Teaterresensie: Wie's bang vir Virginia Woolf?

  • 0

 

wiesbangplakkaat

Die Afrikaanse vertaling van Edward Albee se veelbekroonde drama Who’s Afraid of Virginia Woolf? is tans op die planke by die Fugard-teater in Kaapstad. Die skreeusnaakse, maar gitswart donker woordeoorlog het ’n kort speelvak tot 8 Augustus. Saartjie Botha het die teks vertaal en Christiaan Olwagen behartig die regie.

Die storielyn in ’n neutedop: ’n Geskiedenisprofessor en sy vrou, George (Marius Weyers) en Martha (Sandra Prinsloo), wat al vir meer as 30 jaar getroud is, nooi ’n pasaangestelde jong professor (Wessel Pretorius) en sy vrou (Greta Pietersen) vir ’n loopdop ná ’n fakulteitsfunksie. ’n Nag van waansin volg: die niksvermoedende nuwelinge word in ’n paar uur deur vernedering, frustrasie en manipulasie heeltemal ontredderd gelaat. Dit word ’n nag waarin pretensie en voorgee brutaal ontmasker word en ’n huweliksbootjie op die rotse afstuur. George en Martha ontsien niks om mekaar – en hul gaste – verbaal te vermorsel en kreatiewe maniere te vind om mekaar te uitoorlê nie.

Die verhoog is karig gemeubileer: een baie lang grys bank wat in dele opgedeel kan word; ’n drankiestrollie; reusegordyn wat half oop hang en agter op ’n hoër verhoog drie gemonteerde bokkoppe en twee poefe laat deurloer. Aan die begin sit George en Martha elkeen op die verste punt van die bank, wat onwetend die emosionele gaping tussen hulle beklemtoon.

Met Christiaan Olwagen, vanjaar se Jong Kunstenaar vir Teater by die Nasionale Kunstefees op Grahamstad, se grensverskuiwende aanslag in Die Seemeeu en die semibiografiese Dogma, weet jy nog voor die ligte doof dat jy ’n helse wipplankrit kan verwag.

Jy gaan lag, want die teks is soms skreeusnaaks. Jy gaan geskok wees, want die dialoog is snydend. Jy gaan kwaad word, want die woorde sny diep, en voor jy jou kom kry, is jou verontregting deur daardie jonger kollega se destydse bevordering weer vars in jou geheue, jou eie teleurstellings hopeloos té vlak onder die oppervlak. Wanneer George aangrypend verduidelik dat wanneer jy etikette afkrap, jy moet aanhou krap – deur die drie lae vel en die spiere, dan die organe eenkant toe skuif tot op die been, maar steeds nie moet ophou tot jy die murg bereik het nie, torring iets binne jou los.

Jy vind uit dat Martha se pa die universiteit se rektor is en voortdurende verwysings na “Pappa” suggereer haar aanbidding en George se walging aan die man, veral as hy sê: “Ons weet almal hy is God en dat hy nooit gaan sterf nie.” Hy noem later aan Nick dat “Martha se pa die uithouvermoë van ’n Mikronesiese skilpad het en daar word gegis dat hy meer as 200 jaar oud is.”

Die paartjie luister na Martha se lang monoloë van teleurstelling in George wat “ruggraatloos” en ’n “moeraspadda” is, haar uitbarstings in sirkels oor verpletterde drome en hartseer in haar lewe saam met hom. “George het nie die stoffasie gehad om by Pappa oor te neem nie, hy was ’n mis-oes,” laat sy hoor, terwyl George by haar smeek om op te hou.

Hy kom op ’n stadium die vertrek met ’n rewolwer binne, en wanneer hy die sneller trek, is dit ’n partytjiegeweer met vrolike streamers, maar dié daad skep ’n makabere atmosfeer van onheil en almal teenwoordig besef daar is geen omdraaikans meer nie.

Soos die nag vorder en al vier mense se lewens een vir een uitmekaar val, begin hulle die lang bank se dele rondskuif, ’n duidelike suggestie van die onafwendbare verbrokkeling. Martha praat van een nag wanneer iets breek en jy nie meer omgee nie en George waarsku die jong dosent dat daar dryfsand daar is en dat hy ook drie dekades gelede met sterre in sy oë as dosent aangesluit het.

Ek hoor tydens die 15-minute-pouse hoe een vrou vir ’n ander sê dit moet vir die akteurs voel soos geboorte gee elke aand. “Dit gaan die verstand te bowe hoe jy elke dag soveel kan gee.”

En dis presies hoe jy voel as jy na die uitstaande spel kyk. Mens kan nie glo dat jy jou siel vir die gehoor blootlê, heeltemal een word met ’n karakter wie se lewe - soos veral in hierdie teks – uitmekaar val en sy hulpkrete al dringender word hoe verder hy in die vergetelheid inval, sonder om diep geraak te word daardeur nie.

Die tweede bedryf open met Martha alleen op die verhoog. Sy dans op ’n melankoliese deuntjie met die jong dosent se baadjie waarin haar een arm gesteek is en die ander soos ’n arm uitgestrek word. Sy mymer van hoe sy liefgehê wil word. Die toneel is hartverskeurend.

Sy vertel later: “Ek huil van binne. George huil van binne, daar waar niemand dit kan sien nie.”

Hoewel sy met die jong dosent flankeer, erken sy dat George goed is vir haar, maar dat sy hom verneder en dat hy eintlik die enigste man is wat haar waarlik gelukkig maak.

Maar die dosent glo dit nie. Hy antwoord: “Ek weet wanneer ’n man se rug gebreek is.”

Die versagting in haar aanslag is egter geen aanduiding van versoening nie. George en Martha staan later teenoor mekaar en verklaar “oorlog. Totale aanslag” teenoor mekaar.

Saartjie se vertaling is puik en maak die trefkrag van die woorde in Afrikaans amper vir my erger as in Engels – dalk ons gewoondheid en afgestompheid met Engelse televisie en film, wat ons minder “vatbaar” maak vir kwesting en geweld. Om soveel seerkry, vernedering en woede in Afrikaans te sien en hoor, het hernude trefkrag.

Hoewel die agtergrond vir die stuk ’n universiteitskampus is, hou dit geen beperking in vir die trefkrag van die boodskap nie. Ons onvermoë om die waarheid en werklikhede in die gesig te staar is die universele boodskap – ongeag waar dit ou afspeel: ’n personeelkamer by die skool of ’n direksiekamer in ’n korporatiewe onderneming.

Die stuk se staande toejuiging twee en ‘n halfuur uur later het die akteurs én teatergangers voorwaar emosioneel uitgeput.

Nota: Die Engelse oorhoofse teks was vir my hinderlik, hoewel ek die nodigheid daarvan verstaan.

 

Meer oor die oorspronklike produksie

Who’s Afraid of Virginia Woolf? is vir die eerste maal in 1962 op Broadway opgevoer en met ’n Tony-toekenning én die New York Drama Critics’ Circle-prys vir beste nuwe stuk bekroon. Dit is destyds beskou as “a brilliant original work of art”, en die tallose sukselvolle produksies die afgelope halwe eeu bevestig dat die stuk niks van sy impak verloor het nie.

Die dramaturg, Edward Albee, het reeds drie maal die Pulitzer-prys vir drama ingepalm. Hy kry ook die prys vir Virginia Woolf, maar dit word destyds teruggetrek na klagtes oor die godslastering en losse sedes in die stuk. Van Albee se bekendste werke sluit in The Zoo Story, The American Dream en The Goat, of Who is Sylvia, maar Virginia Woolf bly sy bekendste werk, onder meer danksy Mike Nichols se klassieke 1966-filmweergawe met Elizabeth Taylor, Richard Burton, George Segal en Sandy Dennis in die rolverdeling.

Wie’s bang vir Virginia Woolf?

Met: Marius Weyers, Sandra Prinsloo, Wessel Pretorius en Greta Pietersen

Deur: Edward Albee

Regie: Christiaan Olwagen

Kostuums: Birrie le Roux

Stel: Jaco Bouwer 

28 Julie tot 8 Augustus daagliks, geen vertonings op Sondae

Die Fugard-teater, Caledonstraat, op die hoek van Buitenkantstraat, Distrik Ses.

Tye: Maandag–Vrydag om 19:30, Saterdag om 16:00

Looptyd: 150 min, pouse ingesluit

Geen onder 14 (T)

Kaartjiepryse: R100–R180. Bespreek by by Computicket of die teater se kaartjieskantoor by (021) 461 4554. Gewone afslagtariewe geld vir Vriende van die Fugard, studente, blokbeprekings vir 10 of meer, asook pensioenarisse.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top