Te veel sorge deur Hans Pienaar: ’n resensie

  • 0

Te veel sorge (om te vertel). Verhaal in stukke
Hans Pienaar

Uitgewer: Altoviolet Uitgewers

Hans Pienaar is bekend as veelsydige skrywer van joernalistieke werk, digbundels, romans, kortverhale, dramas en die historiese werk Die derde oorlog van Mapoch waarvoor hy in 1992 die Rapport-prys vir niefiksie gewen het. Met sy jongste publikasie, Te veel sorge keer hy terug met ’n teks wat êrens tussen ’n kortverhaalbundel en ’n roman lê. Die subtitel, Verhaal in stukke, suggereer waarskynlik dat die verhale funksioneer as brokke of fragmente wat aanmekaar gesit kan word om ’n geheel te vorm. Wat daardie geheel sou wees, is nie voor die hand liggend nie: alhoewel daar groepe verhale is wat rondom ’n bepaalde karakter of tema verdig, is daar weer ander wat op hulle eie staan of slegs langs ’n omweg met die ander skakel. Die leser word dus uitgedaag om self op grond van bepaalde leidrade patrone en samehange in die geheel te vind.

Die meeste van die verhale speel af in ongeveer die eerste dekade na Suid-Afrika se politieke omwenteling in 1994 en handel dus met die vrae rondom identiteit, lojaliteit, skuld en versoening wat daaruit gespruit het. Dit is veral die groep verhale rondom ’n karakter genaamd Van van Staden wat struktuur gee aan die geheel. Die belangrikheid van hierdie karakter en sy verhaal blyk uit die feit dat die titel van die teks met sy verhaal skakel en dat beide die begin- en eindverhale na hom verwys. Uit die verskillende verhale waarin hy ter sprake kom, blyk dit dat Van in ’n saketransaksie met ’n Nigeriër betrokke was en die geld van 12 weduwees in die besigheid belê het voordat dit geblyk het ’n bedrogspul te wees. Alhoewel ’n mens hierdie karakter reeds in die eerste verhaal, “Sorge”, ontmoet terwyl hy ronddwaal in Abuja in Nigerië, en weer in die sewende verhaal, “Aborricimento” wanneer hy terug is in Suid-Afrika, kom die leser eers in die elfde verhaal van “Okada” te hore, wat sy naam is wanneer hy vir ’n vreemdeling in ’n restaurant die verhaal van sy mislukte onderneming vertel. Dit mag wees dat hy ook die man is in die negentiende verhaal, “Waskamer”, wat in Nigerië afspeel en handel oor ’n seksuele ontmoeting met ’n anonieme vrou. Daarna kom Van weer ter sprake in die twintigste verhaal, “Die oomblik”, en die verhaal “Remainders” waarmee die bundel afsluit.

Soos reeds aangedui, word die tema van sorge wat in die titel figureer, veral rondom die karakter Van uitgewerk. Terwyl hy ronddwaal in Nigerië na die mislukking van sy saketransaksie, sien hy in ’n moskee ’n Moslem wat met ’n klein tellertjie sy sondes sit en tel. Hy raak gefassineerd en byna behep met die idee dat ’n mens jou sondes en ook jou sorge moet tel, en miskien ook moet verkoop. Wanneer hy terug is in Suid-Afrika, probeer hy in sy poging om boete te doen vir sy sondes in die verhaal “Aborricemento” (Portugees vir “ergernis”) ’n Portugese kafee-eienaar oortuig om ’n koevert vol velle papier waarop mense hulle sorge neergeskryf het, in sy winkel op te sit sodat mense teen ’n betaling van R10 ’n vel papier daaruit kan haal of ’n vel papier kan bring waarop hulle eie sorge neergeskryf is in ruil vir ’n ander. Wanneer die kafee-eienaar weier, laat hy sy koevert in ’n boekwinkel wat deur ’n Joodse vrou en haar man besit word.

Verskillende motiewe wat belangrik is vir die teks in sy geheel word in die verhale oor Van en sy koevert aangeroer: naas swendelary, bedrog en verlies, ook die idee van sonde, skuldgevoel oor die uitlewer van weerlose mense, boetedoening en vergifnis (dit is nie toevallig dat die Waarheid-en-Versoeningskommissie in sommige van die ander verhale ter sprake kom nie).

Die ruimtes wat Van kies om sy sorgkoevert in te laat, is ook betekenisvol. Eerstens is daar die kafee, ’n ruimte wat volgens hom ’n sentrale deel is van die Suid-Afrikaanse bewussyn, ’n “moderne crossroads” en “’n virtuele stad” waarin alles vervat is (53). Wanneer dit nie werk nie, kies hy ’n boekwinkel waarin ’n eklektiese versameling ou, nuwe en oorskotboeke (“remainders”) verkoop word. Eerder as die internet kies die skrywer dus konkrete stadsruimtes bevolk deur ’n diverse spektrum van mense as die agtergrond vir karakters soos Van en sy gespreksgenote se vrae oor identiteit. Die man vir wie Van sy storie vertel in “Okada” wil byvoorbeeld nie teenoor hom erken dat hy ’n Afrikaner of ’n “geheime Afrikaner” van die Broederbond-soort is nie. Hy swyg ook wanneer sy naam gevra word, “sodat die stilte tussen hulle deel van sy identiteit word” (76). Wanneer die kwessie van Afrikanerskap in hierdie groep verhale ter sprake kom, is dit dus op ondersoekende en vertwyfelde wyse en altyd teen die groter agtergrond van Afrika.

Die verhale rondom Van vorm ’n stramien waardeur die drade van die ander verhale gevleg word of – anders gestel – ’n raam waarin die ander “stukke” gepak kan word. Daar is byvoorbeeld ’n ander groep verhale wat omgaan met die vraag hoe die karakters die lewe in ’n veranderde Suid-Afrika en die groter konteks van Afrika moet navigeer ná 1994. Daar is byvoorbeeld die verhaal “Vuurwerke” waarin die karakters Herman en Dirk ’n fondswerwingskonsert van die simfonie-orkes bywoon en verskillende benaderings tot hulle veranderde konteks demonstreer. In “Dinkskrum” probeer ’n komitee besluit wat hulle te doen staan in die “nuwe fase van ons geskiedenis” waarin daar ’n “groter Afrika-gerigtheid” is. In “Misdaad” rig ’n eksjoernalis ’n brief aan die Waarheidskommissie om te verduidelik dat hy graag wou bydra tot die stryd, maar “nooit daarby uitgekom het nie”. Ook “Ou nuus”, wat handel oor ’n telefoonkonferensie waartydens ’n koerantgroep se joernaliste moet bepaal waaroor hulle gaan skryf, sluit by hierdie gegewe aan.

Die verhaal “Sikorski” is in dieselfde periode geplaas, al is dit dan in ‘n ander ruimte. Dit handel oor ’n wit soldaat wat bedank het uit die Suid-Afrikaanse weermag en in die Kongo geveg het om president Laurent Kabila aan bewind te kry en om “Afrika sterk te maak”, al word hy later verraai. Die verhaal teken hom as iemand met verskeurde lojaliteite en gefnuikte doelwitte, maar beskryf met groot intensiteit hoedat hy besig is om te sterf in die tropiese oerwoud nadat hy verwond is. Daar is ook die suggestie dat dit hierdie soldaat is wat in “Eet” vertel hoe hy saam met ander tougestaan het om kos en water van die World Food Programme te kry. Alhoewel “Die beste geweer” nie oor dieselfde man handel nie, roep dit ’n soortgelyke sfeer op: die verhaal handel oor ’n wit man met geldprobleme wat probeer om namens ’n swart man ’n antieke geweer te smous waarmee ’n bekende persoon uit die Anglo-Boereoorlog doodgeskiet is. Daar is ook twee verhale oor ’n beeldhouer wat sukkel met sy huwelik (“Rook”) en gefikseerd raak op die swart man Caiaphas van wie hy ’n reusagtige standbeeld wil maak. Uiteindelik kan hy egter net foto’s van die leë ruimte wat Caiaphas agtergelaat het, uitstal (“Vuurhoutjies”).

Daar is ook ’n ander groep verhale oor manlike karakters (telkens net “hy” genoem) wat dalk dieselfde karakter is, maar dalk ook nie. Daar is dikwels seksuele ondertone aanwesig in hierdie verhale (vgl “Onmoontlik”), ook suggesties van ’n verbrokkelende huwelik te midde van die obsessie met Afrika (“Vrugte”). Daar is byvoorbeeld die man wat in “My Kreepy” oorstuur raak as gevolg van die probleem om sy swembad skoon te hou en vasgevang raak in ’n vreemde fantasie (met erotiese tinte) dat hy self ’n Kreepy Krauly is wat deur die swembaddens en rioolpype van die omgewing beweeg. Daar is ook die joernalis wat in die mooi verhaal “Marilyn” besin oor al die foto’s wat hy nié afgeneem het nie; dit blyk uiteindelik dat dit veral gaan om één foto van sy minnares S wat doelbewus uit fokus was omdat sy nie wou hê mense moes weet van hulle verhouding nie. Hierdie karakter mag ook skakel met die hy-figuur in “Voete” wat deur sy niksvermoedende vrou vertel word dat sy minnares Stella nou ’n verloofde het, maar die bundel gee geen uitsluitsel hieroor nie.

Dit mag selfs wees dat hierdie manlike figure verwant is aan die karakter wat in “Okada” deur melankolie gedryf word na ’n restaurant in Melville waar hy met Van begin praat en luister na sy idee om sy sorge in ’n koevert te sit en te probeer verkoop. Hierdie man gaan soek in “Die oomblik” na Van se koevert in die Joodse vrou en haar man se boekwinkel. Hy word haar minnaar sodat die leser hom uiteindelik in die laaste verhaal in die boek, “Remainders”, in haar bed aantref. Sy vertel hom dat haar man na ’n woedende konfrontasie met Van die inhoud van sy koevert in die straat uitgestrooi het. Sy het dit egter gaan optel, sommige van die velle papier wat beskadig is oorgetik en teruggesit in die koevert. Wanneer die man ten slotte begin lees aan die velle papier wat sy hom gee, is daar die suggestie dat dit die verhale is wat ons in die bundel aantref.

Die idee is dus dat elkeen van die verhale wat in hierdie bundel of roman-in-stukke opgeneem is, iemand se “sorge” verteenwoordig. Die verhale word dus saamgebind deur die feit dat dit gaan oor ’n wye spektrum van mense se sorglike lewenservarings, hulle sondes, skuldgevoelens, boetedoenings, onsekerhede en vertwyfelings. Wanneer die leser te doen het met ’n boek wat op hierdie beginsel berus, is dit moeilik om te argumenteer dat sommige van die verhale nie naatloos pas in die geheel nie. Tog is daar hier en daar ’n verhaal wat misplaas lyk, soos “Hansie se oplossing”, waarin ’n vrou wat eers ’n wiskunde-onderwyseres was en daarna ’n haarkapster geword het, spekuleer dat Hansie Cronjé by krieketweddenskappe betrokke geraak het omdat hy gefassineerd was met getalle. Die vertelsituasie is té opsigtelik gekonstrueer om die “getalleteorie” oor Hansie Cronjé se misdaad en die idee van ’n krieketsepie te akkommodeer. Hierteenoor is daar egter ook ’n verhaal soos “Bouplanne”, waarin ’n gebou wat ly aan “sick building syndrome” die spreker is, wat nie noodwendig by een van die tematiese, narratiewe of karaktergroepe inskakel nie, maar tog ’n besonder evokatiewe beeld teken van die stedelike agtergrond waarteen die verhale afspeel. Tesame met die teken van ruimtes soos die kafee, die boekwinkel, verlate kerkgeboue, groot woonstelgeboue met mense op die balkonne, polisiestasies, voorstedelike tuine, restaurante, skoolterreine en bediendekwartiere, skep hierdie verhaal die beeld van ’n diverse, kosmopolitiese en verstedelikte omgewing, uitgelewer aan die historiese prosesse van groei, verval en herlewing. In hierdie opsig vertoon Te veel sorge boeiende raakpunte met Harry Kalmer se ’n Duisend stories oor Johannesburg.

Ten slotte bied hierdie bundel of roman-in-stukke veel vir die leser wat bereid is om aandagtig te lees, te soek na die samehange en gevoelig is vir die kompleksiteite onderliggend aan bekende temas soos die middeljarige wit man se aanpassing by nuwe omstandighede, skuldgevoelens, boetedoening, vergifnis, swendelary, liefdeservarings en seksuele obsessies. Dit is wel jammer dat die skrywer nie meer sistematies te werk gegaan het met die afwisseling van die ek- en hy-vertelperspektiewe om die leser ’n bietjie meer leiding te gee nie en dat die teks nie beter geredigeer is nie (waarom is daar spelfoute soos “terig” en “onmidellik” en on-Afrikaanse segswyses soos opgekropte gevoelens wat “uitspil”?). In sy geheel gee Te veel sorge egter ’n gedetailleerde en verwikkelde beeld van die onsekere oorgangsfase wat gevolg het op Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing en toon dit hoe die karakters probeer om die verlede te verwerk, om nuwe bondgenootskappe aan te gaan en nuwe vorme van artistieke uitdrukking te ondersoek, al loop dit soms uit op mislukking en verdriet.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top