die sterk leier, gebaseer op die posisie wat die man as partyleier, predikant en koerantredakteur sou geniet.
  9. Van die baie sterk individualisme van die logosfeer is oorbeweeg na die baie sterk kollektiwisme van die stad, skool, party en kerk.

3.3 Die videosfeer

Die koms van die videosfeer na Suid-Afrika is ’n boeiende verhaal waarop ons nie hier in breë trekke kan ingaan nie. Terwyl Europa en Noord-Amerika tussen 1890 en 1910 die videosfeer betree het met die vliegtuig, die motor en die bioskoop, en waar beelde en lugdominasie die agtergrond van die Eerste Wêreldoorlog was, gevolg deur die koms van televisie in die 1930’s, was Suid-Afrika, waar die trein in dieselfde tyd eers nasionaal gevestig is, massamotorbesit vir veral Afrikaners eers vanaf die 1960’s gekom het, en die televisie eers in 1975, se betreding van die videosfeer stadiger as in Europa en Noord-Amerika. Wat wel waar is, is dat massamotorbesit in die 1960’s en die instelling van TV in 1975 Afrikaners vir alle praktiese doeleindes die videosfeer binne 15 jaar laat betree het, waar dit hulle meer as 50 jaar geneem het om dit met die grafosfeer te doen – as ’n mens laasgenoemde betreding dateer vanaf die Eerste Taalbeweging.

Die gevolg hiervan was dat die formidabele institusionele en ideologiese kohesie wat Afrikaners teen die laat 1960’s gekenmerk het, teen die laat 1970’s begin meegee het en teen die vroeë 1990’s iets van die verlede was. Met massamotorbesit het die staat sy monopolie op vervoer prysgegee en in die motor as individualistiese vervoermiddel kon Afrikaners teen die vroeë 1990’s weer ontpop as die hiperindividualiste van die logosfeer, dog hierdie keer met ’n oneindig kragtiger afstandsvernietiger as die ossewa, naamlik die viertrekvoertuig, wat die ou Afrikaanse droom van vryheid-in-afstand springlewendig en gesond gehou het.
 
Ook die TV het in 1975 die belangrikste kommunikasiemedium terug in die hande van individue geplaas, iets wat voltrek is met die NP se magsverlies in 1994. Dat die ANC, kampioen van die Suid-Afrikaanse videosfeer,9 baie gou die televisiewese grondig sou verander, sou onvermydelik satelliettelevisie vir Afrikaners aantreklik maak. M-Net en DStv sou as privatistiese verlengings van die Amerikaanse videosfeer egter betreklik min doen vir ’n onderskeibare Afrikaanse gemeenskapslewe na nasionalisme.

Die beweging na die videosfeer is ironies genoeg meegebring deur die formidabele suksesse van die Afrikaanse grafosfeer. Afrikaanse skrywers sou vanaf die laat 1950’s in die buiteland met die Westerse videosfeer kontak maak, en hulle sou die beweeglikheid en sterk sin vir die individuele teen die agtergrond van ’n nou verstikkende, beweginglose kollektiwisme onder Verwoerd en veral Vorster in beskerming neem. Breyten Breytenbach, ewige nomaad en boegbeeld van die skeppende individu teen die smorende kollektief, en die res van die Sestigers sou hulle stempel afdruk en so Afrikaans se derde groot letterkundige oes lewer.

Ook die tegniese vooruitgang van die grafosfeer sou meebring dat ekonomiese modernisering, beter openbare gesondheidsorg en onderwys nie net swart bevolkingsgetalle laat toeneem nie, maar hulle ook in groot getalle weens die stadsgebaseerde ekonomie laat verstedelik. Desnieteenstaande sou onderwys in swart skole nooit op die peil van wit skole wees nie. Swart mense sou dus die grafosfeer via die ekonomie en verstedeliking gedeeltelik betree, maar weens die tuislande en gebrekkige onderwys steeds met die ander voet in die logosfeer leef. Dat die sikliese tydsbegrip van die logosfeer, waar ’n gebrekkige sin van toekoms groter gesinne in die hand werk, dan ook sy bydrae tot swart bevolkingsgroei sou lewer, net soos wat die geval met Afrikaners in die logosfeer was, is ook nie vreemd nie.

Kortom, enorme swart verstedeliking, die videosfeer in die buiteland met sy agterlating van afstand, en die uiteindelike koms van die videosfeer na Suid-Afrika teen 1975 kon dus nie anders nie as om die ideologiese hart van apartheid en Afrikaner-nasionalisme uit te ruk. Waar die beywering vir afstand sedert 1652 dwarsdeur die logosfeer en die grafosfeer aan ’n progressiewe politiek gelykgestaan het, het dit nou, in die era van die politiek van nabyheid, aan reaksionêre politiek gelykgestaan. Die kombinasie van swart verstedeliking, oftewel die demografiese vernietiging van apartheidsafstand, Afrikaners se massamotorbesit en die swart-taxi-bedryf van die 1980’s, tesame met TV, het die staat sy greep op mobiliteit en oordrag ontneem.

PW Botha, die eerste Afrikaner-leier van die videosfeer, het met sy agtergrond in propaganda en militarisme twee strategieë ingespan om afstand te probeer handhaaf, naamlik die grensoorlog en die noodtoestande, asook die kommunikasiebeleid wat bekendgestaan het as die Totale Reaksie op die Totale Aanslag. Met die grensoorlog is deur Suid-Afrika se militêre betrokkenheid in veral die voormalige Suidwes-Afrika (Namibië) en Angola die buitelandse vyande van Afrikaner-nasionalisme en bondgenote van die ANC (die Sowjetunie, Kuba, SWAPO) op ’n afstand gehou, terwyl die noodtoestand op sy beurt, met sy streng beperkings op kommunikasie en beweging, weer die binnelandse vyande van Afrikaner-nasionalisme (die breë burgerlike anti-apartheidsbeweging) op ’n afstand moes hou.

Maar die Afrikaanse grafosfeer was, in klassieke mediologiese modus, doodgewoon nie voorbereid op die videosfeer nie, en die onaansienlike politici met hul pluiskuilhoedjies, gestroop van nuwe idees – dit wat die grafosfeer gekenmerk het – kon nie die beelde-oorlog wen teen die videosferiese ANC met sy slim oudiovisuele kommunikasie wat tydens ballingskap in die videosfeer in die Noordelike Halfrond ontwikkel is nie.

Teen die tyd van FW de Klerk, wat veel minder op idees as op beeld gesteun het, het die ANC nie net met die verskyning van die fotogeniese superheld van die Suid-Afrikaanse en globale videosfeer, Nelson Mandela, die beelde-oorlog gewen nie, maar ook die ideë-oorlog om die onderhandelingstafel. Om De Klerk se penarie te vererger het jong en denkende Afrikaners reeds vanaf die 1980’s die politiek van nabyheid van die videosfeer toegeëien, en sou hulle selfs vir ’n tyd met die videosfeer se belangrikste politieke mite van nabyheid, oftewel sentralistiese nasiebou, flankeer.

Die belangrikste voorbeeld hiervan, en bes moontlik die laaste bestorming van binne op die mure van die grafosfeer in ’n beweging uitwaarts, was die musikante van die Voëlvrybeweging wat met hul briljante nabyheidsindividualisme10 massas jongmense triomfantelik ’n kortstondige ideologie gegee het. Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band het met ’n liedjie soos “Sit dit af!” die estetiese tekortkominge van die Afrikaanse grafosfeer te midde van die videosfeer raakgevat, net soos hulle met die liedjie “Ossewa” die hoogbloei van individualistiese vervoermiddels onder Afrikaners beskryf het. Wat die Dertigers as helde en die Sestigers as antihelde van die grafosfeer was, sou die Voëlvrybeweging en hul opvolgers vir die videosfeer word.

Dat die ANC en Mandela aanvanklik so skitterend in die videosfeer vertoon het, was ook aanvanklik te danke aan die doeltreffendheid van die Afrikaanse grafosfeer. Die verbete logika van om die swakker ander op ’n afstand van die sterker self te plaas het daartoe gelei dat die ANC se eerste geslag leiers in die tronk gestop is en die tweede geslag ná 1976 in ballingskap was, waar hulle eerstehandse blootstelling aan die videosfeer gekry het. Mandela self sou deur sy lewenstrajek as briljante medioloog ontpop: nie net sou sy koms na Johannesburg in die 1940’s, sowel as sy naskoolse regsopleiding, hom deeglik in die grafosfeer inwy nie, maar sou hy ook daarin slaag om tydens sy tronkverblyf sodanig met die videosfeer in voeling te bly, veral deur sy kontak met verbanne ANC-lede, dat die glimlaggende man wat in 1990 vry uit die tronk gestap het, en waarvan die foto verbete deur die grafosferiese NP verban is, met sy onweerstaanbare beeld Suid-Afrika se grootste staatsman van die videosfeer sou word.

Ook in ballingskap het die ANC, aan die videosfeer blootgestel, ontpop as daardie klassieke instelling wat die politieke party van die grafosfeer in die videosfeer opvolg, naamlik die drukgroep. As meester van (oudiovisuele) kommunikasie en met ’n progressiewe internasionale beeld, sou hulle skitterend in die onderhandelinge vaar. Om die kroon te span was hulle nabyheidsnasionalisme in reaksie op die afstandsnasionalisme van die NP tydens apartheid as ’n politiek van nabyheid, oftewel ’n geïntegreerde Suid-Afrikaanse eenheidstaat, die droom van die videosfeer. Soos Voltaire gesê het, niks is so kragtig soos ’n idee waarvan die tyd gekom het nie, oftewel, ’n idee wat deur die heersende mediasfeer begunstig word.

Die ANC se probleme as beweging sou eers in alle erns begin tydens die Mbeki-bewind, toe die grafosferiese staatsmasjinerie, wat nog steeds die belangrikste motor van hul Afronasionalisme was, hulle toenemend sou dwing om nie meer as drukgroep nie, maar as politieke party op te tree. Dieselfde sentralisme, gebrek aan interne debat en leiersobsessie wat die NP in die laaste jare van die grafosfeer sou kenmerk, was ook die voorland van die ANC.

Aan die begin van hierdie artikel het ons gevra hoe die oënskynlike teenstrydigheid by Afrikaners tussen “’n fatalistiese afwagting van ’n gewisse kollektiewe nederlaag en finale ondergang” en “’n misterieuse lewenskragtigheid”, waarna Giliomee verwys, verklaar kan word. Die antwoord, wil ons aanvoer, is te vinde in die feit dat die tegnomateriële stelsel van oordrag wat tussen die Nederlandse en Britse koloniale era geskep is, die minimum was van wat nodig is om die inheemse bevolking van hierdie land dienstig te hou aan die elite wat die oordragsentrum beheer. Hierdie tegnomateriële stelsel van oordrag is egter nooit beplan om die inheemse bevolking onafhanklik van die koloniale sentrum te maak nie.

Afrikaners se “fatalisme” het sy oorsprong in die tyd toe hulle aan hierdie stelsel uitgelewer was, terwyl die “geheimsinnige lewenskrag” volg uit die beperkte toegang wat hulle daartoe gehad het. Toe hulle hierdie stelsel egter in die grafosfeer oorgeneem het, het hulle self nie verstaan dat dit slegs geskep is om die beherende groep te bevoordeel, in plaas van die hele land nie, sodat die beheer oor hierdie stelsel altyd aan die elite ’n aanvanklike illusie van absolute mag sal verleen, maar op die duur hulle ondergang verseker.

As die huidige maghebbers in die videosfeer, gegewe die logika van hoe die oordragstelsel effektief ’n plaaslike tak van die Amerikaanse koloniale moederland geword het, nie hierdie logika deurbreek nie, sal ook hulle nie daarin slaag om hierdie land te bevry nie, ten spyte van die morele hoë grond wat hulle beklee, en wat ’n funksie van hul oorwinning in die videosfeer is. Die Afrikaners het presies dieselfde morele hoë grond betree toe hulle in die grafosfeer getriomfeer het. En nes hulle binne enkele jare, weens ’n gebrekkige mediologiese insig, die morele hoë grond verloor het, so sal dit ook met die huidige maghebbers wees as hulle nie hierdie insig ontwikkel nie. Hul historiese pluraliteit as bevrydingsbeweging is volgens alle aanduidings binne tien jaar na magsoorname opgedoek tot die kru sentralisme wat volg uit die sentralistiese aard van Suid-Afrika se koloniaal-bepaalde tegnomateriële oordragstelsel.

Voor ek afsluit met enkele gedagtes oor Afrikaners en die politiek van die videosfeer, ’n tabel waarmee Afrikaners in die drie mediasfere opgesom word:

 

4. Afrikaners: Republikeine van die videosfeer?

Waar laat die videosfeer Afrikaners? En wat van republikanisme in die videosfeer?

Voor ons op hierdie vrae probeer antwoord, eers enkele opmerkings oor die herlewing van die logosfeer in die videosfeer, waarna ons reeds hier bo kortliks verwys het.

Ons het reeds vermeld dat die herlewing van die logosfeer vandag nie net te danke is aan die simbiose tussen die videosfeer en die logosfeer nie, maar ook aan die relatiewe kortstondigheid van die Afrikaanse grafosfeer. Nie net is die mobiliteit van die logosfeer vandag eksponensieel vermenigvuldig met die viertrekvoertuig en die vliegtuig nie, sodat Afrikaners wat kortstondig bewustelik met die politiek van nabyheid geflankeer het, nou toenemend weer met afstand omgaan in ’n soort droom van ewigdurende beweging, maar ook bring die disintegrasie van die instellings van die Afrikaanse grafosfeer, asook die verlies aan politieke mag, ’n herlewing van die simboliese posisie van die NGK, wat met naderende kerkeenheid ook die politiek van nabyheid sy eie maak, en nogmaals, soos met die betreding van die grafosfeer, ook in die videosfeer die laaste instelling is om by die nuwe mediasfeer aan te pas.

Vinnig-bewegende, sexy, atomistiese nomade het Afrikaners in die videosfeer geword, maar dit alles sal slegs aantreklik bly vir solank die gees van die grafosfeer nog vaardig is. Vir nou bedien die Afrikaner-elite hulle nog van die illusie dat al die skoonheid van die videosfeer in verbruikende vergryp Afrikaners van die lelikheid van die sterwende grafosfeer sal verlos, maar ook hierdie kortstondige illusie sal, soos alle ander dinge in die videosfeer, oftewel die Tirannie van Onmiddellikheid, verbygaan, en dan sal die eintlike debat oor hoe Afrikaners hulself as gemeenskap aan ’n volgende geslag gaan oordra, begin.

Minstens drie metapolitieke posisies bied hulself aan. Ons som hulle kortliks op.

Ten eerste is daar die ou droom van vryheid-in-afstand, soos enersyds staatkundig versinnebeeld in die ideaal van ’n volkstaat. Andersyds word hierdie ou droom van vryheid-in-afstand versinnebeeld in die ideaal van ’n gemeenskap van privaat ondernemers, wat met sy rekenaars, satelliet-TV en afgekampte woonbuurte die mobiliteit en individualisme van die logosfeer laat herleef. Na Derrida se omskrywing van apartheid as “crowds of mapped-out solitudes” (Derrida 1985) sou ’n mens hulle vlugtend voor sentralistiese nasiebou “families of mobile solitudes” kon noem.

Ten tweede is daar die vroeë videosferiese droom van vryheid-in-nabyheid, soos versinnebeeld deur Afrikaner-intellektuele wat aansluiting by die meerderheid vir Afrikaners as progressief voorhou.

Ten derde is daar die poging om vryheid te verstaan in die ossillasie tussen afstand en nabyheid, tussen buite en binne, oftewel die “oop grens”. Hierdie nuwe vryheidsideaal is in terme van die filosofie van die tegniek, die mediologie en die politiek van erkenning verreweg die naaste daaraan om nie net die bestaan van Afrikaners as gemeenskap tussen ander gemeenskappe en die politiek van nabyheid van die videosfeer te erken nie, maar ook die naaste aan ’n politieke middeweg tussen die oorbeklemtoning van verskil, oftewel die apartheid van die grafosfeer, en die oorbeklemtoning van identiteit, oftewel die sentralistiese nasionalisme van die videosfeer, nie net vir Afrikaners nie, maar ook vir Suid-Afrika, omdat dit die enigste manier is om ’n nasie te word in die era van globalisering wat die staat relativeer. Van bo, oftewel vanaf globale kant, word die staat ingetrek in die stryd tussen unilateralisme en multilateralisme, en van onder, oftewel vanaf lokale kant, neem die eis om erkenning van klein gemeenskappe as die voorwaarde van nuwe state toe.

Maar ’n republiek kan nie sonder gebied bestaan nie. Gegewe dat die banalisering van afstand sowel as die politiek van nabyheid fisiese gebied vir Afrikaners vir eers ’n onnastrewenswaardige opsie gemaak het, is die opsie om van taal hulle gebied te maak, oftewel om die videosfeer vir Afrikaans en Suid-Afrika se ander inheemse tale te wen. Die republikanisme van die videosfeer is een wat taal sentraal stel: taal as die aspek van menswees wat die virtueelste én die materieelste is, wat netwerk en gemeenskap skep. Maar as Afrikaners republikeine van taal wil word, sal hulle enkele werklikhede onder oë moet sien:

  1. As Afrikaans nie die videosfeer kan toe-eien nie, sal een van twee moontlikhede voltrek word. Enersyds sal Afrikaners in groot getalle verengels, soos gedemonstreer deur Engfrikaans, die dialek wat jong Suid-Afrika ontwikkel teen die agtergrond van die tot nog toe onvolledige toe-eiening van die videosfeer vir Afrikaans. Andersyds sal Afrikaans weer die kombuistaal word wat dit in die logosfeer was, en waarvan daar reeds vele tekens is, soos die taal in die openbare lewe afgeskaal word. In die logosfeer, toe Afrikaners die grafosfeer met die Eerste Taalbeweging begin betree het, het S.J. du Toit die swaartekrag van die logosfeer verklaar toe hy gesê het: “Ons skryf soos ons praat.” Toe die standaardisering en oordrag van Afrikaans in die grafosfeer op sy hoogtepunt was, was die neiging: “Ons praat soos ons skryf.” Nou, in die videosfeer, probeer ons praat soos ons wil lyk, dit wil sê informeel, cool, sexy. Om te sê dat Afrikaans sal oorleef solank dit gepraat word, is niks anders nie as om sowel die terugkeer van die logosfeer as die onvolledige toe-eiening van die videosfeer te erken. Eers wanneer ’n Standaardafrikaans wat ook die voorheen miskende dialekte van Afrikaans erken, nie net in musiek en films gehoor en gesien word nie, maar ook met groter energie as ooit geskryf word ten einde ons brose grafosfeer, waar ons idees en ons tradisie lê, in beskerming te neem, sal die toekoms van Afrikaans veilig wees. (Terloops, die argument dat die kritiek van Engfrikaans rassisties is solank dieselfde kritiek nie toegepas word op ander Afrikaanse dialekte soos byvoorbeeld Kaaps, wat ook Engelse woorde bevat, nie, is natuurlik nie geldig nie: nie net het al die dialekte van Afrikaans ’n lang tradisie en is hulle in mindere en toenemend meerdere mate in Standaardafrikaans erken nie, maar bestaan Engfrikaans slegs sedert die videosfeer as parasiet van Standaardafrikaans, het dit geen tradisie nie en is die enigste estetiese aantrekking daarvan beperk tot die jongste cool uitdrukking wat die vervlietende videosfeer uitflits.)
  2. As Afrikaans nie nuut kan word deur afstand en nabyheid op die regte tyd en plek uit te leef nie, sal dit maar net voortbestaan, eerder as om voort te bestaan in verbeelding, wat in navolging van Van Wyk Louw se grafosferiese voortbestaan in geregtigheid, die taalideaal van die videosfeer is. Wat nabyheid betref, bestaan daar nog die kloof tussen wit en bruin/swart in Afrikaans, wat voortgespruit het uit die feit dat bruin en swart Afrikaanstaliges tydens apartheid op baie kleiner skaal die grafosfeer ingeneem is. Wat afstand betref: dit sal inhoudelik gehandhaaf moet word van die monokulturele simulacrum wat die Amerikaanse videosfeer is deur ons eie inhoude aan die videosfeer te gee. Kortom, waar die Eerste en Tweede Taalbewegings eintlik één was, naamlik ’n vyftigjarige stryd om Afrikaans van die logosfeer na die grafosfeer te neem, is die Derde Taalbeweging eintlik twee, naamlik, enersyds, die ideaal om bruin en swart Afrikaanstaliges oplaas deel van die grafosfeer te maak in ons skole, universiteite en media, en, andersyds, die ideaal om die videosfeer toe te eien, wat begin het toe Afrikaans in 1994 sy politieke beheer oor die videosfeer verloor het. Nie net moet Afrikaans en die ander inheemse tale hul regmatige plek naas Engels in die videosfeer inneem nie, maar ook moet private Afrikaanse pogings om die videosfeer te betree, soos ons musiek, enkele rolprente en kykNET, by sowel die republikeinse momente van die verlede aansluit, as die moontlikhede van ’n toekoms wat sowel die lokale as die globale vier en ontgin.
  3. Nóg die toe-eiening van die videosfeer, nóg vryheid in afstand-en-nabyheid, sal slaag as ons nie vir die nuwe republikanisme van die videosfeer nuwe instellings stig wat as ’n netwerk ’n nuwe Afrikaanse gebied kan skep nie. Ou Afrikaanse instellings van die logosfeer en grafosfeer, soos kerke, skole en universiteite, moet ten alle koste behoue bly en met nuwe inhoud in die videosfeer gevul word, soos wat die Universiteit van Stellenbosch, die NG Kerk onderweg na kerkeenheid, die ATKV of Solidariteit wys. Terselfdertyd is nuwe instellings nodig, waarvan kunstefeeste met hul mobiliteit en kortstondigheid klassieke energie-opwellings van die videosfeer is, maar nie genoeg nie. Groter kontinuïteit is nodig, wat nie net deur nuwe kuns en idees gegee kan word nie, maar ook deur ’n Afrikaanse taalbelangeraad, wat na binne die politiek van nabyheid tussen al die uiteenlopende Afrikaanse tradisies kan beoefen, en na buite die ossillasie tussen afstand en nabyheid met die breër Suid-Afrika en die proses van globalisering.

Die verdwyning van die verbete opposisie tussen afstand en nabyheid hoef ons nie vandag meer in Afrikaans gevange te hou nie. Vir ons as republikeine van die videosfeer is die uitdaging hier om vryheid-in-afstand-en-nabyheid te aanvaar.

 

Bibliografie

Derrida, Jacques. 1985. “Racism’s last word”, Critical Inquiry 12 (1), 1985, Chicago: University of Chicago Press.

Debray, Régis. 2000. Introduction à la médiologie, Parys: PUF.

—. 2001. Les Diagonales du médiologue: Transmission, influence, mobilité, Parys: Bibliothèque nationale de France.

—. 1991 en 2001. Cours de médiologie générale, Parys: Gallimard.

Giliomee, Hermann. 2004. Die Afrikaners: ’n Biografie, Kaapstad: Tafelberg.

Leroi-Gourhan, André. 1964 en 1965. La Geste et la parole, Parys: Albin Michel (Band Een, 1964; Band Twee, 1965). Engelse vertaling uitgegee as een band onder die titel Gesture and speech, Cambridge, Massachusetts: MIT Press, 1993.

Mbeki, Moeletsi. 2006. “The white roots of BEE”. In Die Vrye Afrikaan, 19 Mei 2006. Pretoria: FAK. http://www.vryeafrikaan.co.za/site/lees.php?id=574, webwerf besoek op 10 Junie 2008.

Rossouw, Johann. 2006. “Re-invention rather than co-optation”. In Die Vrye Afrikaan, 19 Julie 2006. http://www.vryeafrikaan.co.za/site/lees.php?id=631, webwerf besoek op 10 Junie 2008.

Simondon, Gilbert. 1989 (1958). Du mode d’existence des objets techniques, Parys: Aubier.

—. 2007 (1989). L’individuation psychique et collective, Parys: Aubier.    
Stiegler, Bernard. 1994, 1996, 2001. La technique et le temps: 1. La faute d’Épiméthée, Parys: Galilée, 1994; 2. La désorientation, Parys: Galilée, 1996; 3. Le temps du cinéma et la question du mal-être, Parys: Galilée, 2001. 

 

Eindnotas

[1] Hierdie artikel is ’n aansienlik hersiene weergawe van ’n openbare lesing wat op 31 Oktober 2003 by die filosofiekafee, Café Riche, Kerkplein, Pretoria gehou is.

[2] Simondon se vernaamste werke is onderskeidelik Du mode d’existence des objets techniques (1958, 1989) en L’individuation psychique et collective (1989, 2007), albei uitgegee deur Aubier, Parys. Leroi-Gourhan se bekendste werk is die tweedelige La Geste et la parole, onderskeidelik in 1964 en 1965 uitgegee deur Albin Michel, Parys. Die Engelse vertaling is in 1993 as een band uitgegee onder die titel Gesture and speech, Cambridge, Massachusetts: MIT Press.

[3] Soos Stiegler dit uitvoerig behandel in Band Een van La Technique et le Temps (kyk eindnota 4).

[4] Stiegler, Bernard, La technique et le Temps: 1. La faute d’Épiméthée, Parys: Galilée, 1994; 2. La désorientation, Parys: Galilée, 1996; 3. Le temps du cinéma et la question du mal-être, Parys: Galilée, 2001.

[5] Die begrippe tegnisiteit en prostese staan sentraal by Stiegler, en word reeds in Band Een van La Technique et le Temps ontwikkel. Hoewel hierdie sake nie sentraal in die skopus van hierdie artikel is nie, verduidelik ons baie kortliks wat Stiegler met hierdie twee begrippe bedoel, ten einde ons argument dat die geskiedenis ook vanuit die tegniek gelees kan word, en ons toepassing daarvan in hierdie artikel, verder te rugsteun. Wat tegnisiteit betref, voer Stiegler onder invloed van Leroi-Gourhan aan dat die tegniek begryp kan word as die voortsetting van die lewe met ander middele as die lewe self, waarmee hy bedoel dat vanaf die eerste mense tot vandag, die mens nie sonder tegniese hulpmiddele kan oorleef nie. Die mens se neiging tot die tegniese is part en deel van sy wese, en is wat Stiegler sy tegnisiteit noem. Omdat elke enkele instrument (klere wat die vel veruiterlik en optimaliseer, die klipmes wat die hand veruiterlik en optimaliseer, ens., tot by die rekenaar en die satelliet) die mens se natuurlike vermoëns vermeerder, noem Stiegler alle vorme van tegniek prosteses. Sy ontleding van die uitdagings van die hedendaagse industriële samelewing word ontwikkel deur die effek van die heersende tegnologieë, en veral dan kommunikasie- en inligtingstegnologieë, op menswees te ontleed. Op baie voorlopige en beperkte skaal probeer ons in hierdie artikel ’n soortgelyke ontleding van Afrikaners en Suid-Afrika se politieke geskiedenis maak aan die hand van opeenvolgende tegniese milieus, of mediasfere, soos dit verderaan in hierdie artikel met betrekking tot die werk van Régis Debray ontwikkel word.

[6] Suid-Afrika se eerste groot industrialiseringsgolf kom ná die ontdekking van goud en diamante vanaf die 1860’s en 1870’s, en word veral deur die Britse Ryk gedryf om sy imperiale houvas op die land te versterk. Die belangrikste aspekte van hierdie industrialiseringsgolf sluit in die koms van elektrisiteit na Suid-Afrika, die eerste telekommunikasietegnologie (telegraaf, telefoon), en veral die voltooiing van die ruggraat van die nasionale spoortnetwerk in die dekade na die Anglo-Boereoorlog. Die tweede golf van Suid-Afrika se industrialisering kom vanaf die 1930’s op dreef en sou oor die volgende vier dekades of wat ten nouste verknoop wees met die wel en wee van Afrikaner-nasionalisme. Op die tegniese basis wat die Britse Ryk gelê het, is met energie voortgebou, en groot uitbreidings van die vervoernetwerk (veral nasionale paaie), pos en telekommunikasie, elektrisiteitsvoorsiening, yster- en staalproduksie, die bou van damme en die uitbreiding van die land se vervaardigingsvermoë geskied in hierdie fase.

[7] Hierdie punt is verder uitgewerk in ’n artikel wat ek in antwoord op ’n artikel van Moeletsi Mbeki geskryf het, en waarin ek probeer aantoon dat dit wat hy die “Mineraalenergiekompleks” noem, inderdaad al vir meer as 150 jaar die belangrikste magskonstellasie in Suid-Afrika is, en dat hierdie magskonstellasie sy houvas veral deur middel van sy beheer oor vervoer en kommunikasie in die land handhaaf. Kyk, respektiewelik, Mbeki, Moeletsi, “The white roots of BEE” in Die Vrye Afrikaan, 19 Mei 2006, Pretoria: FAK, http://www.vryeafrikaan.co.za/site/lees.php?id=574; en Rossouw, Johann, “Re-invention rather than co-optation” in Die Vrye Afrikaan, 19 Julie 2006, http://www.vryeafrikaan.co.za/site/lees.php?id=631.

[8] Ons verwys hier veral na die mate waarin die leiding van die Nasionale Party, die NG Kerk, Nasionale Pers en ander vername Afrikaanse firmas oorwegend vanuit die Suide van die land gegee is tot die 1950’s.

[9] Ons verwys na die feit dat die leierskap van die ANC na sy ontbanning, en by uitstek die voormalige politieke uitgewekenes wat vanaf 1990 tot met die ANC se 52ste nasionale konferensie in Polokwane, Desember 2008, so ’n leidinggewende rol in die ANC gespeel het en dat dit sterk gevorm is deur hulle blootstelling aan die videosfeer in die Noordelike Halfrond, waar hulle sonder die luukse van ’n staat (soos wat die NP beheer het) moes leer om hulle boodskap effektief in ’n oudiovisuele omgewing oor te dra.

[10] Oftewel die droom van ’n nierassige eenheidstaat, ontdaan van die onderdrukking van Afrikaanse individualiteit wat die NP se Suid-Afrika in die 1980’s gekenmerk het, deur Afrikaanse protesmusikante verpak vir die Afrikaanse jeug.

 



 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top