#SwartMaandag: tragedie of volksmoord?

  • 29

Die moord op ’n boer van Klapmuts was hierdie week die impetus vir die sg #SwartMaandag-proteste.

Aanvanklik is dit geadverteer as protes teen die plaasmoorde op wit boere, die sg wit volksmoord. Nadat die organiseerders van rassisme beskuldig is, het hulle vinnig verklaar dat dit ook vir elke ander moord is. Nie een enkele T-hemp of versierde bakkie of vragmotor of plakkaat op die dag het egter enigiets anders as plaasmoorde aangespreek nie, wat die kritiek teen die protes in die eerste plek bevestig het.

Maar wat is volksmoord, en hoekom is AfriForum en Steve Hofmeyr en ander bekendes so gretig om die moorde op plaasboere as volksmoord te bestempel? En hoekom hanteer hulle plaasmoorde net as dié moorde waar wit lewens verloor is?

Die definisie van volksmoord of “genocide” in the VN se Rome Statuut en die latere Convention on the Prevention and Punishment of the Crime of Genocide (1948) lui:

Any of the following acts committed with intent to destroy, in whole or in part, a national, ethnical, racial or religious group, as such:

  1. Killing members of the group
  2. Causing serious bodily or mental harm to members of the group
  3. Deliberately inflicting on the group conditions of life calculated to bring about its physical destruction in whole or in part
  4. Imposing measures intended to prevent births within the group
  5. Forcibly transferring children of the group to another group.

Die Genocide Convention dui verder aan:

[T]o constitute genocide, there must be a proven intent on the part of perpetrators to physically destroy a national, ethnical, racial or religious group, Cultural destruction does not suffice, nor does an intent to simply disperse a group. In addition, case law has associated intent with the existence of a State or organizational plan or policy even if the definition of genocide in international law does not include this element.

Plaasboere val nie onder enige van die vier beskermde kategorieë, nl national, ethnical, racial of religious groep nie. Sou die bewering gemaak word dat alle wit mense oral geteiken word, en dit kon bewys word, sou dit natuurlik ’n ander saak wees. Die werklikheid is egter dat wit mense nog steeds in 2017 beter lewensgehalte geniet as die meeste ander groepe, dat hulle beter opvoeding bekom, meer geld verdien en meer ekonomiese en sosiale status geniet.

Hoe lyk volksmoord? Hier volg ’n paar voorbeelde.

In Rwanda is, in die bestek van 100 dae in 1994, 800 000 Tutsi’s deur hul Hutu-bure uitgewis. Sommige kenners meen die getalle is nader aan 1,7 miljoen. ’n Verdere ongeveer twee miljoen mense het uit Rwanda gevlug uit vrees vir hul lewens. Lyste van mense wat teen die regering gekant is, is aan soldate uitgedeel en hulle het dan, saam met ander Hutu’s, die Tutsi’s gaan vermoor, meestal met pangas en byle. Neem in ag dat die totale bevolking van Rwanda in die 1991-sensus 7,7 miljoen was, en die skaal waarop die uitwissings plaasgevind het, begin vorm aanneem.

In Mianmar het 600 000 Rohingyas gedurende Augustus tot September 2017 gevlug omdat hulle sistematies vir uitwissing geteiken is. In dieselfde tydperk is 200 000 Rohingyas deur regeringsmagte vermoor. Hulle is oor dekades heen opvoeding geweier, kon nie vryelik beweeg nie en kon nie burgerskap van hul geboorteland bekom nie. Hulle grond is van hulle weggeneem en hulle is nie deur die regering toegelaat om meer as twee kinders te hê nie.

In Europa gedurende die Tweede Wêreldoorlog, in die tydperk tussen 1941 en 1945, is ses miljoen Jode deur die Nazi’s uitgewis. Hulle is eers in ghetto’s opgeneem, nie toegelaat om te werk nie en toe later in konsentrasiekampe aangehou waar hulle sistematies vermoor is. Dis twee-derdes van alle Europese Jode.

Sewentig boere wat oor ’n tydperk van 12 maande vermoor is, is tragies. Dit val egter nie binne die erkende definisie van wat internasionaal as volksmoord gesien word nie. Steve Hofmeyr se bewering dat daar elke vyf dae ’n wit boer vermoor word, is reeds in 2013 as ten beste ’n oordrywing en ten slegste as suiwer versinsel bewys. Africacheck, ’n gesaghebbende onafhanklike organisasie wat die korrektheid van statistieke en ander feite dwarsoor Afrika nagaan, het bevind dat daar geen basis vir die bewering van Hofmeyr en sy volgelinge is nie.

Africacheck het verder bevind dat die bewering dat moorde toegeneem het sedert 1994 en die begin van demokrasie, ook nie korrek is nie. Moorde het inderdaad in die 1970’s hoogty gevier, en het daarna afgeneem. Hulle het verder bevind dat wit mense statisties gesproke die veiligste groep is, wat blootgestel is aan minder moorde as enige ander bevolkingsgroep.

Die afgelope jaar is daar meer as 900 mense op die Kaapse Vlakte vermoor. Sommiges is as gevolg van hulle betrokkenheid by bendes vermoor, maar veel meer is onskuldige omstanders wat op die verkeerde tyd op die verkeerde plek was. In een geval het ’n ouma met haar dogter se baba op die skoot gesit toe sy noodlottig gewond is.

Hierdie afgelope week is daar by die Life Esidimeni-kommissie gehoor hoedat 141 gestremde persone weens nalatigheid dood is in die verskillende plekke waar hulle aangehou is. ’n Verdere 61 mense se omstandighede is onbekend, en hulle is op hierdie stadium steeds nie gevind nie.

Elke lewe wat verlore gaan, is tragies. Niemand verdien om gewelddadig te sterf nie. Nie elke sterfte is egter ’n geval waar die VN betrokke moet raak, soos wat verskeie bekende persoonlikhede in histeriese Facebook- en videoboodskappe gevra het nie. My enigste hoop is dat hulle eintlik maar goed bedoel het en nie verstaan wat die gevolge van hul oproep is nie.

Daar is organisasies wat hulle bestaan maak daaruit om wit mense vreesbevange en agterdogtig vir die Swart Gevaar te maak. Hoe meer wit vrese aangeblaas word, hoe meer geld kan hulle uit skenkings maak. Maar wat is die keerkant daarvan? Swart mense word nou verdink van allerhande misdrywe op grond van niks meer as die kleur van hul vel nie. En elke keer dat ’n bekende hierdie organisasies se oproepe steun, gee hulle meer legitimiteit aan die organisasies.

Die VN sou nooit, gebaseer op foutiewe en fiktiewe syfers, ’n bevinding maak dat daar volksmoord op wit plaasboere plaasvind nie. Daar is net eenvoudig geen basis daarvoor gelê nie. Wanneer is wit kinders teen hulle sin van hul ouers weggeneem? Wanneer is wit vroue teen hulle sin voorbehoed ingegee, of hul swangerskappe beëindig, om seker te maak dat daar nie meer wit kinders gebore word nie? Wanneer het daar groot groepe persone in wit woonbuurte ingegaan, inwoners uit hul huise gepluk en hulle in groepe na plekke van aanhouding vervoer? Wanneer is wit mans, vroue en kinders van hul eiendom ontneem en in konsentrasiekampe geplaas? Wanneer is wit mans, vroue en kinders in groot getalle van hul lewens ontneem?

Daar is eenvoudig geen basis en geen getuienis op grond waarvan die VN sou kon beslis dat daar wit volksmoord in Suid-Afrika gepleeg word nie. Hou in gedagte dat die VN gereeld met werklike volksmoorde dwarsoor die wêreld gekonfronteer word, en dus die ondervinding en die kundiges het om oor enige bewering van volksmoord te beslis. Daar is geen rede hoekom hulle ligtelik iets sal besluit sonder dat hulle deeglik ondersoek ingestel het nie. As ek moet kies wie die kundiges oor volksmoord is tussen Steve Hofmeyr en AfriForum aan die een kant en die VN aan die ander kant, dan skaar ek my aan die VN se kant.

Nou word wit mense opgesweep om te glo dat daar ’n internasionale komplot teen hulle is, omdat die VN nie “aan hulle kant” is nie. Die feit dat die VN gedurende apartheid beslis het dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom is, sit seker ook nog vars in meer as een agterkop. Dis teen daardie agtergrond dat ’n groep soos Pro Patria nou agiteer dat wit boere swart werkers op hul plase moet afdank in weerwraak vir die plaasmoorde en die beslissing in die saak waar ’n persoon in ’n doodskis aangehou was. Pro Patria noem die gevonnistes in daardie saak die Kis-manne. Hulle noem die grootskaalse steun wat die Swart Maandag-optogte gelewer het, as hul rasionaal vir die optrede.

Gemoedere loop hoog ná die optogte Maandag. My kommer is net dat onskuldige swart mense, en ek gebruik hierdie term om ook bruin mense in te sluit, aan die ontvangkant van wit onvergenoegdheid gaan wees. Daar is vele voorbeelde van wit boere wat hulle werkers swak behandel. Daar is ’n mite, een wat op geen waarheid gegrond is nie, dat alle plaasmoorde polities gemotiveerd is en dat die boer se eie werkers betrokke is daarby. Ek wonder hoeveel van die swart mense wat Maandag saam protes gehou het, dit gedoen het uit vrees dat hulle gebrandmerk sou word as vyandig teen die boer as hulle dit nie doen nie.

Die werklikheid is dat baie van die moorde gepleeg is deur persone wat geen verbintenis met die plaas of die boer het nie. Dit maak dit egter nog steeds nie polities nie. As plaasmoorde dan regtig ’n politieke skuif is om boere van die plase af te kry, dan sou dit baie makliker wees om hulle grond gewoonweg te onteien. Daar is presedent daarvoor. Distrik Ses se mense is weggeneem van hul eiendom sonder enige vergoeding, want die regering van die dag wou daardie grond gebruik.

As plaasmoorde gebruik word om wit boere in ’n volksmoord te teiken, hoekom word swart boere dan ook doodgemaak? Hoekom word swart werkers ook doodgemaak? Die voor die hand liggende rede is natuurlik dat die moorde nie oor kleur gaan nie, maar oor geleenthede.

Die hartseerste van hierdie hele aangeleentheid: solank as wat moorde in rasseterme geverf word, solank dit as politieke speelbal gebruik word, solank as wat sterftes in een ras as meer belangrik geag word as in ander rasse, gaan ons land verder uitmekaar geskeur word.

Dis die grootste onreg wat slagoffers van misdade en hul families, oor kleurgrense heen, aangedoen kan word.

  • 29

Kommentaar

  • Vergelyk nie net die VN se bevindinge oor volksmoord nie, maar die van Genoicide Watch. SA se wit mense was in 2010 op nommer 5. Sal u asseblief die inligting verskaf waar was die optogte adverteer as optogte omdat wit mense op plase vermoor word.

  • Gerhard Venter

    Bettina, ek kan insien dat AfriForum se optredes dikwels verdelend is, maar kan jy asseblief aandui waar hulle gesê het dat dit volksmoord is?
    Ek dink nie hulle het nie, en my indruk is dat dit net 'n baie klein minderheid van meesal semi-ongeletterde mense is wat dit so noem.

    • chris vermeulen

      Sarie / Gerhard - ja geen “amptelike” bron mag dit genocide noem nie - nes wat die gapende verskille tussen rasse se genetiese en intellektuele (en morele ..) kwaliteite /vermoë ook amptelik verbied word (soveel vir “vryheid” van uitdrukking /mening ) - maar enigeen met net ‘n halwe brein(-sel) kan agterkom wat wêreldwyd besig is om Die Adam-Ras (Blanke=Hebreeus 119-121) te gebeur (=Gen 3:15 ens) - pertinent en spesifiek dan ook tussen Die Adamiete wat gehoor gegee het aan Openb 18:4 en derhalwe /synde dies wat die dodelike breinspoeling van die hoof/fopstroom media ontkom het.*
      (forensiese patologie kan bepaal of bloedweefsel of vloeistof wat op ‘n toneel gevind is van ‘n blanke of ‘n swarte is - of dit manlik of vroulik is - selfs van derduisende jare oue oorblyfsels = geen ras is ...”dieselfde /gelyk” aan die ander-nie ...*** /... "multiculturalism" is juis die rede waarom die Elohim JHWH =die "eerste wêreld"/& adamiet uitgewis het en natuurlik : soos dit was in die dae van Noag, so sal dit ook wees met die koms van die Seun van Adam ***)

  • Hans Richardt

    Daar is verskillende motivering vir moord. Solank mens die beweegredes van moord met dieselfde politieke korrektheid kleur verf, gaan daar nêrens oplossings kom nie. Is die bendegeveg en moord vir gebied dieselfde as aanval op afgeleë plaas op ou mense?
    Is die diefstal in winkels agv dieselfde rede, bv honger? Probleem met politieke korrektheid ideologie, is dat die werklikheid nooit bestaan nie.

  • Hans Richardt

    Ek voel vere vir die wie se gemoedere hoog loop, wittes het reg om vir hul regte te betoog. Waarom eien sg politieke swartes hul die alleenreg tot optogte toe in SA?

  • Malema-hulle sing gedurig "Kill the Farmer kill the Boer" en met die nou dat boere (en hoofsaaklik Boere) vermoor word, het die boere (en Boere) hulle misnoë met die optog gewys. Dat swart boere ook vermoor word is waar maar die persentasie swart boere is heelwaarskynlik dieselfde, of minder, as swart sakemanne en politici. Swart werkers word ook vermoor maar dit is heelwaarskynlik te wyte aan wat mens maar kruisvuur kan noem (of wraak, word dalk as 'Uncle Toms' beskou). Die wrede wyse waarop die wit boere doodgemaak word, doodgemartel word om die waarheid te sê, dui beslis op 'n ander motief as die 'gewone moorde' in die land.

  • So baie gelees oor plaasmoorde die afgelope tyd. Daar is bietjie waarheid in alles. Maar feit is dat plaasboer 'n maklike teiken is vir politieke moorde, wraaksugtigheid en krimenele. En dit is nodig dat die regering moet help met beskerming van die produsent van kos in ons land. Daarom het Swart Maandag gebeur.

  • Thinus Fourie

    Die protes is begin onder die vaandel van "genoeg is genoeg". Dit het gegaan oor plaasmoorde waar daar ‘n skerp styging is. Die optrede was nêrens, en ek praat namens die Kaap, verpolitiseer nie. Ek dink die skrywer maak hiervan ‘n politieke speelbal. Die skrywer van die artikel praat nêrens van syfers en hoe plaasmoorde vergelyk met gewone moordtendense nie. Sy is soos diegene wat hulle blind staar teen twee of drie mense in Gauteng wat die ou Suid-Afrikaanse vlag vertoon en dit dan uitbasuin asof dit ‘n weerspieëling is van die Afrikaner. Alles in haar artikel is polities van aard. Hier is geen volksmoord ter sprake nie. Net ‘n geweldige skerp styging in aanvalle op plase. Wat probeer sy eintlik sê behalwe dat die moorde en aanvalle op plase nie volksmoord is nie? Wat almal behoort te weet is dat die verhouding tussen plaas- en ander moorde totaal onaanvaarbaar is.

  • H Labuschagne

    Ek wil graag hierop raegeer. Met baie respek vir jou Bettina wil ek sê jou onderrok hang uit. Ek het nie nodig om jou te vertel dat ek nie vir die plaasmoorde op gestaan het Maandag nie. Ek ken nie die ou in die Town C wat gister vermoor is nie, maar oom Gert van Bultfontein en sy vrou ken ek .In 1994 was dit nie die ooreenkoms toe ons om die tafel gesit het nie; alles was mooi. Elke liewe moord is een te veel in Suid-Afrika. Daarom gee dit my ‘n hart van klip. As ek hoor hoe ons praat in hierdie land. Dis volksmoord. Hoeveel blankes het blankes vermoor op plase? Hoeveel swart mense het blankes op plase vermoor. Hoeveel swart en blanke mense is op plase vermoor? Hoe vermoor jy mense en sny hulle uit mekaar is dit haat of al doen hulle dit vir ‘n selfoon of geld, dis moord. Kom ons praat oor die Kaap se vlakte se moorde. Die moorde is al baie jare aan die gaan volgens verslae is dit mos bende-verwant of hoe? Dis bruin teen bruin oor drank drugs en onskuldige mense wat dood geskiet word. Die Gemeenskap kan baie help maar lewe lekker saam. Ek kan dit nie help stop nie. et hulle en die polisie kan dit stop. Sewentig boere word vermoor per jaar dan kyk ons na Jode en in Wes-Afrika waar mense in massas vermoor word, dan soek ons oplossings vir Suid-Afrika se geweld omdat mense geweld goed praat en sê nee man dis nie so erg nie. In ander lande was dit baie erger. Oor die mense wat dood is in Life/E. Die regering moet pa staan, dit het niks met Swart Maandag te doen nie. In elke land in die wêreld is daar baie arm mense maar Suid-Afrika is altyd ‘n uitsondering. Mense hier is baie armer as mense in Zim en in die res van die wêreld asof ons ‘n eerste prys kry daarvoor. 2017 kyk ek rond en sien die arm mense met hulle duur karre en as jy sit en wag vir die Government om vir jou ‘n huis te bou en jou studies te betaal gaan jy lank wag. As jy die tweede Wêreldoorlog en die Afrika- oorloë vergelyk met plaasmoorde verstaan ek daar is ‘n oorlog teen die plaasboere in Suid-Afrika. Niemand het kon dink Swart Maandag was so groot sukses en nie ‘n tragedie nie. Die tragedies is dat ‘n lewe in Suid-Afrika, blank swart bruin of Indiër, minder werd is as die asem wat ons hier mors, want niemand stem saam nie.

  • Hoe staan dit in die Bybel? Die met pêrel op hulle oë! Vir die wat weet sal dit nie so erg wees nie! Die aarde en alles daarop behoort aan God.

  • Linda Erasmus

    Een van die plaasmoord aanvallers het pertinent gesê dat die aanval gedoen word 'because you stole from us'. Ek beskou dit polities maar ook rasisties van aard, soos sekerlik van die ander aanvalle en moorde ook. Dis baie jammer, want ons wil so graag in 'n vredige land bly en in goedgesindheid met ons landgenote leef. Wat moet ons doen om dit te bereik?

  • Jy het nou mooi volgens jou definisies verduidelik hoekom plaasmoorde nie as volksmoord geklassifiseer kan word nie, maar dit is mos nou net die helfte van die storie. Gaan skryf nou neer wat die plaasmoorde voorafgegaan het, wat daar tydens en daarna gebeur, en kry dan 'n gepaste definisie waaronder jy dit klassifiseer. Dan sal jou artikel mos volledig wees.

  • Hennie Basson

    Los nou die beheptheid met ras, los definisies, veroordeel moord en misdaad in die algemeen. Lewer 'n postiewe bydrae in die land, ondersteun landbou wat terloops die grootste verskaffer van werk is, ek verwerp ook veralgemeende aantygings dat boere hulle werkers sleg behandel. Besoek plase, almal het huisvesting, vir baie is kleuterskole, kerke ens gebou ... Help om die hand wat jou voed te beskerm!

  • Hans Richardt

    Waarom paradeer Umkhonto Isizwe oral met Anc vlag en uniform? Daarby word Umkhonto nog jonger by die dekade!
    As ou RSA vlag gekriminaliseer word, behoort Umkhonto ook definitief gekriminaliseer te word, saam met ANC vlag!

  • Hans Richardt

    Dis alles politieke korrektheid ideologie verbale diarree wat ou Bettina kwyt raak.
    Sodra jy 'n etniese groep tot etniese amalgamasie wil dwing, pleeg jy reeds volksmoord-propaganda. So, versigtig met opinies.

  • Hans Richardt

    Unievlag vs ANC-vlag by Umkhonto Isizwe-optogte op SABC-nuus paradeer?
    Hoort bevrydingsorganisasie nog in demonkrasie?

  • Die vlag, enige vlag, is in wese maar net 'n stuk lap. Wat die vlag egter simboliseer is egter seker wat van belang is. Die ou oranjeblanjeblou verteenwoordig vir baie mense 'n tyd van voorspoed, veiligheid en welvaart waar die nuwe vlag vir daardie mense die totaal teenoorgestelde verteenwoordig. Die regering weet dit natuurlik en die ou vlag dan is 'n beklemtoning van hulle swak prestasie. As die nuwe vlag vir hulle 'n verbeterde lewensgehalte simboliseer het sou hulle teen die tyd nie eers die ou vlag onthou het nie.

    • Die ou 'apartheidsvlag' is in die 1920's ontwerp en begin gebruik, twintig jaar voordat apartheid wettiglik ingestel is. Hoekom dit 'n apartheidsvlag is, is 'n geheimenis.

  • Moord bly moord, maak nie saak wie of van watter demografie jy af kom nie. Al wat ek nie kan verstaan nie, is waarom het ‘n opstand teen al die geweld nie vroeër gebeur nie? Dit is erg dat mense dan dit wat wel gebeur probeer deligitimiseer met Bell Pottinger tipe sosiale media dark arts. Hoe het haat dit reggekry om reg te klink? Ek is bly mense het uiteindelik wakker geword en gewys hulle is teen die massiewe verlies van lewe.

  • Johannes Comestor

    "If one compares the indifference that liberals showed to African genocide (Rwanda 1994, Burundi 1972 and 1993), the Mao-Mao terror of Kenya (1952-1960), the Angolan Revolution (1961), the 300 000 slaughtered by Idi Amin (1971-79) or the Nigerian Civil War (1967-1970) where blacks were killing blacks to colonialism or any conflict which pitches the European against the African or the Arab, it is obvious their main concern is their own guilt, and not conflict per se. In the civil conflicts mentioned (and in many others), infinitely more people were killed and atrocities committed than in African conflicts involving Europeans. Is there ever discussion about the Arab or African slave trade which trafficked more than the Western variants? It was Europe that stopped the slave trade. Let us not forget that Saudia Arabia declared the slave trade illegal in 1962, Mauritania in just 1980 and Niger in 2003. Those who rail unthinkingly against colonialism ... will certainly not want you to hear about ethnic tribal racism in Africa, the racist policies implemented in 1970s Uganda that targeted the Asian population or the ethnic cleansing against white Zimbabwean communities" (Stephen Pax Leonard, Travels in cultural nihilism, 2017, 305p; Amazon Kindle $9,11, 1924).

  • Chris Marnewick SC

    "Sewentig boere wat oor ’n tydperk van 12 maande vermoor is, is tragies."

    Maar dan is Steve Hofmeyr se een elke vyf dae mos korrek.

    Dit help ook nie juis om net die slagoffers volgens julle ras of kultuur te identifiseer nie. Kyk eerder na die ras en kultuur van die moordenaars. Wat sien ons dan?

  • "Beter lewensgehalte" is 'n vloeibare begrip wat die skryfster, en baie ander mense, blykbaar aan geld en goed koppel.
    In vele lande kan vrouens dag en nag vrylik rondloop sonder vrees om aangerand te word, is dit nie nodig om jou huis teen groot koste te beveilig en saans met 'n wapen bed toe gaan nie of om alternatiewelik in 'n beveiligde oord te gaan woon nie.
    Dis wat ons mis.

    • chris vermeulen

      Ja , hel-laas en tragies genoeg : liefde vir mammon is die wortel van alle kwaad ... / “money makes the world go round ...”/ en hel-laas sal die komende “afsterwe” van ou mammon tot die groot verdeler ly: hulle wat die merk vanni dier aanvaar vs - die res!

  • Bettina
    Slaan die VN hoog aan. Dalk moet sy eers kyk na watter lande almal lede van die VN is alvorens sy die organisasie en sy definisies voorhou as synde geldig te wees vir wat in Suid-Afrika aangaan.
    So bv het ons buurman Zimbabwe op 25 Augustus 1980 'n lid geword van die VN.
    'n Mens kan so nie die land as 'n voorbeeld van die beskerming van menseregte beskou nie.
    Sou 'n mens nou die definisie van 'n groep 'n bietjie verder uitbrei, dan is die boere, ongeag hul kleur mos 'n belangrike groep in ons samelewing. As dit dan so is, is drie van die vyf elemente op hul van toepassing, nl.
    1.Killing members of the group (ja meer boere word per 100 000 vermoor as enige ander groep).
    2.Causing serious bodily or mental harm to members of the group (ja, as jy elektriese bore gebruik om gate in mense voete en bene te boor, of enige ander metode om liggaamlike leed te berokken, soos kookwater, warm strykyster ens).
    3.Deliberately inflicting on the group conditions of life calculated to bring about its physical destruction in whole or in part.(ja want sulke optrede lei daartoe dat die aantal boere drasties verminder. Met minder deelnemers is daar minder kompetisie en moet dus myns insiens voedselpryse op die lange duur beïnvloed.
    Bettina vra 'n paar vrae van wanneer die goed wat onder die Apartheidsregering plaasgevind het, onder blankes plaasgevind het. Dalk moet sy weer gaan lees wat die Engelse tydens die Boereoorlog alles aangevang het, nie net met blankes nie, maar ook met swart mense.
    Dit is natuurlik lekker om met statistieke te speel as jy 'n punt of twee wil maak. Dan moet 'n mens jou self afvra hoekom was daar onder die Apartheidregering het statistiek gewys, net 7 000 moorde per jaar en onder die nuwe regering tot soveel as 21 000 per jaar.
    Of ons nou daarvan hou of nie, daar is 'n moorddadige misdaad-element in ons land wat lyk dit vir my 'n Gegupta-regering nie in staat is om onder beheer te bring nie.
    En dit maak enige moord ongeag die kleur, soveel erger en sinneloos ,want as jy nie eers beseerdes met 'n ambulans veilig kan vervoer nie, moet 'n mens jouself tog afvra, in watter land bly ons? Statistieke en definisies raak onder sulke omstandighede ewe nutte- en sinneloos want dit los nie die probleme op nie.

  • Hans Richardt

    Dit gaan oor geweld waarmee sulke aanvalle gedoen word, dikwels deur buitelanders.
    Die minderheid wit boere kan wragtig nie verantwoordelikheid aanvaar vir Europese kolonialisme op Afrika-kontinent nie.

    • Hans die volgende is 'n uittreksel uit:https://africacheck.org/factsheets/factsheet-statistics-farm-attacks-murders-sa/Who are the victims of farm attacks?

      " Race

      “The statistics are not kept by race,” De Beer told Africa Check, “as race is not necessarily mentioned in the incident reports received from the stations.”

      The last analysis of farm attack victims by race was conducted in the early 2000s. In 2001, the police’s Crime Information Analysis Centre revealed that of the 1,398 people attacked on farms, 61.6% were white, 33.3% were black, 4.4% were Asian and 0.7% were listed as “other”.

      This data is now more than 15 years old and should not be assumed to be representative of the current situation."

      Dit is jammer dat sulke op datum statistieke om een of ander rede nie langer beskikbaar is nie,

      Lekker dag.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top