Teaterresensie: Cirque Éloize iD by die Kunstekaap

  • 0

cirquemain_280Toe Cirque Éloize iD (wat as Sirk-ehl-waz eye-dee uitgespreek word) drie jaar gelede by Montecasino se Teatro gekuier het, het die kaartjies soos soetkoek verkoop. Dis dus verblydend om te sien dat die geselskap terug is in Suid-Afrika vir vertonings in Kaapstad en Johannesburg.

iD is een van 11 oorspronklike produksies onder die Cirque Éloize banier. Daar is al hierna verwys as “West Side Story wat hip-hop-sirkus geword het”, maar vir my is dit meer ’n kontemporêre sirkus met stedelike dans. Vergeet alles van jou vorige sirkuservarings – daar is geen amateuruur hier nie; hierdie kunstenaars mág maar. Stel jou voor: die verhoog lyk soos iets tussen ’n comic-boek, ’n sci-fi-fliek en ’n muur vol graffiti in ’n oorbevolkte stad. Die middestad se openbare ruimtes word ’n plek van artistieke uitdrukking waar liefde gevorm word, die bendes van die woonbuurte koppe stamp en vriendskappe blom.

Hier is geen enkele ster wat die ander oorskadu nie en daar is gewis iets wat elkeen se asem sal wegslaan: die vrou wat haar lyf só verwring dat jou armhare regop staan en jy wonder of sy haarself weer gaan kan ontknoop; die gimnas wat teen ’n lat uithardloop en sy lyf loodreg laat staan, asof ’n onsigbare hand hom só hou; die gimnaste wat op ’n trampolien spring en moeiteloos as ’t ware teen die kant van die gebou op loop; die man op sy fiets wat selfs iemand uit die gehoor plat laat lê en met een wiel oor hom spring, en teen reuse trappe opklim sonder om een maal sy balans te verloor - en die vrou wat met lang sysagte materiaal uit die dak asembenewende toertjies uitvoer deur net aan ’n voet of hand te swaai, of binne millisekondes na benede te tuimel en ’n haarbreedte van die grond tot stilstand te kom.

cirqueeloize_id_tissue2014_200Te oordeel aan die kort-kort gesnak na asem en senuweeagtige handeklappies uit die gehoor, was almal so gefassineer soos ek. Die groep se akrobatiese en gimnastiese bedrewenheid en soepelheid is verstommend en dit word meesterlik ingespan om saam met 3D videoprojeksies, treffende musiek en beligting die adrenalien in jou are te laat bruis.

Die organiseerders het êrens genoem dat Cirque Éloize iD oor identiteit gaan en omdat daar geen woorde is nie, dit die gehoor die geleentheid gee om elkeen hul eie individuele heelal te skep terwyl hulle die vertoning kyk.

Dis ook lekker om te dink dat elke vertoning uniek is, met sy eie improvisasie – die wonder van lewendige teater.

Die Cirque Éloize-span het die afgelope 20 jaar 11 verskillende vertonings geskep. Met elkeen was die hoop om die sirkus weer te ontdek, maar met nuwe uitvindings, meer waaghalsige toertjies en baie meer indrukwekkende stelbou.

Jeannot Painchaud, artistieke direkteur van die maatskappy, vertel dat die idee van iD ongeveer vyf jaar gelede ontstaan het toe hy in Korea was. Vanuit sy hotelkamervenster het hy ’n pragtige uitsig oor die wolkekrabbers om hom gehad. Hy het hom verbeel hy kan sien hoe kunstenaars regoor die stad spring, met veerligtheid in hul voete. Hy het die toertjies in sy geestesoog gesien en dit vorm nou die laaste deel van die vertoning in die trampo-muur toertjie. Die trampolien is nie sigbaar van die gehoor af nie, wat die illusie skep dat die kunstenaars teen die mure opvlieg en op die boonste muurtjie tot stilstand kom, voor hulle weer geruisloos teen die muur afgly.

Painchaud se idee van ’n gevoel van vryheid, jongmense wat die stad oorneem en oraloor dans, het begin vorm aanneem en iD is daaruit gebore.

Dis gewis een van daardie vertonings wat jou nog lank gaan bybly en laat wonder of jy ooit jou te kort bene en te ronde midrif só sou kon inspan – en dit boonop asof daar geen vaardigheid nodig is nie.

cirqueeloize_id_chinesemast2014_300

Cirque Éloize iD
Regie: Jeannot Painchaud
Na Suid-Afrika gebring deur Showtime Management
Kunstekaap 16 November tot 27 November 2016; Montecasino se Teatro 30 November tot 24 Desember.
Kaartjies deur Computicket 0861 915 8000, www.computicket.com

 

 

  • Foto-erkennings: Valerié Remise
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top