Taal, toegang en transformasie

  • 1

Die koeël is reeds deur die kerk vir Afrikaans op tersiêre vlak. Afrikaans het onherroeplik veld verloor op dié gebied en geen hofsake sal die verval kan keer nie. Nietemin is daar ’n belangrike aspek van die taalstryd van die afgelope dekade of so wat uitgelig moet word. Dit is die valse teenstelling van moedertaalonderrig teenoor inklusiwiteit en transformasie. Die tema, soos onlangs herhaal deur Wim de Villiers op die US Konvokasie se vergadering, loop so: Afrikaans kan as onderrigmedium gebruik word, solank dit nie toegang versper (op grond van taal) nie. Hierdeur word die implementering van moedertaalonderrig teenoor toegang gestel. Moedertaalonderrig word gesien as ’n manier om ander uit te sluit en transformasie teen te staan.

Hierdie teenstelling klink dalk vir sommige redelik, maar die implikasie daarvan is gevaarlik. ’n Verstaan van “toegang” en “uitsluiting” wat hierdie begrippe slegs in terme van ras sien, lei tot ewe gevaarlike ongelykhede en kan, ironies genoeg, juis ook rasse-ongelykheid verder ingrawe.

Net so is dit gevaarlik om transformasie slegs in terme van demografiese verteenwoordigendheid te sien. Hierdie beskouing lei sodanig tot die bevoordeling van Engels dat daar in wese maar net weer ’n strukturele ongelykheid geskep word, presies wat die doel van transformasie nie behoort te wees nie. Is dit nie baie meer sinvol om transformasie te beskou as ’n proses om die ongelykhede (beide ekonomies en met betrekking tot menswaardigheid) van kolonialisme en apartheid om te keer nie? Die einddoel van transformasie moet tog wees dat geen Suid-Afrikaanse burger soos ’n tweedeklas burger voel nie.

Dit laat my onwillekeurig dink aan die ander verweer teen Afrikaans as onderrigtaal, naamlik dat pro-Afrikaanses die morele konteks van die taalstryd miskyk. Hierdie verweer is geldig slegs as mens transformasie eng in terme van demografiese verteenwoordiging definieer. Suid-Afrikaanse instellings moet hulle verbind tot regstelling van die skade van die verlede, maar hoef nie kulturele selfmoord te pleeg in boetedoening nie, want die gevolg van so ’n selfmoord lei eweneens tot nuwe strukturele ongelykhede.

As ’n valse teenstelling tussen taal en toegang aanvaar word in die konteks van tersiêre onderrig, wat keer dat dit ook in die konteks van basiese onderwys toegepas word? In dié verband was daar alreeds oproepe deur sommige teen moedertaalonderrig. Om moedertaalonderrig teenoor toegang en transformasie te stel, sluit van meet af die moontlikheid van enkelmedium instellings uit. Alle instellings sou moet kies: parallelmedium, dubbelmedium of tolkdienste. Waar hierdie drie opsies te duur of onprakties raak, raak Engels onvermydelik die enkele taal van onderrig, en word die ruimte vir ander tale in die openbare sfeer drasties minder.

Ons weet verder dat ’n taal wat uit die openbare sfeer verdwyn, ook mettertyd in getalle kwyn en uiteindelik uitsterf. Kan dit wees wat die skrywers van die Grondwet in gedagte gehad het toe hulle taalregte ingeskryf het? Dat beleid wat ’n taal aktief ondermyn aanvaarbaar is? Die implikasie van eng beskouings van toegang en transformasie is naamlik iets soos die volgende: “Jou taal is amptelik, maar as jy weet wat goed is vir jou, laat vaar dit maar.” Dit is niks anders as gedwonge taalverskuiwing nie, iets wat internasionaal as ’n skending van menseregte beskou word.

Die ironie is dat die gewaande voordeel van ’n “English only” openbare sfeer, naamlik toegang en rasse-integrasie, juis tot ander uitsluitings lei, wat dikwels ook volgens rasselyne verloop. As dit byvoorbeeld pla dat ’n arm seun uit Kayamandi nie klasse in Engels kan bywoon nie, pla dit nie ewe veel dat die arm seun van ’n plaaswerker in Malmesbury, wat nog matriek in sy moedertaal sou kon geslaag het, nou nooit matrikuleer nie, omdat hy nie die skoolwerk kon baasraak in sy tweede taal nie? Sou dit nie beter wees as beide in hul moedertaal onderrig kon ontvang nie? ’n Eng beskouing van demografiese verteenwoordiging lei ons om slegs op eersgenoemde scenario te fokus, terwyl die breër prentjie ons ontglip.

Die absurditeit daarvan om taal teenoor toegang te plaas, verdiep wanneer ook nie-konkrete, meer simboliese, tipes uitsluiting in ag geneem word. In gevalle waar parallelmedium suksesvol geïmplementeer word, is daar geen konkrete uitsluiting nie. Niemand word op grond van taal toegang tot die instelling of ’n module geweier nie; leerders/studente deel alle ander spasies, behalwe die klaskamer. Dit is egter hierdie skeiding waarteen die Universiteit van die Vrystaat tans in die hof argumenteer. Die implikasie is dat integrasie nie volledig is as alle spasies nie ten volle die rassedemografie van die land weerspieël nie. Soortgelyke klagtes is al geopper oor tolkdienste, waar diegene wat van tolkdienste gebruik maak, voel hulle word ge-“other” deur die blote gebruik daarvan.

Let wel, ek beweer nie hier dat simboliese uitsluiting onbelangrik is nie. Inteendeel, mens moet baie sensitief daarvoor wees in ’n multikulturele samelewing. Daarmee saam moet egter die besef kom dat mens dit nie altyd kan vermy nie, dat daar noodwendig spasies gaan wees waar ons minder tuis voel, juis omdat ander ook spasies nodig het waar hulle volledig tuis voel. As ons by taalkwessies hierdie simboliese, niekonkrete uitsluitings in ag moet neem, is daar letterlik geen plek vir moedertaalonderrig nie.

Kortom, die opeis van taalregte gaan noodwendig gepaard met ’n mate van uitsluiting, terwyl om taalregte te ignoreer ook lei tot uitsluiting, myns insiens van ’n erger graad. Dit maak dus nie regtig sin om die opeis van taalregte teenoor toegang te stel nie.

Die keuse is dus nie tussen taalregte en toegang nie, maar eerder tussen verskillende gevalle van uitsluiting. Dit dui dan sterk daarop dat gevalspesifiek na taalkwessies gekyk moet word en dat kompromieë aan die orde van die dag is. So moet mens die uitsluiting wat die landwye “English only” openbare sfeer opweeg teen die niekonkrete, simboliese marginalisering van sommige studente wat met parallelmedium onderrig en tolkdienste gepaard gaan. Die landwye voortbestaan van tale moet in sulke gevalle swaarder weeg en griewe oor simboliese uitsluiting eerder met terapeutiese dialoog aangepak word. In gevalle waar skole enkele kilometer uitmekaar is, is die uitsluiting eweneens slegs simbolies, tensy die een skool se kwaliteit noemenswaardig swakker as die ander s’n is. In laasgenoemde geval is die verbetering van die swakker skool tog sekerlik die mees voor die hand liggende oplossing, eerder as torring aan die beter skool se taalbeleid.

Gelykheid

Maar waarom is dit dan so tragies as ’n taal kwyn en mettertyd uitsterf? Hoekom is die gedwonge taalverskuiwing wat die regering dryf, so verkeerd?

Dit is ’n gelykheidskwessie.

Navorsing wys dat moedertaalonderrig verkieslik is. Dit lei tot beter kognitiewe ontwikkeling en uiteindelik ook daartoe dat die dominante taal (hier Engels) makliker aangeleer word. Die aanbeveling is dus baie duidelik: hoe later mens kan aanhou met moedertaalonderrig, hoe beter. Daarmee saam word die dominante taal dan mettertyd ingefaseer. So gesien is dit eenvoudig ’n gelykheidskwessie dat ’n klein minderheid in die land moedertaalonderrig kan ontvang, terwyl die groot meerderheid nie kan nie. Moedertaalonderrig is ’n voordeel wat ongelyk verdeel word. Die antwoord lê egter tog nie daarin om die getal moedertaalstudente te verminder nie – dit vergroot net die ongelykheid.

Maar hoekom dan nie maar net almal verengels nie? Oor ’n generasie of wat is die gelykheidskwessie mos dan opgelos?

Wel, dit is nie so eenvoudig nie. Eerstens is daar inherent ’n generasie wat hierdeur verlore gaan, terwyl dit vermy kon gewees het.

Selfs al aanvaar ons hierdie verlies, is daar ander kwessies. As ’n taal uit die openbare sfeer verdring word, verarm dit die spreker van die taal se kultuurlewe. Hoewel Afrikaanse boeke en films tans floreer, is dit te betwyfel hoe lank hierdie opbloei sal voortduur as die taal sy hoër funksies verloor. Wie gaan byvoorbeeld ’n roman in Afrikaans skryf as sy omgang, nie net met die letterkunde nie, maar haas elke ander interaksie buite die huis, amper uitsluitlik in Engels was? Engels word kwytgeskeld van hierdie verarming.

Verder, omdat Engels voorrang geniet, skep dit ’n “Try for English”-situasie net soos daar in die apartheidsjare “Try for white” was. Navorsing dui daarop dat subtiele merkers van taal (byvoorbeeld ’n mens se aksent) beïnvloed hoe geloofwaardig mense jou vind. ’n Nie-Engelse aksent maak dat jy harder moet werk vir dieselfde respek as wat jou Engelse kollega geniet. Daarom sal mense mik, nie net om Engels magtig te wees nie, maar om Engels te wees en sodoende hul herkoms en agtergrond te verdoesel. Dit is juis hierdie gedwonge internalisering van die minderwaardigheid van jou agtergrond wat die bron van die #RhodesMustFall- en #FeesMustFall-bewegings se woede is. Onthou, hierdie studente het reeds toegang tot onderrig by daardie instellings! Dit spreek ook teen die ander verweer teen Afrikaans, naamlik dat rasse-integrasie sal ly onder eentalige instellings of selfs parallelmedium klasse. Natuurlik is daar groot waarde daarin om kontak tussen mense van verskillende rasse te bevorder en dit is iets wat ons as samelewing behoort na te streef. Hierdie kontak moet egter op ’n gelyke voet plaasvind, en die “Try for white” wat ons deur ’n “English only” openbare sfeer skep, werk juis hierdie gelykheid teen.

Die ironie is dus dat die “English only” openbare sfeer, met die pretensie van inklusiwiteit, eintlik maar net vir Engels-moedertaalsprekers voordele inhou. Gegewe dat die meeste swart mense in Suid-Afrika nie Engels-moedertaalsprekers is nie, sal hierdie voordele ook de facto langs rasselyne verdeel word.

Boonop moet mens daarop wys dat die dwang om herkoms en agtergrond te verdoesel, gif is vir ’n multikulturele, demokratiese samelewing. In so ’n samelewing wil ons juis nie hê dat burgers op grond van hul groeplidmaatskappe (byvoorbeeld hul moedertaal) soos tweederangse burgers voel nie. Om pro-Afrikaans te wees behels dus nie ’n terugverlang na die verlede nie, maar juis ’n gemoeidheid met die toekoms en ’n gees van eenheid en diversiteit.

Beskou verder die geval van ouers en hul kinders se taal van onderrig. Om ’n taal te deel behels ’n gedeelde agtergrond; ouers kan nie alleen die hele raamwerk skep en aan hul kinders oordra nie. Hiervoor is hulle van die strukture en instellings in die openbare sfeer afhanklik. As die strukture tot hul beskikking nou slegs in Engels beskikbaar is, kom dit neer op die verskraling van die gedeelde agtergrond (of jy nou gekies het om jou kind Engels groot te maak of nie). As taal heeltemal tot die private sfeer uitgeskuif word, lei dit daartoe dat, selfs in die privaatheid van jou huis, enige gesprekke buiten die mees alledaagse en huishoudelike in wese in die dominante taal van die land moet geskied. Hiermee beweer ek nie dat ouer-kind-verhoudings hierdeur totaal skipbreuk ly nie, wel dat dit ’n negatiewe verskynsel is wat Engelssprekendes nooit hoef te konfronteer as hulle nie wil nie.

Markkragte

Daar is dikwels die verweer, as mens oor taalregte praat, dat Engels de facto die enigste taal van die openbare sfeer is, en dat mense nou maar eenmaal bloot moet aanpas daarby.

Hierdie verweer is net deels juis. Eerstens is Engels se dominansie glad nie so natuurlik as wat sommiges voorgee nie. Sonder beleide gemik op eng demografiese verteenwoordigendheid, sou Afrikaans in baie gebiede (byvoorbeeld die noordelike voorstede van Kaapstad, die Wes-Kaapse platteland en groot dele van die Noord-Kaap) op grond van die Afrikaanse bevolking in daardie gebiede ’n sterk teenwoordigheid in die openbare sfeer gehad het. Howe en regeringskantore sou, ten einde die gebied se bevolking te bedien, mense moes aanstel wat tweetalig Afrikaans en Engels was. Dieselfde geld winkels en diensleweraars. As dit suiwer oor markkragte gegaan het, sou daar oorgenoeg aanvraag wees vir twee Afrikaanstalige universiteite in Suid-Afrika. Verder is Engels se internasionale dominansie grootliks die gevolg daarvan dat die Britse Ryk omtrent die helfte van die wêreld met militêre geweld gekoloniseer het.

Laastens moet mens dan ook daarop wys dat “aanpas” hier bepaalde nadele het, soos ek hierbo uitgestippel het. Hopelik lei die besef (a) dat Engels se dominansie nie so natuurlik is nie, en (b) dat ’n aandrang op moedertaalonderrig nie antitoegang is nie, daartoe dat Afrikaanssprekendes nog ’n plek vir die taal in die openbare sfeer opeis, vir die voordele wat dit bring en die nadele wat dit vermy.

Ek het ook simpatie met universiteite se dilemmas rondom taal. Ek kan insien dat buigsaamheid nodig is om top internasionale navorsers te lok, en dat die huidige generasie studente reeds teen hul moedertaal begin kies. Ek glo egter dat, losgemaak van die valse teenstelling tussen taalregte en kwessies van uitsluiting, die universiteite se hande vryer sou wees om taalkwessies effektief aan te pak.

Daardie koeël is egter nou al lankal deur die kerk. Die nuwe loopgrawe sal lê voor die kwessie van moedertaalonderrig in skole. As ons nog, soveel ons nog kan, ’n plek wil uitkerf vir Afrikaans en ander inheemse tale in ons samelewing, moet ons hierdie valse teenstelling die rug keer.

Hanru Niemand is ’n sielkundige, musikant en liedjieskrywer. Hy was voorheen verbonde aan die Departement Sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch.

  • 1

Kommentaar

  • Pieter Cloete

    Dankie vir die logiese argumentering. Jammer tog dat soveel geleerdes nie die basiese argumente wil verstaan nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top