Teaterresensie: The Father by die Fugard-teater, Kaapstad

  • 0

the-father-posterThe Father is ’n bekroonde toneelstuk en ook Tony & Olivier-wenner wat gehore op Broadway en die West End sprakeloos gelaat het.

Die toneelstuk deur Florian Zeller, wat deur Christopher Hampton uit Frans vertaal is, het ’n sterk rolverdeling met Anthea Thompson (My Briljante Egskeiding, Shirley Valentine, Madam and Eve), Emily Child (The Pervert Laura, The Emissary, A Certain Lady), Brent Palmer (A Steady Rain, The Kingmakers, Bench), Nicholas Pauling (Clybourne Park, A Steady Rain, Epstein) en Amy Louise Wilson (The Book of Negroes, Scrape en The Year of the Bicycle) en in die kern van die rolverdeling staan die teater-veteraan Marius Weyers.

Die toneelstuk vertel die verhaal van André, ’n afgetrede ingenieur wat in sy eie woonstel bly; of dalk is hy ’n afgetrede danser wat by sy dogter bly. Dalk gaan sy dogter, Anne, Londen toe trek om by haar nuwe kêrel te gaan woon, dalk is sy nog getroud met Pierre. Hoekom is daar kort-kort mense in sy huis wat hy nie ken nie, waar is sy horlosie en wie het dit gesteel?

Dis ’n indringende, aangrypende kykie na ’n demensielyer se angs en vrees en die verwoestende uitwerking op die mense om hom.

Florian Zeller is al beskryf as een van die opwindendste nuwe teaterskrywers van ons tyd. Hy het drie toneelstukke, The Father, The Mother en The Truth geskryf, wat gelyktydig in Londense teaters opgevoer is.

The Guardian in Londen het die toneelstuk beskryf as ’n brutaal-eerlike studie van demensie en die London FT het gesê die briljantheid van die stuk is dat dit nie net die impak van demensie wys nie, “dit gebruik die teater om ons in dieselfde bootjie as André te sit”.

Hoewel Marius se vertolking die kollig steel, moet mens egter ook hulde bring aan die regisseur, Greg Karvellas, wat ook verantwoordelik was vir briljante regie in onder meer Clybourne Park, Bad Jews en CHAMP, en aan die stelontwerp deur Rocco Pool.

Dis interessant hoe verskillende regisseurs die stel inspan om die boodskap tuis te bring. Vroeër vanjaar was ’n Afrikaanse weergawe van The Father, getiteld Pa, by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op die planke met Chris van Niekerk in die rol van André. Die hele verhoog se breedte is ingespan vir die stel – ’n middelklas woonstel waarvan die meubels gedurende die produksie al minder geword het – ’n effektiewe manier om te wys hoe André sy veranderende omgewing ervaar, hoewel dit in der waarheid nooit regtig verander het nie.

Die stel vir die Fugard-speelvak het ’n donker, amper swart agtergrond met swart skuifpanele met geriffelde glas wat gedurende die produksie oop en toe geskuif word. Die doeltreffendheid hiervan kom eers na vore as die stuk begin en die ligte aangaan en die figure agter die glas net wasige drogbeelde is. Dit skep klaar die ongemaklike gekriewel in die nek wat jou brein soos watte laat voel omdat jy nie die gesigte of selfs geslag van die karakters kan uitmaak nie.

Marius se wisselende emosies is briljant: Van sag en sjarmant met die nuwe versorger tot woedend omdat hy voel sy dogter ondermyn hom. Die sweet op sy voorkop is heel moontlik nie doelbewus nie, maar vang presies die angs in die gehoor vas.

Dit is sulke klein detail wat bydra dat die gehoor met verloop van tyd as’t ware ’n binnekykie kry in André se gedagtes. Jy wil jou kop goed skud om van die mistigheid ontslae te raak sodat jy weer helder kan dink en besef wie is wie. Maar demensie het geen kuur nie: Dis ’n aftakelende siekte wat die geliefdes om die demensielyer uitmergel en die lyer verward en alleen laat, ’n skaduwee van hul ou self. Soos Anne (Anthea Thompson) tereg mymer: “Ek onthou hom as die man wat hy was.”

Ek is geen kenner nie, gewis nie, en weet nie altyd waarom regisseurs sekere goed doen of op verhoë plaas nie. As leek was die enigste hinderlike vir my die feit dat die hele toneelstuk in Engels was en met Engelse aksente gespeel is – hoewel dit in Parys, Frankryk afspeel – maar dat die koerant wat Pierre lees, ooglopend Frans is. Die verhoog het verder geen hulpmiddels nie, behalwe die tafel en stoele, twee wynglase en ’n wynkraffie. Die koerant is dus ’n opvallendheid. Dit was vir my meer hinderlik as wat dit bygedra het tot die effektiwiteit.

Ek voel amper asof dit meer trefkrag sou hê as dit ’n Suid-Afrikaanse koerant was, om te wys dat hierdie siekte ook met jou buurman of jou kan gebeur, nie iets is wat van ons mense ver weg teiken nie. 

Hoe dit ook al sy, dis uitsonderlike toneelspel in ’n stuk wat vir die akteurs uitmergelend moet wees. As gehoor is dit moeilik om by te hou met die rolverskuiwings, dieselfde dialoog wat uit verskillende oogpunte herhaal word om André se geestestoestand te illustreer, maar die akteurs doen dit met oortuiging.

Stukke soos hierdie bring die boodskap van siektes soos demensie en depressie baie duidelik tuis. Dit gee dit ’n gesig; bring begrip en empatie. Daar moes baie mense in die gehoor gewees het wat eerstehandse kennis daarvan het. Vir my, wat dit vyf jaar met my ma deurleef het, het dit baie antwoorde gebring. Vir diegene wat onbekend daarmee is, glo ek kan dit baie insig bring oor presies hoe afbrekend en vernederend dit is.

Ek volstaan met British Theatre.com se resensie wat lui: “A beautiful symphony of pain. This is a play for our times.”

 

The Father

Met: Marius Weyers, Anthea Thompson, Emily Child, Nicolas Pauling, Amy-Louise Wilson en Brent Palmer
Deur: Florian Zeller, vertaal deur Christopher Hampton
Regie: Greg Karvellas
Kostuums: Birrie le Roux

Fugard-teater, Kaapstad
8 November tot 3 Desember 2016
Kaartjies deur Computicket (0861 915 8000) of by die teater (021 461 4554).

Foto: verskaf

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top